Is dit ontwerp?
Jou smaaksin
◼ Eet ’n happie van jou gunstelingkos, en jou smaaksin word onmiddellik geaktiveer. Maar presies hoe werk hierdie verbasende proses?
Dink hieraan: Jou tong—sowel as ander dele van jou mond en keel—bestaan onder andere uit groepies velselle wat smaakknoppies genoem word. Baie kan in papille op die oppervlak van die tong gevind word. ’n Smaakknoppie bevat tot ’n honderd reseptorselle, waarvan elkeen een van vier smake kan onderskei—suur, sout, soet of bitter.a Skerp smake val in ’n heel ander kategorie. Speserye stimuleer pynreseptors—nie smaakknoppies nie! Smaakreseptorselle is verbind aan sensoriese senuselle wat onmiddellik seine na die onderste deel van die breinstam stuur wanneer dit deur chemiese stowwe in kos gestimuleer word.
Meer as jou mond is egter betrokke by jou smaaksin. Die vyfmiljoen reukreseptors in jou neus—wat jou in staat stel om sowat 10 000 unieke geure te ruik—speel ’n belangrike rol in die smaakproses. Daar word geskat dat ongeveer 75 persent van wat ons smaak noem, eintlik die resultaat is van wat ons ruik.
Wetenskaplikes het ’n elektrochemiese “neus” ontwikkel wat chemiese gassensors gebruik as ’n kunsmatige reukapparaat. Maar die neurofisioloog John Kauer, wat in Research/Penn State aangehaal is, sê: “Enige kunsmatige toestel sal uiters eenvoudig wees in vergelyking met die biologie, wat wonderbaarlik elegant en gesofistikeerd is.”
Niemand sal stry dat die smaaksin ’n maaltyd genotvoller maak nie. Maar waarom mense een smaak bo ’n ander verkies, slaan navorsers nog steeds dronk. “Die wetenskap het dalk ’n goeie begrip van baie van die liggaam se basiese funksies”, sê Science Daily, “maar ons smaaksin en ons reuksin is nog ietwat van ’n raaisel.”
Wat dink jy? Het jou smaaksin per toeval ontstaan? Of is dit ’n bewys van ontwerp?
[Voetnoot]
a In onlangse jare het sommige wetenskaplikes umami by die lys gevoeg. Umami beskryf die unieke soute van glutamiensuur. Een daarvan is, onder andere, die geurmiddel mononatriumglutamaat.
[Diagram/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
’n Deursnee van die tong
[Diagram]
Papille
[Erkenning]
© Dr. John D. Cunningham/Visuals Unlimited