Wanneer wêreldwye harmonie sal heers
HET jy al ooit ’n paar geoefende balletdansers, ysskaatsers of sweefstokartieste gesien wat hulle bewegings uitvoer? Elke beweging is ’n kunswerk wat van volmaakte samewerking en koördinasie getuig. Hoe aangenaam sou dit tog wees as die lewe vandag meer só was—harmonieus en sonder wrywing en konflik. In plaas daarvan is mense “nie bereid tot enige ooreenkoms nie”, net soos die Bybel voorspel het ons tyd sou wees.—2 Timoteus 3:1-5.
Maar selfs in hierdie moeilike milieu leer miljoene opregtes van hart om in ware vrede en harmonie met mekaar saam te lewe. Hoe? Deur die hartlike uitnodiging te aanvaar wat in Jesaja 48:17, 18 in die Bybel opgeteken is. Dit sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”
Wanneer ons daardie opregte uitnodiging aanvaar, word Jehovah, in sekere sin, ons Weldoener. Hy wys ons hoe om in ware vrede en harmonie te ‘wandel’. Die alternatief—om die teorieë en filosofieë van onvolmaakte mense te aanvaar—is dwaas. Die mensegeskiedenis bevestig herhaaldelik die fundamentele waarheid wat in Jeremia 10:23 gemeld word: “Ek weet goed . . . dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” Eenvoudig gestel, dit is nie binne ons vermoë om onsself te regeer en ’n betroubare en universeel aanvaarbare sedewet in te stel nie. Daardie voorreg behoort aan God.—Jesaja 33:22.
Ware vrede en harmonie
Binnekort sal God harmonie oor ons aarde bring. Hy belowe ’n tyd wanneer “die aarde . . . beslis vol [sal] wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jesaja 11:9). Ja, uiteindelik sal daar permanente vrede heers.
Trouens, lewe op die aarde sal ’n nuwe soort harmonie ondervind, want God sal sy getroue menseknegte leer hoe om goed na hulle aardse tuiste om te sien. Hy sal selfs as ’t ware “’n verbond sluit” met al die roofdiere, wat sal meebring dat hulle in vreedsame onderworpenheid aan mense sal lewe.—Hosea 2:18; Genesis 1:26-28; Jesaja 11:6-8.
Hierdie hoop is nie wensdenkery nie. Trouens, in sy Bergpredikasie alleen het Jesus twee keer daarna verwys. Eerstens het hy gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.” Daarna, toe hy sy dissipels gewys het hoe om te bid, het hy gesê: “Ons Vader . . . laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 5:5; 6:9, 10). Aan die einde van sy lewe het Jesus in een pragtige woord opgesom wat dit vir mense sou beteken—“paradys” (Lukas 23:43). Ja, Jesus se vergote bloed maak die hoop op die ewige lewe in ’n aardse paradys ’n sekerheid!—Johannes 3:16.
[Prent op bladsy 12]
In God se komende Paradys sal ’n nuwe soort harmonie op die aarde heers