Hoofstuk 11
Oorlewendes moet “nie van die wêreld” wees nie
1, 2. (a) Wat het Jesus oor sy dissipels se verhouding met die wêreld gesê? (b) Wat beteken dit nie, en waarom nie?
WAT het Jesus bedoel toe hy gesê het dat sy volgelinge “in die wêreld” is en dat hulle nogtans “nie van die wêreld” of “geen deel van die wêreld” is nie? (Johannes 17:11, 14, vgl. NW). As ons behoue wil bly om in God se Nuwe Orde te lewe, moet ons dit verstaan.
2 Kom ons kyk eers wat dit nie beteken om “nie van die wêreld” te wees nie. Dit beteken nie dat ons ons soos kluisenaars in ’n grot afsonder of dat ons in ’n klooster of ander afgeleë plek moet gaan woon nie. Inteendeel, die nag voor sy dood het Jesus ten behoewe van sy dissipels tot sy Vader gebid en gesê: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 17:15, 16.
3, 4. (a) In watter bedrywighede kom Christene noodwendig met mense van die wêreld in aanraking? (b) Maar wat moet hulle vermy?
3 In plaas dat Jesus se dissipels versteek was, is hulle “in die wêreld gestuur” om die waarheid te verkondig (Johannes 17:18). Sodoende was hulle “die lig van die wêreld” deur die waarheidslig te laat skyn sodat mense kon sien hoe God se waarheid mense se lewens ten goede beïnvloed.—Mattheüs 5:14-16.
4 Christene kom met baie mense in aanraking terwyl hulle werk om hulself en hul gesinne te onderhou en terwyl hulle die goeie nuus van God se Koninkryk aan die mensdom verkondig. Soos die apostel Paulus toon, word daar gevolglik nie van hulle verwag om fisies gesproke “uit die wêreld” uit te gaan nie. Hulle kan nie geheel en al ophou om met mense van die wêreld “om te gaan” nie. Maar hulle kan en moet wegbly van die verkeerde gebruike van die meerderheid van die mensdom.—1 Korinthiërs 5:9-11.
5. Hoe word die nodige afgeskeidenheid van die wêreld toegelig in die geval van Noag en sy gesin?
5 Die situasie kom ooreen met dié van Noag se dag, toe Jehovah opgemerk het dat ‘elke mens op aarde se lewe verrot was’ (Genesis 6:12, NAV). Maar Noag en sy gesin het anders gelewe. Deur te weier om mee te doen aan die verdorwenheid om hulle en deur geregtigheid te verkondig, het Noag “die wêreld veroordeel”. Hy het getoon dat dit onvergeeflik strydig met God se wil was (Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5). Dit is waarom hy en sy gesin behoue gebly het toe die wêreldvloed ’n einde aan die goddelose mensdom gemaak het. Hulle was “in die wêreld”, maar terselfdertyd “nie van die wêreld nie”.—Genesis 6:9-13; 7:1; Mattheüs 24:38, 39.
Wat is gepaste liefde vir die mense van die wêreld?
6. Is dit gepas om enige liefde teenoor mense van die wêreld te toon?
6 Beteken die feit dat ’n mens nie meer “van die wêreld” is nie dat jy ’n mensehater word? Dit sal ’n mens oneens maak met Jehovah God, want sy Seun Jesus het gesê: “So lief het God die wêreld [van die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” God se goedheid en barmhartigheid teenoor allerhande mense stel vir ons die voorbeeld.—Johannes 3:16; Mattheüs 5:44-48.
7, 8. (a) Wat sê die Bybel oor liefde vir die wêreld? (b) Wat is die wêreld waarvan ons afgeskeie moet wees? (c) Waarom moet ons die wêreld en sy begeertes vermy?
7 Maar sê die apostel Johannes dan nie vir ons nie: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie”? Waarom het die apostel dit gesê, as God self die wêreld liefhet?—1 Johannes 2:15.
8 Die Bybel toon dat God die wêreld van die mensdom bloot as mense liefhet, mense wat in ’n onvolmaakte, sterwende toestand is en hulp dringend nodig het. Satan het andersyds die meerderheid van die mensdom teenstanders van God gemaak. Dit is van daardie “wêreld”—die mensegemeenskap wat van God vervreem en onder Satan se beheer is—dat ware Christene afgeskeie moet wees (Jakobus 1:27). God se Woord waarsku ons om nie die verkeerde begeertes en dade van daardie wêreld lief te hê nie: “Alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:15-17.
9, 10. (a) Hoe kan daar gesê word dat hierdie begeertes “uit die wêreld” is? (b) Watter uitwerking het hierdie begeertes op die mensdom gehad?
9 Ja, daardie begeertes van die vlees en van die oë en die sug na selfverheerliking is beslis “uit die wêreld”. Dit is wat in die mensdom se eerste ouers ontwikkel het en hulle onafhanklikheid van God laat nastreef het sodat hulle selfsugtige belange kon najaag. Die uitlewing van hierdie selfsugtige, wêreldse begeertes het tot die verbreking van God se wette gelei.—Genesis 3:1-6, 17.
10 Dink ’n bietjie na oor wat jy om jou sien. Bou die meeste mense nie hulle lewe om die begeertes van die vlees en van die oë en om “die grootsheid van die lewe” nie? Is dit nie hierdie dinge wat gestalte gee aan hulle verwagtinge en belange, wat bepaal hoe hulle optree en mekaar behandel nie? As gevolg hiervan is die mensegeskiedenis net ’n lang verhaal van tweedrag en oorlog, van onsedelikheid en misdadigheid, van kommersiële hebsug en verdrukking, van trotse ambisie en van ’n gejaag na roem en mag.
11. Waarom is God se liefde vir die wêreld dan nie strydig met wat sy Woord veroordeel nie?
11 Ons kan dus sien dat liefde vir die wêreld soos God dit liefhet hemelsbreed verskil van liefde vir die verkeerde begeertes en gebruike daarvan wat Hy veroordeel. God se liefde vir die mensdom het die weg geopen om van daardie sondige begeertes en hulle slegte gevolge, onder meer die dood self, bevry te word. Hy het daardie liefde bewys deur sy eie Seun te gee om die mensdom vry te koop. Maar as enigiemand daardie offerande verwerp en ongehoorsaam bly, sê die Bybel: “Die toorn van God bly op hom.”—Johannes 3:16, 36; Romeine 5:6-8.
Hoe om onder die beheer van “die owerste van hierdie wêreld” uit te bly
12. Hoe kan ons ontleed of die liefde wat ons vir mense van die wêreld koester vir God welgevallig is of nie?
12 Wel, wat van ons? Het ons mense in die wêreld “lief” in die sin dat ons hulle opreg wil help om die weg tot die lewe in God se guns te vind? Of het ons juis dié dinge lief wat hulle verhinder om God se knegte te word—hulle gees van onafhanklikheid, hulle opsigtige vertoon van hulle middele, hulle vertroue in hul eie belangrikheid en roem? As ons daarvan hou om by mense met sulke hoedanighede te wees, dan het ons ‘die wêreld lief’ op die wyse wat deur die apostel veroordeel is.
13. Hoe kan liefde vir die wêreld ’n mens verhinder om God te dien?
13 Baie mense in Jesus se dag het die wêreldse weë liefgehad. Daarom het hulle nie ’n onverskrokke standpunt as Jesus se dissipels ingeneem nie. Hulle wou nie hulle gewildheid en posisie onder die mense in hulle sosiale en godsdienstige kringe verloor nie. Hulle het die lof van mense liewer gehad as die goedkeuring van God (Johannes 12:42, 43). Sommige het weliswaar liefdewerke en ander godsdienstige dade verrig. Maar hulle het dit hoofsaaklik gedoen omdat hulle wou hê dat ander hulle moes vereer (Mattheüs 6:1-6; 23:5-7; Markus 12:38-40). Sien jy nie dat mense vandag dieselfde liefde vir die wêreld se verkeerde weg openbaar nie? Die Bybel toon egter dat hierdie soort “liefde” slegs tot vernietiging kan lei.
14. Deur wie is Jesus versoek toe hy op die aarde was, en wat was die uitslag?
14 God se eie Seun is in hierdie selfde opsigte aan versoeking onderwerp. Daar is gepoog om die selfsugtige begeerte by hom te wek om ’n opsigtige vertoon te maak om mense te beïndruk—om soos die wêreld te word. Hy is selfs heerskappy oor al die nasies van die wêreld en hulle heerlikheid aangebied. Maar hy het daardie beroepe op selfsugtige begeertes summier verwerp. Hierdie beroepe is gedoen deur dieselfde persoon wat aanvanklik Jehovah God se soewereiniteit bevraagteken het, naamlik Satan die Duiwel.—Lukas 4:5-12.
15. Toon uit jou Bybel wie “die owerste van hierdie wêreld” is.
15 Kennis van Satan se aanbod van heerskappy aan Jesus is noodsaaklik om te begryp waarom ons “nie van die wêreld” moet wees nie. Dit toon dat die wêreld van die mensdom oor die algemeen, met inbegrip van sy regeringsvorme, God se Teenstander as sy onsigbare heerser het. Jesus self het van Satan gepraat as “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30; 2 Korinthiërs 4:4). Die apostel Paulus het ook gesê dat “bose geeste”, demone onder Satan se beheer, die onsigbare “wêreldheersers van die duisternis” uitmaak. Paulus het Christene attent gemaak op die behoefte aan geestelike wapenrusting om hulle teen hierdie ‘heersers’ te verdedig.—Efesiërs 6:10-13.
16. Hoeveel van die wêreld is deur Satan verlei en is in sy mag?
16 Slegs ’n minderheid het hulle nie deur hierdie onsigbare heerser en sy magte laat beheer nie. Die “wêreld”, dit wil sê, die mag der menigte mense wat van God vervreemd is, lê gevolglik “in die mag van die Bose”. Deur middel van demoninvloed ‘verlei hy die hele wêreld’, aardse heersers inkluis, en lei hy hulle op ’n weg teen God en sy Koninkryk.—1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9; 16:13, 14; 19:11-18.
17. (a) Wat bewys die gesindheid wat deur die wêreld geopenbaar word aangaande die een wat die mensdom lei? (b) Sal dit die Skepper behaag as ons so ’n gees openbaar?
17 Dit klink dalk vergesog. Maar openbaar die meeste mense van hierdie wêreld nie duidelik die gesindheid en werke van God se Teenstander nie? Oor die hele wêreld sien ons leuens, haat, geweld en moord wat diegene kenmerk wat ‘uit die Duiwel’ is omdat hulle hom as hulle geestelike “vader” het (1 Johannes 3:8-12; Johannes 8:44; Efesiërs 2:2, 3). Hierdie gees kom sekerlik nie van ’n liefdevolle Skepper af nie.
18. Hoe toon ons gesindheid teenoor heerskappy of ons vry van die beheer van “die owerste van hierdie wêreld” is?
18 En vertrou die oorgrote meerderheid van die mensdom nie op menseplanne om vrede en veiligheid te bring nie? Hoeveel mense ken jy wat werklik op God en sy Koninkryk as die oplossing vir die mensdom se probleme vertrou? Hulle vertroue op menslike politieke stelsels is egter misplaas, soos Jesus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Hierdie wêreld is nie die “bron” van sy Koninkryk nie, want mense het dit nie opgerig of aan die bewind gehou nie. Dit is God se eie voorsiening (Johannes 18:36, vgl. NW; Jesaja 9:5, 6). As ons onder diegene wil wees wat hoop om behoue te bly wanneer daardie Koninkryk teen al sy teenstanders kom, moet ons dus die nugtere feit erken dat Satan oor hierdie wêreld en die stelsels daarvan heers. Dit sluit politieke reëlings soos die Verenigde Volke in. Ons moet vry van al hierdie dinge bly deur onwrikbaar standpunt in te neem vir Jehovah se regverdige regering in die hande van Christus Jesus.—Mattheüs 6:10, 24, 31-33.
19. Hoe het die vroeë Christene, volgens die geskiedenis, getoon dat hulle “nie van die wêreld” was nie?
19 Die geskiedenis toon dat die vroeë Christene eerbiedige, wetsgehoorsame burgers was. Maar hulle was vasbeslote om “nie van die wêreld” te wees nie, selfs al het dit vir hulle vervolging meegebring. Ons lees verklarings soos die volgende:
“Die vroeë Christelike godsdiens is weinig verstaan en is met min guns bejeën deur diegene wat oor die heidense wêreld geheers het. . . . Die Christene het geweier om sekere pligte van Romeinse burgers na te kom. . . . Hulle wou geen politieke amp beklee nie.”—On the Road to Civilization, A World History.57
“Hulle het geweier om enige aktiewe deelname te hê aan die burgerlike administrasie of die militêre verdediging van die ryk. . . . Dit was vir die Christene onmoontlik om die rol van soldate, van magistrate of van vorste aan te neem sonder om ’n heiliger plig te verloën.”—History of Christianity.58
“Origenes [wat in die tweede en derde eeu van die Gewone Jaartelling gelewe het] . . . merk op dat ‘die Christelike Kerk nie aan oorlog teen enige nasie kan deelneem nie. Hulle het by hulle Leier geleer dat hulle kinders van die vrede is.’ Gedurende daardie tydperk het baie Christene ’n marteldood gesterf omdat hulle geweier het om militêre diens te doen.”—Treasury of the Christian World.59
20. Van watter verdelende bedrywighede van die wêreld onthou Jehovah se knegte hulle om nie deur “die owerste van hierdie wêreld” beheer te word nie?
20 Omdat hulle nie betrokke raak by die wêreld se aangeleenthede nie, dra Jehovah se knegte nie by tot die verdelende nasionalisme, die rassisme of die maatskaplike botsinge daarvan nie. Hulle Godgerigte gesindheid bevorder vrede en veiligheid onder allerhande mense (Handelinge 10:34, 35). Die oorlewendes van die komende “groot verdrukking” sal inderdaad “uit alle nasies en stamme en volke en tale” kom.—Openbaring 7:9, 14.
Vriende van die wêreld of vriende van God?
21. Waarom kan iemand wat die Bybel volg nie ook verwag dat die wêreld hom moet liefhê nie?
21 Jesus het vir sy dissipels gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. . . . As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:19, 20). Die eenvoudige waarheid is dat daar net een manier is waarop ’n mens die wêreld se vriendskap kan geniet, en dit is om soos die wêreld te word—om die begeertes, ambisies en vooroordele daarvan jou eie te maak, om die denkwyse en filosofieë daarvan te bewonder en om die gebruike en weë daarvan na te volg. Maar die ondersteuners van hierdie wêreld hou nie daarvan dat hulle dwalinge aan die kaak gestel word of dat hulle gewaarsku word teen die gevare wat hulle handelwyse inhou nie. Dit is waarom iemand wat die Bybel se leringe in sy gedrag en lewenswyse toepas en die Bybel verdedig eenvoudig nie die wêreld se haat kan vryspring nie.—Johannes 17:14; 2 Timotheüs 3:12.
22. Voor watter keuse ten opsigte van vriendskap staan elkeen van ons?
22 Die Bybel toon derhalwe dat ons ’n duidelike keuse het. In Jakobus 4:4 lees ons: “Weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” God het ook sy standaarde vir vriendskap, en dit verskil van dié van die wêreld van die sondige mensdom.—Psalm 15:1-5.
23. (a) Wat toon dat iemand ’n vriend van die wêreld is? (b) Hoe kan ons toon dat ons vriende van God is?
23 Of ons God se vriendskap geniet, hang nie net daarvan af of ons aan sekere van hierdie wêreld se organisasies behoort of nie daaraan behoort nie. As ons die wêreld se gees openbaar en die lewensbeskouing daarvan deel, identifiseer ons onsself as vriende van die wêreld, nie van God nie. Die wêreld se gees bring “die werke van die vlees” soos “owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge” voort. Die Bybel sê onomwonde dat “die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie”. As ons andersyds God se vriende is, sal ons sy gees hê met die vrugte daarvan, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:19-22.
24. (a) Waarom is dit onverstandig om navolgers te word van persone wat deur die wêreld vereer word? (b) Hoe kan ons gesindheid teenoor materiële besittings toon wie se vriendskap ons eintlik soek?
24 Wie se gees weerspieël ons? Dit sal ons help om te bepaal wie se vriende ons werklik is. Daar ons onderworpe is aan die invloed van hierdie teenswoordige, bose wêreld, moet ons nie verbaas wees as ons vind dat ons veranderinge in ons lewe moet aanbring om God te behaag nie. Wêreldse mense vereer en verheerlik byvoorbeeld diegene wie se ambisie hulle tot groot rykdom, mag of roem voer. Mense skoei hulle op die lees van sulke wêreldse helde en volg hulle spraak, gedrag, voorkoms en kleredrag na. Wil jy as ’n bewonderaar van sulke mense geïdentifiseer word? Hulle prestasies is net mooi die teenoorgestelde van wat God se Woord ons aanspoor om ons lewensdoelwitte te maak. Die Bybel spoor ons aan om geestelike rykdom en krag na te streef, asook die eer om as God se verteenwoordigers en woordvoerders op aarde op te tree (1 Timotheüs 6:17-19; 2 Timotheüs 1:7, 8; Jeremia 9:23, 24). Die wêreld se kommersiële propaganda maak mense materialisties en laat hulle glo dat geluk van besittings afhang. Hulle heg gevolglik baie meer gewig daaraan as aan dinge met geestelike waarde. Ja, as jy die wêreld se weg bewandel, sal dit vir jou die wêreld se vriendskap verkry. Maar so sal jy God se vriendskap verbeur. Wat beteken vir jou die meeste? Wie se vriendskap sal tot groter en blywender geluk lei?
25. (a) Wat moet ons van die wêreld verwag wanneer ons sy weë vaarwel sê? (b) Wat sal ons in staat stel om werklik ‘ons gemoed te vernuwe’ om dinge soos God te beskou?
25 Dit is maklik om te swig en die wêreld se voorbeeld te volg. En vanweë sy slegte gees sal die ondersteuners van hierdie wêreld nie daarvan hou as jy ’n ander weg inslaan nie (1 Petrus 4:3, 4). Daar sal druk op jou uitgeoefen word om te konformeer, om jou deur die wêreldse mensegemeenskap na sy gelykenis te laat vorm. Die wêreld se wysheid, sy filosofieë oor wat tot sukses in die lewe lei, sal gebruik word in ’n poging om jou denke te beheer. Dit verg gevolglik groot inspanning en geloof om ‘jou gemoed te vernuwe’ om dinge uit God se oogpunt te sien en te verstaan waarom ‘die wysheid van hierdie wêreld dwaasheid by God is’ (Romeine 12:2; 1 Korinthiërs 1:18-20; 2:14-16; 3:18-20). As ons God se Woord ywerig bestudeer, kan ons sien wat agter die wêreld se valse wysheid skuil. Ons kan sien watter skade sulke “wysheid” reeds aanrig, en die rampspoedige einde waarop dit noodwendig moet afstuur. Dan kan ons ook die wysheid van God se weg en die gewisse seëninge wat dit waarborg ten volle waardeer.
Dit is nutteloos om jou lewe en energie aan ’n verbygaande wêreld te wy
26. Sou dit verstandig wees om by die bedrywighede van humanitêre organisasies van die wêreld betrokke te raak met die oog daarop om toestande te verbeter?
26 Sommige kan beswaar maak: ‘Maar baie van die wêreld se organisasies doen goed en beywer hulle vir die beskerming, gesondheid, opvoeding en vryheid van die mense.’ Sekere organisasies bring wel tydelike verligting van ’n paar van die mens se probleme. Hulle is egter almal ’n deel van die wêreld wat van God vervreem is. En dit laat mense opgaan in maniere om hierdie teenswoordige stelsel te verewig. Nie een van hulle staan God se regering vir die aarde, sy Koninkryk in die hande van sy Seun, voor nie. Selfs sommige misdadigers kan immers gesinne grootmaak, vir hulle sorg en liefdewerke vir die gemeenskap verrig. Maar sou hierdie dinge dit reg maak om misdadige organisasies in enige opsig te ondersteun?—Vergelyk 2 Korinthiërs 6:14-16.
27. Wat is die enigste manier waarop ons mense in hierdie wêreld kan help om onder die oorlewendes te wees wat in God se Nuwe Orde ingaan?
27 Kan ons werklik ware liefde vir die mensdom toon deur enige van die wêreld se planne te onderskryf en tyd en energie daaraan te wy? Sal jy, as jy ’n sieke wil help, so nou met die persoon omgaan dat jy dieselfde siekte opdoen? Sal jy nie eerder ’n baie groter hulp wees as jy self gesond bly en die persoon probeer help om gesond te word nie? Die teenswoordige mensegemeenskap is geestelik siek. Nie een van ons kan dit red nie, want God se Woord toon dat dit ’n dodelike siekte onder lede het. (Vergelyk Jesaja 1:4-9.) Maar ons kan wel individue in die wêreld help om die weg na geestelike gesondheid en oorlewing tot in God se Nuwe Orde te vind—mits ons afgeskeie van die wêreld bly (2 Korinthiërs 6:17). Wees dus verstandig en moenie by die wêreld se planne betrokke raak nie. Stry hard sodat jy nie met die gees van die wêreld besmet raak en die onregverdige weë daarvan navolg nie. Moet nooit vergeet nie: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.