Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/11 bl. 4-5
  • Aanslae op die Bybel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanslae op die Bybel
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Aanslae op ’n ongewilde boodskap
  • Nog verbrandings van die Bybel
  • Diokletianus se edik
  • Die doel van die aanslae
  • Diocletianus val die Christelike godsdiens aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hedendaagse Bybelverbranding misluk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Aan “die einde van die dae”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Jeremia—’n ongewilde profeet van God se oordele
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 12/11 bl. 4-5

Aanslae op die Bybel

DIE versameling geskrifte wat ons as die Bybel, of die Heilige Skrif, ken, is oor ’n tydperk van meer as 1 600 jaar geskryf. Die vroegste deel van hierdie versameling is deur Moses op skrif gestel, en die laaste deel deur ’n dissipel van Jesus Christus, ongeveer honderd jaar ná Sy geboorte.

Pogings om die Skrif se boodskap te verberg, het ’n lang geskiedenis wat strek van lank voor die huidige jaartelling, deur die Middeleeue heen en tot in ons tyd. ’n Vroeë verslag van sulke pogings is opgeteken in die tyd van God se profeet Jeremia, wat meer as 600 jaar voor die geboorte van Jesus Christus gelewe het.

Aanslae op ’n ongewilde boodskap

Die profeet Jeremia is deur God beveel om in ’n boekrol ’n boodskap te skryf wat die sondige inwoners van eertydse Juda veroordeel het en hulle gewaarsku het dat hulle hoofstad, Jerusalem, vernietig sal word tensy hulle hulle weë verander. Jeremia se sekretaris, Barug, het die boodskap in die openbaar in Jerusalem se tempel voorgelees. Daarna het hy dit vir Juda se vorste voorgelees, wat die boekrol na koning Jojakim geneem het. Toe die koning God se woorde hoor, het hy nie daarvan gehou nie. Daarom het hy die boekrol in stukke gesny en dit verbrand.—Jeremia 36:1-23.

Toe het God Jeremia beveel: “Neem weer vir jou ’n rol, ’n ander een, en skryf daarop al die eerste woorde wat op die eerste rol was, wat Jojakim, die koning van Juda, verbrand het” (Jeremia 36:28). Sowat 17 jaar later is Jerusalem vernietig, baie van sy heersers doodgemaak en sy inwoners in ballingskap na Babilon weggevoer, net soos God se woord deur Jeremia voorspel het. Die boodskap in daardie boekrol—sowel as ’n verslag van die aanslag daarteen—het tot vandag toe in die Bybelboek Jeremia behoue gebly.

Nog verbrandings van die Bybel

Jojakim was nie die enigste persoon in voor-Christelike tye wat God se Woord probeer verbrand het nie. Ná die verdeling van die Griekse Ryk het Israel onder die heerskappy van die Seleukiede-dinastie gekom. Die Seleukiede-koning Antiogos Epifanes, wat van 175 tot 164 VHJ regeer het, wou sy ryk deur middel van die Griekse, of Hellenistiese, kultuur verenig. Gevolglik het hy die Griekse kultuur, gebruike en godsdiens op die Jode probeer afdwing.

Omstreeks 168 VHJ het Antiogos Jehovah se tempel in Jerusalem geplunder. Bo-op die altaar wat daar was, het hy ’n altaar ter ere van die Griekse god Zeus gebou. Antiogos het die Jode ook verbied om die Sabbat te onderhou en hulle beveel om nie hulle seuns te besny nie. Die straf vir ongehoorsaamheid was die dood.

Een van die metodes wat Antiogos gebruik het om hierdie godsdiensverandering mee te bring, was om al die boekrolle van die Wet te probeer vernietig. Hoewel Antiogos sy veldtog dwarsdeur Israel gevoer het, het hy nie daarin geslaag om al die afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte te vernietig nie. Party goed versteekte boekrolle het heel moontlik nie in die vlamme beland nie, en dit is bekend dat afskrifte van die Heilige Geskrifte deur Joodse kolonies buite Israel bewaar is.

Diokletianus se edik

Nog ’n vername heerser wat die Skrif probeer vernietig het, was die Romeinse keiser Diokletianus. In 303 HJ het Diokletianus ’n reeks edikte wat al hoe strenger geword het, teen Christene uitgevaardig. Dit het gelei tot wat sommige geskiedkundiges “Die Groot Vervolging” genoem het. In sy eerste edik het hy beveel dat afskrifte van die Skrif verbrand word en dat Christene se vergaderplekke afgebreek word. Harry Y. Gamble, ’n professor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Virginië, het geskryf: “Diokletianus het dit as vanselfsprekend aangeneem dat elke Christelike gemeenskap, waar dit ook al was, ’n versameling boeke gehad het en het geweet dat hierdie boeke noodsaaklik was vir die voortbestaan daarvan.” Die kerkgeskiedskrywer Eusebius van Sesarea, Palestina, wat destyds gelewe het, het berig: “Ons het met ons eie oë gesien hoe die plekke van aanbidding tot op die fondament afgebreek word en hoe die geïnspireerde en heilige Geskrifte in die middel van die markpleine verbrand is.”

Drie maande ná Diokletianus se edik uitgevaardig is, het die burgemeester van die Noord-Afrikaanse stad Cirta, wat nou as Constantine bekend staan, glo die Christene beveel om al hulle “geskrifte van die wet” en “kopieë van die geskrifte” te oorhandig. Verslae uit dieselfde tydperk meld Christene wat verkies het om eerder gemartel en doodgemaak te word as om afskrifte van die Bybel te oorhandig om vernietig te word.

Die doel van die aanslae

Jojakim, Antiogos en Diokletianus het dieselfde doel gehad—om God se Woord uit te wis. Maar die Bybel het behoue gebly ondanks al die pogings om dit te vernietig. Heersers van Rome wat ná Diokletianus aan bewind gekom het, het beweer dat hulle die Christelike godsdiens aangeneem het. Tog het aanslae op die Bybel voortgeduur. Waarom?

Die heersers en die kerkleiers het beweer dat die verbranding van Bybels nie ’n poging was om die Bybel te vernietig nie. Hierdie manne wou die Bybel bloot van die gewone mense weghou. Maar waarom sou kerkleiers dit wou doen? En hoe ver het die kerk gegaan in sy pogings om Bybellees te onderdruk? Kom ons kyk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel