Hoe om jou werk te behou
“Het jy ’n man gesien wat vaardig is in sy werk? Voor konings sal hy staan.”—Spreuke 22:29.
SOOS die Bybelvers hierbo toon, word daar dikwels groot waarde geheg aan vaardige werkers. Wat is party vaardighede en eienskappe van werkers wat werkgewers op prys stel? George, hoof van die personeelafdeling van ’n maatskappy met 700 werknemers, het vir Ontwaak! gesê: “Wat ons omtrent ’n werknemer waardeer, is sy vermoë om goed te kommunikeer en goed met ander saam te werk.” Die Bybel bevat praktiese raad wat jou kan help om hierdie vaardighede te verbeter en sodoende jou kanse te vergroot om jou werk te behou. Kyk gerus na ’n paar voorbeelde.
Kommunikeer goed
Die Bybelskrywer Jakobus toon dat die werk van ’n goeie kommunikeerder begin voordat hy sy mond oopmaak. Jakobus het geskryf dat ’n mens “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Waarom is dit goeie raad? Salomo het geskryf: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering” (Spreuke 18:13). Ja, as jy aandagtig luister terwyl jou werkgewer en jou kollegas praat, kan dit misverstande voorkom en keer dat jy dwase foute begaan.
Wanneer jy praat, is die manier waarop jy dit doen ook belangrik. As jy duidelik en hard genoeg praat, sal dit waarskynlik vir die ander persoon makliker wees om te verstaan wat jy sê, en hy sal ook met groter respek na jou luister. Brian, ’n personeelkonsultant wat in die vorige artikel genoem is, sê: “Jy sal verbaas wees hoeveel mense hulle werk verloor, nie weens ’n gebrek aan tegniese vaardighede nie, maar omdat hulle nie die vermoë het om goed te kommunikeer nie.”
Werk goed saam met ander
As ’n mens dink aan hoeveel tyd jy saam met jou werksmaats deurbring, sal jy hulle ongetwyfeld redelik goed leer ken. Gevolglik kom jy dalk in die versoeking om oor hulle te skinder en die aandag op hulle foute en tekortkominge te vestig. Die Bybelraad is egter dat jy jou ‘dit ten doel stel om rustig te lewe en jou met jou eie sake te bemoei’ (1 Tessalonisense 4:11). Dan sal jy nie die reputasie kry dat jy “iemand [is] wat hom met ander se sake bemoei” nie (1 Petrus 4:15). Daarbenewens sal jy nie tyd mors en onnodige wrywing tussen jou en jou werksmaats veroorsaak nie.
Wanneer jy gevra word om ’n taak te verrig, moet jy Jesus se wyse raad in gedagte hou: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Jesus het hier van regeringsowerhede gepraat, maar die beginsel is beslis ook van toepassing op die werksplek. As jy ’n goeie naam as ’n harde werker opbou—iemand wat die tweede myl sal loop—sal jou kanse beter wees om jou werk te behou. Daar is natuurlik perke aan wat ’n werkgewer met reg van jou kan verwag. Jesus het gesê dat ’n mens ‘aan die keiser moet terugbetaal wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort’ (Matteus 22:21). Jesus het hier in beginsel getoon dat diegene in gesagsposisies nie toegelaat moet word om met belangriker sake, soos die aanbidding van God, in te meng nie.
Wees eerlik
’n Opname onder meer as 1 400 maatskappye het aan die lig gebring dat die meeste werkgewers “eerlikheid en integriteit beskou as eienskappe wat hulle die hoogste aanslaan in potensiële werkers”. Om eerlik te wees, behels ongetwyfeld dat ’n mens nie geld of ander items by jou werkgewer steel nie. Dit beteken ook dat ’n mens nie tyd sal steel nie. In ’n studie wat deur ’n personeelagentskap gedoen is, is bevind dat werknemers elke week gemiddeld 4 uur en 15 minute steel. Hierdie tyddiewe was onder meer gereeld laat, het vroeg geloop en het in werktyd by ander werknemers gekuier.
Die Bybel gee hierdie raad: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen” (Efesiërs 4:28). En God se Woord spoor Christene aan om hard te werk, selfs wanneer dié in gesagsposisies hulle nie dophou nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Wees in alles gehoorsaam aan diegene wat in vleeslike sin julle here is, nie met dade van oëdiens soos mensebehaers nie, maar met opregtheid van hart, met vrees vir Jehovah” (Kolossense 3:22). As jy ’n goeie naam opgebou het as iemand wat hard werk—selfs wanneer niemand oor jou toesig hou nie—is jy ’n werknemer wat vertrou kan word.
Wees realisties
Die Bybel se voorspelling dat ons in kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom, was akkuraat (2 Timoteus 3:1). Die gevolglike politieke en maatskaplike onbestendigheid en omwentelinge sou uiteraard tot ekonomiese onsekerheid lei (Matteus 24:3-8). Gevolglik kan jy nog steeds jou werk verloor, al pas jy die wenke hierbo toe.
Maar die toepassing van Bybelbeginsels kan help om die angstigheid te verminder wat met werkloosheid gepaardgaan. Jesus het gesê: “As God dan die plantegroei van die veld, wat vandag hier is en môre in die oond gegooi word, so klee, sal hy julle nie veel eerder klee nie, julle kleingelowiges? Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. . . . Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Matteus 6:30-32.
Soos miljoene ander regoor die wêreld het Ericka, wat vroeër gemeld is, die waarheid van die woorde hierbo ondervind. Sy som haar gevoelens só op: “Ek hou baie van my huidige werk. Ek weet egter uit ondervinding dat dinge verander. Maar deur Bybelbeginsels toe te pas en op Jehovah te vertrou, het ek geleer om minder angstig te wees wanneer ek werkloos is en meer tevrede te wees met die werk wat ek wel kry.”
[Prent op bladsy 10]
Jy kan jou werk verloor as jy nie tydens vergaderinge aandag skenk nie