Hulp vir kinders met leergestremdhede
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
Steven sukkel om te lees. As hy weet dat hy gevra gaan word om hardop in die klas te lees, kry hy altyd ’n maagpyn.
Ten spyte van haar onderwyser se aansporing vind Maria dit moeilik om leesbaar te skryf. Dit neem haar ure om haar huiswerk te voltooi.
Noah lees dieselfde skoolwerk oor en oor. Nogtans vergeet hy die inligting en sukkel hy om goeie punte te behaal.
STEVEN, Maria en Noah het leergestremdhede, waarvan leesgestremdhede die algemeenste is. Disleksielyers verwar byvoorbeeld dikwels letters wat eenders lyk. Ander leergestremdhede is disgrafie (’n gestremdheid wat die vermoë om te skryf, aantas) en diskalkulie (probleme met wiskundevaardighede). Nogtans het die meerderheid van diegene met leergestremdhede gemiddelde of bogemiddelde intelligensie.
Simptome van leergestremdhede sluit die volgende in: die kind ontwikkel taalvaardighede laat, vind dit moeilik om rymende woorde te vind, spreek woorde gewoonlik verkeerd uit, hou aan om babataal te gebruik, sukkel om letters en syfers te leer, kan nie eenvoudige woorde klank nie, verwar woorde wat eenders klink en vind dit moeilik om instruksies te volg.*
Help jou kind om dit die hoof te bied
Wat kan jy doen as dit lyk asof jou kind ’n leergestremdheid het? Eerstens, laat sy gehoor en sig toets om hierdie oorsake uit te skakel.* Laat dan ’n mediese ondersoek doen. As jou kind leergestremd is, sal hy jou emosionele ondersteuning nodig hê. Onthou, ’n leergestremdheid het niks te doen met ’n kind se intelligensie nie.
Maak gebruik van enige spesiale program wat jou kind se skool dalk aanbied, soos privaatlesse. Vra sy onderwyser se samewerking. Dalk kan jou kind toegelaat word om voor in die klas te sit en meer tyd gegee word om sy take te voltooi. Sy onderwyser kan hom geskrewe sowel as mondelinge instruksies gee en hom toelaat om sy eksamen mondelings af te lê. Aangesien leergestremde kinders dikwels vergeetagtig en ongeorganiseerd is, kan ’n tweede stel handboeke voorsien word vir gebruik by die huis. ’n Rekenaar met ’n speltoetser kan beskikbaar gestel word vir gebruik in die klas of vir huiswerk.
Hou kort, daaglikse leessessies. Dit is goed as ’n dislektiese kind hardop lees sodat jy, die ouer, die geleentheid het om terugvoering te gee en hom reg te help. Lees eers self hardop en laat jou kind volg. Lees daarna dieselfde teks saam hardop. Laat jou kind dit dan alleen lees. Laat hom ’n liniaal hou onder elke reël wat hy lees en moeilike woorde met ’n glanspen merk. Hierdie oefening sal dalk net 15 minute per dag neem.
Wiskundevaardighede kan op praktiese maniere geleer word, soos wanneer julle bestanddele vir resepte afmeet, ’n liniaal vir houtwerk gebruik of inkopies doen. Grafiekpapier en diagramme kan nuttig wees om wiskundeprobleme op te los. Gebruik breedgelinieerde papier en dik potlode as die kind sukkel om te skryf. Magnetiese letters op ’n metaaloppervlak kan jou kind help spel.
Daar is ook nuttige strategieë vir kinders met ATSH. Maak oogkontak met ’n kind wat ’n aandagsteurnis het voordat jy met hom praat. Maak seker dat jou kind ’n stil omgewing het om huiswerk te doen, en laat hom toe om dikwels ’n blaaskans te neem. Gee hom die geleentheid om sy hiperaktiwiteit nuttig te gebruik deur hom takies te gee wat fisiese aktiwiteit behels, soos om met die hond te gaan stap.
Sukses is moontlik
Bou op jou kind se sterk punte deur enige vermoë of talent wat hy dalk het, aan te moedig. Prys en beloon hom vir enige prestasie, ongeag hoe klein dit is. Breek projekte op in kleiner, hanteerbaarder take sodat hy dit suksesvol kan afhandel en trots kan wees daarop. Gebruik prente of diagramme van die stappe wat hy moet doen om ’n projek te voltooi.
Uiteindelik is dit vir ’n jongmens belangrik om basiese lees-, skryf- en wiskundevaardighede onder die knie te kry. Wees verseker dat jou kind, met die regte motivering en ondersteuning, kan leer—hy sal dit dalk net op ’n ander manier doen as ander kinders en ’n bietjie langer neem.
[Voetnote]
Leergestremdhede gaan dikwels gepaard met aandagtekortsteurnis met hiperaktiwiteit (ATSH), wat gekenmerk word deur hiperaktiwiteit, impulsiewe gedrag en die onvermoë om te konsentreer. Sien die Ontwaak! van 22 Februarie 1997, bladsye 5-10.
Ons verwys in hierdie artikel na die kind as manlik omdat die kans drie keer groter is dat seuns met disleksie en hiperaktiwiteit gediagnoseer sal word as meisies.
[Venster op bladsy 11]
’N LEERGESTREMDHEID WORD ’N BATE
“Wanneer ek na woorde op ’n bladsy gekyk het, was dit net ’n warboel van onleesbare lyne. Dit kon maar net sowel in ’n vreemde taal gewees het. Woorde het vir my niks beteken nie totdat iemand anders dit hardop gelees het. Onderwysers het gedink dat ek lui of oneerbiedig is of dat ek my nie inspan of nie na hulle luister nie. Niks kon verder van die waarheid gewees het nie. Ek het geluister en my regtig ingespan, maar om te lees en skryf, was eenvoudig bo my vuurmaakplek. Ander vakke, soos wiskunde, was nie vir my moeilik nie. As kind het ek gou geleer om my toe te spits op dinge soos sport, die ambagte, kuns en enigiets waarin ek my hande moes gebruik, solank dit nie beteken het dat ek moet lees en skryf nie.
“Later het ek besluit om met my hande te werk, en ek het dus ’n ambagsman geword. Dit het gelei tot die voorreg om op vyf internasionale bouprojekte van Jehovah se Getuies te werk. Omdat ek my meer moet inspan om te lees, kan ek gewoonlik baie onthou van wat ek gelees het. As ’n Bybelstudent het ek gevind dat dit baie nuttig is, veral in my Christelike bediening. Ek beskou hierdie gestremdheid dus nie as ’n swakheid nie, maar eerder as ’n bate.”—Peter, ’n disleksielyer wat ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies is.
[Prent op bladsy 10]
Kinders kan baie goed daarin wees om “prentjies-aantekeninge” te maak terwyl hulle aandagtig luister