Hoofstuk 23
„Volharding is wat julle nodig het”
1. (a) Waarom is Jehovah se Getuies waarlik gelukkig? (b) Maar watter raad in Hebreërs 10:36 geld vir ons almal?
DIEGENE wat hulle vertroue op Jehovah gevestig het, is vandag voorwaar die gelukkigste mense op aarde. Hulle weet waar die allerbeste raad te kry is om die probleme van die lewe die hoof te bied—in God se Woord. Hulle is nie vreesbevange wanneer hulle na die toekoms kyk nie, want hulle weet wat God se voorneme met hierdie aarde is (Jeremia 17:7, 8; Psalm 46:2, 3). Die apostel Paulus het nietemin aan mede-Christene geskryf: „Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het” (Hebreërs 10:36, NAV). Waarom is volharding dan so nodig?
2. Waarom sou Jesus se dissipels volharding nodig hê?
2 Voor sy dood het Jesus sy apostels gewaarsku teen wat vir hulle voorgelê het. Hy het gesê: „As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (Johannes 15:19-21). Hoe waar is daardie woorde tog nie!
3. (a) Hoe is dit dat Jesus se dissipels ‚ter wille van sy naam’ vervolg word? (b) In watter sin „ken” vervolgers nie die Een wat vir Jesus gestuur het nie? (c) Wie sit eintlik agter die vervolging?
3 Jesus se volgelinge word met vyandigheid bejeën omdat hulle in ’n wêreld lewe wat alles verwerp waarvoor ware Christelikheid staan. Christus beteken „Gesalfde”. Jesus Christus is die een wat deur Jehovah as Koning gesalf is om oor die hele aarde te heers. Toe Jesus dus gesê het dat sy dissipels ‚ter wille van sy naam’ vervolg sou word, het hy bedoel dat die vervolging sou voortspruit uit hulle aanvaarding van hom as Jehovah se Messiaanse Koning, hulle gehoorsaamheid aan Christus bo enige aardse heerser, hulle lojaliteit teenoor sy Koninkryk en die feit dat hulle nie by die aangeleenthede van menseregerings betrokke raak nie. Jesus het bygevoeg dat die teenstand sou kom omdat die vervolgers „Hom nie ken wat My gestuur het nie”—dit wil sê, omdat hulle weier om Jehovah God as Universele Soewerein te erken. (Vergelyk Exodus 5:2.) Wie is die hoofaanstigter van hierdie vervolging? Satan die Duiwel.—Openbaring 2:10.
4. (a) Hoe raak die vervulling van Openbaring 12:17 ons lewens? (b) Wat is Satan se oogmerk?
4 Veral sedert Satan uit die hemel gewerp is ná die geboorte van Jehovah se Messiaanse Koninkryk in 1914, het die druk op ware Christene toegeneem. Moet dit nie onderskat nie. Die Duiwel en sy demone voer ’n volskaalse oorlog teen almal wat hulle aan die kant van God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus geskaar het. Openbaring 12:17 sê hieroor: „En die draak [Satan die Duiwel] was vertoornd op die vrou [God se hemelse gemalin-organisasie], en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge [die geesgesalfde volgelinge van Christus op aarde] wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Die „ander skape” bevind hulle ook in die hitte van die stryd. Deur geslepe metodes probeer Satan hulle verlok of dwing om die gebooie van God in die wind te slaan. Hy wil hulle geestelikheid ondermyn en dan heeltemal vernietig. Sy doel is om ’n einde te maak aan die verkondiging van Jesus as Jehovah se Messiaanse Koning. Maar lojale knegte van God seëvier in hierdie geestelike oorlog.
HOE MOET CHRISTENE REAGEER?
5. Watter stappe het regerings teen Jehovah se Getuies gedoen?
5 Talle regeringsamptenare besef dat Jehovah se Getuies wetsgehoorsame persone is en dat hulle ’n heilsame invloed op die gemeenskap het. Alle menseregerings maak nietemin deel uit van Satan se wêreldstelsel (1 Johannes 5:19; Openbaring 13:2). Dit moet ons dus nie verbaas wanneer sommige regerings die vergaderinge van aanbidders van die ware God belet, hulle Bybellektuur verbied, hulle verhinder om oor God se Koninkryk te preek en hulle selfs in die gevangenis werp en mishandel nie. Wat sal jy doen as jy self onder sulke druk geplaas word?
6. (a) Watter gesindheid moet ons teenoor regeringsamptenare hê? (b) Maar wat is ons vasbeslote om te doen? (c) Hoe kan ons gelukkig wees al word ons vervolg?
