Hoofstuk 7
Die afrekening oor die gebruik van Christus se fondse
1. Watter regering het geen ekonomiese probleme nie, en wie moet nou aan hierdie regering rekenskap gee?
DAAR is, op een na, geen regering sonder ekonomiese probleme nie. Die meeste regerings is diep in die skuld. Die een regering wat die uitsondering is, is “die koninkryk van die hemele” wat tans algemeen verkondig word (Mattheüs 25:1). Daar is nog van die aanstaande lede van daardie hemelse Koninkryk op aarde wat in die diens van daardie regering staan. Gedurende hierdie allerkritiekste tydperk in die ganse mensegeskiedenis word hierdie diensknegte van “die koninkryk van die hemele” tot verantwoording geroep. Hulle moet aan die regering rekenskap gee oor hoe hulle die waardevolle dinge wat aan hulle toevertrou is, gebruik het.
2. Waarom moet ’n gelykenis wat deur die “Vredevors” vertel is vir ons van groot belang wees?
2 Om hierdie saak toe te lig, het die vernaamste verteenwoordiger van daardie “koninkryk van die hemele” lank gelede ’n gelykenis of illustrasie vertel. Dit behoort vandag vir ons van belang te wees, want die “Vredevors” het dit ingesluit by sy verreikende profesie oor “die teken” wat sy “teenwoordigheid” in die Koninkryk met volle heersersgesag sou kenmerk (Mattheüs 24:3, NW). Ons is vandag onlosmaaklik betrokke by die gevolge wat voortspruit uit die vervulling van die profetiese gelykenis, aangesien ons voortbestaan, ons lewe, by die saak betrokke is. Hier is hoe die “Vredevors” die gelykenis ’n paar dae voor sy offerdood op Kalvarie aan sy apostels vertel het.
Die gelykenis van die talente
3. Hoe het die diensknegte die talente wat hulle voor sy vertrek van die heer ontvang het gedurende sy afwesigheid gebruik?
3 “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie. Want dit is soos ’n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talentea en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
4. Wat het die heer gesê vir die diensknegte wat die getal talente vermeerder het?
4 “En ná ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
5, 6. Watter verskoning het die derde dienskneg aangevoer vir die feit dat hy die talent versteek het, en wat het die heer met hom gedoen?
5 “En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ’n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.
6 “Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.”—Mattheüs 25:13-30.
7. Wat stel die talente voor?
7 Wat word in hierdie gelykenis deur die talente voorgestel? Iets baie kosbaars, nie in terme van geld nie, maar in ’n geestelike sin. Die talente stel die opdrag voor om dissipels van Christus te maak. Hierdie opdrag gaan gepaard met die groot voorreg om ambassadeurs vir Christus, die Koning, te wees en die Koninkryk by al die nasies van die wêreld te verteenwoordig.—Efesiërs 6:19, 20; 2 Korinthiërs 5:20, vgl. NW.
8. (a) In watter duisternis is die “luie” diensknegklas gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” gewerp? (b) Waarom geniet die wêreld van die mensdom nie die lig van God se guns en seën nie?
8 Dit ly geen twyfel dat ons vandag die hoogtepunt van die vervulling van hierdie profetiese gelykenis bereik het nie! Die donkerste tydperk in die ganse mensegeskiedenis het op hierdie geslag gedaal! Daar is voorwaar ’n gepaste duisternis buite die sigbare deel van Jehovah se organisasie waarin die “luie” en “nuttelose” diensknegklas op bevel van die Heer gegooi kan word. Die “buitenste duisternis” stel die duister toestand van die wêreld van die mensdom voor, veral in ’n godsdienstige sin. Die wêreld van die mensdom geniet nie die lig van God se guns en seën nie. Dit baai nie in die lig van die kennis van die Koninkryk van God nie. Dit is onder “die god van hierdie wêreld” wat “die ongelowiges [se] . . . sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”.—2 Korinthiërs 4:4.
9. (a) Wie word in die vervulling van die gelykenis deur die “man” afgebeeld en hoe ver het hy gereis? (b) Watter getuienis is daar dat hy teruggekeer het?
9 Die getuienis is vandag onomstootlik dat die een wat afgebeeld is deur die “man”, wat ten minste agt silwertalente besit het, van sy reise in die buiteland teruggekeer het. Daardie “man” is Christus Jesus. Sy reis in die buiteland het hom tot in die teenwoordigheid van die Skepper van die son, maan en sterre van ons heelal geneem. Om sy terugkeer aan te dui, het twee wêreldoorloë, en ook talle kleiner oorloë, ons aarde met bloed bevlek. Dit het, soos voorspel is, gepaard gegaan met hongersnode, pessiektes en aardbewings, en met die vermeerdering van die ongeregtigheid en die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” in die hele bewoonde aarde. Dit het die besonderhede vervul van wat Jesus gesê het “die teken van [sy teenwoordigheid] en van die voleinding van die wêreld” sou wees.—Mattheüs 24:3-15, vgl. NW.
10. (a) Waarom het die man na die buiteland gereis? (b) Waarom het die wêreld van die mensdom nie sy terugkeer gesien nie?
10 Hoewel Jesus se gelykenis dit nie spesifiek meld nie, het die man wat na die buiteland gereis het en ’n lang tyd afwesig sou wees, in werklikheid sy reis onderneem om “die koninkryk van die hemele”, wat vroeër in Mattheüs 25:1 gemeld is, te ontvang. Ondanks die feit dat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het Jehovah God, wie se koninkryk oor Israel in 607 v.G.J. omvergewerp is, die regmatige Erfgenaam van die Koninkryk in 1914 G.J., op die bestemde tyd vir die beëindiging van die vertrapping, op die troon geplaas. Nee, die Heidense nasies het nie die inhuldiging van die Een wat koning Dawid “my Here” genoem het met hulle natuurlike oë gesien nie (Psalm 110:1). Hulle kon nie, want die man van die gelykenis, Jesus Christus, het die volgende vir sy dissipels gesê voordat hy na die buiteland vertrek het: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie.”—Johannes 14:19.
