Is dit ontwerp?
Die ingenieursvernuf van die papierwesp
● Papierwespe is al as meesterlike ingenieurs beskryf. Waarom is hierdie beskrywing gepas?
Dink hieraan: Soos die papierwesp se naam te kenne gee, gebruik hy ’n spesiale soort papier, wat hy self maak, om sy veelsellige nes te bou en in stand te hou.a Die insek versamel vesels van plante en dooie hout op elke denkbare plek—stompe, heiningpale, telefoonpale en boumateriaal. Hy kou dan die materiaal, wat baie sellulose bevat, en meng dit sodoende met sy taai, proteïenryke speeksel. Wanneer hierdie pasta aangewend word en droog word, vorm dit ’n ligte, ferm en sterk papier. Wat meer is, die speeksel het spesiale eienskappe wat die papier in staat stel om hitte te absorbeer en vry te stel, sodat die regte temperatuur op koel dae in die nes gehandhaaf word.
Die wesp bou sy nes “mondjie vir mondjie”. Die voltooide produk is ’n waterdigte groep seshoekige selle onder ’n papiersambreel. Die seshoekige vorm van die selle maak dit sterk en verseker die doeltreffende gebruik van spasie. In natter gebiede voeg wespe eenvoudig meer speeksel by omdat dit waterwerende eienskappe het. Die insekte bou ook hulle neste op plekke waar daar ’n beskermende oorhang is. Die nes, wat na onder wys, hang aan ’n steel onder die oorhang. Wat meer is, papierwespe besoedel nie die omgewing nie—in teenstelling met die mens se papiermaakprosesse, wat die lug, water en grond besoedel!
Dit is dus nie verbasend nie dat argitekte en navorsers die wesp se boumateriaal bestudeer met die doel om beter boumateriaal te vervaardig wat lig, sterk, buigsamer en bioafbreekbaar is.
Wat dink jy? Het ’n insek met ’n brein wat om en by die grootte van twee sandkorrels is, self uitgewerk hoe om papier te maak en so ’n indrukwekkende nes te bou? Of is sy chemiese en meganiese ingenieursvernuf ’n bewys van ontwerp?
[Voetnoot]
a ’n Aantal wespspesies bou papierneste. Die eiers, wat later in larwes ontwikkel, word in die selle gelê.