Die Bybel se beskouing
Wat beteken hoofskap in die huwelik werklik?
IN BAIE lande sluit huwelikseremonies tradisioneel in dat huweliksgeloftes afgelê word waartydens die bruid belowe dat sy haar man sal gehoorsaam. Tog word baie vroue gegrief deur die idee van manlike hoofskap in die huwelik. Kyk na wat die Bybel oor hierdie onderwerp leer. Jy sal vind dat die Bybel se standpunt gebalanseerd en prakties is.
God se definisie van hoofskap
Die Bybel se basiese beskrywing van hoofskap word in Efesiërs 5:22-24 gevind: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is . . . Trouens, soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens dit ook in alles aan hulle mans wees.” As “die hoof van sy vrou” moet die man die leiding in die gesin neem, en die vrou moet sy leiding volg en sy hoofskap respekteer.—Efesiërs 5:33.
’n Man se gesag word beperk deur sy eie onderdanigheid aan God en Christus. Hy het nie die gesag om sy vrou aan te sê om God se wette te verbreek of om haar Bybelopgeleide gewete te skend nie. Binne hierdie perke het God hom egter die verantwoordelikheid gegee om belangrike besluite namens die gesin te neem.—Romeine 7:2; 1 Korintiërs 11:3.
Die Bybel beveel die man om sy hoofskap op onselfsugtige wyse uit te oefen en om sy vrou se welsyn bo sy eie te stel. Efesiërs 5:25 sê: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het.” ’n Man wat Christus se uitstekende voorbeeld van liefde navolg, sal sy hoofskap beslis nie op selfsugtige wyse uitoefen nie.
Verder beveel die Bybel ’n man om “ooreenkomstig kennis” met sy vrou saam te woon (1 Petrus 3:7). Dit behels meer as om net bewus te wees van die fisiese en emosionele verskille tussen mans en vroue. Hy moet ’n begrip van sy vrou se behoeftes verkry.
‘Sy is jou metgesel’
Beteken ’n vrou se onderdanigheid dat sy heeltemal passief moet wees? Dink aan Sara, wat in die Bybel gemeld word as ’n voorbeeld van gehoorsaamheid aan haar man, Abraham (1 Petrus 3:5, 6). Sy het haar aan hom onderwerp in groot sowel as klein dinge, soos om ’n gerieflike huis te verlaat vir ’n nomadiese lewe in tente of om ’n maaltyd op kort kennisgewing voor te berei (Genesis 12:5-9; 18:6). Maar in verband met ’n ernstige saak het sy herhaaldelik ’n beskouing uitgespreek wat verskil het van Abraham s’n. Dit het gebeur toe sy wou hê dat hy sy byvrou, Hagar, en sy eersgebore seun, Ismael, uit die huis moes wegstuur. God het Sara nie tereggewys nie, maar het vir Abraham gesê om te “luister na haar stem”. In die tussentyd het Sara aangehou om haar aan Abraham te onderwerp deur te wag vir hom om op te tree eerder as om Hagar en Ismael self te probeer verdryf.—Genesis 21:8-14.
Sara se voorbeeld toon dat die vrou nie net op die agtergrond moet bly nie, maar dat sy haar man se “metgesel” moet wees en ’n ereplek moet beklee (Maleagi 2:14). As so ’n metgesel lewer sy waardevolle insette aangaande gesinsbesluite en word sy ’n mate van gesag in die gesin gegee, aangesien sy dikwels baie huishoudelike en selfs party finansiële sake moet behartig. Dit is natuurlik die man se verantwoordelikheid as gesinshoof om die finale besluit te neem.—Spreuke 31:10-31; 1 Timoteus 5:14.
Respek vir die Insteller
Jehovah God het die man en vrou geskep en hy het ook die huwelik as ’n heilige instelling tussen hulle geskep (Genesis 2:18-24). Hy het ook rolle vir die man en vrou uiteengesit wat hulle die grootste vreugde sal verskaf.—Deuteronomium 24:5; Spreuke 5:18.
As die Insteller van die huwelik het Jehovah die reg sowel as die vermoë om standaarde vir die huweliksreëling te stel. Huweliksmaats wat hulle onderskeie rolle vervul en God se hoofskapreëling volg, nie net omdat dit prakties is nie, maar ook uit respek vir sy goddelike gesag, ontvang sy guns en ondersteuning.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Wie het die volmaakte voorbeeld van hoofskap gestel?—Efesiërs 5:25.
◼ Beperk God ’n man se gesag?—1 Korintiërs 11:3.
◼ Wat is die doel van die huwelik en van die hoofskapreëling?—Spreuke 5:18.
[Prent op bladsy 28]
Hoofskap wat volgens Christus se voorbeeld uitgeoefen word, lei tot vreugde en tevredenheid vir albei maats