Raak die wêreld se water op?
“’n Betroubare, veilige bron met voldoende vars water is ’n fundamentele vereiste vir die oorlewing, welsyn en sosiaal-ekonomiese ontwikkeling van die hele mensdom. Nogtans hou ons aan om vars water te gebruik asof dit ’n onuitputlike hulpbron is. Dit is nie.”—KOFI ANNAN, DIE SEKRETARIS-GENERAAL VAN DIE VERENIGDE NASIES.
DIE laaste duisend jaar vergader ’n unieke hof elke Donderdag om 12 uur in die Spaanse stad Valencia. Die hof se taak is om geskille oor water te besleg.
Plaaslike boere in die vrugbare Valencia-vlakte is afhanklik van besproeiing, en vir besproeiing is baie water nodig—wat nog altyd in hierdie deel van Spanje skaars was. As die boere voel dat hulle nie hulle regmatige deel kry nie, kan hulle enige tyd ’n beroep op die waterhof doen. Geskille oor water is niks nuuts nie, maar dit word selde so regverdig opgelos soos in Valencia.
Byna 4 000 jaar gelede het ’n geskil tussen herders oor ’n put naby Berseba in Israel tot geweld gelei (Genesis 21:25). En sedertdien het waterprobleme in die Midde-Ooste baie erger geword. Ten minste twee prominente leiers in die streek het gesê dat water die een kwessie is wat daartoe kan lei dat hulle oorlog teen ’n buurland verklaar.
In die halfdorre lande van die wêreld het water nog altyd sterk gevoelens uitgelok. Die rede is eenvoudig: Water is noodsaaklik vir lewe. Soos Kofi Annan dit gestel het: “Vars water is kosbaar: ons kan nie daarsonder lewe nie. Dit is onvervangbaar: daar is geen plaasvervangers daarvoor nie. En dit is gevoelig: menslike bedrywighede het ’n verreikende uitwerking op die hoeveelheid vars water wat beskikbaar is, asook op die gehalte daarvan.”
Vandag word die hoeveelheid en gehalte van ons planeet se vars water soos nog nooit tevore nie bedreig. Ons moenie mislei word deur die skynbare oorvloed in party bevoorregte wêrelddele nie.
’n Groter vraag na water
“Een van die grootste teenstrydighede van die menslike natuur is dat ons net waarde aan iets heg wanneer dit skaars is”, sê Elizabeth Dowdeswell, die ondersekretaris-generaal van die VN. “Ons waardeer die water eers wanneer die put opdroog. En die putte droog op, nie net in droogtegebiede nie, maar ook in gebiede wat nie gewoonlik met waterskaarstes geassosieer word nie.”
Diegene wat elke dag te min water het, verstaan die probleem alte goed. Asokan, ’n kantoorwerker in Madras, Indië, moet elke oggend twee uur voor sonsopkoms opstaan. Hy loop met vyf emmers na die openbare waterkraan, wat vyf minute se stap van sy huis af is. Aangesien daar net tussen 4:00 vm. en 6:00 vm. water is, moet hy vroeg in die tou gaan staan. Die water wat hy in sy emmers huis toe dra, sal die hele dag moet hou. Baie ander Indiërs—en ’n miljard ander mense op die aarde—is nie so gelukkig nie. Hulle het nie ’n kraan, rivier of put naby hulle huis nie.
Abdullah, ’n seun wat in die Sahel-streek van Afrika woon, is een van hulle. Die teken langs die pad wat ’n mens in sy dorpie verwelkom, beskryf dit as ’n oase; maar die water het lankal verdwyn, en daar is skaars ’n boom in sig. Dit is Abdullah se taak om die gesin se water te gaan haal by ’n put wat meer as ’n kilometer van hulle huis af is.
In party wêrelddele is daar alreeds meer skoon water nodig as wat beskikbaar is. Die rede is eenvoudig: ’n Groot deel van die mensdom woon in dorre of halfdorre gebiede, waar daar al lank ’n waterskaarste is. (Sien die kaart op bladsy 3.) Volgens die Stockholm-instituut vir Omgewingsake woon ’n derde van die wêreldbevolking alreeds in gebiede wat ’n matige tot ernstige watertekort het. En die vraag na water het meer as twee keer vinniger as die bevolkingsaanwas toegeneem.
Die watervoorraad daarenteen bly basies onveranderd. Dieper putte en nuwe opgaardamme bring dalk tydelike verligting, maar die hoeveelheid reën wat op die aarde val en die hoeveelheid ondergrondse water bly wesenlik dieselfde. Weerkundiges bereken derhalwe dat die hoeveelheid water wat vir elke persoon op aarde beskikbaar is, binne 25 jaar moontlik met die helfte sal verminder.
