Die Bybel se beskouing
Is dit moontlik om jou vyande lief te hê?
“Ek sê . . . vir julle”, het Jesus Christus gesê, “hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges.”—Matteus 5:44, 45.
BESKOU jy godsdiens as ’n krag wat liefde en vrede bevorder of wat haat en geweld bevorder? Vandag beskou baie mense dit as laasgenoemde, veral wanneer godsdiens vermeng raak met die politiek, etnisiteit of nasionalisme. Maar soos Jesus se woorde toon, volg diegene wat ware ‘kinders van God’ is, God se liefde na—selfs teenoor hulle vyande.
’n Ander kneg van God het gesê: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink . . . Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:20, 21). Maar is sulke liefde werklik moontlik in hierdie verdeelde wêreld? Jehovah se Getuies antwoord met ’n besliste ja! Kyk na die voorbeeld van Jesus en sy vroeë volgelinge.
Hulle het hulle vyande liefgehad
Jesus het mense die waarheid oor God geleer, en baie het dit geniet om na hom te luister. Ander het egter teen hom gedraai, party uit onkunde (Johannes 7:12, 13; Handelinge 2:36-38; 3:15, 17). Jesus het nietemin aangehou om sy lewensreddende boodskap aan almal, ook teenstanders, te verkondig (Markus 12:13-34). Waarom? Hy het geweet dat party dalk hulle weë sal verander, hom as die Messias sal erken en hulle lewe in ooreenstemming sal bring met die geestelike waarhede in God se Woord.—Johannes 7:1, 37-46; 17:17.
Selfs die aand toe gewapende teenstanders hom ten onregte in hegtenis geneem het, het Jesus liefde vir sy vyande getoon. Trouens, hy het een van sy gevangenemers genees nadat die apostel Petrus hom met ’n swaard geslaan het. By hierdie geleentheid het Jesus ’n belangrike beginsel gemeld waardeur sy ware volgelinge vandag nog gerig word. Hy het gesê: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:48-52; Johannes 18:10, 11). Sowat 30 jaar later het Petrus geskryf: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. . . . Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan [God]” (1 Petrus 2:21, 23). Ja, Petrus het geleer dat liefde, nie vergelding nie, die weg is wat Christus se ware volgelinge volg.—Matteus 5:9.
Almal wat ‘Jesus se voetstappe noukeurig volg’, weerspieël sy liefdevolle, welwillende gesindheid. “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal, . . . iemand wat hom onder die kwaad in bedwang hou”, sê 2 Timoteus 2:24. Hierdie eienskappe sal duidelik gesien kan word in die Christen se lewenswyse, ’n lewenswyse van vrede en versoening.
Vredeliewende ‘ambassadeurs vir Christus’
Die apostel Paulus het aan sy medegelowiges geskryf: “Ons is dus ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree . . . As plaasvervangers vir Christus smeek ons: ‘Raak met God versoen’” (2 Korintiërs 5:20). Ambassadeurs bemoei hulle nie met die plaaslike politieke en militêre aangeleenthede van die land waar hulle dien nie. Hulle bly eerder neutraal. Hulle werk is om die regering namens wie hulle optree, te verteenwoordig en te ondersteun.
Dit geld ook vir Christus se ambassadeurs en gesante. Hulle beskou Jesus as Koning en ondersteun sy hemelse Koninkryk deur die goeie nuus op vreedsame wyse te verkondig (Matteus 24:14; Johannes 18:36). Paulus het derhalwe aan Christene van sy dag geskryf: “Ons [voer] nie die stryd volgens wat ons in die vlees is nie. Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om . . . redenasies omver [te werp], en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word.”—2 Korintiërs 10:3-5; Efesiërs 6:13-20.
Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, het Christene in baie lande vervolging verduur. Hulle kon beslis wraak geneem het. Maar hulle het eerder voortgegaan om hulle vyande lief te hê en om die boodskap van versoening te verkondig aan almal wat wou luister. Die Encyclopedia of Religion and War sê: “Die vroegste volgelinge van Jesus het oorlog en militêre diens verwerp” omdat hulle besef het dat hierdie gebruike “onversoenbaar [is] met Jesus se leer oor liefde en die opdrag om jou vyande lief te hê”.*
Soos die vroeë Christene, erken Jehovah se Getuies Jesus as hulle Koning. Hulle erken hom ook as Koning van God se Koninkryk—’n hemelse regering wat binnekort blywende vrede en veiligheid op aarde tot stand gaan bring (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Soos ambassadeurs en gesante verkondig hulle dus die voortreflikhede van hierdie Koninkryk. Terselfdertyd streef hulle daarna om goeie burgers te wees van die land waarin hulle woon deur hulle belasting te betaal en die wet te gehoorsaam wanneer dit nie in stryd is met God se wet nie.—Handelinge 5:29; Romeine 13:1, 7.
Maar ongelukkig word die Getuies, net soos die vroeë Christene, soms misverstaan, beswadder en vervolg. Nogtans neem hulle nooit wraak nie. Hulle probeer eerder om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees, in die hoop dat party teenstanders ‘met God versoen sal raak’ en die vooruitsig op ewige lewe kan hê.*—Romeine 12:18; Johannes 17:3.
[Voetnote]
“Christenskrywers voor Konstantyn [Romeinse keiser, 306-337 HJ] het dit eenparig veroordeel om mense in oorlog dood te maak”, sê die Encyclopedia of Religion and War. ’n Verandering van gesindheid het plaasgevind toe die afvalligheid wat in die Bybel voorspel is, algemeen geword het.—Handelinge 20:29, 30; 1 Timoteus 4:1.
Soos die eerste-eeuse Christene, verdedig Jehovah se Getuies hulle godsdiensvryheid in die hof wanneer dit nodig is.—Handelinge 25:11; Filippense 1:7.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe moet Christene hulle vyande behandel?—Matteus 5:43-45; Romeine 12:20, 21.
◼ Hoe het Jesus gereageer toe hy vervolg is?—1 Petrus 2:21, 23.
◼ Waarom het die vroeë Christene fisiese oorlogvoering verwerp?—2 Korintiërs 5:20; 10:3-5.