Hoofstuk 7
Tree verstandig op terwyl onheil dreig
1. Waarom het mense onnodig omgekom (a) toe die Titanic gesink het? (b) toe Mont Pelée uitgebars het?
VERSTANDIGE mense doen stappe om hulle lewe te beveilig wanneer hulle uit ’n betroubare bron verneem dat onheil dreig (Spreuke 22:3). Maar tallose duisende het al onnodig omgekom omdat hulle vertroue misplaas was. In weerwil van waarskuwings om in die reddingsbote te kom, het honderde passasiers in 1912 saam met die oseaanskip Titanic vergaan omdat hulle die bewering geglo het dat dit onsinkbaar was. Toe Mont Pelée in Martinique in 1902 begin het om vulkaniese as en rotse uit te spuug, was die inwoners van nabygeleë St. Pierre skrikkerig. Maar omdat die selfsugtige belange van vooraanstaande lede van die gemeenskap op die spel was, het plaaslike politici en die redakteur van die plaaslike koerant die mense se vrese probeer stil en hulle aangespoor om in St. Pierre te bly. Die berg het skielik uitgebars en 30 000 mense het gesterf.
2. (a) Watter dringende waarskuwing word vandag tot mense gerig? (b) Waarom is die situasie ernstig?
2 In ons dag word ’n selfs dringender waarskuwing tot mense gerig—nie omtrent ’n plaaslike ramp nie maar aangaande die nabyheid van God se universele oorlog van Armageddon (Jesaja 34:1, 2; Jeremia 25:32, 33). In alle dele van die wêreld besoek Jehovah se Getuies mense herhaaldelik by hulle huise om hulle tot verstandige optrede aan te spoor sodat hulle behoue kan bly. Het jy die lewe lief genoeg om sonder versuim die nodige stappe te doen?
„DIE WÊRELD GAAN VERBY”
3. Waarom sal ons gesindheid teenoor die wêreld ons kanse op oorlewing raak?
3 ’n Kritieke faktor wat jou kanse op oorlewing raak, is jou gesindheid teenoor die wêreld. Solank jy as ’n mens lewe, is jy in die wêreld. Maar jy hoef nie sy verkeerde begeertes jou eie te maak of sy goddelose weë na te volg nie. Jy hoef jou nie met die wêreld te vereenselwig deur jou vertroue in mense en hulle planne te stel in plaas van in God en sy voorneme nie. Maar jy moet ’n keuse doen; jy kan nie aan albei kante wees nie. „Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” Waarom? Omdat, soos God se Woord ons meedeel, „die hele wêreld in die mag van die Bose lê”.—Jakobus 4:4; 1 Johannes 5:19; Psalm 146:3-5.
4. (a) Gebruik jou Bybel om te verduidelik watter gebruike en gesindhede mense ongeskik sal maak om onder God se Koninkryk te lewe. (b) Waarom moet persone wat hulle aan hierdie dinge skuldig gemaak het dit dadelik die rug toekeer?
4 Dit is te begrype dat Jehovah nie mense in sy regverdige Nuwe Orde sal toelaat wat deur hulle lewenswyse toon dat hulle vasklou aan dinge wat God veroordeel nie. Wat is sommige van hierdie dinge? Baie daarvan is bedrywighede en gesindhede wat die wêreld as vanselfsprekend aanvaar. Maar as ons die einde van hierdie goddelose wêreld wil oorlewe, dan sal ons, ongeag wat ander mense doen of dink, gehoor gee aan die Bybel se waarskuwing dat hoereerders, egbrekers, homoseksuele en diegene wat hulle aan sedelike onreinheid en losbandigheid oorgee nie onder die oorlewendes sal wees nie. Ongeag hoe dikwels ander hulle aan leuens of diefstal skuldig maak, ons sal so ’n lewenswyse verwerp. Ons sal okkulte gebruike vermy, hoe gewild dit ook al is. En al sou ander jaloers raak, tweedrag saai, hulle humeur verloor of ontvlugting van hulle frustrasies soek deur middel van dwelms of oormatige drankgebruik, sal ons hulle nie navolg nie. En as ons aan hierdie dinge skuldig was, sal ons die nodigheid daarvan insien om te verander. Al het party van hierdie dinge in die verlede vir ons „normaal” gelyk, sal ons hulle die rug toekeer. Waarom? Omdat ons God waarlik liefhet, omdat ons die lewe liefhet, en God se Woord waarsku dat „die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie”.—Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 5:3-7; 1 Korinthiërs 6:9, 10; 2 Korinthiërs 7:1; Openbaring 22:15.
5. (a) Wat moet ons leer om te doen as die lewe vir ons kosbaar is? (b) Watter mooi eienskappe word in die tekste aan die einde van hierdie paragraaf gemeld? Hoe belangrik is hulle? Hoe kan ons hulle aankweek?
5 As die geleentheid om vir ewig in geluk te lewe vir ons belangrik is, moet ons leer hoe om die Lewegewer, Jehovah God, te behaag (Handelinge 17:24-28; Openbaring 4:11). Ons moet sy Woord progressief op elke aspek van ons lewe toepas. As ons dit doen, sal ons gou ernstig begin nadink oor ons beskouing van onsself en ander mense, van persoonlike besittings en frustrasies, en ons sal oorweeg hoe dit ons verhouding met God raak. Mense rondom ons het dalk ’n hoë dunk van hulleself, van hulle stam of ras of nasie, maar ons sal ernstig nadink oor die teks wat sê: „God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—Jakobus 4:6; Sefanja 2:2, 3; Psalm 149:4.
6, 7. Waarom moet ons ons eie lewe in die lig van 1 Johannes 2:15-17 ondersoek?
6 Al laat ander hulle ook verstrik deur die begeertes wat deur ’n materialistiese samelewing aangewakker word, of al word hulle deur ’n begeerte na vernaamheid aangedryf, sal ons ons eie lewe ondersoek in die lig van 1 Johannes 2:15-17, wat lui: „Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” As ons veranderinge moet aanbring, is dit nou die tyd om dit te doen.
7 Hierdie wêreld en sy lewenswyse sal nie vir ewig voortbestaan nie. Dit is nie „onsinkbaar” nie. Wêreldlike manne probeer om hulle aanhangers te behou deur hulle wys te maak dat hulle die wêreld kan verbeter. Maar die enigste manier om die dreigende onheil te ontkom, is om op God se waarskuwingsboodskap ag te slaan. In hierdie opsig het die Nineviete in die dae van die profeet Jona ’n voorbeeld gestel wat ons gerus ter harte kan neem.
„HULLE HET HUL OP DIE PREDIKING VAN JONA BEKEER”
8. Hoe het die Nineviete wysheid aan die dag gelê toe Jona God se waarskuwing aan hulle oorgedra het, en met watter gevolge?
8 In die negende eeu v.G.J. het Jehovah Jona opdrag gegee om na Nineve, die hoofstad van Assirië, te gaan en aan die inwoners bekend te maak dat die stad weens hulle boosheid omvergewerp sou word. Hoe het hulle gereageer op Jona se waarskuwing dat hulle oor net 40 dae sou sterf? Hulle het nie gespot nie, maar „het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee”. Die koning self het hom by hulle aangesluit en al die inwoners aangespoor om ernstig tot God te roep en hulle van hulle verkeerde weg en hulle onreg te bekeer. Hy het geredeneer: „Wie weet of God nie sal omkeer . . . sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?” Omdat hulle hulle slegte weg verlaat het, was Jehovah hulle genadig. Hy het hulle lewens gespaar.—Jona 3:2-10.
9, 10. (a) In watter opsig het Jesus gesê dat die Nineviete navolgenswaardig is? (b) Wie is vandag soos daardie Nineviete?
9 Jesus het ongelowige Jode in die eerste eeu G.J. berispe deur hulle aandag op daardie geskiedkundige insident te vestig. Hy het gesê: „Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!”—Mattheüs 12:41.
10 Wat van ons dag? Is daar mense wat hulle so bekeer? Ja, daar is wêreldwyd derduisende wat, soos die Nineviete, nooit tevore bely het dat hulle die God van die Bybel aanbid nie, maar wat nou op Jehovah se waarskuwingsboodskap ag slaan. Hulle soek God se genade wanneer hulle leer waarom hierdie wêreld vernietig gaan word. Hulle ondergaan ’n ware gemoedsverandering ten opsigte van hulle vorige lewenswyse en lê hulle nou daarop toe om „werke te doen wat by die bekering pas”. (Handelinge 26:20; kyk ook Romeine 2:4.) Wil jy graag een van hulle wees? Moet dan nie talm nie.
SMEEK DRINGEND OM VREDE
11. (a) Wat was die agtergrond van die Gibeoniete? (b) Waarom het hulle om vrede met Israel gesmeek?
11 Die Gibeoniete in die dae van Josua het ook verstandig opgetree sodat hulle lewens gespaar sou word. Hulle was Kanaäniete wie se lewenswyse onsedelik en materialisties, afgodies en demonisties was. Jehovah het beveel dat hulle verdelg moes word. Hulle het geweet hoe Jehovah Israel 40 jaar tevore uit Egipte bevry het en dat magtige Amoritiese konings oos van die Jordaan nie voor hulle kon standhou nie. Almal was daarvan bewus dat die massiewe mure van Jerigo sonder die gebruik van stormramme voor hulle inmekaargestort het en dat die stad Ai in ’n puinhoop verander is (Josua 9:3, 9, 10). Die inwoners van die stad Gibeon wou lewe, maar hulle het geweet dat hulle nooit ’n oorlog teen die God van Israel kon wen nie. Hulle sou iets moes doen, en gou ook. Wat? Hulle kon nie aandring op ’n verdrag met Israel nie, maar hulle het besluit dat hulle ten minste moes probeer om een te sluit. Hoe?
12. (a) Waarom is die Gibeoniete gespaar, ondanks die metode wat hulle gebruik het? (b) Watter veranderinge moes hulle aanbring, en watter werk het hulle gekry om te doen?
12 Hulle het met lis te werk gegaan deur manne na Josua te stuur wat, te oordeel na hulle voorkoms, ’n baie lang reis agter die rug gehad het. Hulle het Josua genader en gesê dat hulle van ’n ver land af kom, dat hulle van die groot dade van Jehovah gehoor het en dat hulle, as verteenwoordigers van hulle volk, gekom het om hulself as dienaars aan te bied en te versoek dat ’n verbond met hulle gesluit word. Josua en die owerstes van Israel het ingestem. Toe die bedrog later aan die lig kom, het die Gibeoniete nederig gebieg dat hulle bevrees was vir hulle lewens en hulle bereidheid getoon om te doen wat van hulle verlang word (Josua 9:4-25). Jehovah het die hele saak gadegeslaan. Hy is nie bedrieg nie. Hy kon sien dat hulle nie sy volk probeer verlei het soos die Moabiete vroeër gedoen het nie, en hy het geweet hoe graag hulle wou bly lewe. Daarom het hy toegelaat dat hulle houtkappers en waterputters onder toesig van die Leviete by die heilige tabernakel word. Op hierdie manier het hulle Jehovah se aanbidding ondersteun. Hulle moes natuurlik hulle onrein gebruike van vroeër die rug toekeer om vir sulke diens aanneemlik te wees.—Josua 9:27; Levitikus 18:26-30.
13. (a) Hoe kan ons baat vind by daardie profetiese drama in verband met die Gibeoniete? (b) Wat moet mense vandag doen om deur die Grotere Josua gespaar te word?
13 Met die oog op die feit dat ons na aan die einde van die „laaste dae” lewe, is dit noodsaaklik dat almal wat behoue wil bly onverwyld en in volkome opregtheid optree. Jesus Christus, wat nou Jehovah se skerpregter is, kan nie soos Josua ’n rat voor die oë gedraai word nie. Al manier waarop sulke persone ’n akkoord met hom kan aangaan om hulle nie tereg te stel nie, is deur in die openbaar hulle geloof in Jehovah as die ware God te bely. (Vergelyk Handelinge 2:17-21.) Hulle moet Jesus Christus ook aanvaar in die rolle wat God aan hom toegeken het en daarna lewe as persone wat nie die lewenswyse van hierdie veroordeelde wêreld liefhet nie. Dan moet hulle nederige knegte van God word en vir hom heilige diens verrig saam met die gemeente van sy volk.—Johannes 17:16; Openbaring 7:14, 15, vergelyk NW.
14. Waarom is Jehovah se verlossing van die Gibeoniete uit die hand van die vyand vir ons van belang?
14 Kort nadat die Gibeoniete hulle lot by Jehovah se volk ingewerp het, het hulle voor ’n groot beproewing te staan gekom. Vyf konings van die Amoriete het Gibeon beleër om die inwoners te dwing om weer hulle bondgenote en vyande van Israel te word. Die Gibeoniete het Josua dringend om hulp gesmeek, en hulle verlossing was een van die skouspelagtigste in die hele geskiedenis. Jehovah het die vyand in verwarring gebring, haelstene uit die hemel op hulle laat neerreën en die daglig wonderdadig verleng totdat Israel die vyand geheel en al verslaan het (Josua 10:1-14). Daardie verlossing van die Gibeoniete was ’n profetiese beeld van ’n selfs wonderliker verlossing van ’n groot menigte aanbidders van die ware God ten tye van die universele oorlog van Armageddon. Mense uit elke nasie het die geleentheid om by daardie verlossing baat te vind, mits hulle nou verstandig optree. Maak jy van daardie geleentheid gebruik?—Openbaring 7:9, 10.