Enkelouers, baie uitdagings
“Ek moet baie emosies verwerk. Ek sit soms die hele nag in die badkamer en huil. Dit is baie moeilik.”—JANET, ’N ENKELMOEDER MET DRIE KINDERS.
DAAR is baie paaie na enkelouerskap. Party gesinne bevind hulle in hierdie situasie as gevolg van oorlog, natuurrampe of siekte.
Ouers van party kinders besluit om nie met mekaar te trou nie. Byvoorbeeld, in Swede word byna die helfte van alle kinders buite die huwelik gebore. Egskeidings lei ook tot enkelouerhuishoudings. Volgens navorsing sal meer as 50 persent van Amerikaanse kinders ’n deel van hulle kinderjare in ’n enkelouerhuishouding deurbring.
Verstaan die uitdagings
Moeders wat onlangs weduwees geword het, het ’n unieke las om te dra. Hulle moet die verantwoordelikheid van hulle huishouding op hulle neem terwyl hulle nog oor die verlies van hulle maat treur. Dit kan hulle maande, selfs jare, neem om by hierdie rol aan te pas terwyl hulle ekonomiese uitdagings die hoof bied en die verantwoordelikheid vervul om hulle kinders te troos. Die weduwee-moeder sal dit moontlik baie moeilik vind om hierdie bykomende verantwoordelikhede na te kom. Dit kan daartoe lei dat ’n kind nie voldoende ouerlike sorg ontvang gedurende ’n tyd wanneer hy of sy aandag en versekering bitter nodig het nie.
Enkelmoeders wat nie met hulle kind se vader getrou het nie, is dikwels baie jonk en onervare. Hulle het moontlik nie ’n geleentheid gehad om hulle formele skoolopleiding te voltooi nie. Sonder voldoende werksvaardighede is die kanse groter dat hulle arm sal wees en laagbesoldigde werk sal hê. Sonder die ondersteuning van hulle familie, soos hulle ouers, sal hulle ook die bykomende verantwoordelikheid hê om geskikte dagsorg vir hulle kind te voorsien. Die ongetroude moeder worstel dalk ook met sekere emosies, soos skaamte en eensaamheid. Party vrees moontlik dat hulle nooit ’n geskikte maat sal vind nie omdat hulle ’n kind het. Namate kinders in sulke huishoudings ouer word, kan hulle ook gekwel word deur onbeantwoorde vrae oor hulle agtergrond en ’n behoefte om deur die afwesige ouer erken te word.
Ouers wat besig is om te skei, ondervind eweneens geweldige spanning. Party ouers is dalk baie kwaad as gevolg van die egskeiding. Sommige verloor ook die vermoë om hulle kinders emosioneel te ondersteun weens ’n swak selfbeeld en ’n intense gevoel van verwerping. Moeders wat vir die eerste keer die arbeidsmark moet betree, kan dit moeilik vind om die verantwoordelikheid na te kom om ’n huishouding te bestuur. Hulle voel moontlik dat hulle nie die tyd of die energie het om te voorsien in die spesiale behoeftes van die kinders nie, wat self die groot veranderinge ná die egskeiding van hulle ouers moet verwerk.
Unieke uitdagings van geskeide ouers
Enkelouers besef dat hulle kinders se individuele behoeftes verskil en voortdurend verander. Vir geskeide enkelouers kan dit unieke uitdagings bied om geskikte geleenthede te skep om hulle kinders geestelike leiding te gee.
Byvoorbeeld, party geskeide ouers wat Jehovah se Getuies is, het moontlik nie toesig oor hulle kinders nie. Hulle het probeer reël dat hulle kinders hulle op ’n tyd besoek wanneer hulle ’n Christelike vergadering kan bywoon. So ’n reëling vir besoeke bring die kind gereeld in kontak met die Christengemeente, wat tot groot voordeel vir die kinders van geskeide ouers is.
Geskeide ouers wat minder geleenthede vir gereelde kontak met hulle kinders het, moet na maniere soek om hulle kinders daarvan te verseker dat hulle hulle liefhet en vir hulle omgee. Om suksesvol te wees, moet ’n ouer bewus wees van die kind se veranderende emosionele behoeftes. Dit is veral nodig wanneer die kind adolessensie bereik en groter belangstelling in sosiale aktiwiteite en vriende begin toon.
Die suksesvolle ouer verstaan ook die kind se vermoëns, persoonlikheid en denkwyse (Genesis 33:13). Ouer en kind geniet intieme en hartlike gesprekke en assosiasie met mekaar. Die kommunikasiekanale is oop. Die kind is deel van die ouer se lewe, en die ouer is deel van die kind se lewe.
Die behoefte aan redelikheid
Ná ’n egskeiding vind die kinders baat by gereelde kontak met albei ouers. Gestel die ouers se godsdiensopvattings verskil; die een ouer is een van Jehovah se Getuies en die ander is nie. Gereelde en eerlike kommunikasie help om onnodige konflik te vermy. “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 4:5). Kinders moet geleer word om albei ouers se reg te respekteer om hulle godsdiens te beoefen.
