Van ons lesers
Die waterkrisis—Wat word daaromtrent gedoen? (Januarie 2009) Ek vind die slotsom waartoe hierdie artikel kom, kommerwekkend. In plaas van julle lesers aan te spoor om ander te help deur putte te maak, waterbewaringsprogramme te ondersteun of selfs die probleem verder te ondersoek, sê die artikel dat “die uiteindelike oplossing vir die waterkrisis in God se hande is, nie die mens s’n nie” en verder sê dit dat Hy “‘alles nuut [sal] maak’ (Openbaring 21:5)”. Dit is wel bemoedigende nuus, maar sal dit nie beter wees om intussen iets te doen om te help nie? Daar is soveel probleme in hierdie wêreld. Hoewel God sekerlik die oplossings het, kan ons nie met ’n goeie gewete sit en wag terwyl die Duiwel sy werk doen nie.
S.S., Verenigde State
“Ontwaak!” antwoord: Die doel van die bogenoemde artikel was nie om die indruk te skep dat individue geen verantwoordelikheid het om sake nou te probeer verbeter nie. Die artikel het gesê dat “God mense die verantwoordelikheid gegee het om na hierdie planeet om te sien”. Ons het dus al baie artikels in ons tydskrifte gepubliseer wat ons lesers aanspoor om proaktief te wees in die bewaring van die aarde se hulpbronne en in die beskerming van die omgewing. Maar ongelukkig word mense se pogings om die aarde se hulpbronne te beskerm, dikwels in die wiele gery deur verordeninge wat ekonomiese groei bo die belange van die omgewing stel en deur die inherente gierigheid en selfsug van onvolmaakte mense. Daarom sê ons dat “die uiteindelike oplossing vir die waterkrisis in God se hande is”.
Die aarde—ontwerp vir lewe (Februarie 2009) In ’n tyd wanneer die media net dinge skryf wat ons onveilig laat voel weens aardverwarming, het dit my werklik gemoedsrus gegee toe ek hierdie reeks gelees het. Dit het my ook baie bemoedig om te weet dat die toekoms van die aarde nie duister is nie, maar dat dit fisies sowel as geestelik ’n paradys sal word waar mense in vrede kan lewe. Baie dankie.
M.H., Japan
Disleksie het my nie teruggehou nie (Februarie 2009) Ek sukkel ook met disleksie, en ongelukkig het ek nie besef hoe groot my probleem is totdat ek en my vrou as sendelinge aangestel is en ek ’n ander taal probeer leer het nie. Ek het hierdie artikel baie bemoedigend gevind, veral die venster op bladsy 22, wat my gehelp het om hierdie probleem te verstaan. Dit was vir my aanmoedigend om te lees hoe Michael Henborg ’n hele paar tale baasgeraak het. Baie, baie dankie.
M.M., Tanzanië
Jongmense vra . . . Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak? (April 2009) Ek sien baie sleg, en ek doen my skoolwerk in braille. Ek waardeer werklik julle publikasies, wat my al gehelp het om baie van my probleme te oorkom. Ek luister gewoonlik na julle kassette en CD’s voordat ek gaan slaap. Dit help my om met positiewe gedagtes aan die slaap te raak. Ek het ten minste vyf keer na hierdie artikel geluister en ’n paar idees gevind om my persoonlike studie te verbeter.
S.H., Frankryk