Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/8 bl. 20-21
  • Is God oral?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is God oral?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar is God?
  • God is ’n persoon
  • God se heilige gees wat alle mense en plekke bereik
  • Jy kán God se vriend wees
  • Woon God op een plek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Is God oral en alomteenwoordig?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Is God alomteenwoordig?
    Ontwaak!—2011
  • Is God ’n werklike persoon?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/8 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Is God oral?

GOD word gepas as almagtig en alwetend beskryf. Maar wanneer mense probeer om God se grootheid verder te beskryf, voeg party ’n derde term by—alomteenwoordig. Hulle glo dat God op dieselfde tyd oral teenwoordig is.

Die eerste twee van hierdie beskrywende terme word duidelik deur skriftuurlike leringe ondersteun (Genesis 17:1; Hebreërs 4:13; Openbaring 11:17). God is inderdaad almagtig, en hy is alwetend in die sin dat niks vir hom weggesteek kan word nie. Maar is hy alomteenwoordig? Is God oral, of is hy ’n persoon met ’n spesifieke woonplek?

Waar is God?

In etlike Bybelverse word “die hemel” God se “vaste woonplek” genoem (1 Konings 8:39, 43, 49; 2 Kronieke 6:33, 39). Een Bybelverslag beskryf die grootheid van Jehovah God egter soos volg: “Sal God waarlik by die mens op die aarde woon? Kyk! Die hemel, ja, die hemel der hemele, kan u nie bevat nie.”—2 Kronieke 6:18.

“God is ’n Gees”, sê die Bybel (Johannes 4:24). Daarom woon hy in ’n geestelike ryk wat onafhanklik is van die fisiese heelal. Wanneer die Bybel van “die hemel” as God se woonplek praat, verwys dit na die verhewenheid van die plek waar hy woon teenoor die stoflike omgewing waarin ons woon. Hoe dit ook al sy, die Bybel leer dat God se woonplek inderdaad heeltemal apart van die fisiese heelal is, maar dat dit terselfdertyd op ’n spesifieke plek is.—Job 2:1, 2.

God is ’n persoon

Jesus het van Jehovah se woonplek gepraat toe hy vir sy dissipels gesê het: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. . . . Ek gaan om vir julle ’n plek te berei” (Johannes 14:2). Waarheen het Jesus gegaan? Uiteindelik het hy “in die hemel self [ingegaan], om nou vir ons voor die aangesig van God te verskyn” (Hebreërs 9:24). Uit hierdie verslag leer ons twee belangrike feite omtrent Jehovah God. Eerstens, hy het ’n spesifieke woonplek, en tweedens, hy is ’n persoon, nie net ’n ondefinieerbare krag wat oral is nie.

Jesus het dus sy volgelinge geleer om só te bid: “Ons Vader in die hemele”, dit wil sê om hulle gebede te rig tot ’n persoon, Jehovah, iemand wat in ’n plek is, naamlik die geestelike hemele (Matteus 6:9; 12:50). Hierdie lering was in ooreenstemming met die manier waarop God se volk meer as 1 500 jaar lank geleer is om te bid. Die oudste geskrifte wat deur God geïnspireer is, bevat die volgende gebed: “Kyk tog af uit u heilige woonplek, die hemel, en seën u volk.”—Deuteronomium 26:15.

God se heilige gees wat alle mense en plekke bereik

Terwyl die Bybel altyd sê dat God ’n spesifieke woonplek het, praat dit dikwels van sy heilige gees as alomteenwoordig. “Waarheen kan ek gaan, weg van u gees af, en waarheen kan ek vlug, weg van u aangesig af?” het die psalmis Dawid gevra (Psalm 139:7). Sulke verwysings het party mense verwar, en hulle kom dalk tot die gevolgtrekking dat God alomteenwoordig is. Maar wanneer daar na die konteks van hierdie en ander tekste gekyk word, word dit duidelik dat Jehovah se heilige gees—of krag in werking—vanuit sy vaste woonplek na enige plek in die fisiese heelal kan uitgaan.

Soos ’n vader sy hand uitsteek om sy kinders te vertroos en te ondersteun, kan Jehovah sy hand—of heilige gees—na enige deel van die geestelike ryk of die fisiese heelal uitsteek om Sy voorneme te volbring. Die psalmis kon derhalwe sê: “As ek die vleuels van die dagbreek sou neem, sodat ek in die mees afgeleë see sou kon woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.”—Psalm 139:9, 10.

Jy kán God se vriend wees

Uit nederigheid en liefde laat Jehovah God toe dat hy en sy woonplek in die menslike terme beskryf word wat die duidelikste beeld skep van die soort God wat hy is en waar hy woon. Op hierdie en ander maniere is dit asof hy ‘hom neerbuig om na die hemel en die aarde te kyk’ (Psalm 113:6). Maar God se natuur gaan beslis die mens se volle begrip te bowe.

Jehovah is eenvoudig te luisterryk, te groot en te wonderlik om ten volle in menslike terme beskryf te word. Hoewel die Skrif van sy hemelse woning as ’n plek met ’n spesifieke ligging praat, is dit vir mense eenvoudig onmoontlik om so ’n geestelike dimensie ten volle te verstaan.—Psalm 139:6.

Dit is nogtans baie vertroostend om Jehovah se ware natuur in sekere mate te verstaan en te besef dat hy nie een of ander ondefinieerbare, onpersoonlike krag is wat alles in die heelal deurdring nie. Hy is eerder ’n individu, met ’n spesifieke woonplek en ’n persoonlikheid wat duidelik omskryf word en deur liefde en teerheid gekenmerk word. Hierdie kennis baan die weg vir die wonderlikste geleentheid wat enige mens kan hê—die kans om ’n lewenslange, persoonlike vriendskap met die almagtige Soewerein van die heelal te geniet.—Jakobus 4:8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel