Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/8 bl. 5-7
  • Herken die tekens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Herken die tekens
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Algemene simptome
  • Bipolêre versteuring
  • Die lewe met ’n gemoedsversteuring
    Ontwaak!—2004
  • Hoop vir lyers
    Ontwaak!—2004
  • Depressie onder tieners—Waarom? Wat kan help?
    Ontwaak!—2017
Ontwaak!—2001
g01 9/8 bl. 5-7

Herken die tekens

“Droefheid is ’n normale, gesonde emosie; depressie is ’n siekte. Die uitdaging is om die verskil te verstaan en te herken.”—Dr. David G. Fassler.

SOOS die meeste ander siektes het depressie kenmerkende simptome. Maar die tekens is nie heeltemal so maklik om te herken nie. Waarom nie? Omdat byna alle tieners nou en dan neerslagtig raak, net soos volwassenes. Wat is die verskil tussen blote neerslagtigheid en depressie? Baie het te doen met die intensiteit en duur van die toestand.

Die intensiteit hou verband met die mate waarin negatiewe gevoelens die jong persoon teister. Depressie, wat ernstiger as ’n verbygaande gevoel van wanhoop is, is ’n allesoorheersende emosionele siekte wat die tiener se vermoë om normaal te funksioneer, ernstig belemmer. Dr. Andrew Slaby beskryf die hewigheid van die toestand so: “Dink aan die ergste fisiese pyn wat jy al gehad het—’n gebreekte been, tandpyn of geboortepyne—maak dit tien maal erger en neem die oorsaak weg; dan kom jy moontlik naby aan die pyn van depressie.”

Die duur verwys na hoe lank die lustelose toestand aanhou. Volgens die kliniese professors Leon Cytryn en Donald H. McKnew jr. “is ’n kind wat binne ’n week nadat hy terneergedruk geraak het—of binne ses maande ná wat vir hom ’n ernstige verlies is—geen tekens toon dat hy vertroos is of (om watter rede ook al) nie met ’n normale lewe voortgaan nie, in gevaar om aan depressie te begin ly”.

Algemene simptome

Die toestand sal net as depressie gediagnoseer word indien die tiener elke dag, die grootste deel van die dag, vir ten minste twee weke verskeie simptome ondervind. As die simptome ’n relatief kort tyd duur, word dit as ’n depressiewe episode beskryf. Wanneer simptome ten minste ’n jaar lank ondervind word met nie meer as twee maande van verligting nie, word dit as distemie, ’n chronieser vorm van matige depressie, gediagnoseer. Wat is in albei gevalle van die algemene simptome van depressie?*

’n Skielike verandering in gemoedstemming en gedrag. Die tiener wat vantevore rustig was, is skielik aggressief. Rebelse gedrag en selfs weglopery van die huis af is algemeen onder tieners met depressie.

Sosiale afsondering. Die depressiewe jeugdige sonder hom af van sy vriende. Of dit kan wees dat vriende hulle van die jong depressielyer onttrek omdat hulle ’n ongewenste verandering in sy of haar gesindheid en gedrag sien.

Verminderde belangstelling in amper alle bedrywighede. Die tiener is gewoonlik passief. Stokperdjies wat nog tot onlangs interessant was, is nou vervelig.

Merkbare verandering in eetgewoontes. Baie kenners meen dat versteurings soos anoreksie, bulimie en kompulsiewe ooretery dikwels met depressie gepaardgaan (en soms die gevolg daarvan is).

Slaapprobleme. Die tiener slaap of te min of te veel. Party ontwikkel abnormale slaapgewoontes, hulle is heelnag wakker en slaap regdeur die dag.

Probleme op skool. Die tiener wat aan depressie ly, vind dit moeilik om met onderwysers en portuurs oor die weg te kom, en sy punte begin versleg. Kort voor lank wil die tiener glad nie meer skool toe gaan nie.

Gevaarlike of selfvernietigende optrede. Gedrag wat ‘die dood uitdaag’, kan toon dat ’n jong persoon min belangstelling in die lewe het. Selfverminking (soos om die vel te sny) kan ook ’n simptoom wees.

’n Gevoel van waardeloosheid of ’n ongepaste skuldgevoel. Die tiener word baie krities teenoor homself en voel soos ’n algehele mislukking, selfs al toon die feite iets anders.

Psigosomatiese probleme. Wanneer geen fisiese oorsaak gevind kan word nie, kan hoofpyn, rugpyn, maagpyn en soortgelyke probleme ’n teken van onderliggende depressie wees.

Deur gereeld oor die dood of selfmoord te dink. ’n Beheptheid met morbiede temas kan op depressie dui. Dieselfde geld vir dreigemente om selfmoord te pleeg.—Sien venster hieronder.

Bipolêre versteuring

Van hierdie simptome kan gesien word in ’n ander raaiselagtige siekte—bipolêre versteuring. Volgens dr. Barbara D. Ingersoll en dr. Sam Goldstein is bipolêre versteuring (ook bekend as maniese depressie) “’n toestand wat gekenmerk word deur tye van depressie wat afgewissel word met tye van oormatige opgewektheid en verhoogde energie—wat baie meer is as net ’n goeie bui”.

Hierdie fase word manie genoem. Die simptome daarvan kan snelvloeiende gedagtes, uiterse spraaksaamheid en ’n verminderde behoefte aan slaap insluit. Trouens, die lyer kan dae lank sonder slaap gaan, met geen sigbare verlies aan energie nie. Nog ’n simptoom van bipolêre versteuring is uiters impulsiewe gedrag sonder om die gevolge in ag te neem. “Manie raak dikwels mense se denke, oordeel en sosiale gedrag op maniere wat ernstige probleme en verleenthede veroorsaak”, sê ’n verslag deur die Amerikaanse Nasionale Instituut van Geestesgesondheid. Hoe lank hou die maniese fase? Soms net ’n paar dae; in ander gevalle bly dit maande lank voordat dit deur depressie vervang word.

Persone met gesinslede wat bipolêre versteuring het, verkeer in die grootste gevaar om hierdie siekte te kry. Die goeie nuus is dat daar hoop vir lyers is. “As dit vroegtydig gediagnoseer en reg behandel word”, sê die boek The Bipolar Child, “kan hierdie kinders en hulle gesinne lewens lei wat baie stabieler is.”

Dit is belangrik om daarop te let dat ’n enkele simptoom nie op depressie of bipolêre versteuring dui nie. Gewoonlik is dit ’n kombinasie van simptome wat oor ’n tydperk gesien word, wat tot ’n diagnose lei. Die vraag bly egter steeds: Waarom word tieners deur hierdie raaiselagtige siekte geteister?

[Voetnoot]

Die simptome wat hier gegee word, is bedoel om as ’n algemene beskrywing te dien en nie as ’n maatstaf om ’n diagnose te maak nie.

[Venster op bladsy 6]

Wanneer ’N Kind Wil Sterf

Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer het meer jongmense in ’n onlangse jaar in die Verenigde State selfmoord gepleeg as wat aan kanker, hartsiekte, vigs, geboortedefekte, beroerte, longontsteking, griep en chroniese longsiektes saam dood is. Nog ’n ontstellende feit is: Daar was ’n dramatiese toename in selfmoorde wat aangemeld is, onder mense tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar.

Kan tienerselfmoorde voorkom word? In party gevalle, ja. “Volgens statistiek word baie selfmoorde in werklikheid gepleeg deur mense wat al voorheen probeer selfmoord pleeg het of gedreig het om dit te doen”, skryf dr. Kathleen McCoy. “Wanneer jou tiener selfs net selfmoordgedagtes meld, is dit tyd om ernstig daaraan aandag te skenk en moontlik professionele hulp te soek.”

Die hoë voorkoms van tienerdepressie bevestig hoe belangrik dit is dat ouers en ander volwassenes enige aanduiding wat ’n jong persoon gee dat hy sy lewe wil neem, ernstig opneem. “In byna elke selfmoordgeval wat ek ondersoek het, is tekens van die tiener se planne geïgnoreer of as onbelangrik afgemaak”, skryf dr. Andrew Slaby in sy boek No One Saw My Pain. “Gesinslede en vriende het nie verstaan hoe ernstig die veranderinge eintlik was wat hulle gesien het nie. Hulle het gekonsentreer op die gevolge en nie op die onderliggende probleem nie sodat ‘gesinsprobleme’ of ‘dwelmmisbruik’ of ‘anoreksie’ die diagnose geword het. Soms is die woede, die verwarring en die geïrriteerdheid behandel, maar nie die depressie nie. Die onderliggende probleem was nog steeds daar, teisterend en verterend.”

Die boodskap is duidelik: Neem alle tekens van selfmoordneigings ernstig op!

[Prent op bladsy 7]

Soms is rebelse gedrag ’n teken van onderliggende depressie

[Prent op bladsy 7]

Depressiewe tieners verloor dikwels belangstelling in bedrywighede wat hulle vroeër boeiend gevind het

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel