Die Bybel se beskouing
Wat gebeur by die dood?
GOD se mensekinders was nie veronderstel om te sterf nie (Romeine 8:20, 21). Trouens, toe Jehovah die eerste keer met Adam oor die dood gepraat het, is dit nie genoem as die uiteinde wat die mens gewoonlik moet verwag nie, maar as die straf vir ongehoorsaamheid aan God (Genesis 2:17). Adam het verstaan wat die dood beteken omdat hy ongetwyfeld gesien het hoe diere doodgaan.
Adam het gesondig, en hy het die prys daarvoor betaal deur op die ouderdom van 930 jaar te sterf (Genesis 5:5; Romeine 6:23). Aangesien hy weens ongehoorsaamheid uit God se gesin gesit is, is hy nie meer as ’n seun van God beskou nie (Deuteronomium 32:5). Die Bybel sê die volgende omtrent die droewige gevolge wat dit vir die mensdom meegebring het: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring.”—Romeine 5:12.
Wat gebeur met ons denkvermoë?
Die Bybel sê ook: “Daar is ’n uiteinde vir die mensekinders en ’n uiteinde vir die diere, en hulle het dieselfde uiteinde. Soos die een sterf, so sterf die ander; en hulle almal het net een gees, sodat die mens geen voorrang bo die dier het nie, want alles is nietigheid. Almal gaan na een plek. Hulle is almal uit die stof, en hulle keer almal na die stof terug” (Prediker 3:19, 20). Wat beteken dit om na die stof terug te keer?
Die uitdrukking “keer . . . na die stof terug”, laat ons dink aan God se woorde aan die eerste mens: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Dit beteken dat mense, soos diere, fisiese wesens is. Ons is nie geeste wat bloot ’n vleeslike liggaam bewoon nie. Ons denkvermoëns kan nie die vernietiging van ons liggaam oorleef nie. Die Bybel sê van ’n mens wat sterf: “Hy blaas sy laaste asem uit, hy keer terug na die stof; en in daardie selfde uur kom al sy gedagtes tot ’n einde.”—Psalm 146:4, The New English Bible.
As dit is wat gebeur, in watter toestand is die dooies dan? God se Woord gee ’n duidelike antwoord: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Die dood is nie soos ’n vriend wat ons tot ’n beter lewe verwelkom nie, maar dit word eerder in die Bybel “die laaste vyand” genoem omdat dit al ons bedrywighede tot ’n einde bring (1 Korintiërs 15:26; Prediker 9:10). Beteken dit dat die dooies in ’n hopelose toestand verkeer?
Goeie nuus omtrent die dood
Vir miljoene mense is die dood soos ’n slaap waaruit hulle wakker sal word. Jesus het eenkeer vir sy dissipels die volgende gesê aangaande hulle vriend wat gesterf het: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” Toe Jesus op pad was na die gedenkgraf, het hy ’n skare rouklaers teëgekom. Toe hy by die graf aankom, het hy beveel dat dit oopgemaak moet word en het hy uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Die man wat vier dae lank dood was, het uitgekom (Johannes 11:11-14, 39, 43, 44). Aangesien Lasarus se liggaam al begin ontbind het, het Jesus dus getoon dat God alles omtrent die dooies kan onthou—hulle persoonlikheid, hulle geheue en hoe hulle gelyk het. Hy kan hulle weer laat lewe. By ’n ander geleentheid het Jesus gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [dit wil sê Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.
Die Bybel gee ons nog meer goeie nuus en sê: “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Nooit weer sal bedroefde mense na ’n begraafplaas hoef te gaan om ’n geliefde te begrawe nie. Die Bybel sê: “Die dood sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Stem jy nie saam dat die Bybel se beskouing oor wat by die dood gebeur, vertroostend is nie?
HET JY AL GEWONDER?
◼ Is die dooies bewus van enigiets?—Prediker 9:5.
◼ Is mense wat dood is, in ’n hopelose toestand?—Johannes 5:28, 29.
[Lokteks op bladsy 29]
“Hy blaas sy laaste asem uit, hy keer terug na die stof; en in daardie selfde uur kom al sy gedagtes tot ’n einde.”—Psalm 146:4, “The New English Bible”