Die lewe wat hy moontlik maak
“KYK! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer.” Aangrypende beloftes soos hierdie een oor die Koninkryksheerskappy in die hande van Jesus is ’n kenmerk van die Bybel. ’n Soortgelyke belofte sê: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. . . . Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Jesaja 32:1; Psalm 72:12-14.
Kan enigiemand ontken dat mense regoor die wêreld so ’n regverdige heerskappy nodig het? Jesus het sy volgelinge aangespoor om die Koninkryk van God goed in gedagte te hou. “Laat u koninkryk kom”, het hy hulle leer bid. “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Bewyse dat God se Koninkryk naby is
Hoe kan ons uitvind wanneer dié Koninkryk in antwoord op daardie gebed sal kom? Jesus se vroeë volgelinge was nuuskierig en het gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid [as heersende Koning] en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Jesus het geantwoord: “Nasie sal teen nasie opstaan . . . , en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees. Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid.” Hy het ook gewaarsku: “Weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel.”—Matteus 24:3-12.
’n Ander Bybelprofesie sê dat “daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:1-5.
Jy stem dalk saam dat hierdie beskrywing van “die laaste dae” presies ooreenstem met die tye waarin ons nou lewe. Daar is oorvloedige bewyse dat die vervulling van die volgende Bybelprofesie aangebreek het: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.
Die Koninkryksheerskappy wat deur die “Vredevors” uitgeoefen word, sal alles verwyder wat die vrede kan versteur van dié wat die einde van hierdie wêreld oorleef (Jesaja 9:6). Bybelprofesie belowe: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Die einde van hierdie wêreld sal die weg baan vir daders van God se wil om te geniet wat die mensdom verloor het toe ons eerste ouers, Adam en Eva, teen God in opstand gekom het.
Die lewe wat op hande is
“In die herskepping”, het Jesus verduidelik, “[gaan] die Seun van die mens op sy glorieryke troon . . . sit” (Matteus 19:28). Wat is hierdie “herskepping”? ’n Ander vertaling gebruik die uitdrukking “wanneer alles nuut gemaak word” (Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). ’n Parallelle Bybelverslag noem dit “die komende stelsel van dinge” (Lukas 18:30). Jesus sal dan sy godgegewe gesag as Vredevors gebruik deur ewige lewe te gee aan almal wat geloof in sy losprysoffer beoefen.—Johannes 5:21.
In God se nuwe stelsel van dinge sal mense die soort lewe geniet wat God vir Adam en Eva gegee het toe hy hulle in die aardse Paradys geplaas het. Onthou dat God hulle die opdrag gegee het om kinders te hê, ja, om ‘die aarde te vul en te onderwerp’. Hulle toewysing was om hulle Paradys in Eden oor die hele aarde uit te brei! (Genesis 1:28). Net so sal die aarde tydens die herskepping gevul word met diegene wat die einde van hierdie wêreld oorleef het, hulle kinders en dié wat gesterf het maar opgewek is tydens die opstanding. Hierdie mense sal die toewysing hê om die aarde in ’n paradys te help omskep, soos God oorspronklik voorgeneem het.
Kyk na party van die seëninge wat volgens die Bybel deur mense in daardie nuwe wêreld van regverdigheid geniet sal word.—2 Petrus 3:13.
Hoewel die beloftes wat op hierdie bladsye geïllustreer word, dalk te goed lyk om waar te wees, sal dit beslis in “die komende stelsel van dinge” verwesenlik word. Jesus het in gebed tot God genoem wat van mense vereis word om hierdie seëninge te geniet, en gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Mag jy onder diegene wees wat hierdie lewegewende kennis nederig probeer verkry.
[Lokteks op bladsy 7]
“Hy sal genoem word: . . . Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie.”—Jesaja 9:6, 7
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
Huise en werk vir almal
“Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon . . . Hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie.”—Jesaja 65:21, 22.
Volop voedsel vir almal
“Die aarde sal beslis sy opbrengs lewer.” “Daar sal volop graan op die aarde wees.”—Psalm 67:6; 72:16.
Wêreldwye vrede sal selfs ’n uitwerking op die diere hê
“Die wolf sal ’n ruk by die lam bly, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, . . . en ’n blote seuntjie sal hulle lei.”—Jesaja 11:6.
Oorlog verwyder, vrede vir ewig
“Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.” “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie.”—Jesaja 2:4; 9:7.
Afgestorwe dierbares opgewek
“Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.
Geen siekte of dood meer nie
“Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.” “Die dood sal daar nie meer wees nie . . . Die vorige dinge het verbygegaan.”—Jesaja 33:24; Openbaring 21:3, 4.