6 Die apostels van Jesus Christus het eerbied getoon teenoor regeringsamptenare. Hulle het nie hulle vervolgers met gelyke munt betaal nie. Maar toe hulle aangesê is om op te hou doen wat God hulle beveel het, het hulle ferm geantwoord: „Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29; Romeine 12:19; 1 Petrus 3:15). Selfs toe hulle lewens op die spel was, het hulle nie uit vrees vir die dood hulle geloof prysgegee nie. Hulle het geweet dat hulle die God dien „wat die dode opwek” (2 Korinthiërs 1:9; Hebreërs 2:14, 15). Ofskoon hulle vervolg is, was hulle gelukkig—gelukkig in die wete dat hulle God behaag, gelukkig oor die geleentheid om deel te hê aan die regverdiging van sy naam en om hulle lojaliteit teenoor sy gesalfde Koning te bewys (Handelinge 5:41, 42; Mattheüs 5:11, 12). Is dit die soort persoon wat jy is? Identifiseer jy jou openlik met diegene wat sulke ondervindinge deurmaak? Ebed-Meleg was iemand wat nie uit vrees teruggedeins het nie. Wie was hy?
7. (a) Wie was Ebed-Meleg, en waarom stel ons nou in hom belang? (b) Wat het Ebed-Meleg gedoen toe hy gehoor het dat Jeremia in ’n modderput gegooi is, en waarom?
7 Ebed-Meleg was ’n godvresende Kusiet (Ethiopiër) wat in Jerusalem gewoon het gedurende die tydperk voor daardie stad se vernietiging deur die Babiloniërs. Hy het in die paleis van koning Sedekia gewerk. Op daardie tydstip het Jeremia as Jehovah se profeet vir die Koninkryk van Juda en omliggende nasies gedien. Omdat hy God se waarskuwingsboodskap onversetlik bekend gemaak het, het hy die skyf van hewige vervolging geword. Op aanstigting van sekere vorste in Jerusalem is hy selfs in ’n put gegooi sodat hy in die modder kon wegsak en sterf. Hoewel Ebed-Meleg nie ’n Israeliet was nie, het hy besef dat Jeremia Jehovah se profeet was. Toe hy hoor wat gebeur het, het Ebed-Meleg dadelik na die poort van die stad gegaan om Jeremia se saak by die koning te bepleit. Op bevel van die koning het hy gou 30 man bymekaar gekry, sowel as toue en ou lappe. Hy het vir Jeremia gesê om die lappe onder sy armholtes te sit sodat die toue hom nie te erg skaaf nie, en toe het hy die profeet uit die put opgetrek.—Jeremia 38:4-13.
8. Watter gerusstellende belofte het Jehovah aan Ebed-Meleg gemaak, en waarom?
8 Ebed-Meleg was begryplikerwys bekommerd oor wat die vorste hom sou aandoen omdat hy hulle komplot verydel het, maar sy respek vir Jehovah se profeet en sy eie vertroue op God het swaarder geweeg as sy kommer. Daarom het Jehovah deur Jeremia aan Ebed-Meleg die volgende versekering gegee: „Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag. Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die HERE; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ’n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE.”—Jeremia 39:16-18.
9. (a) Hoe toon die „ander skape” dat hulle soos Ebed-Meleg is? (b) Wat beteken Jehovah se belofte aan Ebed-Meleg dus vandag vir die „ander skape”?
9 Hoe kosbaar is daardie belofte vandag vir Jehovah se knegte! Soos Ebed-Meleg sien die „ander skape” die onregte wat die hedendaagse Jeremia-klas, die gesalfde oorblyfsel, aangedoen word en die pogings wat aangewend word om hulle verkondiging van Jehovah se boodskap stop te sit. Hulle het nie geaarsel om te doen wat hulle kan om die gesalfdes te beskerm en te ondersteun nie. Hulle word dus tereg versterk deur Jehovah se belofte aan Ebed-Meleg. Dit gee hulle die versekering dat God nie sal toelaat dat hulle teenstanders hulle vernietig nie, maar dat Hy hulle as ’n klas sal bewaar deur die naderende wêreldvernietiging en tot in Sy regverdige „nuwe aarde”.
10. Op watter lewensterreine ondervind Christene vervolging?
10 Nie almal wat in die voetspore van Jesus Christus volg, word met gevangenskap bedreig nie, maar almal word op die een of ander manier vervolg (2 Timotheüs 3:12). Duisende Christenvroue, en -mans, verduur al baie jare lank kwaai teenstand reg in hulle eie huis. En kinders is deur hulle ouers verstoot weens hulle begeerte om Jehovah te dien (Mattheüs 10:36-38). Jong Christene kan ook by die skool vervolg word; ouer persone, by die werk. Al Jehovah se Getuies ondervind ’n mate van vervolging wanneer hulle in die openbaar van God se Koninkryk getuig. Jesus se woorde geld vir hulle almal: „Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.”—Lukas 21:19.
11. (a) Watter ander situasies is vir baie ’n kwaai beproewing? (b) Wie anders het hierdie dinge ondervind, en waarom?
11 Vir heelparty is daar ander situasies wat vir hulle ’n beproewing is. Hulle ly dalk aan ’n ernstige siekte, een wat hulle van baie lewensvreugde beroof. Of hulle bevind hulle in baie moeilike geldelike omstandighede. Soms kan die kommentare van intieme metgeselle onbillik en kwetsend wees. In die geval van die aartsvader Job het Satan al hierdie metodes gebruik om hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Hoe sal ons in soortgelyke situasies reageer?—Jakobus 5:11.
12. (a) Waarom het veral Noag volharding in sy bediening nodig gehad? (b) Hoe kom dit ooreen met die situasie in ons dag?
12 Gestel andersyds dat baie min mense gunstig reageer op ons pogings om van Jehovah se voornemens te getuig. Dit sou ook volharding verg. Onthou, gedurende al die jare voor die Vloed dat Noag gepreek het, het net sy vrou en sy seuns en hulle vrouens by hom aangesluit in Jehovah se diens. Die res van die mensdom het ‚nie daarop ag geslaan nie’ (Mattheüs 24:39, NW). Die meeste mense slaan vandag ook nie daarop ag nie. Maar op party plekke waar daar voorheen weinig gunstige reaksie op die Koninkryksboodskap was, is daar nou ’n ryk oes van aanbidders van die ware God. Gelukkig is diegene wat die jare van onverskilligheid of openlike teenstand verduur het en nou aan hierdie wonderlike insameling deelneem!
‚GELUKKIG IS DIE WAT BEPROEWING BLY VERDUUR’
13. (a) Wat moet ons goed in gedagte hou as ons wil volhard? (b) Wat moet ons besef in verband met Satan se metodes?
13 As ons nie die wonderlike vooruitsig van lewe in die „nuwe aarde” wil verloor nie, is dit noodsaaklik dat ons die groot geskil voor die hele skepping—die geskil oor universele soewereiniteit—goed in gedagte hou. Staan ons onversetlik aan Jehovah se kant? Besef ons terdeë dat daar net twee kante is, dat daar geen neutrale grond is nie? As ons nie slagoffers in hierdie oorlog wil wees nie, moet ons besef dat Satan sowel vyandigheid as verlokking gebruik om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee, om ons ongehoorsaam aan God te maak, om ons weg te keer van die lewensbelangrike werk om van die Messiaanse Koninkryk te getuig.—1 Petrus 5:8, 9; Markus 4:17-19.
14. (a) Wat moet ons verkry, en in wie? (b) Hoe sal hy ons help?
14 Ons moet ook leer om volkome op Jehovah te vertrou. Hoe dwaas sou dit tog nie wees om die subtiele strikke van ’n bomenslike vyand in ons eie krag te probeer vermy nie! Maar as ons met ons hele hart op Jehovah vertrou, sal ons nader aan hom kom wanneer ons beproewing verduur en voor versoeking te staan kom (Efesiërs 6:10, 11; Spreuke 3:5, 6). Jehovah dwing ons nie om ’n sekere koers in te slaan nie. Hy sal ons nie teen ons sin lei nie. Maar as ons ons na sy Woord wend vir leiding, tot hom bid vir krag en na aan sy organisasie bly, sal hy ons voetstappe rig. Hy sal ons versterk met hernieude blyke van sy onfeilbare liefde.—Romeine 8:38, 39.
15. (a) Wie moet eerste in ons lewe kom? (b) Hoe moet ons situasies beskou wat ons geloof op die proef stel?
15 Die beproewinge en versoekings wat jy deurmaak, sal vir jou ’n toets wees. Wie stel jy eerste in jou lewe? Satan hou vol dat ons almal hoofsaaklik oor onsself begaan is. Die meeste mense is ook. Jesus Christus was anders. Is jy? Het jy geleer om die verheerliking van Jehovah se naam eerste te stel? In daardie geval sal jy nie situasies wat jou geloof op die proef stel, probeer ontduik nie, maar sal jy hulle eerder vierkant onder die oë sien en tot Jehovah bid vir wysheid sodat jy sulke toetse kan gebruik om hom te eer. Die verdrukking wat jy ondergaan, sal volharding bewerk; volharding uit liefde vir Jehovah sal tot sy goedkeuring lei. „Gelukkig is die man wat beproewing bly verduur, want nadat hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat Jehovah beloof het aan die wat hom liefhet.”—Jakobus 1:2-4, 12, NW; Romeine 5:3, 4, NAV.
16. Na watter doelwit moet ons strewe?
16 Dit is nie genoeg om bloot ’n begin te maak in Jehovah se diens en dan ’n kort rukkie te volhard nie. Ons is in ’n wedloop, en die prys gaan aan die wat die eindstreep haal. Gelukkig sal almal wees wat hulle steeds inspan en wie se oë nog stip op die prys gevestig is wanneer hierdie ou stelsel tot niet gaan! Watter heerlike vooruitsig wag dan op hulle!—Hebreërs 12:1-3; Mattheüs 24:13.