Die nie-Getuie-ouer dring moontlik daarop aan dat die kind saam met hom kerk toe gaan. Wat kan die ouer wat een van Jehovah se Getuies is, doen? Sy kan ook haar kind haar godsdiensoortuigings leer. Met verloop van tyd kan die kind sy eie besluit in verband met godsdiens neem, soos jong Timoteus gedoen het, wie se moeder en grootmoeder hom blykbaar Bybelbeginsels geleer het (2 Timoteus 3:14, 15). As dit die kind kwel om ’n ander godsdiens se dienste by te woon, sal dit dalk goed wees as hy die voorbeeld van die Bybelkarakter Naäman ondersoek wat, nadat hy ’n ware aanbidder geword het, aangehou het om sy pligte uit te voer deur die koning te vergesel wanneer hy by die huis van Rimmon aanbid het. Hierdie verslag kan die kind van Jehovah se liefde en begrip verseker al woon hy godsdiensseremonies by waaraan hy nie gewoond is nie.—2 Konings 5:17-19.
Die suksesvolle ouer is in staat om die denke van die kind of kinders te vorm en verstaan hulle gevoelens (Deuteronomium 6:7). Ouers wat nooit getroud was nie, voel dalk weliswaar skaam oor hulle vorige lewenswyse. Maar sulke ouers moet onthou dat hulle kinders twee biologiese ouers het. Kinders wil meer oor albei ouers weet, en hulle moet geliefd voel, nie net soos ’n ongeluk wat niemand wil hê nie. Die ouer kan die kind liefdevolle versekering gee deur respekvol van die afwesige ouer te praat en antwoorde te gee wat ’n kind van sy ouderdom kan verstaan of vir hom voldoende is.
Ouers moet onthou dat ’n kind se eerste indrukke van liefde, gesag en krag gevorm word deur die verhouding wat die kind met sy ouer het. Die Christenouer kan deur die liefdevolle uitoefening van gesag en krag baie doen om die kind voor te berei om ’n liefdevolle verhouding met Jehovah en respek vir reëlings in die gemeente te hê.—Genesis 18:19.
Kinders se samewerking noodsaaklik
Kinders in enkelouergesinne moet ook verstaan dat hulle samewerking noodsaaklik is vir die sukses van die gesin (Efesiërs 6:1-3). Hulle gehoorsaamheid aan ouerlike gesag toon dat hulle hulle ouer liefhet en respek het vir die feit dat die ouer meer moet doen om die huishouding veilig en gelukkig te maak. Aangesien kommunikasie van beide kante af moet kom, moet kinders in ’n enkelouergesin onthou dat hulle gewillig moet wees om die ouer se pogings te ondersteun om goeie kommunikasie in die gesin te handhaaf.—Spreuke 1:8; 4:1-4.
Sulke kinders moet dikwels verantwoordelikhede vroeër op hulle neem as kinders wat in tweeouerhuishoudings woon. Met liefdevolle en geduldige opleiding sal seuns en meisies selfvertroue en ’n gevoel van eiewaarde verkry namate hulle op ’n vroeë ouderdom lewensvaardighede aanleer. Sommige takies kan ook aan kinders gegee word sodat hulle tot ’n ordelike huishouding kan bydra.
Dit beteken nie dat die enkelouer haar kinders klein, selfstandige volwassenes wil maak wat geen ouerlike leiding nodig het nie. Dit is beslis baie onverstandig om ’n jong kind alleen of sonder toesig te laat.
Enkelouers maak dikwels die fout om te dink dat hulle hulle kinders se speelmaats moet wees. Hoewel ’n hegte verhouding nodig is, moet enkelouers in gedagte hou dat kinders ’n ouer nodig het en dat ’n kind nie emosioneel volwasse genoeg is om die ouer se vertroueling of gelyke te wees nie. Wat jou kinders nodig het, is dat jy soos ’n ouer optree.
As enkelouers en kinders in ’n liefdevolle verhouding saamwerk, kan dit tot ’n suksesvolle gesin bydra. Namate al hoe meer kinders in enkelouerhuishoudings grootgemaak word, moet almal bewus wees van die unieke uitdagings waarvoor enkelouers en hulle kinders te staan kom en bereid wees om liefdevolle aanmoediging en ondersteuning te gee.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Uitwerking op kinders
Enkelouers het oor die algemeen minder tyd vir elke kind as wat twee ouers sou hê. Soms bly ’n enkelouer saam met iemand wat nie sy of haar huweliksmaat is nie. Maar saamblyverhoudings is minder stabiel as huwelike. Die kanse is groter dat kinders wat in sulke gesinne grootword, voortdurend gewoond sal moet raak aan nuwe volwassenes in die huis.
Volgens party studies “is die kanse groter dat kinders van enkelouergesinne oor die algemeen op sedelike en emosionele gebied minder gesonde lewens sal lei as kinders van gesinne wat nog bymekaar is”. Maar ’n nadere ondersoek van sulke studies toon dat ’n tekort aan inkomste “die heel belangrikste rede [kan wees] waarom kinders uit verskillende soorte gesinne van mekaar verskil”. Dit beteken natuurlik nie dat kinders uit ’n enkelouergesin tot mislukking gedoem is nie. Met behoorlike leiding en opvoeding kan hulle negatiewe invloede oorkom.