Die noodsaaklike rol van vaders
“AL HOE meer jong mans wil betrokke wees by die grootmaak van hulle kinders. Twee-en-tagtig persent van mans tussen 21 en 39 jaar verkies om ’n werkrooster te hê wat hulle toelaat om meer tyd saam met hulle gesin deur te bring”, sê die Kanadese koerant Toronto Star aangaande ’n onlangse studie deur Harvard-universiteit. Volgens die studie, waarin 1 008 Amerikaanse mans en vroue van 21 tot 65 jaar en ouer ondervra is, het 71 persent van die jong mans gesê dat hulle “van hulle salaris sal opoffer om meer tyd saam met hulle gesin te hê”.
Waarom wil baie vaders meer betrokke wees by hulle kinders? David Blankenhorn, een van die stigters van die Nasionale Vaderskap-inisiatief, wat verantwoordelike, toegewyde vaderskap bevorder, het opgemerk dat 50 persent van die 1 600 Amerikaanse mans gedurende ’n opname in 1994 gesê het dat hulle vaders nie in hulle emosionele behoeftes as kind voorsien het nie. Baie van vandag se vaders wil nie daardie voorbeeld volg nie.
Vaders wat by hulle kinders betrokke is, kan ’n heilsame invloed hê. The Toronto Star, wat verwys na die navorsing wat deur die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste gepubliseer is, het gesê dat “kinders en adolessente minder gedragsafwykings toon, meer sosiaal aanpasbaar is en beter op skool presteer” wanneer vaders maaltye saam met hulle kinders eet, saam met hulle op uitstappies gaan en hulle met hulle huiswerk help.
Die voorafgaande vestig die aandag op ’n reëling om kinders groot te maak wat vandag net so prakties is as toe dit aanvanklik meer as drieduisend jaar gelede neergeskryf is. Die Insteller van die gesinsreëling het vaders uitdruklik beveel om betrokke te wees by die grootmaak van hulle kinders (Efesiërs 3:14, 15; 6:4). Vaders is aangespoor om ’n liefde vir God in die hart van hulle kinders in te skerp en om met hulle oor God se voorskrifte en gebooie te praat. God het gesê dat hulle dit moes doen ‘as hulle in hulle huis sit en as hulle op pad is en as hulle gaan lê en as hulle opstaan’.—Deuteronomium 6:7.
Ouerskap is albei ouers se verantwoordelikheid. Die Bybel vermaan kinders: “Luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” (Spreuke 1:8, ons kursiveer.) Die rol van die vader is noodsaaklik. Dit behels dat hy die moeder ondersteun en respekteer en haar met die takies help wat met die grootmaak van die kinders verband hou. Dit vereis ook dat hy tyd afstaan om vir die kinders te lees en met hulle te gesels. Dit voorsien in ’n noodsaaklike emosionele behoefte van die kind.
Die Bybel is onteenseglik die betroubaarste bron van raad en uitstekende beginsels vir ’n gebalanseerde gesin. ’n Vader wat goed voorsien in die geestelike, emosionele en materiële behoeftes van sy gesin, vervul sy godgegewe verantwoordelikheid.