Betelneut—Moet jy dit kou?
OP ’N straat in Suid-Asië glimlag ’n vriendelike persoon. Maar sy tande is swart, en sy mond is vol bloedrooi speeksel. Dan spoeg die persoon op die sypaadjie, wat ’n onooglike rooi vlek laat. Hy kou betelneut.
Van Oos-Afrika, Pakistan en Indië en regoor Suidoos-Asië tot in Papoea-Nieu-Guinee en Mikronesië is daar honderdmiljoene mense wat betelneut gebruik—omtrent 10 persent van die wêreld se bevolking. Betelneutverkopers stel hulle tafels op by publieke markte en op straat, en soms is hulle kinders by hulle. Ander verkopers gebruik neonligte en skraps geklede meisies—“betelneutpoppies”—om klante te lok.
Betelneutverkope beloop wêreldwyd miljarde rande. Maar wat is betelneut? Waarom kou soveel mense dit? Watter uitwerking het die gewoonte op hulle gesondheid? Wat is die Bybel se beskouing van die gebruik? En hoe kan dié wat dit gebruik, die gewoonte oorkom?
Wat is betelneut?
Wat gewoonlik betelneut genoem word, is in werklikheid die vlesige vrug van die arekapalm (betelpalm), ’n tropiese plant wat in die Pasifiese streek en in Suidoos-Asië gevind word. Die naam betel kom van die onverwante betelpeperplant. Betelneutkouers draai ’n stukkie van die arekavrug in ’n betelpeperblaar toe, tesame met ’n bietjie mineraalkalk. Die kalk bevorder die vrystelling van alkaloïede stimulante. Party kouers voeg speserye, tabak of versoeters by om dit smaakliker te maak.
Hierdie mengsel stimuleer die produksie van speeksel en maak dit bloedrooi. Kouers spoeg dus dikwels, selfs uit bewegende voertuie, tot nadeel van verbygangers!
’n Gekou wat tot ellende lei!
“Die arekaneut word al van die vroegste tye af gebruik en speel ’n belangrike rol op sosiale, kulturele en selfs godsdienstige gebied”, sê ’n verslag in Oral Health. “Gebruikers beskou dit dikwels as onskadelik en sê dat dit hulle ’n gevoel van welsyn en euforie gee [asook] ’n warm sensasie in hulle liggaam . . . Die bewyse toon egter dat dit allesbehalwe onskadelik is.” Hoe so?
Instansies wat dwelmmisbruik bestry, meen dat een van die alkaloïede in betelneut gewoontevormend kan wees. Trouens, party gebruikers kou tot 50 betelneute per dag! Kort voor lank vlek dit hulle tande, en hulle kan tandvleissiektes opdoen. Volgens Oral Health ontwikkel gereelde gebruikers ’n toestand waarby die mondslymvlies ’n rooibruin kleur gevlek word en in baie gevalle verrimpel. Hulle kan ook “chroniese, toenemende littekenvorming . . . van die mondslymvlies” ontwikkel, ’n toestand wat orale submukosale fibrose genoem word.
Die kou van betelneut word ook verbind met ’n soort mondkanker wat orale plaveiselkarsinoom genoem word en wat ook agter in die keel kan voorkom. Dit word blykbaar bevestig deur die hoë voorkomssyfer van mondkanker onder volwassenes in Suidoos-Asië. In Taiwan kom sowat 85 persent van alle gevalle van mondkanker by betelneutkouers voor. Wat meer is, “in Taiwan het die aantal gevalle van mondkanker—een van die 10 vernaamste doodsoorsake op die eiland—in die afgelope 40 jaar byna vervierdubbel”, sê The China Post.
Die situasie is baie dieselfde op ander plekke. Die Papua New Guinea Post-Courier sê: “Volgens die PNG- Mediese Vereniging eis Papoea-Nieu-Guinee se gewildste kouseltjie, die betelneut, elke jaar ten minste 2 000 lewens en is dit vir talle gesondheidsprobleme verantwoordelik.” “Die chroniese gebruik van betelneut”, sê een dokter en mediese skrywer, “veroorsaak ten minste soveel uiteenlopende gesondheidsprobleme soos om te rook”, en dit sluit hartvatsiekte in.
Wat is die Bybel se beskouing?
Die Bybel is nie ’n mediese handboek nie en maak nie spesifiek melding van betelneut nie. Dit bevat egter ’n wye verskeidenheid beginsels wat ons kan help om ’n reiner, gesonder en beter lewe te lei. Dink na oor die volgende Bybelverse en die vrae wat dit laat ontstaan.
“Geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is” (Romeine 12:1). Sal ’n persoon in God se oë heilig, of rein, wees as hy sy liggaam besoedel deur betelneut te kou?
“Deur [God] het ons lewe” (Handelinge 17:28). “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo” (Jakobus 1:17). Die lewe is ’n kosbare gawe van God. Toon iemand wat hom oorgee aan gewoontes wat sy gesondheid kan benadeel, respek vir hierdie gawe?
“Niemand kan twee here as slaaf dien nie” (Matteus 6:24). “Ek sal my nie deur enigiets laat oorheers nie” (1 Korintiërs 6:12). Moet ’n persoon wat God wil behaag, toelaat dat hy aan ’n onrein gewoonte verslaaf raak, dat dit sy lewe oorheers?
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Markus 12:31). “Die liefde kan ’n naaste geen kwaad aandoen nie” (Romeine 13:10, The New English Bible). Toon ons opregte liefde vir ander as ons onooglike—en onhigiëniese—rooi speeksel op paaie, sypaadjies of ander plekke spoeg?
Ons sal altyd ‘maai wat ons saai’ (Galasiërs 6:7, 8). Dit is ’n fundamentele natuurwet. As ons dus slegte gewoontes saai, sal ons maai wat sleg is. Maar as ons lewe soos God wil hê ons moet, wat insluit dat ons goeie gewoontes moet hê, sal ons nie net maai wat goed is nie, maar ook ware en blywende geluk vind. As jy in die gewoonte is om betelneut te kou, maar graag ’n beter, lonender lewe wil lei deur te doen wat reg is in God se oë, wonder jy dalk hoe jy die gewoonte kan oorkom. Dink biddend na oor die volgende drie beproefde stappe.
Drie stappe om die gewoonte te oorkom
1. Wees gemotiveerd. As jy ’n slegte gewoonte wil oorkom, het jy ’n sterker beweegrede nodig as bloot die wete dat jy jou gesondheid benadeel. Baie mense hou immers aan om betelneut te kou, tabak te rook of dwelms te misbruik, hoewel hulle alte goed weet dat hulle gewoonte hulle gesondheid en lewe in gevaar kan stel. As jy ’n sterker beweegrede wil hê, kan jy gerus meer oor jou Skepper en sy innige liefde vir jou leer deur die Bybel te ondersoek. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit”, sê Hebreërs 4:12.
2. Vra God om hulp. “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word”, het Jesus Christus gesê. “Hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, vind; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Lukas 11:9, 10). As die ware God, Jehovah, sien dat jy biddend en opreg op hom vertrou vir onderskraging en krag, sal hy jou nie ignoreer nie. “God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8. Een persoon wat hierdie liefde ondervind het, was die Christenapostel Paulus. Hy het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.
3. Kry die ondersteuning van ander. Die mense met wie jy assosieer, kan ’n kragtige invloed op jou hê, ten goede of ten kwade. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan”, sê Spreuke 13:20. Kies dus jou metgeselle wyslik! Onder Jehovah se Getuies is daar baie wat vroeër betelneut gebruik het. Maar deur met medegelowiges te assosieer en die Bybel te studeer, het hulle die ekstra hulp ontvang wat hulle nodig gehad het om hierdie onrein gewoonte te oorkom.
[Venster/Prente op bladsye 24, 25]
HULLE HET DIE GEWOONTE OORKOM
Ontwaak! het met vyf mense gepraat wat voorheen betelneut gekou het, maar die gewoonte oorkom het. Kyk na wat hulle sê.
Waarom het jy betelneut begin kou?
Pauline: My ouers het vir my betelneut gegee toe ek nog klein was. Dit was die gebruik in ons eilanddorpie op Papoea-Nieu-Guinee.
Betty: My pa het vir my betelneut gegee toe ek twee jaar oud was. Toe ek ’n tiener was, het ek gewoonlik soveel betelneute met my saamgedra dat ek soos ’n betelneutboom was! Ek was so verslaaf dat ek my dag nie kon begin sonder om betelneut te kou nie.
Wen-Chung: Ek het betelneut begin kou toe ek 16 jaar oud was. Dit is as cool en volwasse beskou, en ek wou aanvaar word.
Jiao-Lian: Ek het betelneut verkoop om my te onderhou. Om suksesvol te wees, wou ek verseker dat my produk van ’n hoë gehalte is, en daarom het ek dit begin gebruik. Dit het tot die gewoonte gelei.
Hoe het die gewoonte jou gesondheid aangetas?
Jiao-Lian: My mond, tande en lippe was bloedrooi gevlek. Ek is verleë wanneer ek nou na foto’s van my kyk wat destyds geneem is. Ek kry nog steeds sere op my lippe.
Pauline: Dit het mondsere, naarheid en diarree veroorsaak.
Betty: Ek het maar net 35 kilogram geweeg, wat baie ondergewig was vir ’n volwassene so lank soos ek. My tande het lelik gelyk, en ek het hulle dikwels met staalwol skoongemaak en gepoleer.
Sam: Ek het diarree en tandvleissiekte gekry. Nou het ek net een tand oor! En dit het waarskynlik nie gehelp dat ek staalwol gebruik het om my tande te poleer nie.
Waarom het jy met die gewoonte gebreek?
Pauline: Ek het in die Bybel in 2 Korintiërs 7:1 gelees dat God wil hê dat ons “ons van elke verontreiniging van die vlees [moet] reinig”. Ek het besluit om hard te probeer om my Skepper gelukkig te maak.
Sam: Ek wou hê dat Jehovah God se heilige gees in my lewe werksaam moet wees, en daarom het ek Jehovah gevra om my te help om die versoeking te weerstaan om betelneut te kou. Hy het my gebede verhoor. Dit is nou 30 jaar sedert ek laas betelneut gebruik het.
Jiao-Lian: Terwyl ek die Bybel gelees het, het ek die volgende woorde teëgekom: “Reinig julle hande, julle sondaars” (Jakobus 4:8). Hierdie aansporing het my diep getref. Was dit reg om betelneut te gebruik en te verkoop, wetende hoe skadelik dit kan wees? Ek het onmiddellik besluit om ‘my hande te reinig’ van hierdie gewoonte, wat fisies en geestelik onrein is.
Hoe het jy daarby baat gevind toe jy met die gewoonte gebreek het?
Wen-Chung: Ek het betelneut begin kou om deur my portuurs aanvaar te word. Nou geniet ek verhoudinge wat baie kosbaarder is, met Jehovah sowel as my geestelike broers en susters.
Sam: Ek is nou baie gesonder—fisies en geestelik. En omdat ek nie geld op slegte gewoontes vermors nie, kan ek beter vir my gesin sorg.
Pauline: Ek voel bevry en rein. My tande is wit en sterk. En my huis en tuin word nie ontsier deur betelneutdoppe en lelike rooi vlekke nie.
Betty: Ek het ’n skoon gewete en baie beter gesondheid. Om die waarheid te sê, ek kan nou as ’n onderwyser sowel as ’n voltydse Christenbedienaar werk.
[Prente]
Betty
Pauline
Wen-Chung
Jiao-Lian
Sam
[Diagram/Prente op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die chroniese kou van betelneut kan tot ernstige mediese toestande lei
Gevlekte tande en tandvleissiekte
Orale submukosale fibrose
Orale plaveiselkarsinoom
[Prent op bladsy 22]
Betelneute toegedraai in ’n betelpeperblaar