’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
1. Watter soort veiligheid begeer jy vir jou en jou dierbares?
MENSE van alle stande smag na veiligheid. Dit is ongetwyfeld wat jy vir jou en jou dierbares begeer. Die meeste mense wil meer hê as net ’n belofte van beter toestande wat op die een of ander onbepaalde tyd in die toekoms sal kom. Ons het nóú te kampe met ernstige probleme. Wat ons nodig het, is iets wat nóú ware veiligheid bied en wat dit steeds in die jare wat voorlê, sal doen. Is sulke veiligheid moontlik?
2. (a) Wat sê die Bybel in Jesaja 32:17, 18 oor veiligheid? (b) Klink sulke toestande vir jou aanloklik?
2 In alle dele van die aarde is daar mense van alle rasse wat glo dat dit moontlik is. Die veiligheid waarin hulle belangstel, is lank gelede beskryf deur ’n geïnspireerde profeet van God wat geskryf het: “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:17, 18).a Honderdduisende mense in alle dele van die aarde begin reeds vreedsame veiligheid geniet ten spyte van die huidige onrus in die wêreld, en hulle het rede om uit te sien na ’n selfs rooskleuriger toekoms. Jy kan ook sulke voordele saam met hulle geniet.
3. Is daar enigiets anders wat die Bybel belowe wat veiligheid vir die mensdom sal meebring? (Openbaring 21:4, 5)
3 Hierdie mense sien uit na die tyd, wat nou op hande is, wanneer ‘niemand hulle sal verskrik nie’—’n tyd wanneer daar geen misdaad meer sal wees nie, ’n tyd wanneer ’n mens se eiendom en jou persoon nie meer bedreig sal word nie (Miga 4:4). Hulle het goeie rede om te glo dat baie mense wat nou lewe die dag sal sien wanneer hongersnood iets van die verlede sal wees, want “daar [sal] volheid van koring wees in die land” (Psalm 72:1). En hulle sien daarna uit om self die vervulling te sien van die belofte dat ‘God al die trane van hulle oë sal afvee, en daar geen dood meer sal wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan’ (Openbaring 21:3, 4). Hoe kan hulle so seker wees dat sulke dinge werklik sal plaasvind? Omdat hierdie beloftes in God se Woord, die Bybel, gevind word.
4. Waarom kom die dinge wat in die Bybel geskrywe is werklik van God af, ten spyte van die feit dat mense gebruik is om dit te skryf? (2 Timotheüs 3:16, 17)
4 Wat die Bybel omtrent ons toekoms sê, is nie bloot die gevolg van mense se pogings om die geskiedenis te vertolk nie. Manne is gebruik om die skryfwerk te doen, maar hulle verstand is deur God se gees gerig. Die boodskap kom dus van God af. Die Bybel sê self oor die bron van sy inhoud: “Geen profesie van die Skrif [is] ’n saak van eie uitlegging . . . nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:20, 21). Dit behoort nie vandag vir ons moeilik te wees om te verstaan hoe God dit kon doen nie. Selfs manne wat in die buitenste ruimte gereis het, het boodskappe na die aarde teruggestuur, en hierdie boodskappe is merkwaardig duidelik opgevang. Kon God in die hemel dan nie ook, op ’n baie meer verhewe wyse, boodskappe oordra aan getroue manne wat ’n intieme verhouding met hom gehad het nie? Beslis! Dit is dus met goeie rede dat ons jou nooi om ondersoek in te stel na wat die Bybel sê oor hoe jy ’n veilige toekoms kan vind.
WAAR WARE HULP GEVIND KAN WORD
5. Watter realistiese beskouing spoor die Bybel ons aan om van geld en ander materiële besittings te hê? (Prediker 7:12)
5 Die Bybel help ons om ’n realistiese beskouing van die lewe te hê. Met die oog op ons ewige welsyn spoor dit ons aan om ons vertroue te stel in die dinge wat sal voortduur. Miljoene mense vertrou vandag op materiële besittings. Hoewel die Bybel die waarde van geld en ander materiële besittings erken, toon dit dat hierdie dinge nie die belangrikste in die lewe is nie. Dit bevat die onweerlegbare waarheid dat ‘iemand se lewe nie uit die oorvloed van sy besittings bestaan nie’ (Lukas 12:15). Besittings kan hulle waarde verloor. Hulle kan gesteel of vernietig word. Die eienaar se lewe kan selfs bedreig word deur iemand wat sy geld probeer steel. Ware veiligheid moet dus elders gevind kan word. Maar waar?
6. Waarom is dit nie redelik om al ons hoop vir die toekoms te vestig op wat menseleiers belowe nie?
6 Daar is mense wat al hulle hoop vir die toekoms vestig op wat menseleiers belowe. Maar is dit wat jy moet doen? Sonder om eers die saak of leiers eerlik of bekwaam is aan te raak, dring die Bybel deur tot die kern van die saak deur ons daaraan te herinner dat hulle almal sterwe. Dit waarsku ons op verstandige wyse: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). Menseleiers kan dus hoogstens ’n paar jaar lank die aangeleenthede van ’n deel van die mensdom beïnvloed. Hulle kan net so min blywende veiligheid aan jou as aan hulself verskaf.
7. (a) Wie kan ons werklik blywende veiligheid bied, en waarom? (Handelinge 17:28) (b) Wat moet ons hê indien ons daardie veiligheid wil geniet?
7 Maar daar is Iemand wat dit wel kan verskaf. Hy is die Skepper van die hemele en die aarde. Voordat hierdie aarde geformeer is, het hy bestaan; lank na hierdie twintigste eeu geëindig het, sal Hy nog voortbestaan. Psalm 90:2 sê van hom: “Van ewigheid tot ewigheid is U God.” Hy is die Bron van die lewe en die Een wat die aarde met die vermoë geskep het om lewe te onderhou. Ons huidige welsyn en ons vooruitsigte vir die toekoms hang dus van hom af. Dit is waarom ons ’n goeie verhouding met hom moet hê indien ons enigsins ware veiligheid wil geniet.
