Skep ’n veilige gesinsmilieu
“SONDER natuurlike geneentheid.” Met hierdie hartseer woorde beskryf die Bybel baie mense van ons tyd, ’n tydperk wat “die laaste dae” genoem word (2 Timoteus 3:1, 3, 4). Die epidemie van kindermolestering in die gesin voorsien duidelike bewys dat hierdie profesie waar is. Trouens, die oorspronklike Griekse woord, aʹstor·gos, wat in Afrikaans met “sonder natuurlike geneentheid” weergegee word, dui op ’n gebrek aan die liefde wat onder gesinslede behoort te bestaan, veral die liefde tussen ouers en kinders.* En alte dikwels is dit in hierdie milieu waarin kindermolestering plaasvind.
Volgens sommige navorsers is die molesteerder in die meeste gevalle die vaderfiguur. Die molesteerder is ook dikwels een van die ander manlike familielede. Hoewel die meeste slagoffers meisies is, word talle seuns ook gemolesteer. Vroulike molesteerders is ook nie so seldsaam as wat ’n mens sou dink nie. Bloedskande tussen broers en susters, waar ’n ouer of sterker kind ’n jonger of swakker broer of suster dwing of verlei om aan seksuele dade deel te neem, is moontlik die vorm van molestering wat die minste gerapporteer word. As ’n ouer vind jy al sulke dade ongetwyfeld verfoeilik.
Hoe kan jy keer dat hierdie probleme in jou huisgesin ontstaan? Dit is duidelik dat elke lid van elke gesin beginsels moet leer en op prys moet stel wat geen ruimte laat vir sulke gedrag nie. Die beste plek om hierdie soort leiding te vind is in God se Woord, die Bybel.
God se Woord en geslagsomgang
Om ’n veilige gesinsmilieu te skep, moet elke gesin die Bybel se standaard van sedelikheid aanneem. Die Bybel is nie preuts wanneer dit kom by die bespreking van seks nie. Dit bespreek sulke sake op ’n waardige, dog eerlike en reguit manier. Dit toon dat God wou hê dat seksuele intimiteit ’n ware seën vir ’n egpaar moet wees (Spreuke 5:15-20). Maar dit veroordeel seksuele gedrag buite die huweliksreëling. Die Bybel veroordeel byvoorbeeld bloedskande uitdruklik. In Levitikus hoofstuk 18 word ’n wye verskeidenheid bloedskendige verhoudings verbied. Let veral op hierdie woorde: “Niemand van julle mag naby enige vleeslike naverwant van hom kom om naaktheid te ontbloot [om geslagsomgang te hê] nie. Ek is Jehovah.”—Levitikus 18:6.
Jehovah het bloedskande laat opteken onder die “verfoeilike dinge” wat met die dood strafbaar was (Levitikus 18:26, 29). Dit is duidelik dat die Skepper baie hoë standaarde in verband met hierdie saak het. Vandag beskou baie regerings dit ook so en verbied die wet die seksuele molestering van kinders in die gesin. Dikwels sê die wet dat ’n kind wat deur ’n volwassene aan geslagsomgang onderwerp is, verkrag is. Waarom word daardie sterk woord gebruik as die kind nie fisies gedwing is nie?
Baie owerhede het begin besef wat die Bybel nog altyd aangaande kinders gesê het—dat hulle oor die algemeen nie soos volwassenes kan redeneer nie. Spreuke 22:15 sê byvoorbeeld: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun.” En die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie . . . gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê.”—1 Korintiërs 13:11.
’n Kind kan nie die volle betekenis van seksuele dade begryp nie en besef ook nie wat die gevolge in latere jare sal wees nie. Daar word dus algemeen aanvaar dat kinders nie bevoeg is om tot geslagsomgang in te stem nie. Met ander woorde, as ’n volwassene (of ’n aansienlik ouer jongmens) geslagsomgang met ’n kind het, kan die ouer persoon nie die daad verskoon deur te sê dat die kind nie daarteen beswaar gemaak het nie of dat die kind daarvoor gevra het nie. Die volwassene is skuldig aan verkragting. Dit is ’n misdaad, dikwels strafbaar met tronkstraf. Die verkragter, nie die onwillige slagoffer nie, is verantwoordelik vir die verkragting.
Maar ongelukkig bly die meeste van hierdie soort misdade vandag ongestraf deur die owerhede. Byvoorbeeld, in Australië word slegs 10 persent van molesteerders na skatting vervolg, en min word skuldig bevind. ’n Soortgelyke situasie bestaan in ander lande. Terwyl regerings moontlik min kan doen om die Christengesin te beskerm, kan die toepassing van Bybelbeginsels baie meer doen.
Ware Christene besef dat die God wat daardie beginsels in sy Woord laat opteken het, nie verander het nie. Hy sien alles wat ons doen, selfs dit wat van die meeste mense weggesteek is. Die Bybel sê: “Alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee.”—Hebreërs 4:13.
God hou ons aanspreeklik as ons sy bevele verontagsaam en ander leed aandoen. Daarenteen seën hy ons as ons by sy voordelige bevele aangaande die gesinslewe bly. Wat is party van hierdie bevele?
’n Gesin wat deur liefde verenig is
“Liefde”, sê die Bybel vir ons, “is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Soos dit in die Bybel beskryf word, is liefde nie bloot ’n gevoel nie. Dit word gekenmerk deur die manier waarop dit mense motiveer—deur die gedrag wat dit bevorder en die dade wat dit verbied (1 Korintiërs 13:4-8). In die gesin beteken die betoning van liefde dat elke lid met waardigheid, respek en goedhartigheid behandel word. Dit beteken dat ons in ooreenstemming met God se beskouing van elke gesinslid moet lewe. God gee aan elkeen ’n waardige en belangrike rol.
As die gesinshoof moet die vader die voortou neem in die betoning van liefde. Hy besef dat ’n Christenvader nie die reg het om ’n tiran te wees en sy mag oor sy vrou en kinders te misbruik nie. Hy volg eerder Christus se voorbeeld na wanneer dit by hoofskap kom (Efesiërs 5:23, 25). Daarom is hy teer en liefdevol teenoor sy vrou en geduldig en sagmoedig teenoor sy kinders. Hy beskerm hulle getrou en doen alles in sy vermoë om te keer dat enigiets hulle van hulle vrede, hulle onskuld, hulle vertroue in ander en hulle gevoel van veiligheid beroof.
Die vrou en moeder speel eweneens ’n noodsaaklike en waardige rol. Die Bybel gebruik die beskermende instinkte van moeders in die diereryk om te illustreer hoe beskermend Jehovah en Jesus kan wees (Matteus 23:37). ’n Menslike moeder moet ook uiters beskermend teenoor haar kinders wees. Omdat sy hulle liefhet, sal sy nie huiwer om hulle veiligheid en welstand voor haar eie te plaas nie. Die ouers laat nie toe dat daar enige misbruik van mag, afknouery of intimidasie in hulle handelinge met mekaar of met hulle kinders is nie; hulle laat ook nie toe dat hulle kinders sulke taktieke op mekaar gebruik nie.
Wanneer elke gesinslid die ander met respek en waardigheid behandel, floreer goeie kommunikasie. Die skrywer William Prendergast sê: “Alle ouers moet daaglikse, voortdurende en openhartige kommunikasie met hulle kinders of adolessente hê.” Hy voeg by: “Dit lyk asof dit die beste oplossing is vir die probleem van seksuele molestering.” Om die waarheid te sê, die Bybel beveel juis sulke voortdurende en liefdevolle kommunikasie aan (Deuteronomium 6:6, 7). Wanneer hierdie raad toegepas word, is die huis ’n plek waar elke gesinslid veilig voel om vryelik uit die hart te praat.
Ons lewe weliswaar in ’n goddelose wêreld, en nie alle molestering kan voorkom word nie. Nietemin kan ’n veilige huis ’n hemelsbreë verskil maak. As ’n gesinslid buite die huis seergemaak word, weet hy of sy presies waarheen om vir vertroosting en medelye te gaan. So ’n huis is waarlik ’n toevlug, ’n veilige hawe in ’n wêreld vol probleme. Mag God jou pogings seën om so ’n veilige gesinsmilieu te skep!
[Voetnoot]
Hierdie ou Griekse woord is al soos volg gedefinieer: “Hardvogtig teenoor familielede.” Een Bybelvertaling vertaal hierdie vers so: “Hulle sal . . . ’n gebrek aan normale geneentheid vir hulle gesinne hê.”
[Venster/Prent op bladsy 10]
WENKE OM JOU HUIS ’N VEILIGE PLEK TE MAAK
Internet: As jou kinders toegang het tot die Internet, het hulle instruksies nodig oor hoe om dit veilig te gebruik. Daar is tallose pornografiese webwerwe sowel as kletskamers en ander sosiale netwerke waar pedofiele kinders probeer vind en verlei. Dit is verstandig om die rekenaar in ’n oop deel van die huis te hê waar ouers makliker ’n ogie oor die gebruik daarvan kan hou. Kinders moet nooit sonder ouerlike toesig persoonlike inligting bekend maak of reël om iemand te ontmoet met wie hulle oor die Internet in aanraking gekom het nie.—Psalm 26:4.
Alkohol: In baie gevalle waar ’n kind seksueel gemolesteer is, het alkohol ’n rol gespeel. Ondervinding toon dat volwassenes wat te veel drink, geneig is om hulle inhibisies te verlaag; party swig voor begeertes wat hulle andersins sou onderdruk het. Hoe dit ook al sy, hierdie gevaar voorsien nog ’n rede om ag te slaan op die Bybel se raad om dronkenskap en oormatige drinkery te vermy.—Spreuke 20:1; 23:20, 31-33; 1 Petrus 4:3.
Privaatheid: Een vrou sê: “Nadat my ma oorlede is, was my pa die enigste persoon in die huis wat gordyne voor sy vensters gehad het of wie se slaapkamer ’n deur gehad het. Hy het ons geen privaatheid gegee nie—nie eers in die badkamer nie.” Hierdie man het elkeen van sy dogters gemolesteer. Elke gesinslid moet die belangrikheid van privaatheid besef. Net soos ouers soms privaatheid nodig het, moet hulle ook hulle kinders ’n gepaste mate van privaatheid gee namate hulle groter word. Verstandige ouers behandel ander soos hulle behandel wil word.—Matteus 7:12.