’n Beter oplossing
TOE Lena, wat in die eerste artikel genoem is, 32 jaar oud was, is sy hoofsaaklik as gevolg van haar dwelmprobleem “deur skuldgevoelens, wanhoop en neerslagtigheid oorweldig”. “Ek wou ’n goeie vrou en moeder wees”, het sy geskryf, “maar alles in my lewe en in die wêreld was so hartseer en hopeloos dat dit gelyk het asof daar geen rede is om goed te wees nie. En die paar keer wat ek probeer het, het ek misluk.”
Toe het Lena die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Kort voor lank het Bybelwaarheid vir haar innerlike vrede en verligting gebring, wat sy beskryf het as “die ongelooflikste gevoel wat ek nog ooit gehad het”. ’n Begrip van Bybelbeginsels en ’n wonderlike hoop vir die toekoms het haar beweeg om haar lewe te verander en haar verslawing te oorkom.
Beginsels vir die lewe
Ons Skepper, Jehovah God, het die wette en beginsels wat in die Bybel gevind word, spesifiek met ons in gedagte gemaak. Psalm 19:7, 8 sê: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug [of vernuwe dit]. . . . Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal.”
In 2 Korintiërs 7:1 word ons byvoorbeeld aangespoor om “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig”. Lena het hierdie Bybelvers ter harte geneem, en dit het haar gehelp om met haar verontreinigende gewoonte te breek. Myra, wat ook in die eerste artikel genoem word, het dieselfde gedoen. Jy onthou dalk dat sy verslaaf geraak het aan die medisyne wat vir haar hoofpyne voorgeskryf is. Hoe het Myra haar probleem hanteer? Sy het dit openlik met haar dokter bespreek, wat haar toe gehelp het om ander mediese behandeling te kry.a Sy het ook gebruik gemaak van die geestelike aanmoediging wat deur die Christengemeente voorsien word.
Lena sowel as Myra het vir hulp gebid. Filippense 4:6, 7 sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.” ’n Eertydse kneg van God wat hierdie innerlike vrede ondervind het, het geskryf dat God se bemoedigende woorde hom kalmte, vertroosting en innerlike vreugde gegee het toe sy “verontrustende gedagtes . . . baie geword het” (Psalm 94:19). Sulke vertroosting kan in die Bybel gevind word, asook in die persoonlike aanmoediging en ondersteuning van heilsame Christenmetgeselle, insluitende Christen- ouer manne.
Soms kan ’n persoon, weens ’n probleem met middelmisbruik, egter heeltemal onwaardig voel. Janice, ’n Christen wat baie jare lank aan voorskrifmedisyne verslaaf was, het geskryf: “Verslaafdes is geestelik dalk so bankrot en vol selfhaat dat dit vir hulle moeilik, miskien selfs onmoontlik, is om Jehovah op hulle eie te nader vir hulp.” Onder sulke omstandighede is dit vir hulle besonder belangrik om by geestelik ryp Christene hulp te kry. Hulle liefdevolle, geduldige aanmoediging en hulle gebede van geloof kan “die een wat ongesteld is, gesond maak” (Jakobus 5:15). As die verslaafde ’n kind is, moet die ouers natuurlik ’n daadwerklike belangstelling in sy herstel toon—op geestelike en mediese gebied—sodat hy nie terugval nie.
Janice het haar in ’n behandelingsentrum laat opneem, haar verslawing oorkom en is sedertdien vry daarvan. “Ek maak op Jehovah staat om my deur moeilike tye te help”, het sy geskryf. “Ek het nou innerlike vrede, en my ou lewenslustige persoonlikheid is besig om terug te keer.”
Wanneer ons probleme iets van die verlede sal wees
Die dag kom wanneer alle soorte dwelms en medisyne iets van die verlede sal wees. Hoe so? Openbaring 21:3, 4 antwoord: “Die tent van God is by die mensdom . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge [wat vandag se probleme insluit] het verbygegaan.”
Die Bybel vergelyk die Christelike hoop met “’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:18, 19). Tydens ’n storm het eertydse seemanne die skip se anker laat sak. As die anker aan die seebodem vasgehaak het, het dit die skip gehelp om die storm te deurstaan en dit van gevaarlike dele van die kuslyn en riwwe weggehou. Net so kan die hoop wat ‘seker en vas’ is en in die Bybel uiteengesit word, ons help om ons emosionele, verstandelike en geestelike balans te behou wanneer stormagtige beproewinge oor ons kom—wat ongetwyfeld sal gebeur!
Ondersoek gerus die Bybel en kyk hoe toepaslik en aanmoedigend die raad en leringe daarin is. Jehovah se Getuies sal jou graag help, en jy sal nie teleurgestel word nie.
[Voetnoot]
a Nie alle situasies is dieselfde as Myra s’n nie. Byvoorbeeld, party mense ly dalk aan ’n pynlike siekte waarvoor verligting net verkry kan word deur sterk, potensieel gewoontevormende medisyne onder mediese toesig te neem. So ’n pasiënt probeer nie ’n gevoel van euforie verkry nie, en hy bevredig ook nie ’n verslawing nie.—Sien Spreuke 31:6.
[Lokteks op bladsy 9]
“Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking . . . by God bekend word; en die vrede van God . . . sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.” —Filippense 4:6, 7
[Venster/Prent op bladsy 10]
PRAKTIESE MANIERE OM BETER TE VOEL
Oefening kan “tydelik jou gemoedstemming verbeter en kortstondige verligting van depressie bring”, sê die boek Managing Your Mind—The Mental Fitness Guide. ’n Verandering in dieet en gewoontes—fisies en verstandelik—kan ook help. Kyk na die voorbeeld van Valerie, wat as kind mishandel is. Sy het aan ten minste 12 soorte voorskrifmedisyne verslaaf geraak. Sy kon haar verslawing nietemin oorkom en ’n redelik normale lewe lei. Haar geheim?
Pleks van TV te kyk en twyfelagtige romans te lees, het Valerie ’n goeie roetine van Bybelstudie gevolg en tyd gemaak om Bybelstudiehulpe te lees wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, soos hierdie tydskrif. Sy het ook aanhoudend vir krag tot God gebid, van die ondersteuning van die Christengemeente gebruik gemaak en haar dae met heilsame bedrywighede gevul soos om ander van die Bybel se vertroostende boodskap te vertel. Daarbenewens het sy groot veranderinge in haar dieet aangebring, wat voorheen baie gemorskos ingesluit het. Die gevolg was dat sy so goed herstel het dat selfs haar dokters stomgeslaan was. Sy is nou al baie jare vry van verslawende middels.b
[Voetnoot]
b As jy voorskrifmedisyne gebruik vir kliniese depressie, bipolêre versteuring of ’n ander geestestoestand, is jou situasie waarskynlik nie dieselfde as Valerie s’n nie. Jy moet dus niks verander sonder om jou dokter te raadpleeg nie.