Jongmense vra
Hoe kan ek Bybelstudie geniet?
Waarom moet ’n mens in die eerste plek die Bybel studeer? Dink hieraan:
Die Bybel kan jou help om ’n skat te vind. Hierdie topverkoper kan
● Jou wys hoe om die beste lewe moontlik te lei
● Jou dinge leer omtrent die toekoms—en die verlede—waarvan jy andersins nie sou geweet het nie
● Jou help om jouself beter te leer ken en ’n beter persoon te worda
BYBELSTUDIE verg inspanning, maar dit hou baie groot voordele in! Wil jy uitvind hoe party jongmense dit doen? Knip die volgende bladsy uit en vou dit in die helfte. Jy sal ’n handige boekie met vier bladsye hê wat jou sal wys hoe jou portuurs struikelblokke oorkom en die meeste nut uit hulle persoonlike studie van die Bybel kry.
“Daar is iets in die Bybel vir elkeen. Die onderwerpe wat ’n mens kan studeer, is eindeloos!”—Valerie.b
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Om meer te leer oor hoe die Bybel al hierdie dinge vir jou kan doen, kan jy in aanraking kom met Jehovah se Getuies in jou omgewing of skryf na die gepaste adres op bladsy 5.
b Van die name in hierdie artikel is verander.
[Venster/Prente op bladsye 19, 20]
HOE OM BYBELSTUDIE TE DOEN
Die probleem: GEEN MOTIVERING
“Ek voel nie altyd lus om ’n uur lank te sit en studeer nie.”—Lena.
Wat jy nodig het: ’N AANSPORING
As jy Bybelstudie wil geniet, moet jy die vraag beantwoord: Wat sal ek daaruit kry? Sal jy daarvan hou om ’n vriend van God te word? om wêreldgebeure beter te verstaan? om jou persoonlikheid te verbeter? Die Bybel kan jou help om dit te doen—en nog meer!
“Moenie dit as werk beskou of dit met skoolwerk vergelyk nie. Beskou Bybelstudie eerder as ’n manier om nader te kom aan die beste Vriend wat jy ooit sal hê—Jehovah God.”—Bethany.
“’n Studiesessie is jou persoonlike tyd met Jehovah God. As jy net tyd saam met iemand deurbring wanneer jou ouers by is, is hy dan werklik jou vriend of is hy net jou ouers se vriend? As jy op jou eie studeer, kan Jehovah jou vriend word.”—Bianca.
Onthou: “Alles in die Skrif is God se Woord. Alles daarin is nuttig om mense te leer en te help en hulle tereg te wys en hulle te wys hoe om te lewe” (2 Timoteus 3:16, Contemporary English Version). Die Bybel kan jou ook op hierdie maniere help!
“Ek probeer om op die voordele te konsentreer. As daar iets is waaraan ek moet werk, help studie my om te sien wat ek daaromtrent kan doen en hoe ek my persoonlikheid kan verbeter.”—Max.
Iets om oor na te dink:
Wat kan jou aanspoor om te studeer?
Die probleem: VERVEELDHEID
“Nadat ek 10 minute gestudeer het, begin ek moeg raak; ná 20 minute wil ek iets anders doen; ná 30 minute is ek tot die dood toe verveeld!”—Allison.
Wat jy nodig het: KREATIWITEIT
Gebruik jou verbeelding wanneer dit kom by wat jy studeer, hoe jy studeer of waar jy besluit om te studeer.
“Neem tyd om navorsing te doen oor dinge waaroor jy wonder. Wanneer jy die antwoorde op jou vrae vind, gee dit jou ’n gevoel van tevredenheid—selfs vreugde.”—Richard.
“Terwyl jy oor ’n gebeurtenis lees, moet jy jou probeer inleef in die toneel. Verbeel jou dat jy die hoofkarakter is of dat jy toekyk terwyl die gebeure afspeel. Probeer die gebeure visualiseer.”—Steven.
“Maak jou studie aangenaam. Gaan sit in die tuin en drink ’n glas koeldrank. Soos die meeste ander mense, hou ek daarvan om te peusel terwyl ek studeer.”—Alexandra.
Onthou: Net omdat jy dink dat iets vervelig is, beteken nie dat dit werklik vervelig is nie. Moet dus nie sê “studie is vervelig” nie; sê eerder “ek is verveeld”. Jy kan besluit wat jou beskouing van studie sal wees. Dan sal jy in beheer wees en iets omtrent die saak kan doen.—Spreuke 2:10, 11.
“Persoonlike studie hoef nie vervelig te wees nie. Dit hang van jou af of dit lekker gaan wees of nie.”—Vanessa.
Iets om oor na te dink:
Hoe kan jy kreatief wees wat jou studie betref?
Die probleem: GEEN TYD
“Ek sal baie graag meer Bybelstudie wil doen, maar omdat ek so besig is, is die grootste uitdaging vir my om tyd te kry om te gaan sit en studeer!”—Maria.
Wat jy nodig het: PRIORITEITE
Deel van die proses om ’n volwassene te word, is om te leer om “seker [te] maak van die belangriker dinge”.—Filippense 1:10.
“My ma het my gehelp om te besef dat ek nooit ekstra tyd sou hê nie. Ek moes tyd maak. Toe ek my begeerte versterk het om te studeer, het ek tyd daarvoor gemaak.”—Natanya.
“Toe ek ouer geword het, het ek geleer dat ek ’n vaste tyd vir studie moet stel, en ek laat nie toe dat ander dinge daarop inbreuk maak nie.”—Yolanda.
“As jy studie bo vermaak stel, sal jy jou studie beslis baie meer geniet—en jy sal jou vermaak geniet sonder om skuldig te voel.”—Diana.
Onthou: As jy nie prioriteite stel nie, sal jy beheer oor jou tyd verloor en altyd moet rondskarrel om by alles uit te kom. Dit is baie beter om die inisiatief te neem en tyd in te ruim vir studie.—Efesiërs 5:15, 16.
“Ek is op hoërskool, en daar is baie dinge waarby ek betrokke kan raak! Maar ek sorg altyd dat ek tyd opsysit vir persoonlike Bybelstudie. Dis vir my ’n prioriteit.”—Jordan.
Iets om oor na te dink:
Watter studierooster sal vir jou werk?
[Venster/Prente op bladsy 19]
WENKE VAN JOU PORTUURS
Zachary—Moenie net studeer wat jou ouers of ander studeer nie. Persoonlike studie beteken dat jy iets studeer waaroor jy meer wil leer.
Kaley—Begin met kort studiesessies. Jy kan selfs net vyf minute studeer, maar doen dit elke dag. Dan kan jy die tyd geleidelik vermeerder tot 10 minute, 15 minute . . . Uiteindelik sal jy dit geniet!
Daniela—Klein dingetjies kan ook ’n groot verskil maak. Kry ’n paar penne en ’n lekker notaboek, of skep ’n Persoonlike studie-lêer op jou rekenaar.
Jordan—As ek ’n onderwerp kies wat ek geniet, kan ek langer studeer. En ek het stilte nodig. Ek kan nie studeer as daar baie geraas in die agtergrond is nie.
[Diagram op bladsy 18]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Knip uit
Vou