Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 6/08 bl. 16-17
  • Die Siberiese tier—Sal hy bly voortbestaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Siberiese tier—Sal hy bly voortbestaan?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Indrukwekkende dier
  • Sy voortbestaan word bedreig
  • Die tier se redding
  • Tier! Tier!
    Ontwaak!—1996
  • Ware veiligheid—’n ontwykende doelwit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Waarom word hulle bedreig?
    Ontwaak!—2004
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 6/08 bl. 16-17

Die Siberiese tier—Sal hy bly voortbestaan?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN RUSLAND

Op ’n helder winterdag in die verre ooste van Rusland hardloop ’n groot kat oor die skitterende sneeu, met ’n helikopter kort op sy hakke. Toe ’n skerpskutter, geweer in die hand, by die helikopter uitleun, spring die tier in ’n boom en brul uitdagend. Die skoot klap. Die helikopter land, en mense nader die beweginglose dier versigtig.

IS HULLE wilddiewe? Nee, hulle is navorsers wat doofpyle gebruik. Hulle het gekom om een van die mees bedreigde spesies op aarde te bestudeer—die sku Siberiese tier.a

’n Indrukwekkende dier

Siberiese tiere kon eens op ’n tyd gevind word in Korea, Noord-China, Mongolië en so ver wes as die Baikalmeer, in Rusland. Maar oor die afgelope eeu het hulle getalle gekrimp. Hulle laaste toevlug is ’n afgeleë bergreeks noord van Wladiwostok, Rusland, naby die Japanse See.

Tiere leer mekaar goed ken deur middel van hulle reuk, en dit maak dit vir die mannetjies moontlik om wyfies te vind wanneer dit paartyd is. Twee of drie tierwelpies word op ’n slag gebore, blind en kriewelend. Maar in teenstelling met huiskatjies leer Siberiese tiere nooit om te spin nie. Hulle grom saggies en drink vyf of ses maande lank moedersmelk voordat hulle vleis begin eet. In die begin gaan hulle saam met hulle ma op jagtogte, maar is nie gereed om op hulle eie te jag totdat hulle 18 maande oud is nie. Jong tiere kan tot twee jaar lank by hulle ma bly. Daarna gaan soek hulle hulle eie gebied uit.

In die natuur word party van hierdie tiere baie groot. Mannetjies kan tot 270 kilogram weeg en meer as drie meter lank word, die stert ingesluit. Die tiere is goed toegerus vir koue, sneeuerige winters. ’n Dik pels bedek hulle liggaam sowel as hulle enorme pote wat dus as sneeuskoene dien.

Siberiese tiere se oranje pels het ’n patroon van donker strepe. Hulle strepe, wat uniek is aan elke tier, maak dit moontlik om een tier van ’n ander te onderskei, net soos vingerafdrukke mense van mekaar onderskei. In die woud maak ’n tier se patroon en kleur hom dikwels onmerkbaar wanneer hy stilstaan. Maar as ’n tier in die winter uit die woud uitkom, steek hy skerp af teen die sneeu. Hierdie sigbaarheid in die winter maak die tier ’n maklike teiken vir sy enigste vyand, die mens.

Sy voortbestaan word bedreig

Om aan die lewe te bly, moet die Siberiese tier jag maak op groot diere, insluitende takbokke, elke en wildevarke. Maar hierdie soort prooi het min geword in die Oos-Siberiese wildernis. ’n Woudgebied van 1 000 vierkante kilometer het dalk net genoeg wild vir vier of vyf tiere. Vir Siberiese tiere om in die natuur voort te bestaan, moet hulle dus genoeg gebied hê.

Siberië se ontsaglike en ontoeganklike woude was baie jare lank ’n ideale habitat vir hierdie groot tiere. Mense, wat die enigste ernstige bedreiging vir hierdie katte se bestaan inhou, het dit selde daar gewaag. Maar in onlangse tye het oorsese houtmaatskappye baie van die bosbedekking afgekap.

Wanneer die bome verdwyn, verdwyn die takbokke, elke, wildevarke en so ook die Siberiese tiere. Om die afname in hulle getalle te probeer stuit, onderhou die Russiese regering groot natuurreservate, soos die Sichote Alin-Natuurreservaat. Maar wanneer die tiere dit buite hierdie gebiede waag, stel hulle hulle bloot aan wilddiewe wat met eksotiese aandenkings handel dryf. Die tande, kloue, bene en pelse van tiere, insluitende dié van jong welpies, behaal hoë pryse.

Die tier se redding

Groter pogings word aangewend om die Siberiese tier te red, en plaaslike inwoners het die voortou in hierdie opsig geneem. Gevolglik het die Siberiese tier se getalle effens toegeneem. ’n Sensus wat in 2005 gedoen is, het getoon dat daar tussen 430 en 540 tiere in Siberië is.

Aan die ander kant teel Siberiese tiere maklik in aanhouding aan en vaar hulle redelik goed onder sulke omstandighede. Daar is meer as 500 Siberiese tiere in dieretuine regoor die wêreld. Waarom word party van hierdie tiere dan nie vrygelaat om hulle getalle in die natuur aan te vul nie? Wetenskaplikes is huiwerig om dit te doen. “Dit maak nie juis sin om ’n dier in die natuur vry te laat nie”, het ’n navorser verduidelik, “tensy sy toekomstige veiligheid verseker kan word.”

Alle lewende dinge, insluitende die groot katte, is ’n bewys van God se wysheid en krag, en hy beskou hulle as waardig om sy aandag en sorg te ontvang (Psalm 104:10, 11, 21, 22). Baie mense wat diepe waardering vir die werke van die Skepper het, is oortuig dat daar ’n tyd sal kom wanneer die Siberiese tier nie meer uitsterwing in die gesig sal staar nie.

[Voetnoot]

a Die Siberiese tier word ook die Amoer-tier genoem, aangesien hierdie diere nou hoofsaaklik in die stroomgebied van die Amoer-rivier in die verre ooste van Rusland voorkom.

[Venster/Prent op bladsy 16, 17]

DIE GROOTSTE KAT

Die leeutier, ’n kruising tussen ’n leeumannetjie en ’n tierwyfie, is groter as die Siberiese tier. Leeutiere kan meer as drie meter lank word en meer as 500 kilogram weeg. Die leeutier word in dieretuine geteel en word selde, indien ooit, in die natuur gevind.

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Bo: © photodisc/age fotostock; onder: Hobbs, courtesy Sierra Safari Zoo, Reno, NV

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel