Hoe om met jou geld te werk
DAAR is basies drie dinge wat jy met jou geld kan doen: (1) Dit spandeer, (2) dit spaar of (3) dit weggee. Kom ons bespreek eers hoe om geld op ’n verstandige wyse te spandeer.
Die belangrikste ding wat die Groot Resessie ons geleer het, is dat dit verstandig is om volgens ’n goed beplande begroting te lewe. Wat is ’n begroting? Eenvoudig gestel, dit is ’n skatting van hoe inkomste bestee gaan word, hetsy deur ’n individu, ’n gesin, ’n besigheid of ’n regering.
’n Gesinsprojek
Hoe kan jy ’n begroting opstel? “Al die gesinslede”, sê die boek Budgeting, deur Denise Chambers, “moet betrokke wees by die opstel van die gesinsbegroting sodat almal verplig sal voel om daarby te bly.” Van tyd tot tyd moet almal saamkom om te sien of die gesinsbegroting werk. Om ’n suksesvolle begroting te probeer uitwerk, kan ’n lonende gesinsprojek wees, aangesien elke gesinslid maniere vind om binne die gesin se inkomste te leef.
Party mense gebruik ’n rekenaarprogram om ’n begroting uit te werk. Ander gebruik eenvoudig ’n potlood en ’n stuk papier, wat hulle in twee kolomme verdeel. Een kolom is vir die inkomste, en die ander vir die uitgawes. Dit is ook belangrik om elke maand ’n bedrag te begroot om jaarlikse uitgawes, soos inkomstebelasting en dalk ’n vakansie, te dek.
’n Beproefde begrotingsmetode is om koeverte of lêers te gebruik waarop “Kos”, “Huur”, “Vervoer”, “Elektrisiteit”, “Mediese uitgawes”, ensovoorts geskryf is. In die verlede het mense elke maand kontant vir hierdie uitgawes in die koeverte gesit. Nou meen baie dat dit veiliger en makliker is om geld in ’n bankrekening te sit en dit te onttrek wanneer nodig.
Jonathan en Anne, wat saam met hulle twee dogters in Suid-Afrika woon, gebruik dikwels die lêermetode om te begroot. “As jou salaris in ’n bankrekening inbetaal word”, sê Jonathan, “is dit net so belangrik om streng te bly by hoe jy jou geld begroot het. As die bedrag wat jy vir vleis opsygesit het byvoorbeeld opraak, moet jy nie geld wat jy wou spaar, gebruik om nog vleis te koop nie.”
Jonathan het vroeër ’n besigheid gehad, maar nou het hy en sy gesin besluit om vrywillige werk te doen en is hulle betrokke by die bou van plekke van aanbidding. Omdat hulle hierdie selfopofferende lewenswyse geniet, moet hulle meer as ooit tevore by ’n begroting bly. Die gesin het gereelde besprekings om te sien of hulle begroting werk en om die nodige veranderinge aan te bring.
Wat die grootste geluk meebring
Studies toon dat mense die grootste geluk ervaar as hulle van hulle middele, insluitende hulle tyd en energie sowel as van hulle geld, aan ander gee. In die mate waarin jou middele dit toelaat, kan dit die beste van die drie opsies wees wat aan die begin gemeld is.
In sy boek The New Frugality sê Chris Farrell dat spaargeld ’n mens “in staat stel om aan ander te gee”. Hy beveel aan: “Een van die beste en verstandigste dinge wat jy met jou geld kan doen, is om dit weg te gee.”a Farrell voeg by: “Wanneer ’n mens dink aan wat werklik saak maak, is dit gewoonlik verhoudings, ondervindinge en die gevoel dat jy ’n verskil maak, nie geld en besittings nie.”
Die ekonoom Michael Wagner stem blykbaar hiermee saam. In sy boek Your Money, Day One, wat jongmense aanmoedig om te spaar, sê hy: “Wanneer jy ander probeer help wat minder bevoorreg is, sal jy op verskeie positiewe maniere vir daardie goedhartigheid en vrygewigheid beloon word, maar die grootste beloning is die gevoel wat jy in jou hart sal ondervind as jy jou medemens help.”
Die Bybel toon dat dit ’n mens gelukkig maak as jy gee. Soos vroeër bespreek is, bevat die Bybel wyshede wat jou kan help om verstandig met jou middele te werk. Kom ons kyk nou na nog sewe van hierdie wyshede.
[Voetnoot]
a ’n Mens kan geld weggee deur geskenke te gee of gasvryheid te betoon, soos om etes vir vriende en familie voor te berei.