Die Bybel se beskouing
Is jou lewe voorbeskik?
Twee mans het een oggend werk toe gery en ’n kortpad gekies langs ’n straat af waarin een van hulle voorheen gewoon het. Op pad het hulle vlamme gesien wat by die vensters van ’n huis uitkom. Hulle het met hulle vragmotor stilgehou en ’n leer wat hulle saam met hulle gehad het, gebruik om ’n moeder en vyf kinders te red. “Dalk was dit die noodlot”, het ’n koerantberig oor die voorval gesê.
BAIE mense glo dat alles wat met hulle gebeur, hetsy goed of sleg, vooraf bepaal is deur ’n bomenslike krag. Die 16de-eeuse Hervormer Johannes Calvyn het byvoorbeeld geskryf: “Ons omskryf voorbeskikking as die ewige plan van God, waarvolgens hy bepaal het wat hy met elke mens wil doen. Want hy het hulle nie almal in dieselfde toestand geskep nie, maar dit is deur hom voorbeskik dat party die ewige lewe en ander die ewige veroordeling sal ontvang.”
Beskik God werklik vooraf wat ons gaan doen en wat ons uiteindelike lot gaan wees? Wat leer die Bybel?
Die “logika” van voorbeskikking
Sommige wat in voorbeskikking glo, redeneer basies soos volg: God is alwetend. Hy weet selfs wat in die toekoms gaan gebeur. Hy weet wat elke persoon met sy lewe gaan doen, en hy weet reeds presies wanneer en hoe elke persoon gaan sterf. Wanneer die tyd dus aanbreek vir iemand om ’n besluit te neem, kan sy keuse, volgens hulle beskouing, nie verskil van hoe God dit vooruitgesien en voorbeskik het nie, anders sou God nie alwetend gewees het nie. Klink dit vir jou soos ’n grondige redenasie? Dink aan wat die logiese gevolge daarvan sou wees.
As die een of ander krag reeds jou toekoms bepaal het, is dit nutteloos om goed vir jouself te sorg. Om te rook of nie, sou geen verskil gemaak het aan jou gesondheid of dié van jou kinders nie. Om ’n sitplekgordel te dra terwyl jy in ’n motor ry, sou geen invloed op jou veiligheid gehad het nie. Maar dit is nie logies nie. Statistiek toon dat minder noodlottige ongelukke plaasvind onder mense wat voorsorgmaatreëls tref. Nalatigheid kan op rampspoed uitloop.
Kyk na nog ’n redenasie. As God besluit om alles vooruit te sien, sou hy, selfs voordat hy Adam en Eva geskep het, geweet het dat hulle aan hom ongehoorsaam sou wees. Maar het God, toe hy vir Adam gesê het dat hy sou sterf as hy van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet, reeds geweet dat Adam daarvan sou eet? (Genesis 2:16, 17). Het God, toe hy vir die eerste egpaar gesê het: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees”, geweet dat hulle wonderlike vooruitsig op die lewe in ’n paradys tot mislukking gedoem was? Natuurlik nie.—Genesis 1:28.
As ’n mens die redenasie tot sy logiese gevolgtrekking voer, sal die idee dat God alle besluite vooruitsien, beteken dat hy verantwoordelik is vir alles wat gebeur—onder meer oorloë, ongeregtigheid en lyding. Is dit moontlik? ’n Duidelike antwoord kan gevind word in wat God omtrent homself sê.
‘Jy moet kies’
Die Skrif sê: “God is liefde” en hy “het geregtigheid lief”. Hy het sy volk nog altyd aangespoor: “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is” (1 Johannes 4:8; Psalm 37:28; Amos 5:15). By baie geleenthede het hy sy lojale knegte aangespoor om ’n deugsame weg te kies. Byvoorbeeld, toe Jehovah ’n verbond gesluit het met die eertydse nasie Israel, het hy deur Moses vir hulle gesê: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat ek jou die lewe en die dood voorgehou het, die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). Het God vooraf bepaal watter keuse daardie mense sou maak? Beslis nie.
Josua, ’n leier van God se volk in die ou tyd, het sy landgenote gemaan: “Kies dan vandag vir julle wie julle sal dien . . . Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Josua 24:15). God se profeet Jeremia het eweneens gesê: “Gehoorsaam asseblief die stem van Jehovah in wat ek vir u sê, en dit sal met u goed gaan en u siel sal bly lewe” (Jeremia 38:20). Sou ’n regverdige en liefdevolle God mense aanmoedig om te doen wat reg is, in die hoop om ’n beloning te ontvang, as hy geweet het dat hulle voorbestem is om te misluk? Nee. Sulke aanmoediging sou huigelagtig gewees het.
Wanneer goeie of slegte dinge dus in jou lewe gebeur, is dit nie omdat hierdie gebeure onvermydelik is nie. Baie dikwels is “onvoorsiene gebeurtenisse” eenvoudig die gevolge van ander mense se besluite—hetsy verstandig of onverstandig (Prediker 9:11). Nee, jou toekoms is nie vir jou vooruitbeplan nie; jou besluite bepaal wat jou ewige toekoms inhou.
WAT DINK JY?
◼ Het God vooraf besluit dat Adam en Eva sou sondig?—Genesis 1:28; 2:16, 17.
◼ Watter eienskappe van God maak voorbeskikking onmoontlik?—Psalm 37:28; 1 Johannes 4:8.
◼ Watter verantwoordelikheid het jy?—Josua 24:15.
[Lokteks op bladsy 13]
Statistiek toon dat minder noodlottige ongelukke plaasvind onder mense wat voorsorgmaatreëls tref