Die Bybel se beskouing
Wanneer geliefdes nie soos jy glo nie
VOLGENS een skatting is daar meer as 10 000 godsdienste en sektes in die wêreld. In een land het ongeveer 16 persent van volwassenes al op die een of ander stadium van godsdiens verander. Dit is dus geen wonder dat meningsverskille oor godsdiensopvattings onder familielede en vriende bestaan nie. Soms lei dit tot gespanne verhoudings. Die vraag ontstaan dus: Hoe moet Christene geliefdes behandel wat nie soos hulle glo nie?
’n Spesiale verwantskap
Kyk byvoorbeeld na wat die Bybel oor die spesiale verwantskap sê wat tussen ouers en hulle kinders bestaan. Daar word geen tydsbeperking geïmpliseer in die opdrag in Eksodus 20:12 om ‘jou vader en jou moeder te eer’ nie. Trouens, in Jesus se bespreking van hierdie opdrag, wat in Matteus 15:4-6 opgeteken is, het hy klaarblyklik gepraat van die eer wat volwasse kinders aan hulle ouers sou betoon.
Die Bybelboek Spreuke waarsku ons om nie oneerbiedig teenoor ons ouers te wees nie. Spreuke 23:22 raai ons aan: “Moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie.” En Spreuke 19:26 waarsku uitdruklik dat die een wat ‘’n vader sleg behandel en wat ’n moeder wegjaag, ’n seun is wat skandelik en smadelik optree’.
Die Skrif toon duidelik dat ons nie ons ouers moet verwaarloos nie. Die feit dat ons ouers nie ons godsdiens aanneem nie, beteken nie dat ons hulle moet verwerp nie. Hierdie Bybelbeginsels is ook op ander familielede en op ons eie huweliksmaat van toepassing. Christene is ongetwyfeld steeds sedelik en skriftuurlik verplig om hulle familielede lief te hê.
Redelikheid is noodsaaklik
Die Bybel waarsku natuurlik teen slegte omgang, en hierdie invloed kan van ’n mens se naaste familielede kom (1 Korintiërs 15:33). Baie getroue knegte van God het al in die verlede ’n standpunt ingeneem vir wat reg is, al het hulle ouers nie daarmee saamgestem nie. Dit was klaarblyklik die geval met Korag se seuns (Numeri 16:32, 33; 26:10, 11). Ware Christene moenie hulle geloof prysgee om ander tevrede te stel nie, nie eens hulle familielede nie.—Handelinge 5:29.
In sekere situasies staan ouers of ander geliefdes die oortuigings van ’n Christen heftig teë. Party word dalk selfs vyande van die ware Christelike geloof. In sulke gevalle neem Christene redelike stappe om hulle geestelikheid te beskerm. Jesus het tereg gesê: “’n Mens se eie huisgenote sal sy vyande wees. Hy wat groter geneentheid vir vader of moeder het as vir my, is my nie waardig nie; en hy wat groter geneentheid vir seun of dogter het as vir my, is my nie waardig nie.”—Matteus 10:36, 37.
Maar meestal is dit nie dat Christene kwaai teëgestaan word deur hulle geliefdes nie. Hulle familielede het eenvoudig nie dieselfde siening van Bybelleringe as hulle nie. Die Heilige Skrif spoor Christus se volgelinge aan om ongelowiges “met sagmoedigheid” en “diep respek” te behandel (2 Timoteus 2:25; 1 Petrus 3:15). Die Bybel gee gepas die volgende raad: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal” (2 Timoteus 2:24). Die apostel Paulus het Christene ook vermaan “om van niemand kwaad te spreek nie, om nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê”.—Titus 3:2.
Behou kontak en betoon liefde
In 1 Petrus 2:12 word Christene aangemoedig: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies [ongelowiges], sodat hulle . . . as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God . . . sal verheerlik.” Geliefdes wat nie soos ons glo nie, sien dikwels die veranderinge wat die toepassing van Bybelbeginsels in ons lewe tot gevolg het. Onthou dat baie wat onverskillig was of wat Bybelwaarheid selfs teëgestaan het, hulle siening al verander het. Party mense het dalk baie jare lank die goeie gedrag van ’n huweliksmaat of ’n kind goed dopgehou voordat hulle die rede vir daardie gedrag begin ondersoek het. Wanneer mense Bybelwaarhede nie aanneem nie, moet dit nie wees omdat ’n geliefde wat ’n Christen is, hulle verwaarloos het nie.
Omstandighede verskil weliswaar, en party Christengetuies woon ver van hulle ouers af. Dit is dalk nie moontlik om so gereeld te kuier soos ’n mens graag sou wou nie. Maar deur te skryf, te bel of op ander maniere gereeld kontak te behou, sal ons ons geliefdes van ons liefde verseker. Baie wat nie ware Christene is nie, is lief vir hulle ouers en ander familielede en kommunikeer gereeld met hulle ongeag aan watter godsdiens hulle behoort. Moet Christengetuies enigsins minder doen?
[Prent op bladsy 26]
As jy kontak met jou geliefdes behou, sal jy hulle van jou liefde verseker