Is die dood werklik die einde?
DAAR is waarskynlik geen ander kwessie wat so verwarrend is en die mens al so lank kwel soos die vraag oor wat ná die dood gebeur nie. Briljante mense uit elke beskawing wonder al duisende jare lank oor hierdie vraag. Maar mensefilosofie en wetenskaplike navorsing het net ’n deurmekaarspul van teorieë en mites opgelewer.
Wat van die leringe wat in die Bybel gevind word? Sommige mense sal dalk redeneer dat die Bybel net so verwarrend is wanneer dit kom by die dood en die hiernamaals. Maar ons moet eerlik wees en erken dat die verwarring veroorsaak word deur al die godsdienste wat die helder water van Bybelleringe met dwaalleringe en legendes vertroebel. Wanneer ’n mens die tradisies en mites ignoreer en bly by wat die Bybel eintlik sê, vind jy ’n lering wat sin maak en hoop bied.
Voordat jy bestaan het
Neem byvoorbeeld die twee stellings van koning Salomo wat in die vorige artikel aangehaal word. Daardie tekste toon duidelik dat die dooies—mense sowel as diere—van hoegenaamd niks bewus is nie. Volgens die Bybel is daar dus geen bedrywigheid, bewustheid, emosie of denke in die doderyk nie.—Prediker 9:5, 6, 10.
Is dit moeilik om te glo? Dink hieraan: Wat is die toestand van ’n mens voor hy begin lewe? Waar was jy voordat die klein selletjies van jou ouers saamgesmelt het sodat jy die lewende persoon geword het wat jy nou is? As daar ’n onsigbare entiteit in die mens is wat ná die dood voortleef, waar was daardie entiteit voor bevrugting? Die waarheid is dat jy geen voormenslike bestaan het om te onthou nie. Voor bevrugting het jy nie bestaan nie. Dit is só eenvoudig.
Dit is dus logies om tot die slotsom te kom dat ons, wanneer ons sterf, na dieselfde toestand van onbewustheid terugkeer waarin ons was voordat ons gelewe het. Dit is soos God vir Adam gesê het nadat hy ongehoorsaam was: “Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). In daardie sin is mense presies dieselfde as diere. Aangaande die toestand van die dooies is dit net soos die Bybel sê: “Die mens [het] geen voorrang bo die dier . . . nie.”—Prediker 3:19, 20.
Beteken dit dat menselewe beperk is tot net ’n paar dekades van lewe wat dan gevolg word deur ’n ewigheid van niebestaan? Of is daar hoop vir die dooies? Kyk na die volgende.
’n Ingebore begeerte om te lewe
Feitlik almal beskou die dood as ’n onaangename onderwerp. Dit lyk of die meeste mense daarvan wegskram om veral hulle eie dood te bespreek of om selfs daaraan te dink. Aan die ander kant word hulle gebombardeer met tonele op televisie en in rolprente waarin mense op elke denkbare manier sterf, sowel as met stories en prente van werklike sterftes waarop die media die aandag vestig.
Gevolglik lyk die dood van vreemdelinge dalk soos ’n normale deel van die lewe. Wanneer dit egter kom by ons eie dood of die dood van ’n geliefde, is dit skielik nie meer normaal nie. Dit is omdat mense ’n diepgewortelde natuurlike begeerte het om te lewe. Ons is ook baie bewus van tyd en verstaan die konsep van ewigheid. Koning Salomo het geskryf dat God “die ewigheid in mense se harte geplant” het (Prediker 3:11, The Amplified Bible). Onder normale omstandighede wil ons vir ewig bly lewe. Ons wil lewe sonder ’n vervaldatum hê. Daar is geen aanduiding dat diere so ’n begeerte het nie. Hulle lewe sonder enige bewustheid van die toekoms.
Die mens se ontsaglike potensiaal
Mense het nie net die begeerte om vir ewig te lewe nie, maar ook die potensiaal om vir ewig bedrywig en produktief te bly. Dit lyk of daar geen perke is aan hoeveel ’n persoon kan leer nie. Daar is al gesê dat niks in die natuur met die kompleksiteit en veerkragtigheid van die mensebrein vergelyk kan word nie. Anders as diere het ons ’n skeppende verstand wat kan redeneer en abstrakte begrippe kan verstaan. Wetenskaplikes het nog net ’n baie beperkte begrip van die potensiaal van die mensebrein.
Ons behou baie van hierdie potensiaal terwyl ons ouer word. Neurowetenskaplikes het onlangs uitgevind dat die meeste breinfunksies nie deur die verouderingsproses aangetas word nie. Navorsers by die Franklin-instituut se Sentrum vir Innovasie in Wetenskaponderrig verduidelik: “Die mensebrein het die vermoë om hom voortdurend aan te pas en nuwe verbindings te vorm. Selfs tydens bejaardheid kan dit nuwe neurone vervaardig. Ernstige verstandelike agteruitgang word gewoonlik veroorsaak deur siekte, terwyl die meeste ouderdomsverwante geheueverlies of verlies van motoriese vaardighede eenvoudig die gevolg is van onbedrywigheid en ’n tekort aan oefening en stimulering van die brein.”
