Hulle het God se Woord van mense probeer weghou
NÁ VERLOOP van tyd is pogings aangewend om die Bybel in die volkstale te vertaal. Min mense kon die Bybel lees in die Hebreeus of Grieks waarin dit geskryf is. Die meeste van ons sou dit vandag moeilik gevind het om God se Woord te verstaan as dit net in die eertydse vorme van daardie tale beskikbaar was.
Byna 300 jaar voordat Jesus op die aarde gelewe het, het vertalers die Hebreeuse Geskrifte in Grieks begin vertaal. Hierdie vertaling is bekend as die Griekse Septuagint. Ongeveer 700 jaar later het Hieronimus ’n bekende vertaling voltooi wat as die Vulgaat bekend staan. Dit was ’n vertaling van die Hebreeuse en Griekse Geskrifte in Latyn, wat destyds die gemeenskaplike taal in die Romeinse Ryk was.
Later is Latyn al hoe minder as ’n gemeenskaplike taal gebruik. Net die geleerdes het Latyn geken, en die Katolieke Kerk het pogings teëgestaan om die Bybel in ander tale te vertaal. Godsdiensleiers het aangevoer dat Hebreeus, Grieks en Latyn die enigste geskikte Bybeltale is.a
Skeuringe in die kerk en Bybelvertaling
In die negende eeu HJ het Metodius en Cyrillus, sendelinge van Tessalonika wat namens die Oostelike Kerk in Bisantium opgetree het, die gebruik van Slawies as ’n kerktaal bevorder. Hulle doelwit was om dit vir die Slawiese mense van Oos-Europa, wat nie Grieks of Latyn verstaan het nie, moontlik te maak om in hulle eie taal van God te leer.
Hierdie sendelinge is egter verbete teëgestaan deur Duitse priesters, wat Latyn as kerktaal wou behou om die toenemende invloed van die Bisantynse vorm van die Christelike godsdiens teë te werk. Dit is duidelik dat politiek vir hulle belangriker was as mense se godsdiensopvoeding. Groeiende spanning tussen die Westelike en Oostelike vertakkings van die Christendom het in 1054 tot die skeuring tussen die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosterse Ortodokse Kerk gelei.
Teenkanting teen Bybelvertaling
Die Rooms-Katolieke Kerk het Latyn later as ’n heilige taal begin beskou. In antwoord op Wratislaus, die hertog van Boheme, se versoek in 1079 om Slawies tydens plaaslike kerkdienste te gebruik, het pous Gregorius VII geskryf: “Ons kan hierdie versoek geensins toestaan nie.” Waarom nie?
“Dit is duidelik vir diegene wat die saak deeglik oordink het”, het Gregorius gesê, “dat dit God behaag het om die Heilige Skrif op sekere plekke te verduister, want as dit vir almal heeltemal duidelik was, sou dit moontlik as alledaags beskou word en geminag word of in so ’n mate verkeerd verstaan word deur mense met beperkte intelligensie dat hulle in dwaling sal verval.”
Die gewone mense is uiters beperkte toegang tot die Bybel gegee, en dit moes so bly. Hierdie situasie het die geestelikes mag oor die gewone mense gegee. Hulle wou nie hê dat die gewone mense inmeng in sake wat volgens hulle onder hulle gesag val nie.
In 1199 het pous Innocentius III geskryf aangaande “ketters” wat die Bybel in Frans vertaal het en so vermetel was om dit onder mekaar te bespreek. Innocentius het Jesus se woorde op hulle toegepas: “Moenie wat heilig is, vir die honde gee nie, en moet ook nie julle pêrels voor die varke gooi nie” (Matteus 7:6). Wat was sy redenasie? “Dat geen eenvoudige en ongeleerde man hom dit mag aanmatig om hom te bemoei met die verhewenheid van die heilige Skrif of om dit aan ander te verkondig nie.” Diegene wat die Pous se bevel teëgestaan het, is dikwels aan inkwisiteurs oorgelewer wat hulle gemartel het om ’n bekentenis van hulle af te dwing. Dié wat geweier het om hulle ‘dwaling’ te erken, is lewendig verbrand.
Gedurende die lang stryd wat gevoer is aangaande wie ’n Bybel mag besit en dit mag lees, is daar dikwels na pous Innocentius se brief verwys om die gebruik van die Bybel en die vertaling daarvan in ander tale te verbied. Kort nadat sy verordening uitgevaardig is, het die veldtog begin om Bybels wat in die volkstale vertaal is, en party van die mense wat dit besit het, te verbrand. In die daaropvolgende eeue het die biskoppe en heersers van die Katolieke lande in Europa alles in hulle vermoë gedoen om te verseker dat pous Innocentius III se verbod gehoorsaam word.
Die Katolieke hiërargie het goed geweet dat baie van hulle leerstellings nie op die Bybel gebaseer is nie, maar op kerktradisie. Dit was ongetwyfeld een van die redes waarom hulle teësinnig was om gelowiges toe te laat om toegang tot die Bybel te hê. As mense die Bybel sou lees, sou hulle besef dat hulle kerk se leerstellings nie met die Skrif ooreenstem nie.
Die gevolge van die Hervorming
Die koms van Protestantisme het die godsdienssituasie in Europa verander. Martin Luther se pogings om die Katolieke Kerk te hervorm en sy besluit om uiteindelik in 1521 van die kerk weg te breek, was hoofsaaklik gegrond op sy begrip van die Skrif. Toe Luther, ’n begaafde vertaler, heeltemal van die kerk weggebreek het, het hy hom dus daarvoor beywer om die Bybel in die hande van die publiek te kry.
Luther se Duitse vertaling en die wye verspreiding wat dit geniet het, het die aandag van die Rooms-Katolieke Kerk getrek, en die kerk het gemeen dat hulle ook ’n Bybel moet vrystel sodat mense nie Luther se Bybel sou lees nie. Kort voor lank het twee vertalings dus in Duits verskyn. Maar in 1546, minder as 25 jaar later, het die Rooms-Katolieke Konsilie van Trente die druk van feitlik alle godsdienslektuur, insluitende vertalings van die Bybel, onder kerkbeheer geplaas.
Die Konsilie van Trente het bepaal “dat die heilige Skrif voortaan . . . op die akkuraatste manier moontlik gedruk moet word; en dat dit nie wettig sal wees vir enigiemand om hoegenaamd enige boeke oor geestelike sake sonder die naam van die skrywer te druk of te laat druk nie; of om dit in die toekoms te verkoop of selfs te besit, tensy dit eers deur die [plaaslike biskop] ondersoek en goedgekeur is nie”.
In 1559 het pous Paulus IV die eerste register gepubliseer van boeke wat deur die Rooms-Katolieke Kerk verbied is. Dit het die besit van Bybelvertalings in Duits, Engels, Frans, Hollands, Italiaans en Spaans verbied, asook party in Latyn. Enigiemand wat die Bybel wou lees, moes geskrewe toestemming van biskoppe of inkwisiteurs verkry—nie ’n aangename vooruitsig vir diegene wat nie van kettery verdink wou word nie.
Mense wat dit gewaag het om Bybels in die taal wat in hulle omgewing gepraat word, te besit of te versprei, het hulle die toorn van die Katolieke Kerk op die hals gehaal. Baie is in hegtenis geneem, op die brandstapel verbrand, aan ’n spit gebraai, tot lewenslange tronkstraf gevonnis of na die galeie gestuur. Gekonfiskeerde Bybels is verbrand. Trouens, Katolieke priesters het nog tot diep in die 20ste eeu Bybels gekonfiskeer en verbrand.
Dit beteken nie dat Protestantisme ’n ware vriend en verdediger van die Bybel was nie. In die 18de en 19de eeue het sommige Protestantse teoloë studiemetodes voorgestaan wat as hoër kritiek bekend geword het. Met verloop van tyd het mense leringe begin aanvaar wat beïnvloed is deur Darwinistiese teorieë dat lewe nie geskep is nie, maar dat dit sonder ’n Skepper toevallig ontstaan en geëvolueer het.
Teoloë, en selfs talle geestelikes, het ander geleer dat die Bybel grotendeels op legendes en mites gegrond is. Gevolglik is dit vandag nie ongewoon om te hoor dat Protestantse geestelikes, asook baie van hulle gemeentelede, beweer dat die Bybel nie geskiedkundig is nie.
Dalk het jy al opgemerk dat party mense die egtheid van die Bybel in twyfel trek, en miskien is jy verbaas dat daar in vorige eeue pogings was om dit te vernietig. Die aanslae het egter misluk. Die Bybel het behoue gebly!
Waarom dit behoue gebly het
Baie mense het ’n liefde vir die Bybel gehad en was bereid om hulle lewe op te offer om dit te verdedig. Maar die Bybel het sy voortbestaan te danke aan ’n krag wat groter is as menslike liefde. Dit het behoue gebly om hierdie eenvoudige rede: Diegene wat die verskillende boeke van die Bybel geskryf het, is deur God geïnspireer.—Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25.
As ons die Bybel lees en toepas wat dit ons leer, sal dit ons help om ons lewe, gesondheid en gesinslewe te verbeter. God wil hê dat die Bybel behoue moet bly en in soveel tale moontlik vertaal moet word sodat almal die geleentheid kan hê om hom lief te kry, hom te dien en uiteindelik die ewige seëninge wat hy belowe, te geniet. Dit is tog sekerlik wat ons almal wil hê!
Jesus het in gebed tot sy hemelse Vader gesê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Die Bybel—die Geskrifte wat Jesus gelees en ander geleer het—is die middel wat God gebruik om antwoorde te voorsien op die vrae wat opregte mense vra.
Ons wil jou aanmoedig om meer te leer omtrent God se boodskap aan die mensdom, wat in die Bybel gevind word. Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif versprei, sal jou graag hiermee help.b
[Voetnote]
a Die idee spruit blykbaar voort uit die geskrifte van die Spaanse biskop Isidorus van Sevilla (560-636 HJ), wat beweer het: “Daar is drie heilige tale, Hebreeus, Grieks en Latyn, en hulle is die mees verhewe in die hele wêreld. Want dit is in hierdie drie tale dat Pilatus die aanklag teen die Here bokant die kruis geskryf het.” Die besluit om die aanklag in hierdie drie tale te skryf, is natuurlik geneem deur die Romeine, wat heidene was. Die besluit is nie deur God gerig nie.
b Jy kan met hulle in verbinding tree, sonder enige verpligting, by een van die adresse op bladsy 5 van hierdie tydskrif of by www.watchtower.org.
[Lokteks op bladsy 6]
Die gewone mense is uiters beperkte toegang tot die Bybel gegee, wat die geestelikes mag oor hulle gegee het
[Lokteks op bladsy 8]
Mense wat dit gewaag het om Bybels te besit of te versprei, is op die brandstapel verbrand of tot lewenslange tronkstraf gevonnis as hulle gevang is
[Venster op bladsy 9]
DIE BYBEL SE ANTWOORDE
Die Skepper wil hê dat ons moet weet wat die antwoorde op hierdie fundamentele vrae is:
● Waarom is ons hier?
● Waarom is daar soveel lyding?
● Waar is die dooies?
● Waarheen is die mensdom op pad?
Die Bybel voorsien antwoorde op hierdie vrae sowel as praktiese raad oor hoe om ware geluk te vind.
Tabel/Prente op bladsye 6, 7]
TYDLYN VAN AANSLAE OP DIE BYBEL
ca. 636 HJ
Isidorus van Sevilla voer aan dat Hebreeus, Grieks en Latyn “heilige” tale is en gevolglik die enigste tale is wat vir die Heilige Bybel geskik is
1079
Pous Gregorius VII weier volstrek om Wratislaus se versoek toe te staan om Slawies in die kerk te gebruik en sê dat diegene met “beperkte intelligensie” nie toegang tot die Skrif moet hê nie
1199
Pous Innocentius III beskou diegene wat so vermetel is om die Bybel te vertaal of te bespreek, as ketters. Dié wat die Pous se bevel verontagsaam, word dikwels gemartel en doodgemaak
1546
Die Konsilie van Trente bepaal dat die druk van enige Bybelvertalings eers deur die Katolieke Kerk goedgekeur moet word
1559
Pous Paulus IV verbied die besit van Bybels wat in die volkstale vertaal is. Sulke vertalings word gekonfiskeer en verbrand, en dikwels word diegene wat dit besit, ook verbrand
[Erkennings]
Pous Gregorius VII: © Scala/White Images/Art Resource, NY; pous Innocentius III: © Scala/Art Resource, NY; Konsilie van Trente: © Scala/White Images/Art Resource, NY; pous Paulus IV: © The Print Collector, Great Britain/HIP/Art Resource, NY
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Uit Foxe’s Book of Martyrs