Uitwerking op gesondheid en voedsel
Watter uitwerking het waterskaarste op mense? In die eerste plek benadeel dit hulle gesondheid. Dit is nie dat hulle van dors sal sterf nie; dit is eerder dat die swak gehalte van die kook- en drinkwater hulle siek kan maak. Elizabeth Dowdeswell sê dat “omtrent 80 persent van alle siektes en meer as ’n derde van alle sterfgevalle in ontwikkelende lande deur besmette water veroorsaak word”. In die halfdorre lande van die ontwikkelende wêreld word die watervoorraad dikwels deur mense- of diereafval, plaagdoders, kunsmis of industriële chemikalieë besoedel. ’n Arm gesin het dalk geen ander keuse as om sulke besoedelde water te gebruik nie.
Net soos ons liggaam water nodig het om van afvalstowwe ontslae te raak, is baie water nodig om rioolvullis behoorlik te verwyder—water wat vir die grootste deel van die mensdom eenvoudig nie beskikbaar is nie. Die aantal mense wat nie geskikte toiletgeriewe het nie, het van 2,6 miljard in 1990 tot 2,9 miljard in 1997 gestyg. Dit is amper die helfte van die mense op die aarde. En hierdie geriewe is letterlik ’n saak van lewe of dood. In ’n gesamentlike verklaring het Carol Bellamy en Nitin Desai, amptenare van die Verenigde Nasies, gewaarsku: “Wanneer daar nie vir kinders geskikte water is om te drink en daar nie van rioolvullis ontslae geraak word nie, is feitlik elke aspek van hulle gesondheid en ontwikkeling in gevaar.”
Voedselproduksie is van water afhanklik. Baie gewasse kry natuurlik hulle water van die reën, maar in die laaste tyd het besproeiing onontbeerlik geword om die wêreld se groeiende bevolking van voedsel te voorsien. Vandag is 36 persent van die wêreld se oeste van besproeiing afhanklik. Maar ongeveer 20 jaar gelede het die wêreld se totale oppervlak van besproeide landerye ’n toppunt bereik, en sedertdien het dit geleidelik afgeneem.
As volop water uit elke kraan in ons huis loop en as ons ’n higiëniese toilet het wat afval gerieflik wegspoel, is dit dalk moeilik om te glo dat die wêreld nie meer genoeg water het nie. Ons moet egter onthou dat net 20 persent van die mensdom sulke luukshede het. In Afrika bestee baie vroue tot ses uur per dag om water te gaan haal—en dit is dikwels besoedel. Hierdie vroue verstaan die harde werklikheid baie beter: Skoon, veilige water is skaars, en dit word skaarser.
Kan tegnologie die probleem oplos? Kan waterhulpbronne spaarsamer benut word? Wat het van al die water geword? Die volgende artikels sal hierdie vrae probeer beantwoord.
[Venster/Diagram op bladsy 4]
WAAR DIE VARS WATER IS
Omtrent 97 persent van die water op die aarde is in die oseane en het te veel sout om vir drinkwater, boerdery of in nywerhede gebruik te word.
Slegs sowat 3 persent van die aarde se water is vars. Maar die meeste daarvan is moeilik bekombaar, soos die bygaande illustrasie toon.
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Permanente ys en sneeu 68,7%
Grondwater 30,1%
Permafrost, ysgrond 0,9%
Mere, riviere en moerasse 0,3%
[Venster op bladsy 5]
DIE WATERKRISIS
◼ BESOEDELING In Pole is net 5 persent van die rivierwater geskik om te drink, en 75 persent daarvan is selfs te besoedel vir industriële gebruik.
◼ STEDELIKE VOORRAAD In Mexikostad, die wêreld se tweede grootste metropool, daal die watertafel, wat 80 persent van die stad se water voorsien, aanhoudend. Water word meer as 50 persent vinniger uitgepomp as wat die natuur dit kan aanvul. Beijing, die hoofstad van China, het ’n soortgelyke probleem. Sy waterhoudende grondlaag het met meer as ’n meter per jaar gedaal, en ’n derde van sy putte het opgedroog.
◼ BESPROEIING Die groot waterhoudende grondlaag van Ogallala in die Verenigde State is so leeg dat besproeiingsplase in die noordweste van Texas met ’n derde verminder het weens die watertekort. China sowel as Indië, die tweede en derde grootste voedselprodusente, ondervind ’n soortgelyke krisis. In Indië se suidelike staat Tamil Nadu het besproeiing die watertafel in tien jaar met meer as 23 meter laat daal.
◼ RIVIERE WAT VERDWYN Gedurende die droë seisoen bereik die magtige Ganges nie meer die see nie omdat al sy water weggekeer word. Dieselfde geld vir die Colorado-rivier in Noord-Amerika.
[Kaart op bladsy 3]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
WAAR WATER SKAARS IS
Gebiede met ’n watertekort