Met ander woorde, as ons die brein voortdurend intellektueel stimuleer en siekte vermy, sal dit vir ewig aanhou werk. “Die molekulêre bioloog James Watson, medeontdekker van die fisiese struktuur van DNS, sê: ‘Die brein is die mees komplekse voorwerp wat ons nog in ons heelal ontdek het.’” ’n Boek deur die neurowetenskaplike Gerald Edelman verduidelik dat ’n deel van die brein wat so groot soos ’n vuurhoutjiekop is, “ongeveer ’n miljard verbindings bevat wat op maniere kan kombineer wat net beskryf kan word as hiperastronomies—in die koers van tien gevolg deur miljoene nulle”.
Klink dit logies dat mense, hoewel hulle soveel potensiaal gegee is, net ’n paar dekades lank lewe? Dit klink net so onredelik soos om ’n kragtige lokomotief met ’n lang ry goederewaens te gebruik om ’n korreltjie sand ’n paar sentimeter ver te vervoer! Waarom het die mens dan so ’n ontsaglike vermoë om te leer en skeppend te dink? Is dit moontlik dat mense, anders as diere, glad nie veronderstel is om te sterf nie—dat hulle geskep is om vir ewig te lewe?
Die hoop wat die God van lewe bied
Die feit dat ons ’n ingebore begeerte het om te lewe en ’n ontsaglike vermoë het om te leer, lei tot ’n logiese gevolgtrekking: Mense is ontwerp om baie langer as net 70 of 80 jaar lank te lewe. Dit lei ons weer na nog ’n gevolgtrekking: Daar moet ’n Ontwerper, ’n Skepper, ’n God wees. Die onveranderlike wette van die fisiese heelal en die ondeurgrondelike kompleksiteit van lewe op die aarde steun geloof in die bestaan van ’n Skepper ten volle.
As God ons wel geskep het met die vermoë om vir ewig te lewe, waarom sterf ons dan? En wat gebeur ná die dood? Is dit God se voorneme om die dooies op te wek? Dit sou logies wees dat ’n wyse en kragtige God ons van antwoorde op hierdie vrae sou voorsien, en hy het. Dink hieraan:
◼ Die dood was nie deel van God se oorspronklike voorneme vir die mensdom nie. Die eerste melding van die dood in die Bybel dui aan dat die dood nie iets was wat God oorspronklik vir mense in gedagte gehad het nie. Die Bybelverslag in Genesis verduidelik dat God vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, ’n geleentheid wou gee om hulle liefde en lojaliteit te bewys en hulle dus ’n eenvoudige toets gegee het. Hulle is verbied om van een spesifieke boom te eet. God het gesê: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:17). Adam en Eva sou net sterf as hulle in opstand gekom het en sodoende nie die toets geslaag het nie. Die Bybelverslag toon dat hulle aan God ontrou was en dus gesterf het. Onvolmaaktheid en die dood is op hierdie manier in die mensegesin ingebring.
◼ Die Bybel vergelyk die dood met slaap. Dit sê dat mense “ontslaap” (Psalm 13:3). Voordat Jesus sy vriend Lasarus opgewek het, het hy aan sy apostels verduidelik: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.” En dit is presies wat Jesus gedoen het! Toe hy geroep het, sê die Bybel, het “die man [Lasarus] wat dood was, . . . uitgekom” uit die “gedenkgraf”—weer eens lewend!—Johannes 11:11, 38-44.
Waarom het Jesus oor die dood gepraat asof dit slaap is? Omdat ’n persoon wat slaap, onbedrywig is. Wanneer iemand diep slaap, is hy nie bewus van wat om hom gebeur of van die verloop van tyd nie. Daar is geen pyn of lyding nie. Eweneens is daar in die dood geen bedrywigheid of bewustheid nie. Maar die vergelyking kan verder gevoer word. Wanneer iemand slaap, verwag hy om wakker te word. En dit is presies die hoop wat die Bybel aan die dooies bied.
Die Skepper self belowe: “Uit die hand van Sjeool [die gemeenskaplike graf] sal ek hulle loskoop; uit die dood sal ek hulle verlos. Waar is jou angels, o Dood? Waar is jou vernietigende krag, o Sjeool?” (Hosea 13:14). Nog ’n Bybelprofesie sê dat God “die dood vir ewig [sal] verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jesaja 25:8). Hierdie proses om die dooies weer lewend te maak, word die opstanding genoem.
