Ses sleutels tot persoonlike sukses
WARE sukses beteken om die heel beste lewenswyse te hê, ’n lewenswyse wat die gevolg is van die toepassing van God se standaarde en wat ooreenstem met sy voorneme vir ons. Iemand wat so ’n lewe lei, sê die Bybel, sal “word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees”.—Psalm 1:3.
Ja, selfs al is ons onvolmaak en maak ons foute, kan ons lewe oor die algemeen ’n groot sukses wees! Is hierdie moontlikheid vir jou aanloklik? Indien wel, kan die volgende ses Bybelbeginsels jou help om hierdie doelwit te bereik, wat duidelik sal bewys dat die leringe in die Bybel werklik wysheid van God af is.—Jakobus 3:17.
1 Behou ’n gebalanseerde beskouing van geld
“Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, [het] party . . . hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:10). Let wel dat die probleem nie geld op sigself is nie—ons almal het immers geld nodig om na onsself en ons gesin om te sien—maar die liefde vir geld. Hierdie liefde maak geld in werklikheid ’n mens se meester, of god.
Soos ons in die eerste artikel in hierdie reeks gesien het, is mense wat rykdom gretig as die sleutel tot sukses najaag, eintlik besig om ’n illusie na te jaag. Dit lei nie net tot teleurstelling nie, maar ook tot baie pyne. Byvoorbeeld, terwyl mense hard probeer om ryk te word, bly hulle verhouding met hulle gesin en vriende dikwels in die slag. Ander gee nodige slaap prys—as dit nie weens werk is nie, is dit weens angstigheid of kommer. “Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie”, sê Prediker 5:12.
Geld is nie net ’n wrede meester nie, maar dit is ook bedrieglik. Jesus Christus het gepraat van “die bedrieglike krag van rykdom” (Markus 4:19). Met ander woorde, rykdom hou die belofte van geluk in, maar dit vervul nie daardie belofte nie. Dit skep net ’n begeerte na meer rykdom. “Die mens wat lief is vir geld, sal nooit genoeg hê nie”, sê Prediker 5:10.—The New English Bible.
Kortom, die liefde vir geld is selfverydelend en lei uiteindelik tot teleurstelling, frustrasie of selfs misdaad (Spreuke 28:20). Iets wat nouer met geluk en sukses verband hou, is vrygewigheid, vergewensgesindheid, sedelike reinheid, liefde en geestelikheid.
2 Kweek ’n vrygewige gesindheid aan
“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Hoewel dit vir ’n mens oomblikke van geluk sal verskaf om nou en dan te gee, kan ’n vrygewige gesindheid jou oor die algemeen ’n gelukkige mens maak. Vrygewigheid kan natuurlik op baie maniere betoon word. Een van die beste maniere, en wat dikwels ook die meeste waardeer word, is om van jouself te gee.
Nadat die navorser Stephen G. Post etlike studies oor naasteliefde, geluk en gesondheid hersien het, het hy tot die slotsom gekom dat naasteliefde en om hulp aan ander te bied, verband hou met ’n langer lewe, ’n verbeterde gevoel van welsyn en beter fisiese en geestesgesondheid, insluitende verminderde neerslagtigheid.
Wat meer is, dié wat mildelik na gelang van hulle middele gee, ly nie skade as gevolg daarvan nie. Spreuke 11:25 sê: “’n Vrygewige mens sal voorspoedig wees; hy wat ander verkwik, sal self ook verkwik word” (New International Version). In ooreenstemming met hierdie woorde, word mense wat waarlik vrygewig van hart is—wat nie gee omdat hulle iets terugverwag nie—waardeer en is hulle geliefd, veral by God.—Hebreërs 13:16.
3 Vergewe vryelik
“Hou aan om . . . mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13). Deesdae word vergifnis dikwels nie as ’n opsie beskou nie; mense verkies om ander eerder in eie munt terug te betaal as om barmhartigheid te betoon. Wat is die gevolg? Belediging gee aanleiding tot belediging, en geweld bring nog geweld voort.
Die skade hou moontlik nie daar op nie. “In ’n studie van meer as 4 600 mense tussen die ouderdomme van 18 en 30 jaar”, sê ’n verslag in The Gazette van Montreal, Kanada, het navorsers “bevind [dat] hoe vyandiger, venyniger en meer gefrustreerd ’n persoon” was, hoe ongesonder was sy longe. Trouens, sommige van die skadelike gevolge was selfs erger as dié vir ’n roker! Ja, om vergewensgesind te wees, is nie net goed vir ons verhouding met ander nie, maar is ook goeie medisyne!
Hoe kan jy meer vergewensgesind wees? Begin deur ’n eerlike selfondersoek te doen. Ontstel jy ander nie soms nie? En waardeer jy dit nie wanneer hulle jou vergewe nie? Waarom dan nie vryelik aan ander barmhartigheid betoon nie? (Matteus 18:21-35). In hierdie verband is dit ook belangrik om selfbeheersing aan te kweek. “Tel tot tien” of gee jouself op die een of ander manier tyd om af te koel. En beskou selfbeheersing as ’n sterk punt. “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man”, sê Spreuke 16:32. “Beter as ’n sterk man”—dit dui op sukses, nie waar nie?
4 Bly by God se standaarde
“Die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:8). Eenvoudig gestel, God se standaarde is goed vir ons—fisies, verstandelik en emosioneel. Dit beskerm ons onder meer teen skadelike gebruike soos dwelmmisbruik, dronkenskap, seksuele wangedrag en pornografie (2 Korintiërs 7:1; Kolossense 3:5). Die skadelike gevolge hiervan kan misdaad, armoede, wantroue, gesinsverbrokkeling, geestes- en emosionele probleme, siekte en selfs ’n ontydige dood insluit.
Aan die positiewe kant, diegene wat by God se standaarde bly, bou gesonde, hegte verhoudings op en verkry selfrespek en innerlike vrede. In Jesaja 48:17, 18 sê God dat hy “die Een [is] wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel”. En hy voeg by: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.” Ja, ons Skepper wil die allerbeste vir ons hê. Hy wil hê dat ons moet “loop op die weg” van ware sukses.
5 Toon onselfsugtige liefde
“Liefde bou op” (1 Korintiërs 8:1). Kan jy jou ’n lewe sonder liefde voorstel? Wat ’n leë, ongelukkige bestaan sou dit tog nie wees nie! “As ek . . . geen liefde [vir ander] het nie, is ek niks . . . baat dit my glad nie”, het die Christenapostel Paulus onder goddelike inspirasie geskryf.—1 Korintiërs 13:2, 3.
Die soort liefde wat hier genoem word, is nie seksuele liefde, wat natuurlik ook sy plek het nie. Dit is eerder ’n dieper, blywender liefde wat op goddelike beginsels gegrond is (Matteus 22:37-39).a Wat meer is, dit is nie passief, in die sin dat ’n mens dit ontvang nie, maar is aktief, in die sin dat jy dit betoon. Paulus het verder gesê dat hierdie liefde ook geduldig en goedhartig is. Dit is nie jaloers, grootpraterig of trots nie. Dit strewe onselfsugtig die welsyn van ander na, en dit neem nie gou aanstoot nie, maar is vergewensgesind. Sulke liefde is opbouend. Daarbenewens help dit ons om suksesvol te wees in ons verhoudings met ander, veral met gesinslede.—1 Korintiërs 13:4-8.
Ouers toon liefde deur hartlike geneentheid vir hulle kinders te hê en duidelike, Bybelse perke aan hulle te stel wat sedes en ander gedrag betref. Kinders wat in so ’n milieu grootgemaak word, geniet ’n gevoel van geborgenheid en gesinstabiliteit, en hulle voel waarlik dat hulle ouers hulle liefhet en waardeer.—Efesiërs 5:33–6:4; Kolossense 3:20.
Jack, ’n jong man in die Verenigde State, het grootgeword in ’n gesin wat Bybelbeginsels toegepas het. Nadat hy die huis verlaat het, het Jack aan sy ouers geskryf. Hy het onder meer gesê: “Iets wat ek nog altyd probeer toepas het, is die [Bybelse] gebod: ‘Eer jou vader en jou moeder . . . sodat . . . dit met jou goed mag gaan’ (Deuteronomium 5:16). En dit het met my goed gegaan. Ek besef nou dat dit die geval is omdat julle sulke toegewyde, liefdevolle ouers was. Dankie vir al julle harde werk en die ondersteuning wat julle my gegee het terwyl ek grootgeword het.” Hoe sou jy, indien jy ’n ouer is, voel as jy so ’n brief ontvang? Sal dit nie jou hart van vreugde laat oorloop nie?
Beginselvaste liefde is ook “bly saam met die waarheid”—geestelike waarheid wat in die Bybel gevind word (1 Korintiërs 13:6; Johannes 17:17). Ter toeligting: ’n Egpaar wat huweliksprobleme ondervind, besluit om Jesus se woorde in Markus 10:9 saam te lees: “Wat God dan onder een juk [in die huwelik] saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” Nou moet hulle hulle harte ondersoek. Is hulle werklik ‘bly saam met Bybelwaarheid’? Sal hulle, soos God, die huwelik as heilig beskou en dit so behandel? Is hulle bereid om hulle in te span om hulle probleme in ’n gees van liefde op te los? Indien wel, kán hulle ’n sukses van hulle huwelik maak, en hulle sal hulle in die resultate kan verbly.
6 Wees bewus van jou geestelike behoefte
“Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Anders as diere, het mense die vermoë om geestelike dinge te waardeer. Daarom vra ons vrae soos: Wat is die doel van die lewe? Is daar ’n Skepper? Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? Wat hou die toekoms in?
Miljoene opregte mense regoor die wêreld het al gevind dat die Bybel hierdie vrae beantwoord. Die laaste vraag hou byvoorbeeld verband met God se voorneme vir die mensdom. Wat is daardie voorneme? Dat die aarde ’n paradys moet wees wat vir ewig bewoon word deur mense wat God sowel as sy standaarde liefhet. Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”
Dit is duidelik dat ons Skepper meer vir ons wil hê as tydelike sukses vir ’n blote 70 of 80 jaar. Hy wil hê dat ons vir ewig suksesvol moet wees! Dit is dus nou die tyd vir jou om van jou Skepper te leer. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Namate jy daardie kennis verkry en dit in jou lewe toepas, sal jy self uitvind dat ‘dit die seën van Jehovah is wat ryk maak, en hy voeg daar geen pyn by nie’.—Spreuke 10:22.
[Voetnoot]
a In byna al die gevalle waar die woord “liefde” in die Christelike Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”, voorkom, is dit ’n vertaling van die Griekse woord a·gaʹpe. A·gaʹpe is ’n sedelike liefde wat gebaseer is op ’n doelbewuste besluit om jou daaraan te onderwerp op grond van beginsel, plig en gepaste gedrag. A·gaʹpe is egter nie gevoelloos nie, maar kan hartlik en intens wees.—1 Petrus 1:22.
[Venster op bladsy 7]
NOG BEGINSELS WAT SUKSES BEVORDER
◼ Openbaar ’n heilsame vrees vir God. “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid.”—Spreuke 9:10.
◼ Kies vriende wyslik. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.
◼ Vermy onmatigheid. “’n Dronkaard en ’n vraat sal in armoede verval.”—Spreuke 23:21.
◼ Moenie wraak neem nie. “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie.”—Romeine 12:17.
◼ Werk hard. “As iemand nie wil werk nie, laat hom dan ook nie eet nie.”—2 Tessalonisense 3:10.
◼ Pas die Gulde Reël toe. “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.
◼ Beheers jou tong. “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, laat hom sy tong weerhou van wat sleg is.”—1 Petrus 3:10.
[Venster/Prente op bladsy 8]
LIEFDE IS GOEIE MEDISYNE
Die dokter en skrywer Dean Ornish skryf: “Liefde en hegte verhoudings vorm die grondslag van wat ons siek maak en wat ons gesond maak, wat droefheid veroorsaak en wat geluk bring, wat ons laat ly en wat ons genees. As ’n nuwe geneesmiddel so ’n kragtige uitwerking gehad het, sou feitlik elke dokter in die land dit vir hulle pasiënte aanbeveel het. Dit sou wanpraktyk gewees het om dit nie voor te skryf nie.”
[Venster/Prente op bladsy 9]
VAN WANHOOP TOT SUKSES
Toe oorlog in sy vaderland uitgebreek het, het Milanko, wat in die Balkan woon, by die leër aangesluit. Hy het weens sy dapper heldedade die bynaam Rambo gekry, die naam van ’n gewelddadige rolprentheld. Mettertyd het Milanko egter teleurgesteld geraak met die leër weens die korrupsie en die huigelary wat hy daar gesien het. “Dit”, skryf hy, “het tot talle slegte gewoontes gelei—alkohol, sigarette, dwelms, dobbelary en promiskuïteit. Ek het op rampspoed afgestuur en kon nie ’n uitweg sien nie.”
Op daardie kritieke tyd in sy lewe het Milanko die Bybel begin lees. Later, toe hy by ’n familielid gekuier het, het hy ’n eksemplaar van Die Wagtoring, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, gesien. Hy het gehou van wat hy gelees het en het weldra die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Bybelwaarheid het hom op die weg na geluk en ware sukses geplaas. “Dit het my nuwe krag gegee”, sê hy. “Ek het al my slegte gewoontes laat vaar, ’n nuwe mens geword en is as een van Jehovah se Getuies gedoop. Weens die sagte geaardheid wat ek nou het, noem mense wat my voorheen geken het, my nie meer Rambo nie, maar op die bynaam wat ek as kind gehad het, wat ‘hasie’ beteken.”