Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 6/22 bl. 15-17
  • ’n Pragtige voël met vere vol oë

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Pragtige voël met vere vol oë
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Indrukwekkende vertoning
  • Die pou se gesinslewe
  • Die pou in die geskiedenis
  • Die skitterende ster van die voëlvertoning
    Ontwaak!—2003
Ontwaak!—2003
g03 6/22 bl. 15-17

’n Pragtige voël met vere vol oë

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

JY HET moontlik uit die opskrif agtergekom dat ons van die pou praat. Ja, die poumannetjie se lang siervere is wêreldberoemd.* Maar het jy al ooit gewonder wat die doel van hierdie uitsonderlike veredos is en of jy hierdie voël net op sy baadjie moet takseer?

Daar is drie soorte poue, en hulle is ’n lid van die fisantfamilie. Hier sal ons die Indiese, of gewone, pou bespreek, wat hoofsaaklik blougroen is en 200 tot 235 sentimeter lank word, wat die siervere van 150 sentimeter insluit. Die siervere is groen en goud met kolle wat soos blou en bronskleurige oë lyk. Die lyfvere is gewoonlik ’n glansende blougroen.

Die pou is die nasionale voël van Indië en het beslis ’n koninklike voorkoms. Dit is miskien waarom die uitdrukking “so trots soos ’n pou” gebruik word om hoogmoedige mense te beskryf. Maar hierdie voël is nie so afsydig soos hy lyk nie. Trouens, hy word maklik mak gemaak. Party beskou die pou as heilig. Daarom kyk kleinboere in Indië soms maar net toe as die voëls hulle graanlande verniel.

’n Indrukwekkende vertoning

Poue is natuurlik die bekendste vir die indrukwekkende vertoning wat hulle lewer wanneer hulle met hulle uitgespreide siervere ’n swierige waaier vorm. Wat is die doel van hierdie pronkery? Dit is blykbaar om die wyfies te beïndruk.

Die pouwyfie is nogal uitsoekerig, maar sy kan nie ’n windmaker weerstaan nie. Die mannetjie se uitgespreide siervere, vol helderkleurige oë, is vir die pouwyfie baie aantreklik. Sy kies gewoonlik die mannetjie met die indrukwekkendste vertoning as ’n maat.

Maar die pronkery met die siervere is net ’n deel van die vertoning. Die mannetjie sprei eers sy lang siervere uit en buig dit vooroor. Dan begin hy met sy pronkdans. Sy kastaiingbruin vlerke hang langs sy sye terwyl hy sy lyf skud, wat die regop vere laat ritsel. Hy maak ook ’n harde skreeugeluid. Dit klink nie juis mooi nie, maar dit laat die pouwyfie ten minste weet dat hy in haar belangstel.

Soms sal die pouwyfie ’n halfhartige poging aanwend om die mannetjie se manewales na te boots, maar dit lyk meestal of sy nie belangstel nie. Die windmakerigste mannetjie sal nietemin haar hart verower. ’n Poumannetjie kan ’n harem van tot vyf wyfies bymekaarmaak en in een jaar die pa van tot 25 kuikens word.

Die pou se gesinslewe

Ná die paartyd is dit tyd om te verveer. ’n Volwasse poumannetjie het gemiddeld meer as 200 siervere. Indiese dorpsbewoners het dit gewoonlik bymekaargemaak om na Westerse lande uit te voer, totdat die uitvoer daarvan verbied is om die spesie te beskerm. Plaaslik word daar natuurlik nog steeds waaiers en ander mooi artikels van die vere gemaak.

In die aand klim poue stadig in hoë bome op om ’n geskikte slaapplek te kry. In die oggend klim hulle weer stadig af. Hierdie voëls lyk dalk baie mooi, maar moenie verwag dat hulle ook mooi sing nie. Hulle klaende geroep verbreek die aandstilte totdat die voëls begin kos soek.

Poue is omnivore—hulle eet feitlik enigiets. Dit sluit insekte, akkedisse en soms selfs slangetjies in sowel as sade, graan, lensies en sagte wortels van gewasse.

Al lyk die poumannetjie verwaand, kan hy baie beskermend wees. Hy bespeur gou gevaar, byvoorbeeld ’n kat wat rondsluip, en hardloop dan deur die bos terwyl hy hard roep om teen die dreigende gevaar te waarsku. Ander mannetjies hardloop verbasend vinnig in ’n ry agter hom aan. Maar pouwyfies weier om hulle kuikens te verlaat, al verkeer hulle in die grootste gevaar.

Dit lyk nie of die lang siervere ’n pou juis stadiger maak nie, hoewel dit tog voorkom of dit die voël ’n bietjie hinder wanneer hy begin vlieg. Maar as die pou eers opgestyg het, vlieg hy baie vinnig.

Die kuikens is gereed om hulle ouers te verlaat en vir hulleself te begin sorg as hulle agt maande oud is. Nadat hulle weg is, kan die ma voorberei vir die volgende broeisel kuikens wat sy gaan grootmaak. Die jong mannetjies se kenmerkende siervere begin groei wanneer hulle ongeveer agt maande oud is, maar eers wanneer hulle vier is, kry hulle die volle veredos van ’n mannetjie. Dan is hulle gereed om hulle eie gesin te begin.

Die pou in die geskiedenis

Lewende poue het die tuine van eertydse Griekeland, Rome en Indië versier. In die koninklike howe van Indië is poue duisende jare lank in kuns en ornamente uitgebeeld. Trouens, die Poutroon is as een van die belangrikste voorbeelde van Indië se rykdom beskou. Dit was met baie diamante versier, en 108 robyne en 116 smaragde was glo daarop ingelê. Op die kap was daar ’n goue pou, waarvan die troon sy naam gekry het. Net by belangrike plegtighede is die troon aanmekaargesit en gebruik.

Bybelgeskiedenis toon dat poue onder die kosbaarhede was wat koning Salomo ingevoer het. Dit is interessant om te dink dat poue in sy koninklike tuine geloop en pronk het (1 Konings 10:22, 23). Hierdie voëls is ’n duidelike bewys dat daar ’n intelligente Ontwerper is. Wanneer die pou met sy uitgespreide, helderkleurige siervere dans, kan ’n mens nie anders nie as om jou te verwonder oor hoe kunstig Jehovah is, die God wat “alles geskep” het.—Openbaring 4:11.

[Voetnoot]

Hierdie siervere groei uit die voël se rug, nie sy stert nie. Die pou lig die siervere met sy stertvere op.

[Prent op bladsy 16]

Die pouwyfie word nie altyd deur die mannetjie se dans beïndruk nie

[Erkenning]

© D. Cavagnaro/Visuals Unlimited

[Prente op bladsy 17]

Pouwyfies is goeie ma’s

[Erkenning]

© 2001 Steven Holt/stockpix.com

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Pou: Lela Jane Tinstman/Index Stock Photography

[Foto-erkenning op bladsy 16]

John Warden/Index Stock Photography

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel