Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 3 bl. 21-28
  • Die “Vredevors” se heerskappy te midde van vyande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “Vredevors” se heerskappy te midde van vyande
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groter vervulling van Psalm 2
  • “Die Seun van Dawid” word in die hemel op die troon geplaas
  • ’n Verlaagde Duiwel voer oorlog
  • “Die verordening van Jehovah” kan nie misluk nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Die Israel van God” en die einde van die Heidense Tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Die universele geskil word vir goed besleg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 3 bl. 21-28

Hoofstuk 3

Die “Vredevors” se heerskappy te midde van vyande

1, 2. (a) Watter afskeidswoorde het Jesus Christus tot ’n groep van sy dissipels gerig? (b) Het dit wêreldbekering vereis voordat hy as die “Vredevors” sou heers?

KORT voor sy hemelvaart meer as 19 eeue gelede het die destyds toekomstige “Vredevors”, Jesus Christus, hierdie afskeidswoorde tot ’n groep van sy getroue dissipels gerig: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees . . . En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:19, 20.

2 Vereis daardie woorde van Jesus wêreldbekering voor “die voleinding van die wêreld” wat in 1914 begin het? Nee. Vandag, na aan die einde van hierdie 20ste eeu, is die wêreld van die mensdom nog glad nie tot Jesus Christus as sy Verlosser en regmatige Koning bekeer nie. Dit het egter nie die ontplooiing van wat Jehovah in die profesieë van die Bybel voorspel het, vertraag nie. Dit was nooit God se voorneme dat die hele wêreld van die mensdom bekeer moes word voordat Jesus Christus as die “Vredevors” begin heers het nie. Inteendeel, daar is voorspel dat hy te midde van sy vyande sou begin heers.

3. Hoe het Jesus se verwysing na Psalm 110 getoon dat hy te midde van vyande sou heers?

3 Selfs toe Jesus Christus hier op aarde was, was hy bewus van hierdie feit. Kort voor sy dood as ’n martelaar was hy gewikkel in ’n woordestryd met sy godsdiensteenstanders en het hy na Psalm 110 verwys. Ons lees hiervan in Lukas 20:41-44: “Toe sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is? En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete. Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?”

4-6. (a) Hoe toon Psalm 2 eweneens dat dit nie vir Jesus nodig was om eers op wêreldbekering te wag voordat hy as die “Vredevors” kon begin heers nie? (b) Wanneer is Psalm 2:7 vervul?

4 Dit is dus duidelik dat Jesus Christus, as die Seun van Dawid, nie ná wêreldbekering sou begin heers nie. Hy sou eerder begin heers te midde van die vyande wat Jehovah God deur middel van oorlogvoering uiteindelik die voetbank van sy gekroonde Seun se voete sou maak. Psalm 2 toon eweneens met die volgende woorde dat die “Vredevors” te midde van vyande sou begin heers:

5 “Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne—en dit tevergeefs? Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: ‘Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!’ Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop: ‘Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.’

6 “Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my [Christus] gesê: ‘Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword. [Psalm 2:7 is vervul toe Jehovah sy Seun uit die dood opgewek en aldus ’n ewige Vader vir Jesus geword het (Romeine 1:4).] Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot.’ Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.”—NAV.

7. Hoe het Jesus Christus se apostels ná Pinksterdag na Psalm 2 verwys?

7 Volgens Handelinge 4:24-27 het die apostels van Jesus Christus ná Pinksterdag, 33 G.J., na hierdie tweede psalm verwys: “Hulle [het] almal saam tot God gebid en gesê: ‘Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is.’”—NAV.

Die groter vervulling van Psalm 2

8. (a) Wanneer is Psalm 2:1, 2 die eerste keer vervul? (b) Van wanneer af vind die groter vervulling van Psalm 2 plaas?

8 Die jaar 33 van die eerste eeu het die eerste vervulling van daardie profetiese woorde van Psalm 2:1, 2 gesien. Dit was in verband met die man Jesus Christus op aarde. Ten tye van sy doop deur Johannes die Doper is hy met Jehovah se heilige gees gesalf. Maar die groter vervulling van Psalm 2 vind plaas sedert die einde van die Heidense Tye in die jaar 1914 (Lukas 21:24). Daar is oorvloedige bewys dat die vasgestelde “tye van die nasies”, wat met die eerste vernietiging van die stad Jerusalem in 607 v.G.J. begin het, in die jaar 1914 geëindig het.a Dit was toe dat die doodsklok vir die nasies van hierdie wêreld, dié van die Christendom inkluis, gelui het.

9. Wat het ten tye van die eerste vernietiging van Jerusalem gebeur met die Koninkryk van God soos verteenwoordig deur die dinastie van koning Dawid?

9 Met die eerste vernietiging van Jerusalem, deur die Babiloniërs, het die Koninkryk van Jehovah God oor die nasie Israel, soos deur die dinastie van koning Dawid verteenwoordig, geëindig. Sedertdien het die natuurlike Jode nie ’n koning van die dinastie van Dawid oor hulle gehad nie. Maar die Koninkryk van die allerhoogste God in die hande van ’n afstammeling van Dawid, met wie Jehovah ’n verbond vir ’n ewige Koninkryk in sy geslag gesluit het, sou nie vir ewig plat op die aarde lê nie.

10, 11. (a) Wat het God deur sy profeet Esegiël oor die troon van Dawid gesê? (b) Wie het gekom met die “reg” op Dawid se troon? (c) Wat het die skare Jode gesê toe hy hom as die wettige erfgenaam aangebied het?

10 Kort voor die eerste vernietiging van eertydse Jerusalem het Jehovah sy profeet Esegiël die volgende woorde tot die koning van daardie stad laat rig: “En jy, onheilige, goddelose, vors van Israel, wie se dag gekom het in die tyd van die uiteindelike afrekening—so sê die Here HERE: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is! Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.”—Esegiël 21:25-27.

11 Die een “wat daarop reg het”, het gekom in die persoon van Jesus Christus, en sy afstamming van Dawid is in Mattheüs 1:1-16 en Lukas 3:23-31 opgeteken. Hy is algemeen as “die Seun van Dawid” aangespreek. Op die dag van sy triomftog in Jerusalem in op die rug van ’n esel ter vervulling van profesie, het die opgetoë skare Jode wat hom en sy apostels vergesel het, jubelend uitgeroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!”—Mattheüs 21:9.

“Die Seun van Dawid” word in die hemel op die troon geplaas

12. Waar is Jesus Christus as Dawid se permanente erfgenaam op die troon geplaas toe die Heidense Tye in 1914 geëindig het?

12 Die 2 520 jaar waartydens die Heidene die Koninkryk van God in die hande van die huis van Dawid sou vertrap, het in 1914 geëindig. Toe het die tyd aangebreek vir Jesus Christus, “die Seun van Dawid”, om op die troon geplaas te word, nie op ’n aardse troon hier benede nie, maar in die hoogste hemele aan die regterhand van Jehovah God!—Daniël 7:9, 10, 13, 14.

13. (a) Sedert watter jaar is die aandag op 1914 as die einde van die Heidense Tye gevestig, en deur wie? (b) Wat was die nasies van die aarde se gesindheid teenoor die pas ingehuldigde “Seun van Dawid”?

13 Diegene wat verbonde geraak het aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap het sedert 1876 die aandag op daardie betekenisvolle jaar gevestig. Maar die nasies van die aarde, selfs dié van die Christendom, het geweier om te erken dat die tyd vir hulle aangebreek het om hulle aardse soewereiniteite aan die pas ingehuldigde “Seun van Dawid” oor te gee. Hulle het nie erken dat hy die Godgegewe reg het op soewereiniteit oor die hele aarde, wat Jehovah God se voetbank is nie (Mattheüs 5:35). Hulle het hulle flagrante verwerping van die regmatige Koning getoon deur aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem.

