DEEL 7
Van Jesus se opstanding tot Paulus se gevangenskap
Op die derde dag ná sy dood is Jesus opgewek. Op daardie dag het hy vyf keer aan sy volgelinge verskyn. Jesus het oor ’n tydperk van 40 dae nog baie kere aan hulle verskyn. Toe, terwyl party van sy dissipels gekyk het, het Jesus opgevaar hemel toe. Tien dae later het God heilige gees uitgestort op Jesus se volgelinge wat in Jerusalem gewag het.
Later het vyande van God die apostels in die tronk laat gooi, maar ’n engel het hulle vrygelaat. Die dissipel Stefanus is deur teenstanders gestenig. Maar ons leer dat Jesus een van hierdie teenstanders gekies het om sy spesiale kneg te wees, en hy het die apostel Paulus geword. Toe, drie en ’n half jaar ná Jesus se dood, het God die apostel Petrus gestuur om vir die nie-Jood Kornelius en sy huisgesin te gaan preek.
Omtrent 13 jaar later het Paulus met sy eerste sendingreis begin. Op Paulus se tweede reis het Timoteus by hom aangesluit. Ons leer van baie opwindende dinge wat Paulus en dié wat saam met hom gereis het, in God se diens ervaar het. Uiteindelik is Paulus in Rome in die tronk gegooi. Twee jaar later is hy vrygelaat, maar toe is hy weer in die tronk gegooi en doodgemaak. Die gebeure van DEEL 7 strek oor ’n tydperk van omtrent 32 jaar.