8. (a) Na watter soort mense soek God? (b) Wat moet ons as individue dus bereid wees om te doen om aan hierdie vereiste te voldoen? (Mattheüs 7:21-23)
8 Beteken dit bloot dat ’n mens ’n bietjie godsdiens in jou lewe moet hê? Dit sal verkeerd wees om so ’n gevolgtrekking te maak. God laat slegs ’n sekere soort mens toe om ’n goeie verhouding met hom te hê. Watter soort? Die Bybel beskryf hulle soos volg: “Die ware aanbidders [sal] die Vader in gees en waarheid . . . aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23, 24). Aanbid jy God ‘in waarheid’? Het jy die dinge wat jy glo in die lig van God se Woord ondersoek om uit te vind of hulle ten volle strook met wat die “God van waarheid” daarin uiteengesit het? (Psalm 31:5, NW). Is jy bereid om dit te doen? Leerstellings en gebruike wat nie met die waarheid strook nie, is vir niemand van blywende waarde nie. Dit laat mense die ware toedrag van sake ignoreer; dit lei mense in die verkeerde rigting. Die tevredenheid wat ’n mens smaak wanneer jy ware veiligheid geniet, kan slegs gesmaak word indien ’n mens werklik die waarheid wil ken en bereid is om, wanneer nodig, veranderinge te maak om jou lewe in ooreenstemming met die waarheid te bring. Een van die belangrikste waarhede staan in verband met die identiteit van God.
9, 10. (a) Wat is God se naam? (b) Watter teks sal jy gebruik om vir ’n vriend te toon wat God se naam is? (c) Hoe het party vertalers probeer om daardie naam weg te steek? (Psalm 110:1)
9 Ken jy sy naam? Sy naam is nie “God” of “Here” nie. Dit is slegs titels, net soos “Meneer” en “Koning” titels is. Maar volgens die Authorized Version van die Bybel (wat in 1611 G.J. vertaal is) sê Psalm 83:18: “U, wie se naam alleen JEHOVAH is, is die allerhoogste oor die ganse aarde.” Dit is nie ’n naam wat die mens aan God gegee het nie. Soos getoon word in die Revised Version van die Bybel (American Standard Edition, uitgegee in 1901 G.J.), praat God vir homself wanneer hy sê: “Ek is Jehovah, dit is my naam” (Jesaja 42:8). Party vertalings van die oorspronklike Hebreeuse Geskrifte gee die naam weer as “Jahweh”. Ander gebruik bloot die term “HERE”, maar in hierdie spesifieke gevalle druk hulle dit gewoonlik soos dit hier getoon word, met ’n hoofletter “H” gevolg deur klein hoofletters, en dui sodoende aan dat daar meer in die grondteks is as wat hulle in hulle vertaling sê.
10 Slaan gerus as voorbeeld Psalm 8:9, NM in jou Bybel na. Volgens die Afrikaanse Bybel lui dit: “o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” Let op dat die woord “Here” in hierdie een vers in twee verskillende groottes druk verskyn. In die eerste geval word die hoofletter “H” deur klein hoofletters gevolg; maar die tweede keer wat dieselfde woord verskyn, word dit gedruk met ’n hoofletter, gevolg deur kleinletters.b Ander vertalings, wat nie probeer om iets weg te steek nie, vertaal die vers soos volg: “o, Jehovah, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”
11. (a) Is dit werklik belangrik om God se naam te ken en te gebruik? (Handelinge 15:14) (b) Hoe moet ons persoonlik daardie naam gebruik as ons Jehovah liefhet? (Jesaja 43:10)
11 Sekere vertalers meen dalk dat hulle die Bybel vir meer mense aanvaarbaar maak as hulle nie ’n eienaam vir God gebruik nie. Maar is hulle eerlik as vertalers wanneer hulle probeer om die naam wat meer as enige ander naam in die grondteks verskyn te verdoesel? Die ware God wil hê dat mense sy naam moet ken. Hy het dit duidelik getoon toe hy vir sy kneg Moses gesê het om ’n heerser van eertydse Egipte in te lig oor waarom God hom tot op daardie tydstip gespaar het. Wat was die rede? “Dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig”, het God gesê (Exodus 9:16). Dit is belangrik dat ons God se naam gebruik en dit met eerbied doen. En as ons die waarheid liefhet, sal ons nie aarsel om ons as aanbidders van Jehovah, die enige ware God, te identifiseer nie.
12. Hoe beskou God die gebruik van beelde in aanbidding? (Psalm 115:3-8; Deuteronomium 7:25)
12 Maar ons moet oppas dat ons nie die naam van God verbind met iets wat hy nie goedkeur nie. Onthou: “God is ’n Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24, NW). As ons glo dat ‘God ’n gees is’ en as ons hom “in gees” aanbid, dit wil sê op ’n geestelike wyse, sal ons nie stoflike voorwerpe gebruik om God voor te stel nie. Volgens Johannes 1:18 het ‘niemand God ooit gesien nie’, en dit is dus onmoontlik om enige prent of beeld van hom te maak. ’n Beeld wat nie kan sien of hoor of praat nie, wat nie eens ’n vinger kan verroer om diegene te help wat voor hom aanbid nie, kan nooit die lewende God reg voorstel nie. Die doel van party beelde is natuurlik nie om God self voor te stel nie, maar die vraag is: Is hulle voorwerpe van godsdiensverering? Toe God die Tien Gebooie gegee het, het hy uitdruklik gesê dat geen beelde vir so ’n doel gemaak moes word nie. Hy het beveel: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak . . . nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie” (Exodus 20:4, 5). Pleks van voorwerpe te gebruik wat Jehovah nie goedkeur nie, sal liefde vir die waarheid ons help om God te leer ken soos hy werklik is.
13. (a) Watter soort God is Jehovah? (b) Watter van sy eienskappe spreek veral tot jou?
13 Sy eienskappe is van so ’n aard dat hulle die vertroue wen van almal wat geregtigheid liefhet. Party van hierdie eienskappe, soos almag en wysheid wat baie groter is as dié van enige mens, blyk uit sy sigbare skeppingswerke. En stem jy nie saam dat die prag van sonsondergange, die welluidende gesang van voëls, die geur van blomme en die talle smake wat jy geniet almal van God se liefde vir die mensdom spreek nie? Maar die Bybel gaan verder en vertel ons meer omtrent God. Dit openbaar dat Jehovah die reg handhaaf, maar dat hy ook medelydend en bedagsaam is. Dit beskryf hom soos volg: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:6, 7). En die Bybel vertel van God se handelinge met die eertydse nasie Israel oor ’n tydperk van baie eeue, handelinge wat daardie eienskappe duidelik toelig. Daardie skriftelike verslag toon ook dat “God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). Hy wil hê dat alle soorte mense ’n goeie verhouding met hom moet geniet, en hy het goedgunstiglik voorsiening gemaak sodat dit moontlik is.
14. Hoe word ’n mens se lewe geraak wanneer jy waarlik jou vertroue in Jehovah stel? (Spreuke 3:5, 6)
14 Wat gebeur namate ’n mens waardering opbou vir die talle bewonderenswaardige eienskappe van die ware God? God se “naam” neem vir jou groter betekenis aan. Jy stel jou vertroue in Jehovah, doen dinge op God se manier en gevolglik geniet jy beskerming. Dit is soos Spreuke 18:10 sê: “Die Naam van die HERE [“Jehovah”, NW] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”
15. (a) Waarom hang ons toekoms van Jehovah af? (b) Voor watter ernstige besluit staan elke mens? (Deuteronomium 30:19, 20)
15 Daardie beskerming behels ook ’n mens se vooruitsigte vir die toekoms. Die hele mensdom se toekoms hang in werklikheid van Jehovah af. Waarom? Omdat hierdie aarde sy skepping is en almal wat daarop lewe afhanklik is van sy voorsienings om die lewe te onderhou. In die Bybel het hy sy voorneme uiteengesit om vir sy volk veilige, gelukkige lewenstoestande te voorsien. Niks in die hemel of op die aarde kan die almagtige God verhinder om sy voorneme uit te voer nie. Maar daardie voorneme ontneem ons nie ons vrye wil nie. Dit bepaal nie elkeen van ons se lot sonder dat ons enige sê in die saak het nie. Maar dit bring ons wel voor ’n ernstige besluit: Word ons beweeg om ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se wil te bring uit waardering vir alles wat hy vir ons gedoen het en nog in die toekoms vir ons gaan doen? As ’n mens nie geloof het nie, gaan dit nie die feit verander dat Jehovah die ware God is nie, en dit gaan ook nie Sy voorneme verander nie. Maar dit kan bepaal of ’n mens by daardie liefdevolle voorneme gaan baat vind. Die keuse is werklik tussen lewe en dood.
WAAROM ONVEILIGHEID DIE MENS SE LEWE BEDERF
16. Wat is ’n paar van die dinge wat die lewe vandag onveilig maak?
16 Om te verstaan hoe Jehovah se voorneme ware veiligheid meebring, sal dit goed wees as ons weer aan ’n paar van die dinge dink wat die lewe vandag onveilig maak. Daar is onder andere ’n gebrek aan liefde, minagting van die wet, geen eerbied vir ander se eiendom nie, mense wat leuens en geweld gebruik om hulle doel te bereik. Daarbenewens kan ons nie siekte en die besef dat mense vroeër of later sterf oor die hoof sien nie. Uit eie ondervinding sowel as waarneming weet ons hoe hierdie dinge mense se lewe raak. Maar waar het dit alles begin? Die antwoord word in die Bybel aangetref.
17. Wat het in die begin bygedra tot die veiligheid wat Adam en Eva geniet het? (Genesis 1:31; 2:8, 15)
17 Die heel eerste boek van die Bybel deel ons mee dat Jehovah se handewerk baie goed was toe hy ons eerste mense-ouers, Adam en Eva, geskep het. Hulle is nie geskep met gebreke wat siekte sou meebring nie; hulle het die vooruitsig gehad om vir ewig te lewe. Uit liefde het God hulle ’n park, ’n paradys in Eden, as hulle tuiste gegee. Hy het hulle tuintuiste op vrygewige wyse gevul met ’n oorvloed saaddraende plante en vrugtebome waarvan hulle kon lewe. Hy het hulle ook ’n doel in die lewe gegee deur hulle te beveel om beheer uit te oefen oor die visse, die voëls en al die diere, en om die aarde te bewerk en dit met hulle afstammelinge te bevolk totdat die hele aarde ’n paradys sou wees soos die een waarin hy hulle geplaas het. In sulke omstandighede was dit net natuurlik om veilig te voel. Maar indien hulle wou voortgaan om daardie veiligheid te geniet, moes hulle aan ’n sekere vereiste voldoen.
18. (a) Wat is van Adam en Eva verwag indien hulle veilig wou bly lewe? (b) Hoe het Jehovah hulle gehoorsaamheid getoets, en waarom was dit ’n belangrike saak? (Lukas 16:10)
18 Hulle moes hulle posisie in verhouding tot God erken. Die aarde en alles daarop het aan hulle Skepper behoort, en hy het dus die reg gehad om te besluit hoe hierdie dinge gebruik moes word. Die lewe self was ’n voorwaardelike gawe; dit wil sê, Adam en Eva kon dit geniet op voorwaarde dat hulle voortdurend voldoen aan die vereiste om op liefdevolle wyse aan hulle hemelse Vader gehoorsaam te wees. Om die erns van hierdie vereiste te beklemtoon, het Jehovah hierdie gebod aan die mens gegee: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). Gehoorsaamheid sou toon dat die mens God as Heerser erken; ongehoorsaamheid sou beteken dat hy God se volmaakte wil verwerp. Hierdie wet het nie beteken dat hy sou swaarkry nie; dit het die mens niks ontneem wat hy nodig gehad het nie, maar dit was ’n eenvoudige, maar doeltreffende, toets, een wat gepas was vir die omstandighede waarin hy gelewe het. Dit het Adam en sy vrou Eva die geleentheid gebied om hulle liefde vir hulle hemelse Vader te toon.
19. (a) Watter dinge wat onveiligheid veroorsaak, het die eerste keer met Adam en Eva se sonde en daarna kop uitgesteek? (b) Hoe het dit al Adam se afstammelinge geraak, soos Romeine 5:12 verduidelik?
19 Die Bybelverslag in Genesis hoofstuk drie toon dat hulle gefaal het. Hulle het moedswillig van die boom geëet waarvan God hulle verbied het om te eet. Die veiligheid wat die mensepaar voorheen geniet het, is verpletter. Die dinge wat ons vandag onveilig laat voel, het toe ontstaan. Daar was ’n gebrek aan liefde vir God, minagting van sy wet, geen eerbied vir sy eiendom nie. Omdat Adam en Eva God se goedkeuring verloor het, is hulle uit Eden verdryf. Buite die paradys het talle van hulle afstammelinge, onder andere hulle seun Kain, meer verdorwe geraak namate hulle hulle tot geweld begin wend het. Selfs diegene wat God se wet nie moedswillig oortree het nie, het die uitwerking van die sonde wat hulle oorgeërf het in hulle eie liggaam gevoel. Romeine 5:12 verduidelik: “Deur een mens [Adam, het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring . . . omdat almal gesondig het.”
20. (a) By wie het die opstand in Eden ontstaan? (Openbaring 12:9) (b) Hoe het hy Satan die Duiwel geword? (Jakobus 1:14, 15)
20 Maar ons moet daarop let dat dit nie Adam of sy vrou was wat met die opstand begin het nie. Die Bybel sê dat ’n “slang” met Eva gepraat het en haar deur bedrog mislei het om God se wet te oortree. ’n Letterlike slang kan natuurlik nie praat nie; en die Bybel identifiseer later die mag agter die slang as ’n onsigbare geespersoon. Hierdie geespersoon is nie geskep om goddeloos te wees nie. Maar net soos die mens het hierdie geesseun van God ’n vrye wil gehad, dit wil sê die vermoë om te besluit hoe hy sy vermoëns wil gebruik. Deur verkeerde begeertes te koester, het hy trots geword; hy wou hê dat ander skepsele hom as ’n god moes aanbid. Deur die weg wat hy ingeslaan het om sy doel te bereik, het hy homself ’n teenstander van God, ’n Satan, en ’n lasteraar, ’n Duiwel, gemaak.
21. (a) Watter bewerings het Satan gemaak toe hy met Eva gepraat het? (b) Waarom het sy nie haar situasie verbeter toe sy geluister het na wat Satan gesê het en daarvolgens opgetree het nie?
21 Hy het Eva genader, eers ’n paar vrae gestel en God toe regstreeks weerspreek deur vir Eva te sê: “Julle sal gewis nie sterwe [indien julle van die verbode vrug eet] nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:1-5). Vir die vrou het dit geklink na iets beters as wat sy gehad het. Maar het sy werklik groter veiligheid verkry deur dit te glo? Het haar man sy lot verbeter deur saam met haar te oortree? Nee; dit was alles ’n leuen. Dit is onweerlegbaar bewys toe hulle gesterf het, en tot vandag toe sterf mense nog steeds.
22. (a) Watter belangrike geskille is daar in Eden geopper, en hoe raak hulle die veiligheid van die hele skepping? (b) Watter verdere aantyging is in die dae van Job gemaak, en wat het dit geïmpliseer? (Job 1:7-12; 2:1-5)
22 Daar in Eden is lewensbelangrike geskille geopper, en hulle raak die veiligheid van die hele skepping. God se waaragtigheid is in twyfel getrek, en dit het twyfel gewek oor die regmatigheid en regverdigheid van sy heerskappy. Daar is te kenne gegee dat die mens beter daaraan toe sou wees as hy self besluit wat goed en wat kwaad is, sy eie standaarde vasstel en oor homself heers. Satan se opstand en die feit dat die eerste mensepaar nie aan God lojaal gebly het nie, het die vraag laat ontstaan oor wat God se ander intelligente skepsele sou doen. Sou enigeen van hulle aan God lojaal bly? Later, in die dae van die man Job, het Satan die aantyging gemaak dat diegene wat God dien dit slegs doen uit selfsugtige beweegredes, nie uit liefde nie. “Is dit verniet dat Job God vrees?” het Satan aangevoer (Job 1:9). Hy het geïmpliseer dat niemand hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah se heerskappy sou handhaaf indien hy, God se teenstander, toegelaat word om hulle op die proef te stel nie. Die mens sou nooit weer volkome veiligheid geniet totdat hierdie geskille besleg is nie. Maar Jehovah het geweet dat daardie geskille op ’n wyse besleg kon word wat alle liefhebbers van geregtigheid ten volle tevrede sou stel, en hy het voorsienings gemaak met die oog daarop.
Voorsienings wat ’n veilige toekoms moontlik maak
23. (a) Wat het Jehovah vir ons moontlik gemaak toe hy die vonnis oor ons eerste ouers gevel het? (2 Petrus 3:9) (b) Wie is die spil waarom Jehovah se voorsiening vir die mensdom se toekoms draai?
23 Toe Jehovah die vonnis oor ons eerste ouers gevel het weens hulle opstand teen God, het Hy nie hulle ongebore afstammelinge vergeet nie. Op liefdevolle wyse het hy ’n voorneme gevorm wat dit vir elkeen van ons moontlik maak om te kies of ons onder Goddelike heerskappy wil lewe. Jesus Christus, God se Seun, is die spil waarom daardie voorneme draai.
24. (a) Watter soort lewe het Jesus gehad voordat hy ’n mens geword het? (b) Waarom moet ons nie van hom as God of as God se gelyke praat nie? (Johannes 17:3)
24 Hierdie Seun was Jehovah se heel eerste skepping in die hemelse ryk. “In Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is”, sê die Bybel vir ons (Kolossense 1:15-17). Maar op God se bestemde tyd het sy Seun sy hemelse heerlikheid agtergelaat en is hy op wonderdadige wyse as ’n mens op aarde gebore. Die engel Gabriël, wat vooruitgestuur is om die geboorte aan te kondig, het nie gesê dat die kind wat gebore sou word God sou wees nie. Hy het dit eerder aangekondig as die geboorte van die “Seun van God” (Lukas 1:35). Jesus self het nie beweer dat hy God is nie. Hy het nie opgetree soos Satan wat aanbid wou word nie. Hy het eerlik erken: ‘My Vader is groter as Ek’ (Johannes 14:28). Om werklik ’n verhouding met die God van waarheid te geniet, moet ons dus nie ’n ander posisie aan sy Seun toeskryf en van hom as God of as God se gelyke praat nie.
25. Wat het Jesus bereik deurdat hy sy onkreukbaarheid onder groot druk as ’n mens op aarde gehandhaaf het?
25 Hier op aarde het Jesus dinge ondervind wat hy nooit tevore ondervind het nie. In die hemel het hy sy Vader se wil onberispelik gedoen. Maar sou hy as ’n mens op aarde lojaal bly, veral indien hy aan pyn en onverdiende vernedering onderwerp sou word? Satan was vasbeslote om te toon dat niemand, nie eens hierdie vernaamste Seun van God, getrou sou bly indien hy op die proef gestel word nie. Maar Jesus het getrou by God se Woord gebly, hom daardeur laat lei en dit aangehaal om versoeking af te weer. Hy het druk om verkeerd te doen ferm verwerp deur te sê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:10). Tot die dood toe het Jesus getrou gebly aan Jehovah as Heerser, en dít onder toetse wat baie erger was as enige waarvoor Adam te staan gekom het. Op hierdie wyse het Jesus sy Vader se naam gesuiwer van die valse aantygings wat Satan gemaak het. Deur sy voorbeeld het Jesus vir ons getoon hoe om versoeking te weerstaan en hoe om te toon dat ons ook lojale voorstanders van Jehovah se heerskappy is.
26. Wat het Jesus se dood as ’n volmaakte mens nog bereik, en wat het dit vir ons moontlik gemaak? (1 Timotheüs 2:3-6)
26 Maar God se Seun het meer gedoen as om net vir ons ’n goeie voorbeeld te stel. Jesus self het verduidelik dat hy gekom het om “sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Markus 10:45). Dit was nodig indien die mensdom ooit van sonde, en van siekte en die dood as gevolg van sonde, bevry sou word. Volgens God se wet moes die losprys ’n volmaakte menselewe wees om ooreen te stem met die volmaakte menselewe wat Adam verloor het. Geen onvolmaakte afstammeling van Adam kon dit voorsien nie. Uit liefde het Jehovah dit self voorsien. Hy het sy eie Seun aarde toe gestuur. Toe, na Jesus se dood, het God hom opgewek, nou as ’n geespersoon, en die waarde van sy menselewe as ’n offerande ten behoewe van die mensdom aanvaar. Dit het ons die geleentheid gebied om te herwin wat Adam verloor het. Die Bybel verduidelik: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Watter wonderlike vooruitsigte open dit tog vir ons, as ons maar net geloof in God se Seun stel, leer wat hy verkondig het en in volle ooreenstemming daarmee lewe!
27. (a) Waarom het Jesus nie by politieke aangeleenthede betrokke geraak nie? (Johannes 18:36) (b) Watter gesindheid het Jesus sy volgelinge geleer om teenoor regerings te hê? (Mattheüs 22:17-21)
27 Geloof sluit in dat ons die regeringsposisie erken waarmee Jehovah sy Seun beklee het. Jesus het nie by die politieke aangeleenthede van sy dag betrokke geraak nie; hy het geweet dat geen aardse regering Jehovah se heerskappy voorstaan nie. Ongeag wat sulke heersers oor geloof in God sê, hulle stel almal hulle eie standaarde oor wat goed en kwaad is. Of hulle dit nou erken of nie, hulle volg almal die voorbeeld van God se teenstander, Satan die Duiwel, wat in die Bybel as “die owerste van hierdie wêreld” geïdentifiseer word (Johannes 14:30). Jesus het sy dissipels geleer om hulle belasting te betaal en om aan die wet gehoorsaam te wees so lank God menseregerings toelaat om te bestaan. Maar hy het duidelik getoon dat God se Koninkryk—’n waarlik regverdige regering wat uit die hemel regeer en gesag oor die hele mensdom uitoefen—die enigste hoop vir ’n veilige toekoms is. Hy het hulle dus geleer om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Jesus het hulle aangespoor om volgens die wette van daardie Koninkryk te lewe soos dit in die Bybel uiteengesit is. En hy het hulle die opdrag gegee om “hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk” aan mense oral te verkondig.—Mattheüs 6:10; 24:14.
28. Wat is God se Koninkryk, en hoe kan ons ons waardering daarvoor toon? (Mattheüs 6:33)
28 Daardie Koninkryk is die instrument wat Jehovah gebruik om sy wil te laat geskied. Dit sal alle intelligente skepsele onder Jehovah se koningskap verenig. Onder die lede van daardie hemelse regering sal daar mense wees wat van hierdie aarde geneem is en wat hulle lojale ondersteuning van Jehovah se soewereiniteit, sy heerskappy, bewys het. Daar word van hulle gepraat as die “klein kuddetjie” (Lukas 12:32). Die laaste boek van die Bybel toon dat hulle getal beperk is tot “honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is” (Openbaring 14:1, 3). Die vernaamste een aan wie koninklike mag toevertrou word, is egter God se Seun, Jesus Christus. Ter vervulling van Goddelike profesieë is hy die een aan wie Jehovah ‘heerskappy en eer en koningskap gee sodat al die volke en nasies en tale Hom kan vereer’ (Daniël 7:13, 14). Dit is noodsaaklik dat elkeen van ons in volkome harmonie met daardie Goddelike reëling lewe. Diegene wat weier om dit te doen, sal nie vir ewig toegelaat word om die lewe van ander onveilig te maak nie.
29. (a) Hoe lank bestaan menseheerskappy al, en waarom sal dit nie baie langer voortduur nie? (Jeremia 17:5) (b) Wat sal dit vir Satan beteken? (c) Wat sal met menseregerings gebeur? (d) Wat gaan met goddelose mense gebeur? (e) Wat sal gebeur met diegene wat onverskillig staan teenoor Jehovah se heerskappy? (2 Thessalonicense 1:6-9)
29 Sedert die opstand in Eden het mense bykans sesduisend jaar gehad om die vrugte van menseheerskappy te pluk. Dit was ’n ramp. Die Bybel wys gepas op hierdie geslag as die geslag waarin God sy oordele gaan voltrek. Wat sal dit vir die mensdom se aartsvyand, Satan die Duiwel, beteken? Hy en sy demone gaan geheel en al buite aksie gestel word, ‘in die afgrond gewerp word’, sodat hy die mensdom nie kan mislei nie (Openbaring 20:1-3). Wat sal die voltrekking van God se oordeel vir menseregerings beteken? Die Bybel voorspel: “[Die koninkryk] sal al daardie koninkryke [van mense] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Wat sal dit beteken vir leuenaars, diewe en mense wat geweld pleeg? “Die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:10). Wat sal dit beteken vir diegene wat Jehovah se heerskappy op onverskillige wyse ignoreer? In die dae van Noag “het hulle geen ag geslaan nie totdat die vloed gekom het en hulle almal weggevoer het”, en dit sal net so wees wanneer God sy Seun gebruik om oordeel te voltrek.—Mattheüs 24:39, NW.
30. Wat sal dit alles vir lojale ondersteuners van Jehovah se heerskappy beteken? (Openbaring 7:9, 10, 13, 14)
30 Maar wat sal dit alles beteken vir diegene wat bewys het dat hulle lojale ondersteuners van Jehovah se heerskappy is? Dit sal verlossing en toegang tot God se regverdige nuwe wêreld beteken. God se handelinge met die eertydse nasie Israel het ’n voorbeeld gebied van die uitwerking wat dit op die lewe sal hê. Dit het plaasgevind net soos God Moses beveel het om te sê: “Julle sal . . . woon in die land wat die HERE julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon” (Deuteronomium 12:10). In verband met die toestande tydens die bewind van koning Salomo is daar geskrywe: “Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan [ver in die noorde] tot Berseba [in die suide]” (1 Konings 4:25). Volgens God se wet het elke huisgesin hulle eie stuk grond gehad wat hulle kon bewerk en waarop hulle kon woon. Gehoorsaamheid aan God het sy seën meegebring en dit het, soos hy belowe het, ‘reën vir die land op die regte tyd’ ingesluit (Deuteronomium 11:13-15). Daar was ekonomiese sekuriteit.
31. Watter toestande wat tot veiligheid sal bydra, sal onder God se Koninkryk oor die hele aarde heers, soos Psalm 72 beskryf?
31 Dit is nie bloot as ’n geskiedkundige verslag in die Bybel opgeteken nie, maar vir ons bemoediging. In die Skrif word daar na die Here Jesus Christus, die een wat deur Jehovah aangestel is as koning oor die hele aarde, verwys as “meer as Salomo” (Lukas 11:31). Onder Christus se bewind sal toestande oor die hele aarde heers wat selfs beter is as dié wat tydens die dae van Salomo in Juda en Israel bestaan het. Psalm 72 gee die volgende pragtige beskrywing van die seëninge: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see van die Rivier [die Eufraat] tot by die eindes van die aarde. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë. [Daar sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge” (Psalm 72:7, 8, 14, 16). Die toestande wat dan sal heers, sal dié wees wat Jesus Christus beskryf het aan ’n man wat gevra het dat Jesus hom moet onthou wanneer hy in sy Koninkryk kom. Jesus het vir hom gesê: “Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:43, NW.
32. (a) Hoe sal dit selfs vir die dooies moontlik wees om by hierdie wonderlike voorsienings baat te vind? (b) Waarvandaan sal die verresenes terugkeer? (Esegiël 18:4; Job 14:13)
32 Diegene wat reeds gesterf het as gevolg van die sonde wat hulle van Adam geërf het, sal nie dan vergete bly nie. Hulle word ook deur die losprysoffer van God se Seun gedek. Die Bybel bevat die bemoedigende voorspelling “dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Wat beteken dit? Die Bybel sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Hulle is leweloos in die graf. Die opstanding beteken dus dat hulle weer lewend sal word. Met uitsondering van die lede van die “klein kuddetjie” wat saam met Jesus Christus in die hemel sal lewe, sal almal opgewek word in die vlees met die vooruitsig om vir ewig reg hier op die aarde te lewe.
33. (a) Deur middel waarvan sal siekte en die dood weggeneem word? (Markus 2:1-12) (b) Wil jy persoonlik baat vind by hierdie voorsienings wat Jehovah vir ’n veilige toekoms gemaak het?
33 Dit sal ’n herstellingstydperk vir die mensdom wees. Onder die toesig van die hemelse Koninkryk sal elke spoor van sonde en al die gevolge daarvan weggeneem word deur die aanwending van die waarde van Jesus se offerande ten behoewe van almal wat geloof daarin beoefen. Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon wat dit vir die mensdom sal beteken. Hy het allerhande kwale genees, selfs blindes weer laat sien en kreupeles genees. In God se nuwe wêreld sal die aarde vol mense wees wat sulke seëninge geniet. Die Goddelike belofte is: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Ja, alles wat die lewe onveilig gemaak het, sal dan iets van die verlede wees. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog nie!
34. Is daar enige ware veiligheid wat nóú reeds geniet kan word?
34 Maar nie alles wat veiligheid meebring, word vir die toekoms gehou nie. Daar is baie wat nóú reeds geniet kan word.
Veiligheid wat nóú reeds geniet kan word
35. Watter dinge wat hier gemeld word, sal aansienlike persoonlike veiligheid tot gevolg hê?
35 Ongeag al die ander omstandighede waarmee ’n mens in jou lewe te kampe het, sal die meeste mense saamstem dat enigiemand wat van sy daaglikse voedsel en genoeg klere verseker is ’n groot mate van veiligheid geniet. Indien die mense met wie hy hoofsaaklik omgaan bowendien ware liefde vir mekaar het, sal dit verder tot daardie veiligheid bydra. En as hy weet wat die toekoms inhou, sal dit ook help om enige gevoel van onsekerheid tot ’n minimum te beperk. Maar die meeste mense geniet nie so ’n gevoel van veiligheid nie. Beteken dit dan dat die beloftes van veiligheid wat in God se Woord gemaak is eers in die toekoms bewaarheid gaan word? Of kan mense selfs nóú veiligheid verkry deur geloof in hierdie beloftes te stel en in ooreenstemming met hulle op te tree? Is daar mense wat dit nou op ’n verenigde wyse doen?
36. (a) Onder watter omstandighede sê God sal hy nou reeds daaglikse voedsel en klere voorsien? (b) Wie geniet sulke veiligheid, en hoe verkry hulle hierdie benodigdhede? (Efesiërs 4:28)
36 Daardie Christene wat as Jehovah se Getuies bekend staan, het gevind dat God se Woord waar is en dat dit nóú reeds wonderlike voordele meebring as hulle dit in hulle lewe toepas. Daardie voordele word verkry as ’n mens geestelike sake die regte plek in jou daaglikse lewe gee. Enigeen op aarde, hetsy hy geestelik gesind is of nie, kan natuurlik baat vind by wat die aarde produseer. Maar die Bybel toon dat God veral belangstel in die welsyn van diegene wat sy diens eerste stel. Om die geloof van sy dissipels te versterk, het Jesus gesê: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:31-33). Maar hoe kry hulle “al hierdie dinge”, die dinge wat nodig is om ’n mens fisies aan die lewe te hou? Dit beteken nie dat die Christengemeente hulle finansieel onderhou nie. Hulle is eerder almal gewillige werkers. En as mense Jehovah se Koninkryk en sy geregtigheid waarlik eerste in hulle lewe stel, seën God hulle pogings om die lewensbenodigdhede te verkry. Hy verhoor hulle gebed: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheüs 6:11). Jehovah belowe nie sy knegte materiële oorvloed terwyl die huidige wêreld bestaan nie, maar hy verseker hulle wel dat hulle sal hê wat hulle werklik nodig het. En daar is niemand anders wat beter kan sorg dat hulle dit kry nie.
37. (a) Watter gedrag en gesindhede veroorsaak onveiligheid? (b) Watter eienskap kom sulke mense hoofsaaklik kort? (c) Waar het Jesus gesê sou sulke liefde gevind word?
37 Die groot Voorsiener van materiële dinge voorsien ook iets anders wat belangrik is as ’n mens nou veiligheid wil geniet. Soos jy seker deeglik kan besef, sal die materiële lewensbenodigdhede ’n mens nie tevrede en veilig laat voel as jou metgeselle mense is wat nie werklik in jou belangstel nie. Onveiligheid word veroorsaak wanneer mense lieg en bedrieg; wanneer hulle hulle tong gebruik sonder om ander se gevoelens in ag te neem; wanneer hulle ander op grond van materiële besittings, velkleur of afkoms oordeel; en wanneer “vriendelikheid” dikwels met ’n verborge, selfsugtige beweegrede betoon word. Wat sulke mense hoofsaaklik kortkom, is liefde—ware, onselfsugtige besorgdheid oor ander mense. Kan sulke liefde waarlik gevind word—nie bloot onder ’n paar mense nie, maar as ’n opvallende eienskap van ’n hele gemeenskap? Jesus Christus verseker ons dat dit gevind kan word. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” En hy het geweet dat daar so ’n groep mense in ons dag sou wees, want hy het vir sy dissipels gesê: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Johannes 13:35; Mattheüs 28:20.
38. Hoe help die Bybel ons om diegene wat hierdie liefde het te identifiseer? (1 Johannes 4:20, 21)
38 As jy gevind het dat jou metgeselle nie hierdie liefde het nie, moet jy elders daarna soek. In 1 Johannes 4:8 gee die Bybel die nodige leiding waar dit sê: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Hierdie liefde kan gevolglik gevind word onder mense wat ‘God ken’. Dit beteken beslis nie dat jy dit sal vind by alle mense wat godsdienstig is nie; jy weet dat dit nie die geval is nie. Maar jy sal dit wel vind onder diegene wat Jehovah, die enige ware God, ken, wat sy naam eerbiedig en wat opreg daarna streef om volgens sy wil te lewe. Die voordele van sulke omgang is voor die hand liggend.
39. Wat, benewens omgang met sulke mense, kan ’n mens doen wat tot jou veiligheid en jou genieting van die lewe sal bydra?
39 ’n Mens word natuurlik nie sodoende immuun teen die gevolge van die wettelose gedrag van die res van die wêreld nie. Maar jy vind grootliks daarby baat as jy jou afhanklikheid van God erken en God se standaard van reg en verkeerd soos dit in die Bybel uiteengesit word ten volle aanvaar. Jy word beskerm teen bedrywighede wat slegs hartseer en lyding tot gevolg sal hê. Dit is soos Spreuke 1:33 sê: “Die wat na my [dit wil sê Goddelike wysheid] luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.” Jou lewe kan waarlik sinvol wees indien jy dit in ooreenstemming met die Skepper se wil gebruik. Pleks dat jy soos so baie mense gefrustreerd is, kan jy ook die vreugde smaak om ander te help om van die enigste ware oplossing vir die mensdom se probleme—God se Koninkryk—te leer. Jesus Christus het so ’n werk voorspel toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.
40. Hoe voel Jehovah se Getuies oor die toekoms, en waarom? (Lukas 21:28-32)
40 As diegene wat aan hierdie predikingswerk deelneem na die toekoms kyk, is hulle nie vreesbevange nie. Omdat hulle die Bybel bestudeer het en glo wat dit sê, weet hulle wat die toekoms inhou. Pleks dat elke onaangename verwikkeling in wêreldgebeure hulle frustreer, sien hulle in hierdie dinge die vervulling van Bybelprofesieë oor die einde van hierdie stelsel van dinge. Hulle weet dat God binnekort, in hierdie geslag, almal gaan vernietig wat sy regmatige heerskappy aanhou veronagsaam en wat die lewensvreugde van hulle medemens voortdurend bederf. Hulle sien met vertroue uit na die vervulling van die hoop wat in 2 Petrus 3:13 uiteengesit word: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”
41, 42. (a) Waarom geniet Jehovah se Getuies dus nóú reeds ’n groot mate van veiligheid selfs al lewe hulle te midde van ’n wêreld vol beroeringe? (b) Is die veiligheid wat Jehovah se Getuies geniet iets wat jy graag wil geniet?
41 Dit is die soort veiligheid wat die Christenaanbidders van Jehovah God, diegene wat ‘die Vader in gees en waarheid aanbid’, reeds nóú geniet. Hulle geniet hierdie veiligheid omdat hulle hulle aan Jehovah se regverdige standaarde onderwerp en dit in hulle lewe toepas. Dit is soos Jesaja 32:17, 18 voorspel het: “Die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.” Hulle is lojale ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit. Hulle stel nie hulle eie standaarde van goed en kwaad nie. Hulle probeer nie die wêreld se probleme self oplos nie. Met dankbaarheid aanvaar en ondersteun hulle die liefdevolle voorsiening wat Jehovah gemaak het—sy Koninkryk in die hande van Jesus Christus.