14. (a) Watter gesindheid het die nasies met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog geopenbaar teenoor die Christene wat aan die Wagtoringgenootskap verbonde was? (b) Wat dui die wêreldsituasie in die lig hiervan aan?

14 In al die strydende nasies is daar geweldige druk uitgeoefen op die toegewyde Christene wat aan die Wagtoringgenootskap verbonde was om af te sien van hulle voorneme om vry van bloedskuld te bly. Hulle het nie destyds die vereiste van Christelike neutraliteit ten volle verstaan nie. Die profesie van “die Seun van Dawid”, Jesus Christus, aan sy dissipels oor “die voleinding van die wêreld” is pynlik bewaarheid: “Julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Mattheüs 24:9). Hierdie haat het nie sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog afgeneem nie. Wat dui die wêreldsituasie in die lig van hierdie betekenisvolle feite van eietydse geskiedenis aan? Die volgende: Die “Vredevors” heers te midde van vyande wat reg hier op aarde is!

15. Wat het met Satan die Duiwel en sy demonhordes gebeur toe oorlog in die hemel uitgebreek het, en teen watter jaar was daar geen twyfel meer oor die uitslag nie?

15 Die almagtige God het gesorg dat die beloofde Messiaanse Koninkryk op sy bestemde tyd gebore word ondanks al die vyande wat in die hemel en op aarde aanwesig was. Openbaring 12:1-9 toon dat daar onmiddellik na die geboorte van ‘die manlike kind’, die Koninkryk in die hemele as ’t ware uit die skoot van Jehovah se gemalin-organisasie, oorlog in die hemel self uitgebreek het. Die heilige hemele was nie langer die plek vir die simboliese draak, Satan die Duiwel, en sy demonengele nie. In hierdie oorlog, wat vir mense-oë onsigbaar was, het die koninklik ingehuldigde “Seun van Dawid” geseëvier en Satan die Duiwel en sy demonhordes uit die hemele gewerp en hulle tot die omgewing van ons aardbol beperk. Hierdie vernedering van die sataniese magte was klaarblyklik teen 1918, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, volbring.

’n Verlaagde Duiwel voer oorlog

16, 17. (a) Teen wie voer die verlaagde Satan die Duiwel oorlog? (b) Wie gebruik hy om hierdie oorlog te voer?

16 Die verlaagde Satan die Duiwel, die simboliese draak, is nou veral vertoornd op die gemalin-organisasie van Jehovah God (Openbaring 12:17). Daarom voer hy wreed oorlog teen die geesverwekte oorblyfsel van toegewyde Christene wat die bewyse het dat sy hulle geestelike moeder is.—Galasiërs 4:26.

17 Satan voer ook oorlog teen die “ander skape” wat gehoorsaam saam met die gesalfde oorblyfsel oor die Koninkryk se geboorte getuig (Johannes 10:16). Hy gebruik nie net sy verlaagde demonmagte wat nou in die omgewing van die aarde is nie, maar hy span ook die sigbare deel van sy organisasie in om hierdie oorlog teen die oorblyfsel en die “ander skape” te voer.

18. (a) Watter beskermende mag het die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle, al voer die Duiwel wreed oorlog teen hulle? (b) Watter aspek van die heerskappy van die “Vredevors” loop nou ten einde?

18 Die heerskappy van die “Vredevors” te midde van sy vyande hier op die aarde loop nou ten einde. Hy het die situasie puik hanteer. Sy lojale, heilige engele staan dag en nag op aandag, gereed om koninklike bevele van hom te ontvang en dit sonder versuim uit te voer. Hulle is ’n beskermende mag vir die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle, die “groot menigte” “ander skape”, terwyl dié voortgaan om die Koninkryksbelange te bevorder gedurende hierdie tyd wat vinnig verstryk waartydens die “Vredevors” te midde van sy vyande heers.—Openbaring 7:9.

[Voetnoot]

a Kyk bladsye 138-141 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir nadere besonderhede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel