Die “heerlikheid” van sterre
HET jy al ooit met verwondering gekyk na die duisende sterre wat op ’n helder nag sigbaar is? Terwyl jy na daardie flikkerende ligspikkels gekyk het, het jy dalk opgelet dat hulle verskil wat helderheid en selfs kleur betref. “Die een ster verskil van die ander ster in heerlikheid”, sê die Bybel heel tereg.—1 Korintiërs 15:41.
Waarom verskil sterre in heerlikheid, of helderheid? Waarom lyk party byvoorbeeld wit en ander blou, geel of rooi? En waarom flikker hulle?
In die kern van ’n ster is daar ’n ontsaglike kernsmeltoond wat ’n ongelooflike hoeveelheid energie voortbring. Hierdie energie versprei na die buitenste lae van die ster, vanwaar dit in die ruimte uitgestraal word, hoofsaaklik as sigbare lig en infrarooi strale. Jy sal dalk verbaas wees om te hoor dat warmer sterre blou is, terwyl koeler sterre rooi is. Waarom die kleurverskil?
Lig kan beskou word as ’n stroom deeltjies, wat fotone genoem word, wat ook soos golwe energie optree. Warmer sterre straal fotone met hoër energievlakke uit, wat die korter golflengtes het wat in die blou gedeelte van die spektrum gevind word. Daarenteen straal koeler sterre fotone met laer energievlakke uit, wat nader aan die rooi gedeelte van die spektrum is. Ons eie ster, die Son, is êrens tussen die twee omdat dit meer lig in die groen-tot-geel gedeelte van die spektrum uitstraal. Maar waarom lyk dit dan nie groen nie? Wel, dit straal ook baie lig in die ander sigbare golflengtes uit. Die eindresultaat, wanneer dit vanuit die ruimte beskou word, is ’n wit son.
Die aarde se atmosfeer “kleur” die son
Ons sien die son deur die filter van die atmosfeer, wat die son se voorkoms in mindere of meerdere mate verander, afhangende van die tyd van die dag. Byvoorbeeld, in die middel van die dag is die son gewoonlik heldergeel. Maar met sonsopkoms en sonsondergang, wanneer die son laag op die horison lê, lyk dit dalk oranje of selfs rooi. Hierdie kleurverandering vind plaas weens gasmolekules, waterdamp en verskeie mikroskopiese deeltjies in die aarde se atmosfeer.
Weens die atmosfeer se samestelling verstrooi dit blou en violet sonlig, wat op ’n helder dag ’n pragtige blou hemel tot gevolg het. Omdat die blou en violet uit die son se sigbare spektrum verwyder is, is die oorblywende direkte sonlig in die middel van die dag oorheersend geel. Maar wanneer die son baie laag op die horison is, beweeg sy lig teen ’n skerp hoek deur die atmosfeer voordat dit ons bereik. Gevolglik beweeg sonlig deur ’n groter deel van die atmosfeer, wat nou selfs meer blou lig sowel as groen lig verstrooi. Daarom lyk die son dalk soos ’n pragtige rooi of karmosyn bal wanneer dit ondergaan.
Die kleurvolle naghemel
Die sensitiwiteit van ons oë het ’n groot invloed op hoe die naghemel vir ons lyk. Ons oë bespeur lig met behulp van twee soorte sensors—keëltjies en stafies. Keëltjies onderskei kleur, maar in baie dowwe lig hou hulle op funksioneer. Stafies daarenteen is nie kleursensitief nie, maar hulle is uiters doeltreffende fotoreseptors. Onder ideale toestande kan ’n stafie selfs deur ’n enkele ligdeeltjie geprikkel word! Maar ons stafies is sensitiewer vir die korter golflengtes aan die blou kant van die spektrum. As ons dus met die blote oog kyk na dowwe sterre met dieselfde helderheid, sal ons waarskynlik die bloues sien, maar nie die rooies nie. Maar gelukkig hoef ons nie net op die blote oog staat te maak nie.
Verkykers en teleskope maak dit vir ons makliker om dowwe voorwerpe in die naghemel, soos sterre, sterrestelsels, komete en newelwolke, te sien. Nogtans word ons uitsig ietwat deur die atmosfeer belemmer. ’n Oplossing vir hierdie probleem is die Hubble-ruimteteleskoop, of HRT, wat om die aarde wentel. Die HRT is ’n tegnologiese wonder wat voorwerpe kan bespeur wat slegs ’n tienmiljardste van die helderheid het van die dofste sterre wat ons met die blote oog kan sien! Gevolglik het die HRT waarlik treffende beelde voorsien van voorwerpe diep in die ruimte, insluitende sterrestelsels en interstellêre stof- en gaswolke wat newelwolke genoem word.
Maar daar is nou nuwe teleskope op die aarde wat in sekere opsigte net so goed of selfs beter is as die HRT. Hierdie nuwe teleskope stel sterrekundiges byvoorbeeld in staat om in hoër resolusie, of meer detail, te kan sien as met die HRT omdat dit vindingryke tegnieke gebruik om die uitwerking van die atmosfeer uit te skakel. Een voorbeeld is die Keck I-teleskoop, een van die grootste optiese teleskope in die wêreld, wat in die W.M. Keck-sterrewag op die eiland Hawaii gehou word. Met behulp van hierdie teleskoop het die sterrekundige Peter Tuthill van die Universiteit van Sydney, Australië, stofwolke ontdek wat uitgewerp word deur binêre sterrestelsels in die sterrebeeld Sagittarius, wat vanaf die aarde lyk of dit naby die middel van ons eie sterrestelsel, die Melkweg, is.
Hoe dieper sterrekundiges in die ruimte intuur, hoe meer sterre en sterrestelsels vind hulle. Hoeveel is daar? Ons kan net raai. Maar dit is nie die geval met ons Skepper, Jehovah God, nie. “Hy bepaal die getal van die sterre; hy noem hulle almal by hulle name”, sê Psalm 147:4.
Die profeet Jesaja het iets soortgelyks gesê. Trouens, hy het selfs verder gegaan deur met merkwaardige wetenskaplike akkuraatheid te sê dat die stoflike heelal ’n produk van God se onuitputlike energie is. “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk”, het Jesaja geskryf. “Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26.
Hoe het Jesaja, wat sowat 2 700 jaar gelede gelewe het, geweet dat die heelal ’n produk is van God se onuitputlike energie? Hy het beslis nie self tot daardie slotsom gekom nie! Hy het eerder geskryf wat Jehovah hom geïnspireer het om te skryf (2 Timoteus 3:16). Sodoende het hy, sowel as die ander Bybelskrywers, iets gedoen wat geen wetenskaphandboek of teleskoop kan doen nie. Hulle het die Een geïdentifiseer wat die sterre hulle prag en heerlikheid gegee het.
[Venster/Prent op bladsy 16]
WAAROM FLIKKER STERRE?
Sterre flikker, of lyk asof hulle effens in helderheid en van posisie verander, as gevolg van versteurings in die aarde se atmosfeer. Stel jou byvoorbeeld klein liggies op die bodem van ’n swembad voor. Wat gebeur met hierdie liggies wanneer iets die water laat rimpel? Ja, hulle flikker, net soos sterre. Maar in die geval van groter ligte is die uitwerking nie so groot nie. Planete is soos hierdie groter ligte, nie omdat hulle groter as sterre is nie, maar omdat hulle baie nader aan die aarde is en dus groter lyk.
[Venster/Prente op bladsy 17]
IS DIE KLEURE EG OF VALS?
Danksy die Hubble-ruimteteleskoop (HRT) het jy waarskynlik al asemrowende, kleurvolle beelde van sterrestelsels, newelwolke en sterre gesien. Maar is die kleure eg? In werklikheid is dit ’n nabootsing, ’n kombinasie van kuns en wetenskap. Die beelde wat van die HRT ontvang word, is eenkleurig, maar word deur kleurfilters gestuur. Sterrekundiges en beeldspesialiste gebruik moderne tegnologie en sagteware om die finale beelde te skep en soms om die kleure wat hulle meen die natuurlike kleure van hemelliggame is, so getrou moontlik weer te gee.a Maar by tye verander sterrekundiges doelbewus die kleure om sekere dinge te laat uitstaan, moontlik vir wetenskaplike ontleding.
[Voetnoot]
a Wanneer ons ’n teleskoop gebruik om dowwe voorwerpe in die naghemel te sien, laat die keëltjies in ons oë die taak om te sien oor aan die stafies, wat nie kleur kan onderskei nie.
[Prente]
Eenkleurig
Rooi
Groen
Blou
Finale beeld nadat die drie kleure gekombineer is
[Erkenning]
J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA
[Prent op bladsy 16]
Die ster V838 Monocerotis
[Prent op bladsy 16]
Wisselwerkende sterrestelsels Arp 273
[Foto-erkenning op bladsy 15]
NASA, ESA, and the Hubble Heritage (STScI/AURA) -ESA/Hubble Collaboration
[Foto-erkennings op bladsy 16]
V838: NASA, ESA, and H. Bond (STScI); Arp 273: NASA, ESA, and the Hubble Heritage Team (STScI/AURA)