’n Lewensbelangrike vloeistof—Water
JESUS het met ’n Samaritaanse vrou wat water by ’n put kom skep het, gepraat oor ’n fontein van water wat opborrel om die ewige lewe te gee (Johannes 4:14). Hoewel die water waarna hy verwys het simbolies is, is water in letterlike sin noodsaaklik vir lewe aangesien net suurstof in hierdie opsig belangriker is. ’n Mens kan etlike weke lank sonder kos bly, maar slegs ongeveer vyf dae sonder water!
Tot driekwart van ons liggaamsgewig is water. Vyf-en-sewentig tot 85 persent van die brein en 70 persent van die spiere bestaan byvoorbeeld uit water. Water help ons onder meer om kos te verteer en op te neem deur voedingstowwe na die selle te vervoer. Dit verwyder gifstowwe en ander afvalstowwe, smeer die gewrigte en dikderm en reguleer die liggaamstemperatuur. Maar het jy geweet dat ’n mens ook gewig kan verloor as jy genoeg water drink?
Drink water om gewig te verloor
Eerstens, water het geen kalorieë nie, is vet- en cholesterolvry en bevat min natrium. Tweedens, dit is ’n eetlusdemper. Derdens, water help die liggaam om opgebergde vet te metaboliseer. Hoe? Wel, wanneer die niere nie genoeg water het nie, kan hulle nie behoorlik funksioneer nie. Die lewer begin die niere dan help om hulle werk te doen, maar dit belemmer die lewer se vermoë om vet doeltreffend te metaboliseer. Die vet bly dus in die liggaam opgeberg, en jy sit gewig aan. Soos dr. Donald Robertson van die Suidwestelike Vetsugvoedingsentrum in Scottsdale, Arizona, VSA, sê, “is behoorlike waterinname ’n sleutel tot gewigsverlies. As mense wat probeer gewig verloor, nie genoeg water drink nie, kan die liggaam nie die vet doeltreffend metaboliseer nie.”
Dit is waar dat waterretensie in baie gevalle vir gewigstoename verantwoordelik is. Gevolglik dink baie wat ’n probleem met waterretensie het, dat hulle minder water moet inneem om die probleem op te los. Maar die teenoorgestelde is waar. Wanneer die liggaam nie genoeg water kry nie, probeer dit elke beskikbare druppel terughou deur dit in plekke soos die voete, hande en bene op te berg. Voedingkundiges beveel dus aan dat ons ons liggaam gee wat dit nodig het—genoeg water. En onthou, hoe meer sout jy eet, hoe meer water sal jy terughou om die soutgehalte te verlaag.
Drink genoeg water
Die liggaam skei elke dag sowat twee liter water uit deur die vel, longe, ingewande en niere. Ons verloor elke dag ongeveer ’n halfliter vloeistof net deur uit te asem. As hierdie water nie vervang word nie, sal ons ontwater. ’n Paar tekens van ontwatering is hoofpyn, moegheid, seer spiere, donker urine, hitteonverdraagsaamheid en droogheid van die mond en oë.
Hoeveel water moet ons dus drink? Dr. Howard Flaks, ’n vetsugspesialis, sê: “Die minimum vir ’n gesonde persoon is agt tot tien glase van 250 milliliter per dag. Jy het meer nodig as jy baie oefen of in ’n warm klimaat woon. En mense wat oorgewig is, moet ’n ekstra glas drink vir elke 10 kilogram wat hulle oor hulle ideale gewig is.” Maar party sê nou dat dit genoeg is om water te drink wanneer jy dors is, hoewel jy moontlik reeds effens ontwater is as jy baie dors is.
Kan ’n mens iets anders in die plek van water drink? Hoewel dit ook goed is om vrugte- en groentesappe te drink wat met water verdun is, is dit nie kalorievry nie. As ’n mens vloeistowwe met baie suiker en melk drink, het die liggaam ook meer water nodig, aangesien water nodig is om dit te verteer. En alkohol en kafeïenbevattende drankies soos koffie en tee is matige urineermiddels, wat dit nodig maak om meer water te drink om die uitgeskeide water te vervang. Daar is eenvoudig nie ’n plaasvervanger vir hierdie lewensbelangrike vloeistof, water, nie. Hoekom drink jy nie sommer nou ’n glas nie?
[Venster/Prent op bladsy 13]
Wenke om meer water te drink
● Hou ’n waterbottel by jou.
● Drink ’n glas saam met elke ete.
● Drink voor, gedurende en ná oefening.
● Vervang koffiepouses met waterpouses.
● Voeg suurlemoensap by kraanwater of gebruik ’n filter om die smaak te verbeter.
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Foto: www.comstock.com