11. (a) Wat sou ’n deel wees van die teken wat sy terugkeer en teenwoordigheid kenmerk? (b) Wanneer sou dit plaasvind?
11 Aangesien Christus se ontvangs van hemelse Koninkryksmag vir mense-oë onsigbaar was, moes hy sy teenwoordigheid in die hemelse Koninkryk laat blyk deur die teken wat die apostels drie dae voor sy marteldood van hom gevra het. ’n Deel van daardie oortuigende teken sou wees dat die man uit die buiteland sou terugkeer en sou afreken met sy diensknegte aan wie hy die uiters waardevolle talente toevertrou het. Aangesien dit die geval is, sou die afrekening met diegene wat begunstig was met die gebruik van die talente ná 1914 plaasvind.
12. (a) Op wie rus die verpligting om die leiding in die Koninkryksgetuieniswerk te gee? (b) Waarvan hang hulle uiteindelike redding af?
12 Dit sou beteken dat daar afgereken word met diegene wat erfgename van “die koninkryk van die hemele” is. Dit sou afrekening beteken met die oorblyfsel van daardie Christelike liggaam, wat vanaf Pinksterdag van die jaar 33 G.J. deur God se gees verwek is (Handelinge, hoofstuk 2). Gedurende die “voleinding van die wêreld” van 1914 af sou daar ’n oorblyfsel van hulle op aarde wees. Dit is op hulle dat die verpligting sou rus om die leiding te gee in die vervulling van Jesus se profesie vir daardie tyd: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). En die verantwoordelikheid rus op hulle om tot die einde toe getrou te wees sodat hulle gered kan word en die Koninkryk van die hemele kan ontvang (Mattheüs 24:13). Met die oog op hulle uiteindelike redding het die almagtige God hulle versterk om tot nou toe te volhard ondanks wêreldwye vervolging. Hierdie feit toon dat hulle sy goedkeuring wegdra!
Valse aanspraakmakers op die talente
13. (a) Wie maak daarop aanspraak dat sy die talente ontvang het? (b) Wat is ons oordeel van haar?
13 Die Christendom maak daarop aanspraak dat die talente van die ryk man in Jesus se gelykenis eerbaar aan haar toevertrou is. Maar wat is ons oordeel wanneer ons haar handelwyse sedert 1914 in aanmerking neem? Dit: Sy het nie haar aansprake gestand gedoen nie. Sy was ontrou aan die man van die gelykenis en het haar met die koninkryke van hierdie wêreld verbind; die politici van hierdie wêreld se regerings is haar minnaars. Sy steun nog steeds die Verenigde Volke, die opvolger van die ontbinde Volkebond.
14. Waar vind ons die valse Christendom vandag?
14 Sy kom nie eens ooreen met die dienskneg wat die een talent ontvang het, wat lui was en wat nie die besittings van sy heer vermeerder het nie. In hierdie tydperk sedert die klimaks van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 is die valse Christendom beslis aan die kaak gestel as ’n groep wat nog altyd in die duisternis buite die Heer se goed verligte huis was. Dit is, figuurlik gesproke, in die middel van die nag en daar buite in die wêreld dat haar geween en die gekners van haar tande reeds begin het. Dit sal toeneem wanneer haar politieke minnaars haar aanval en naak maak as die laakbaarste deel van die ganse Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens.
Die “slegte dienskneg”-klas word uitgewerp
15. Wie kom vandag met die lui dienskneg ooreen, en waar bevind hulle hulle nou?
15 Diegene wat inderdaad ’n deel van die geesgesalfde oorblyfsel was en aan wie Koninkrykskosbaarhede toevertrou is, maar wat opgehou het om hulle in te span om die belange van die teruggekeerde Heer te vermeerder, is eweneens uit die Heer se koninklike diens gewerp (Mattheüs 24:48-51). Ons vind nie meer dat die lui “slegte dienskneg”-klas “hierdie evangelie van die koninkryk” verkondig nie. Hulle lê hulle eerder toe op hulle persoonlike redding in plaas van die belange van God se Koninkryk. Hulle bevind hulle nou in “die buitenste duisternis”, waar die wêreld van die mensdom is. Hulle simboliese talent is van hulle weggeneem en gegee aan die klas wat getoon het dat hulle bereid is om daardie talent gedurende die oorblywende deel van hierdie “voleinding van die wêreld” te gebruik.
16. (a) Vir watter gebruik van die figuurlike talente is dit nou die allergunstigste tyd? (b) Watter verpligting rus nou op die “groot menigte” “ander skape”?
16 Nog nooit was daar ’n gunstiger tyd om die “evangelie van die koninkryk” te verkondig deur gebruik te maak van die “talent”, dit wil sê, die buitengewone voorreg, die geleentheid, om “ambassadeurs . . . in die plek van Christus”, die heersende Koning, te wees en dissipels vir hom te maak nie (2 Korinthiërs 5:20, NW). En terwyl die einde vinnig nader kom, betaam dit die “groot menigte” “ander skape” om daardie oorblywende geesverwekte ambassadeurs by te staan terwyl hulle ywerig die kosbare “talent” wat aan hulle toevertrou is ten volle gebruik.
[Voetnoot]
a ’n Griekse silwertalent het 20,4 kilogram geweeg.
[Prent op bladsy 59]
Diegene wat die karaktertrekke van die slegte dienskneg openbaar, word uit die Heer se diens en in die duisternis gewerp