42 Wil jy graag die veiligheid geniet wat hulle geniet? Jy kan.
Wat jy daaromtrent kan doen
43. Wat sal jy self kan sien as jy na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gaan?
43 Een van die eerste stappe is om te assosieer met die mense wat hierdie veiligheid geniet. Sodoende kan jy self vasstel of dit werklik is waarna jy gesoek het. Jehovah se Getuies nooi jou hartlik om hulle vergaderinge by die Koninkryksaal in jou gebied by te woon. Jy sal vind dat hulle vergaderinge nie vol ritusse is nie en dat daar geen kollektes opgeneem word nie. Daar is eerder ’n betekenisvolle bespreking van God se Woord en hoe dit ons lewe raak. Die Bybel vermaan: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan” (Hebreërs 10:24, 25). Dít is die gees wat jy by die Koninkryksaal sal vind.
44. (a) Wat het jy nodig indien jy die veiligheid wil geniet wat jy in die lewe van ander by die Koninkryksaal sien? (b) Waarom kan nie een van ons so ’n verhouding as vanselfsprekend aanneem nie, maar hoe kan dit verkry word?
44 Wanneer jy sulke vergaderinge bywoon, sal jy die veiligheid kan sien wat ander geniet, en jy sal die omgang ongetwyfeld geniet. Maar meer is nodig indien jy self sulke veiligheid wil geniet. Jou grootste behoefte is ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah God. Hy is die Een van wie jou huidige welsyn en al jou vooruitsigte vir die toekoms afhang. So ’n verhouding is nie iets wat enigeen van ons as vanselfsprekend kan aanneem nie. Ons is nie daarmee gebore nie. Ons is almal afstammelinge van die sondaar Adam, en ons is gevolglik gebore in ’n mensegesin wat van God vervreem is. Om Jehovah se guns te verkry, moet ons met hom versoen raak, en dit is slegs moontlik deur geloof te beoefen in die liefdevolle voorsiening wat hy deur die offerande van sy Seun gemaak het. Soos Jesus self gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—Johannes 14:6.
45. (a) Wat moet ons eers besef oor die lewe en die wyse waarop ons ons lewe moet gebruik? (Openbaring 4:11) (b) Hoe moet ons persoonlik oor Jehovah voel as ons hom wil behaag? (c) Waarom is waterdoop belangrik, en wat is nodig voordat iemand gereed is om gedoop te word? (Mattheüs 28:19)
45 Ons moet besef dat ons ons lewe aan God te danke het en dat dit verkeerd is as ons nie ons lewe in gehoorsaamheid aan God gebruik nie. Indien ons opreg berou het omdat ons in die verlede nie ons lewe in ooreenstemming met God se wil gebruik het nie, sal ons daardie verkeerde weg die rug toekeer en ons bekeer en sodoende ons lewe in ooreenstemming met God se wil bring. Dit sluit in dat ons doen wat Jesus gesê het sy dissipels moet doen, naamlik ‘hulself verloën’ (Mattheüs 16:24). Iemand wat dit doen, sê nie meer dat hy die “reg” het om sy eie selfsugtige begeertes te bevredig sonder om God se wil in ag te neem nie. Hy onderwerp hom eerder ten volle daaraan om God se wil te doen soos sy Seun beveel het. En hy doen dit omdat dit reg is en omdat hy daarvan oortuig is dat alles wat Jehovah doen ’n goeie en regverdige doel het, en dat wat God doen vir ons seëninge tot gevolg sal hê indien ons geregtigheid liefhet. Hy het Jehovah waarlik ‘uit sy hele hart, verstand, siel en krag’ lief (Markus 12:29, 30). Nadat hy hom op hierdie wyse in sy hart verbind het, is hy gereed om hom aan te bied om in die openbaar in water gedoop te word in navolging van Jesus Christus en in gehoorsaamheid aan die instruksies wat hy aan sy dissipels gegee het. Slegs op hierdie wyse, wat in God se Woord uiteengesit word, kan ’n mens ’n goedgekeurde verhouding met die ware God verkry en deel hê aan die veiligheid wat sy knegte geniet.
46. Hoe toon ons dat ons Jehovah werklik as ons Heerser wil hê?
46 Daarna is dit noodsaaklik om voortdurend te toon dat jy waarlik die onafhanklike weg verwerp wat deur Satan voorgestaan word; dat jy nie jou eie standaarde van goed en kwaad vasstel nie; dat jy waarlik Jehovah as jou Heerser wil hê. Jy sal moet doen wat in Spreuke 3:5, 6 geskrywe staan: “Vertrou op die HERE [“Jehovah”, NW] met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ja, hy sal jou paaie rig op die weg van ware en blywende veiligheid.
47. Watter veiligheid ontvang diegene wat waarlik Jehovah se liefdevolle voorsienings aanvaar?
47 Watter wonderlike seëninge ontvang diegene tog wat waarlik die liefdevolle voorsienings aanvaar wat Jehovah vir die mensdom gemaak het! Omdat hulle ’n ferm standpunt vir sy heerskappy inneem, word hulle nou beskerm en is hulle vol vertroue wat die toekoms betref. As gevolg van Jehovah se liefdevolle goedhartigheid en sy waaragtigheid sal hulle ’n aandeel hê aan die volkome bevredigende veiligheid wat die mensdom onder die Koninkryk van God in die hande van sy Seun, Jesus Christus, gaan geniet.
[Voetnote]
a Tensy anders aangedui, kom die Skrifaanhalings in hierdie publikasie uit die Afrikaanse Bybel, hersiene uitgawe van 1953. Die afkorting NW staan vir die New World Translation of the Holy Scriptures, uitgawe van 1984.
b In die New English Bible is hierdie gebruik van die vertalers duideliker te sien in Psalm 135:5 en in Nehemia 10:29.
[Prent op bladsy 4]
Mense wat nou lewe, sal die dag sien wanneer hongersnood iets van die verlede is
[Prent op bladsy 7]
Ons vooruitsigte vir die toekoms hang af van die Een wat die hemele en die aarde geskep het
[Prent op bladsy 13]
Die Bybelverslag oor ons eerste ouers toon waarom die mens se lewe vandag deur onveiligheid bederf word
[Prent op bladsy 22]
Onder God se Koninkryk sal misdaad iets van die verlede wees; jou eiendom en jou persoon sal ook nie meer bedreig word nie
[Prent op bladsy 24]
God se Woord belowe dat siekte en die dood weggeneem sal word—ja, selfs dierbares wat gesterf het, sal opgewek word