Water wat tot die lewe lei
Jesus was op reis deur Samaria, noord van Jerusalem. Hy was moeg en dors. Terwyl hy by ’n put gesit het, het hy ’n Samaritaanse vrou gevra om vir hom water te skep. Sy was geskok dat ’n Jood haar vir water sou vra omdat Jode en Samaritane in die eerste eeu niks van mekaar gehou het nie.
Die verbysterde vrou het Jesus gevra: “Hoe is dit dat u, hoewel u ’n Jood is, vir my ’n bietjie water vra om te drink, terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?”
Jesus het geantwoord: “As jy die vrye gawe van God geken het en geweet het wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee my ’n bietjie water om te drink’, sou jy hom gevra het, en hy sou vir jou lewende water gegee het.”
Jesus het verder aan haar verduidelik: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee.”—Johannes 4:1-15.
Na watter water het Jesus verwys?
DIE Bybel noem die Skepper, Jehovah God, “die bron van lewende water” (Jeremia 2:13). Lewe is ’n gawe van God af, en ons bestaan hang daarvan af dat ons die water inneem wat hy voorsien, in fisiese sin asook in geestelike sin.
Daar was nog nooit tevore ’n groter behoefte aan geestelike leiding as vandag nie. Trouens, daar kan gesê word dat ons planeet deur ’n geestelike droogte geteister word. Mense dors na antwoorde op vrae soos: Waar is die dooies? Is daar ’n hoop dat ons ooit met hulle herenig sal word? Waarom laat God lyding toe? Sal die toekoms verligting bring van oorlog, misdaad, honger en siekte? Jehovah se Getuies glo dat bevredigende antwoorde op hierdie vrae gevind kan word in die verkwikkende “waters” van God se Woord, die Bybel.
Toe Jesus met die Samaritaanse vrou by die put gepraat het, soos vroeër beskryf is, het hy verwys na die lewegewende waters van waarheid wat uit God se Woord vloei. Jehovah se Getuies nooi jou om die suiwer waters van waarheid te smaak. Hierdie uitnodiging word in die laaste boek van die Bybel gevind: “Laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.
Om meer uit te vind oor hoe God se Koninkryk die mensdom tot voordeel sal strek, kan jy met Jehovah se Getuies in verbinding tree by die naaste Koninkryksaal, of jy kan na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif skryf. Jy kan ook die webwerf www.watchtower.org besoek.
[Venster op bladsy 8, 9]
HET GODSDIENS DIE MENSDOM SE DORS GELES?
Deur eenvoudig kerk toe te gaan of te sê dat ’n mens godsdienstig is, bring ’n mens nie in kontak met die verkwikkende waters van waarheid nie. Die feit is dat baie van vandag se hoofstroomgodsdienste die mensdom se probleme vererger het eerder as om dit op te los. Kyk na een voorbeeld: In oorlogstyd het Katolieke ander Katolieke doodgemaak, en Protestante ander Protestante—terwyl albei kante God gesmeek het vir oorwinning!
Boonop is daar baie berigte van skandale in die kerke, waarby geestelikes betrokke is wat fondse verduister of minderjariges seksueel molesteer. Ja, die waters wat van meeste godsdienste afkomstig is, is besoedel (Openbaring 17:4-6; 18:1-5). Die situasie is soos dié wat in die Bybel beskryf word in Titus 1:16: “Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.” In hierdie tye van geestelike droogte het godsdiens oor die algemeen min gedoen om die mensdom se dors te les.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Die publikasie met 224 bladsye Wat leer die Bybel werklik? verduidelik in 19 hoofstukke die Bybel se antwoorde op basiese vrae soos:
“Wat is God se voorneme met die aarde?”
“Waar is die dooies?”
“Lewe ons in ‘die laaste dae’?”
“Waarom laat God lyding toe?”
[Prent op bladsy 9]
Jy kan die ‘waters van waarheid’ by jou plaaslike Koninkryksaal vind