◼ Waar sal die verresenes lewe? Soos vroeër bespreek is, het die mens ’n natuurlike begeerte om te bly lewe. Waar sou jy vir ewig wou lewe? Sou jy tevrede wees om te weet dat jy ná die dood sal voortleef as deel van ’n abstrakte, universele lewenskrag, soos sommige godsdienste leer? Sou jy jou bestaan wou voortsit as ’n ander persoon, met geen herinneringe van wie jy was voordat jy gesterf het nie? Is die idee om as ’n dier of ’n boom na die lewe terug te keer vir jou aantreklik? As jy kon kies, sou jy werklik in ’n wêreld sonder enige menslike ervarings of aardse genietinge wou lewe?
Sou jy, onder ideale omstandighede, nie baie graag op ’n paradysaarde wou lewe nie? Dit is presies die hoop wat die Bybel bied, naamlik, om vir ewig hier op die aarde te lewe. God het die aarde vir daardie doel geskep—om bewoon te word deur diegene wat hom vir ewig sal liefhê en vreugdevol sal dien. Daarom sê die Bybel: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29; Jesaja 45:18; 65:21-24.
◼ Wanneer sal die opstanding plaasvind? Die feit dat die dood met slaap vergelyk word, gee te kenne dat die opstanding nie gewoonlik onmiddellik ná die dood plaasvind nie. Daar is ’n tydperk van “slaap” vandat ’n persoon sterf totdat hy die opstanding kry. In die Bybel het die man Job hierdie vraag geopper: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Toe het hy geantwoord: “[In die graf] sal ek wag, totdat my verligting kom. [God] sal roep, en ek sal . . . antwoord” (Job 14:14, 15). Hoeveel vreugde sal dit tog meebring wanneer daardie tyd aanbreek en die dooies met hulle geliefdes herenig word!
Geen rede vir morbiede vrees nie
Die hoop wat die Bybel bied, verwyder weliswaar nie noodwendig alle vrees vir die dood nie. Dit is natuurlik om die pyn en benoudheid te vrees wat soms die dood voorafgaan. Dit is te verstane dat jy dalk die verlies van ’n geliefde vrees. En dit is normaal om die tragiese gevolge te vrees wat jou eie dood dalk op jou geliefdes sal hê.
Nogtans help die Bybel ons om enige morbiede vrees vir die dood te oorkom deur vir ons te sê wat die ware toestand van die dooies is. Dit is nie nodig om ’n hiernamaals van pyniging deur demone in ’n brandende hel te vrees nie. Dit is ook nie nodig om ’n donker, spokerige wêreld te vrees waar siele vir ewig rusteloos ronddwaal nie. En jy hoef nie te vrees dat die toekoms niks anders bied as ’n ewige toestand van niebestaan nie. Waarom nie? Omdat God ’n onbeperkte geheue het, en hy belowe om al die dooies in sy geheue weer hier op die aarde op te wek. Die Bybel waarborg dit met die woorde: “Die ware God is vir ons ’n God van reddingsdade; en aan Jehovah, die Soewereine Heer, behoort die weë wat uit die dood lei.”—Psalm 68:20.
[Lokteks op bladsy 5]
“Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19
[Lokteks op bladsy 5]
“[God] het die ewigheid in mense se harte geplant.”—Prediker 3:11, The Amplified Bible
[Venster/Foto op bladsy 8]
ANTWOORDE OP JOU VRAE OOR DIE DOOD
Toegegee, daar is vrae aangaande die dood en die opstanding wat nie in hierdie artikels gedek is nie. Baie het bevredigende antwoorde op sulke vrae gevind deur die Bybel noukeurig saam met Jehovah se Getuies te studeer. Ons moedig jou aan om dit ook te doen. Die volgende is net ’n paar vrae waarop jy antwoorde sal kry:
◼ Wat beteken die Bybelterme “hel” en “poel van vuur”?
◼ As daar geen vurige hel is nie, hoe word slegte mense dan gestraf?
◼ Volgens die Bybel verlaat die gees die liggaam by die dood. Wat is daardie gees?
◼ Waarom is daar so baie berigte van kommunikasie met die dooies?
◼ Wat beteken die woord “siel” in die Bybel?
◼ Wanneer sal die opstanding tot lewe op ’n paradysaarde ’n werklikheid word?
◼ Sal almal wat sterf, ’n opstanding kry, ongeag hulle optrede toe hulle gelewe het?
Sien asseblief die agterblad van hierdie tydskrif om uit te vind hoe jy ’n duidelike, Bybelse antwoord op elkeen van hierdie vrae kan kry.
[Prent op bladsy 7]
Jesus het gesê dat hy Lasarus ‘uit die slaap sou wakker maak’
[Prent op bladsy 8, 9]
Stel jou die vreugde voor wat dit sal meebring wanneer afgestorwe dierbares opgewek word!