Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Taiwan verleen amnestie aan “gevangenes met gewetensbesware”
  • “Is ‘oorbevolking’ ’n mite?”
  • Die veelsydige nopalplant—Goed vir suikersiektelyers?
  • Lugbesoedeling oor die Indiese Oseaan
  • Is sjokolade goed vir jou gesondheid?
  • Lewensverwagting
  • Begraafplaas van reuse-oesters
  • “Nuwe motor”-reuk
  • Tienerswangerskappe in die Verenigde State
  • Gesinsgeweld teenoor bejaardes
  • Sjokolade—Van die boon tot by jou
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2005
  • Tienerswangerskap—’n Wêreldwye tragedie
    Ontwaak!—2004
Ontwaak!—2001
g01 9/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Taiwan verleen amnestie aan “gevangenes met gewetensbesware”

“President Tsjen Sjoei-bian [van Taiwan] het 21 gevangenes kwytgeskeld . . . , waaronder 19 ‘gevangenes met gewetensbesware’ wat opgesluit is omdat hulle geweier het om diensplig te doen”, berig The China Post. “Die kwytskelding, wat vanaf Internasionale Menseregtedag [10 Desember 2000] van krag is, sal die naam van 19 Getuies van Jehovah suiwer wat skuldig bevind is omdat hulle weens godsdiensredes geweier het om die verpligte militêre diens te doen.” Van die 19 is 14 alreeds op parool vrygelaat. Dié spesiale kwytskelding was die eerste in tien jaar. Die prokureur Nigel Li, wie se prokureursfirma die Getuies se saak behartig het, het gesê: “Ek is ontroer en diep geraak deur die Getuies en hulle vredesending. . . . Die feit dat hulle vrede kies, weerspieël ’n hoë menslike waarde. En dit vereis dat ons groot respek vir hulle moet hê.”

“Is ‘oorbevolking’ ’n mite?”

“Al klink dit dalk ongelooflik, kan die hele wêreldbevolking in die Amerikaanse staat Texas gehuisves word”, berig die tydskrif Vitality. Volgens die artikel is die Verenigde Nasies se jongste skatting van die wêreldbevolking ongeveer sesmiljard, en Texas het ’n landoppervlakte van nagenoeg 680 000 vierkante kilometer. Die leefruimte per persoon sal derhalwe meer as 113 vierkante meter wees. “’n Gesin van 5 sal dus meer as 6 085 vierkante voet [565 vk. m] leefruimte hê. Selfs in Texas is dit ’n groot huis”, sê Vitality. “Intussen sal die res van die wêreld heeltemal leeg wees, wat die hele mensdom sal kan gebruik vir landboudoeleindes, die vervaardiging van produkte, opvoeding en ontspanning!”

Die veelsydige nopalplant—Goed vir suikersiektelyers?

Baie mense dink dat die nopalplant net nog ’n woestynplant is wat in die veld groei. Maar soos daar in The News van Mexikostad berig is, is die veelsydige nopalplant dalk van besondere belang vir suikersiektelyers. Waarom? Wetenskaplikes het gevind dat voedsel wat gemaak word met die meel van gedroogde nopalplante, deur suikersiektelyers geëet kan word sonder dat dit hulle bloedsuikervlak verhoog. Omdat nopal blykbaar die lewer en pankreas versterk, verhoog dit die liggaam se sensitiwiteit vir insulien.

Lugbesoedeling oor die Indiese Oseaan

Groot dele van die noordelike Indiese Oseaan het skielik ’n hoë vlak van lugbesoedeling, berig die nuusbrief MorgenWelt Nachrichten. Navorsers van ses lande het gevind dat moesonwinde gedurende die winter roet, stofas, organiese deeltjies, mineraalstof, nitrate en sulfate van suidelike en suidoostelike Asië na die Indiese Oseaan waai. Van Januarie tot Maart 1999 af het ’n rookwolk, wat byna drie kilometer hoog was, ’n gebied van meer as tienmiljoen vierkante kilometer bedek, wat groter is as die landoppervlakte van Kanada. “Volgens die wetenskaplikes veroorsaak die hoër vlakke van besoedelstowwe in Asië dat die gehalte van die lug drasties afneem, wat ’n plaaslike sowel as ’n wêreldwye impak het”, sê die nuusbrief.

Is sjokolade goed vir jou gesondheid?

Volgens party mense is sjokolade goed vir jou gesondheid, sê die koerant Nihon Keizai Shimbun van Japan. Waarom? Omdat sjokolade kakaopolifenole bevat wat slagaarverharding en kanker help teëwerk. Sjokolade is glo ook ’n doeltreffende middel om balans in die immuunstelsel te handhaaf en die liggaam te help om van spanning te herstel. Professor Hirosjige Itakoera van die Ibaraki- Christelike universiteit sê: “Hoëgehaltesjokolade wat baie kakaobone en baie min suiker en olie bevat, is die doeltreffendste.” Die professor het egter ook beklemtoon hoe belangrik dit is om “groen en geel groentesoorte en proteïene [te eet] wat die verskillende soorte polifenole bevat” wat die liggaam nodig het.

Lewensverwagting

Hoewel toekomskundiges hoop dat die lewensverwagting tot 100 sal styg, is dit moeilik om dit bo 80 te kry. Volgens The Globe and Mail van Kanada sê deskundiges dat “geen skielike toename in lewensverwagting moontlik is nie tensy biomediese navorsers ’n manier vind om die verouderingsproses te verander en dit teen ’n lae koste aan almal beskikbaar kan stel. Totdat dit gebeur, sal die syfer nie juis verander nie, ongeag hoeveel veranderinge ons in ons lewenstyl aanbring, hoeveel vitamiene ons inneem en hoeveel hormone ons ons laat inspuit.” Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie was Kanada verlede jaar 12de onder die 191 lande wat lewensverwagting betref. Die aantal gesonde jare voordat siekte intree, is blykbaar 70 jaar vir mans en 74 vir vroue. In Japan, wat as die gesondste nasie beskou word, kan ’n inwoner verwag om amper 75 siektevrye jare te lewe, sê die verslag.

Begraafplaas van reuse-oesters

Meer as 500 fossiele van reuse-oesters, waarvan party tot 300 kilogram weeg en hulle skulpe tot 3,5 meter in omtrek is, is op ’n hoogte van 3 750 meter bo seespieël in Acostambo, Peru, gevind, berig die koerant El Comercio. Die paleontoloog Arturo Vildozola het die oesterbed net ’n paar meter van ’n hoofweg af gevind, tussen die dorpe Pampas en Colcabamba. Niemand het die oesters blykbaar in die verlede opgemerk nie ondanks die feit dat dit jare lank op die grond verspreid gelê het. Hierdie vonds van reuse-oesters bevestig die gedagte dat die oseaan vroeër die Andesgebergte bedek het.

“Nuwe motor”-reuk

Chemikalieë wat deur binnenshuise versiering in geboue afgegee word, kan die gesondheidsprobleem veroorsaak waarna daar soms in Japan as die “siekhuissindroom” verwys word. Maar hoë konsentrasies giftige chemikalieë word ook deur materiale in nuwe motors vrygestel, berig die koerant The Daily Yomiuri. Nadat navorsers by die Osaka-prefektuur se Instituut vir Openbare Gesondheid ’n nuwe motor getoets het, het hulle gevind dat die konsentrasie skadelike stowwe ongeveer 34 keer hoër was as die grens vir huise wat deur die Departement van Gesondheid en Welsyn gestel is. Selfs nadat ’n motor ’n jaar lank gebruik is, het die chemiese vlak bo die voorlopige beperking gebly. Iwao Oetsjijama van die Nasionale Openbare Gesondheidsinstituut sê: “As ’n mens lang tye in ’n motor deurbring, moet jy versigtig wees.” Wat moet jy doen? Hy sê: “As vars lug ingelaat word, kan ventilasie makliker in ’n motor plaasvind as in ’n huis.”

Tienerswangerskappe in die Verenigde State

“Die Verenigde State loop die ontwikkelde wêreld voor wat tienerswangerskappe betref”, sê die tydskrif U.S.News & World Report. Daar word geraam dat eenmiljoen tieners elke jaar in die Verenigde State swanger word en dat 25 persent van hulle ’n tweede kind binne twee jaar ná die eerste een sal hê. Die syfers van 1997 af toon dat Mississippi die hoogste persentasie geboortes per tieners (20 persent) gehad het, terwyl Massachusetts die laagste (7,2 persent) gehad het. Oor die algemeen is die hoogste syfers vir tienerswangerskappe in die sogenaamde Bybelstreek wat in die suidelike deel van die Verenigde State geleë is.

Gesinsgeweld teenoor bejaardes

“Geskille oor eiendom is besig om ’n algemene oorsaak te word van gesinsgeweld teenoor bejaardes”, berig O Estado de S. Paulo. ’n Ondersoek van klagtes wat tussen 1991 en 1998 by die polisie in Sao Paulo, Brasilië, ingedien is, het getoon dat familielede—kinders, kleinkinders, hulle huweliksmaats en ander—by 47 persent van die gevalle betrokke was. “Dit lei gewoonlik tot liggaamlike en sielkundige geweld wanneer die bejaarde gedwing word om sy eiendom oor te dra of sy besittings onder sy familielede te verdeel terwyl hy nog leef”, het die aanklaer João Estêvão da Silva gesê. Bejaardes word ook soms weens finansiële oorwegings op hartelose wyse in staatshospitale en ouetehuise gelaat. “Weens armoede word bejaardes ’n las, en dit veroorsaak spanning in die gesin”, het Silva verduidelik.

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel