Die Bybel se beskouing
Regverdig romantiese liefde voorhuwelikse seks?
IN EEN opname het amper 90 persent van die tieners met wie ’n onderhoud gevoer is, gemeen dat voorhuwelikse seks nie verkeerd is wanneer twee mense mekaar liefhet nie. Hierdie denkwyse word in die media weerspieël en dikwels as iets aanvaarbaars voorgestel. Televisie en rolprente beeld seksuele aktiwiteit dikwels uit as ’n normale gevolg van ’n romantiese verhouding.
Diegene wat God wil behaag, maak natuurlik nie op die wêreld staat vir leiding nie, want hulle besef dat dit die denkwyse van sy heerser, die Duiwel, weerspieël (1 Johannes 5:19). Hulle maak ook seker dat hulle nie alleenlik deur hulle gevoelens beheer word nie, want hulle weet dat ‘die hart verraderliker as enigiets anders en desperaat is’ (Jeremia 17:9). Diegene wat werklik wys is, vertrou eerder op die Skepper en sy geïnspireerde Woord vir leiding.—Spreuke 3:5, 6; 2 Timoteus 3:16.
Seks is ’n goddelike gawe
“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte”, sê Jakobus 1:17. Seksuele intimiteit in die huweliksreëling is een van daardie kosbare gawes (Rut 1:9; 1 Korintiërs 7:2, 7). Dit stel mense in staat om voort te plant, en dit help ’n man en vrou om in fisiese sowel as emosionele sin ’n hegte verhouding te hê wat baie teer is en hulle genot verskaf. “Verheug jou met die vrou van jou jeug”, het die eertydse koning Salomo geskryf. “Laat haar borste jou te alle tye bedwelm.”—Spreuke 5:18, 19.
Jehovah wil natuurlik hê dat ons by sy gawes baat vind en ons daarin verheug. Daarom het hy ons ook die heel beste wette en beginsels gegee om volgens te lewe (Psalm 19:7, 8). Jehovah is “die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel” (Jesaja 48:17). Sou ons hemelse Vader—die verpersoonliking van liefde—ons iets ontsê wat werklik goed is?—Psalm 34:10; 37:4; 84:11; 1 Johannes 4:8.
Voorhuwelikse seks is nie liefdevol nie
Wanneer ’n man en vrou in die huwelik verbind word, word hulle as ’t ware “een vlees”. Wanneer twee ongetroude persone geslagsomgang het, wat ook hoerery genoem word, word hulle ook “een liggaam”—maar een wat onrein is in God se oë.a Wat meer is, sulke verhoudings is nie liefdevol nie. Hoe so?—Markus 10:7-9; 1 Korintiërs 6:9, 10, 16.
Om maar een ding te noem, hoerery is seks sonder ware verbondenheid. En buiten dat dit ’n mens se selfrespek aftakel, kan dit tot siektes, ongewenste swangerskap en emosionele pyn lei. Bowenal skend dit God se regverdige beginsels. Hoerery weerspieël dus min of geen agting vir die huidige of toekomstige welsyn en geluk van die ander persoon nie.
Vir ’n Christen maak hoerery ook inbreuk op die regte van sy of haar geestelike broer of suster (1 Tessalonisense 4:3-6). Byvoorbeeld, diegene wat beweer dat hulle knegte van God is en hulle aan seks buite die huwelik skuldig maak, bring onreinheid in die Christengemeente in (Hebreërs 12:15, 16). Hulle beroof ook die persoon met wie hulle hoerery pleeg, van hulle sedelike reinheid en, as die persoon ongetroud is, van die voorreg om moontlik in die toekoms die huwelik in ’n sedelike rein toestand te betree. Hulle bevlek ook die goeie reputasie van hulle eie familie, en hulle veronreg hulle seksmaat se familie. Laastens toon hulle minagting vir God, wat hulle seergemaak het deur sy regverdige wette en beginsels te skend (Psalm 78:40, 41). Jehovah sal op sy beurt “straf toedien” vir al hierdie slegte dade wat deur onberouvolle mense gepleeg word (1 Tessalonisense 4:6). Geen wonder die Bybel sê vir ons om ‘vir die hoerery te vlug’ nie.—1 Korintiërs 6:18.
Is jy verlief en het jy trouplanne? Gebruik dan jou hofmakery om ’n stewige grondslag van wedersydse vertroue en respek te bou. Dink hieraan: Hoe kan ’n vrou ’n man wat getoon het dat hy ’n gebrek aan selfbeheersing het, ten volle vertrou? En hoe maklik is dit vir ’n man om ’n vrou te koester en te eer wat God se wet verontagsaam sodat sy haar romantiese gevoelens kan bevredig of die man kan behaag?
Onthou ook dat diegene wat God se liefdevolle standaarde verwerp, maai wat hulle saai (Galasiërs 6:7). “Hy wat hoerery beoefen, sondig teen sy eie liggaam”, sê die Bybel (1 Korintiërs 6:18; Spreuke 7:5-27). Toegegee, as ’n paartjie wat hulle aan voorhuwelikse seks skuldig gemaak het, werklik berou toon, hard werk om hulle verhouding met God te herstel en hulle vertroue in mekaar opbou, sal negatiewe gevoelens dalk uiteindelik afneem. Maar wat hulle gedoen het, laat gewoonlik ’n letsel. Een jong paartjie, wat nou getroud is, is bitter spyt dat hulle hoerery gepleeg het. ‘Is die meningsverskille wat ons in ons huwelik het, dalk as gevolg van hierdie onrein grondslag?’ vra die man hom soms af.
Ware liefde is onselfsugtig
Ware liefde “gedra hom nie onwelvoeglik nie”, en dit “soek nie sy eie belang nie”, hoewel dit met romantiese gevoelens kan gepaardgaan (1 Korintiërs 13:4, 5). Dit bevorder eerder die ander persoon se welsyn en ewige geluk. Sulke liefde spoor ’n man en ’n vrou aan om mekaar te eer en seksuele intimiteit op sy regte, godgegewe plek te hou—die huweliksbed.—Hebreërs 13:4.
Die gevoel van vertroue en veiligheid wat tot ’n werklik gelukkige huwelik lei, is veral belangrik wanneer kinders gebore word, want God se voorneme was dat kinders in ’n liefdevolle, stabiele en veilige milieu grootword (Efesiërs 6:1-4). Slegs in ’n huwelik verbind twee mense hulle waarlik teenoor mekaar. In hulle hart, en dikwels ook mondelings, belowe hulle om vir die res van hulle lewe na mekaar om te sien en mekaar te ondersteun tydens goeie en slegte tye.—Romeine 7:2, 3.
Seksuele intimiteit tussen ’n man en vrou kan hulle verhouding versterk. In ’n gelukkige huwelik is seksuele intimiteit vir die man en vrou ook baie meer genotvol en betekenisvol—sonder om die verhouding goedkoop te maak, die gewete te kwel of aan die Skepper ongehoorsaam te wees.
[Voetnoot]
a Die Griekse woord wat met “hoerery” vertaal word, verwys na alle seksuele aktiwiteit met ’n ander persoon buite die huwelik wat die gebruik van die geslagsorgane behels, insluitende orale seks.—Sien die Ontwaak! van 22 Julie 2004, bladsy 12, en Die Wagtoring van 15 Februarie 2004, bladsy 13, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Wat is God se beskouing van voorhuwelikse seks?—1 Korintiërs 6:9, 10.
◼ Waarom is hoerery skadelik?—1 Korintiërs 6:18.
◼ Hoe kan twee mense wat romanties tot mekaar aangetrokke voel, ware liefde betoon?—1 Korintiërs 13:4, 5.