Daardie vermaaklike klein jagtertjies
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
DAAR staan hy toe, op sy agterpote, in die skroeiende son en klou met alle mag aan die dun takkies terwyl hy homself met sy stert soos ’n driepootstaander balanseer. Hy bespied die omgewing, die lug en die vlakte om te sien of daar enige teken van gevaar is. Sy maatjies word kort-kort deur sy sagte piepgeluid gerusgestel dat alles nog veilig is terwyl hulle vir kos daar naby soek. Hy sal op sy pos bly totdat een van sy maatjies hom kom aflos—al is dit eers oor ’n uur of wat!
Wie is hierdie diertjie? Dit is die meerkat. Hierdie klein roofdiertjie, wat van sy snoet tot by die punt van sy stert maar net omtrent 40 sentimeter lank is, is ’n sosiale diertjie en woon in groepe van tussen 10 en 30 meerkatte.
Elke oggend wanneer die meerkatte ná die koue nag uit hulle gat kom, staan hulle op hulle agterpote in ’n ry en bak in die son. Daar versorg hulle mekaar se pelse liefdevol terwyl hulle die hele tyd vriendelik piep. Hierdie goedige interaksie kan ’n halfuur of meer neem. Maar hulle draf kort voor lank weg om vir die dag te gaan jag.
Die meerkat se georganiseerde manier van jag, verseker hulle van ’n bestendige voorraad insekte en klein reptiele. En wat ’n gesonde eetlus het hulle tog! Omdat hulle so hard moet werk om hulle eetlus te bevredig, sal die meeste van hulle teen die middag se kant in die koelte van ’n bos of boom aan die slaap raak, en party sal ’n hoop koel sand uitgrawe om op te lê.
Maar waarom is ’n wagter dan nodig? Omdat hierdie jagters ook gesogte prooi is. Terwyl die meerkatte vinnig deur die harde grond grawe op soek na een ou wurmpie—en soms soveel grond uitgrawe dat dit swaarder as hulle weeg—is hulle ’n aanloklike teiken vir jakkalse of roofvoëls wat op die uitkyk is na prooi.
Sê nou die wagter besef dat daar gevaar is? Hy sal skielik ’n skril waarskuwingskreet gee, en almal sal onmiddellik reageer en op die naaste gat afpyl. Maar as die wagter se waarskuwingskreet te kenne gee dat ’n mededingende groep meerkatte op pad is, sal die meerkatte wie se gebied dit is, nie wegskarrel nie. Hulle sal eerder saamstaan, met hulle rûe gekrom en dreigend en hulle sterte soos antennas in die lug. Die groep sal dan snater terwyl hulle die indringers nader, en party sal met hulle stywe beentjies op en af spring asof hulle ’n oorlogsdans uitvoer. Hierdie verenigde poging is dikwels genoeg om die mededingers te verjaag.
’n Spanpoging
Meerkatte werk dikwels saam. Dit kan veral gesien word wanneer hulle hulle kleintjies versorg. Tydens die eerste paar weke ná hulle geboorte, kry hierdie nuwelinge al die aandag. Die ander lede van die groep besoek die wyfie en haar werpsel gedurig. En watter verwelkoming kry die kleintjies tog wanneer sy hulle vir die eerste keer uit die gat uitbring! Die hele groep kom byt saggies en liefdevol aan haar nek terwyl hulle van vreugde uitroep en saggies teen die nuwelinge skuur.
Die hele span sal ’n paar weke lank die kleintjies help versorg. Die meeste sal gretig beurte maak om die kleintjies op te pas terwyl die res gaan jag. Party wyfies wat nie hulle eie kleintjies het nie, sal spontaan melk voortbring om die kleintjies te help soog—wat sodoende die las vir die ma ligter maak. Al hierdie bedrywighede laat min tyd oor vir die kinderoppasster om kos te soek. Gevolglik het party al 10 persent van hulle liggaamsgewig verloor terwyl hulle die werpsel help versorg!
Wanneer die kleintjies oud genoeg is om die gat te verlaat en saam te gaan jag, maak gewillige volwasse meerkatte beurte om elke jong meerkatjie geduldig die kuns van jag te leer. Die beste vangs word dikwels vir die kleintjies gegee, selfs al beteken dit dat die volwassenes daardie dag nie baie te ete kry nie. As ’n wagter se waarskuwing die meerkatte na hulle gate toe laat skarrel, sal ten minste een van hulle seker maak dat die kleintjies ook veilig daar uitkom.
Die moeite werd om dop te hou
Meerkatte word maklik mak gemaak en is liefdevol. “Oor die algemeen”, sê Maberly’s Mammals of Southern Africa, “is hierdie interessante diertjies seker van die oulikste, fassinerendste en liefdevolste soogdiere in suidelike Afrika en altyd die moeite werd om dop te hou.”
Alain, wat meerkatte jare lank gefotografeer het, stem saam. Hy vertel van die keer toe ’n wyfie uit die gat gekom het met haar vier dae oue kleintjie in haar mond en kermgeluidjies gemaak het toe sy die kleintjie voor sy voete neersit. Hy het gedink die kleintjie is dood. “Maar toe ek hom saggies optel”, het hy gesê, “het ek besef dat hy lewe, en dat sy hom net graag eerste vir my wou wys voordat die ander meerkatte nader storm om haar geluk te wens. Ek was so ontroer dat ek nooit eers daaraan gedink het om foto’s te neem nie.”
Sylvie, wat ook jare lank meerkatte in die natuur bestudeer het, onthou die dag toe sy vroeg die oggend op die grond langs die gat gelê het toe die meerkatte uitgekom het. Hulle het soos gewoonlik ’n paar sentimeter van haar af in ’n ry gaan sit en mekaar begin versorg en vertroetel. Toe sy met hulle praat, het hulle teruggepiep. Sylvie het haar vingers stadig na die eerste een, ’n wyfie, uitgestrek en haar begin streel—tot by haar oor. Sy het gekriewel van lekkerkry en toe die volgende een in die ry begin versorg. “Ek word aanvaar in hulle liefkosingsritueel”, het Sylvie gesê. “Wat ’n voorreg!”
Daar is baie verhale van mense wat tyd met meerkatte deurgebring het. Hulle is werklik vermaaklike klein jagtertjies!
[Prente op bladsy 26]
Die vyand word verjaag
’n Wagter op sy pos
Hulle bak in die son voor die dag se jag
[Erkenning]
Alle foto’s: © Nigel J. Dennis