Die Bybel se beskouing
Jy kan jou geestelike behoefte bevredig
MENSE het ’n geestelike behoefte wat net so fundamenteel is soos die behoefte aan voedsel. Wanneer dit by voeding kom, het ons egter talle goeie keuses weens die groot verskeidenheid lewensonderhoudende voedselsoorte wat beskikbaar is. Is dit ook met geestelikheid die geval? Daar is eindelose kultuur- en godsdiensgebruike wat na bewering bevrediging verskaf.
Baie mense meen dat dit nie werklik saak maak wat jy besluit om te glo of watter vorm van aanbidding jy beoefen nie, solank jy iets geesteliks doen. Wat dink jy? Maak dit saak hoe jy jou geestelike behoefte bevredig? Wat sê die Bybel?
Wat ware geestelikheid behels
In Genesis 1:27 openbaar die Bybel waarom ons ’n sin vir geestelikheid het: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.” Aangesien Jehovah God ’n gees is, verwys dit nie na enige fisiese gelykenis nie, maar na ’n ooreenkoms wat gegrond is op gemeenskaplike eienskappe. Soos sy Skepper, kon die eerste mens, Adam, eienskappe soos onselfsugtige liefde, goedhartigheid, medelye, geregtigheid en selfbeheersing waardeer en openbaar. Hy is ook ’n gewete gegee, ’n innerlike sedelikheidsgevoel, om hom te help om sy wilsvryheid in ooreenstemming met God se wette te gebruik. Hierdie karaktertrekke het hom anders gemaak as die diereskepping en het hom op unieke wyse toegerus om sy Skepper se wil te doen.—Genesis 1:28; Romeine 2:14.
Die Bybel identifiseer iets wat onontbeerlik is vir die mens se geestelikheid. In 1 Korintiërs 2:12-15 beskryf dit ’n geestelike persoon as iemand wat die gees ontvang wat van God kom. Hierdie gees is God se werkende krag, en die werking daarvan is ’n voorvereiste om geestelike dinge te leer ken. Dit stel ’n persoon in staat om sake uit ’n geestelike perspektief te ondersoek en te begryp. Daarenteen word iemand wat nie God se gees het nie, ’n fisiese mens genoem, iemand vir wie geestelike dinge dwaasheid is. Daarom is sy gevolgtrekkings slegs op mensewysheid gegrond.
Hoewel ons ’n sin vir geestelikheid het omdat ons na God se beeld geskep is, word ware geestelikheid dus nie verkry deur selfbewustheid, mensewysheid of persoonlike prestasie nie. Dit vereis die invloed van God se heilige gees. Trouens, diegene wat weier om deur God se gees beïnvloed te word, wat verkies om eerder hulle eie begeertes en goddelose dinge na te jaag, word beskryf as mense wat nie geestelikheid het nie. Hulle word deur vleeslike begeertes en neigings aangedryf.—1 Korintiërs 2:14; Judas 18, 19.
Voorsien in die behoefte
Ware geestelike bevrediging begin met die erkenning dat Jehovah die Skepper is en dat ons ons bestaan aan hom te danke het (Openbaring 4:11). Ons besef dus dat die mate waarin ons sy wil doen, bepaal hoe sinvol ons lewe is (Psalm 115:1). As ons God se wil doen, gee dit ons ’n doel in die lewe, ’n aspek van ons geestelike behoefte wat net so belangrik is soos ons fisiese behoefte aan voedsel. Daarom kon Jesus, ’n man bekend vir sy geestelikheid, sê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het” (Johannes 4:34). Om God se wil te doen, het hom krag gegee, hom verkwik en bevredig.
Aangesien ons na God se beeld geskep is, hang ware geestelike bevrediging ook daarvan af dat ons ons persoonlikheid na syne vorm (Kolossense 3:10). Sodoende vermy ons gedrag wat ons verlaag of wat ons verhouding met ander skaad (Efesiërs 4:24-32). As ons kies om volgens Jehovah se standaarde te lewe, verhef dit ons lewe en dra dit tot ware gemoedsrus by, aangesien ons nie deur ’n skuldige gewete gekwel word nie.—Romeine 2:15.
Jesus het nog ’n grondwaarheid aangaande die vervulling van ons geestelike behoefte geopenbaar toe hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Ons moet voortdurend aandag skenk aan ons geestelikheid. Deur middel van die Bybel voorsien Jehovah die antwoorde op die vrae in die lewe—vrae wat alle mense het.—2 Timoteus 3:16, 17.
Die bron van ware geluk
’n Persoon stil dalk sy hongerpyne deur gemorskos te eet. Net so kan ons ons “vul” met bedrywighede of filosofieë wat skynbaar ons geestelike honger stil. Maar net so seker as wat ’n swak dieet tot wanvoeding, siekte of iets ergers lei, sal dit uiteindelik vir ons nadelig wees as ons nie ons geestelike behoefte op die regte manier bevredig nie.
As ons egter ’n verhouding met Jehovah God opbou, sy wil probeer doen en sy leiding volg, sal ons ondervind hoe waar die Bybel se woorde is: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Waarom het jy ’n geestelike behoefte?—Genesis 1:27.
◼ Kan ons ons geestelike behoefte op ons eie bevredig?—1 Korintiërs 2:12-15.
◼ Wat moet ons doen om ons geestelike behoefte te bevredig?—Matteus 4:4; Johannes 4:34; Kolossense 3:10.
[Lokteks op bladsy 13]
Dit sal uiteindelik vir ons nadelig wees as ons nie ons geestelike behoefte op die regte manier bevredig nie