Hoofstuk 8
Deel in “die vreugde” van die “Vredevors”
1. (a) Waarom het ’n sekere man na die buiteland gereis? (b) Wat word in Jesus se gelykenis geïmpliseer, hoewel nie regstreeks gesê nie?
IN JESUS se gelykenis van die talente het die man wat die agt silwertalente besit het nie bloot vir die genot na die buiteland gereis soos op ’n besigtigingsreis nie. Hy het ’n ernstige rede gehad om na die buiteland te reis; hy wou iets kosbaars bekom. Volgens die gelykenis het hy na die buiteland gereis om ’n sekere “vreugde”, tesame met “veel” dinge, te verkry (Mattheüs 25:21). Hy moes dus baie ver reis, iets wat baie tyd geverg het, om aansoek te doen by die een wat hom daardie besondere vreugde kon gee.
2. (a) Wat het die ryk man se reis na die buiteland in Jesus se geval afgebeeld, en na wie het hy gegaan? (b) Waarmee het die Heer teruggekeer?
2 Aangesien die ryk man in die gelykenis Jesus Christus afbeeld, beeld die man se lang reis na die buiteland af hoedat Jesus gegaan het na die enigste Bron van die besondere vreugde wat hy in gedagte gehad het. Na wie het hy dan gegaan? Hebreërs 12:2 deel ons mee: “Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” Ja, Jehovah God is voorwaar die Bron van daardie vreugde. Dit was na hom dat Jesus weggegaan het toe hy sy getroue dissipels hier op aarde met sy “talente” in hulle sorg agtergelaat het. Die Heer het teruggekeer met “veel” dinge wat hy nie gehad het toe hy die agt silwertalente aan sy drie diensknegte gegee het nie. ’n Vroeëre gelykenis wat deur Jesus vertel is, die gelykenis van die “tien ponde”, meld spesifiek dat hy met “koningskap” teruggekom het.—Lukas 19:12-15.
3. Watter soort tyd was dit toe Sagaria 9:9 in die eerste eeu G.J. in vervulling begin gaan het?
3 Wanneer hy pas ingehuldig is, het ’n koning rede om vreugdevol te wees, en so ook sy lojale onderdane. Ons onthou die geleentheid toe die Seun van God in Jerusalem ingery het om die profesie van Sagaria 9:9 te vervul. Aangaande die vervulling van daardie profesie staan daar geskrywe: “Die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! En toe Hy in Jerusalem inkom, het die hele stad in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man?”—Mattheüs 21:4-10; kyk ook Lukas 19:36-38.
4. Waarom het Jesus Christus ’n besondere rede gehad om sy getroue “diensknegte” in ’n vreugdevolle toestand in te nooi nadat hy as Koning op die troon geplaas is?
4 As dit ’n vreugdevolle geleentheid was toe hy hom bloot aan Jerusalem se bewoners aangebied het as die een wat met Jehovah se gees vir die koningskap gesalf is, hoeveel te meer was dit dan die geval toe hy inderdaad aan die einde van die Heidense Tye in 1914 as Koning op die troon geplaas is? Dit was vir hom ’n baie heuglike geleentheid. Hy het toe inderdaad ingegaan in ’n vreugde wat nooit tevore gesmaak is nie. Na die afrekening kon hy gevolglik vir die dissipels wat hy as ‘goed en getrou’ geag het, sê: “Oor weinig was [julle] getrou, oor veel sal ek [julle] aanstel. Gaan in in die vreugde van [julle] heer” (Mattheüs 25:21). Daar was nou ’n nuwe vreugde waarin sy goedgekeurde “diensknegte” kon deel. Watter beloning tog!
5. (a) Op watter stadium was die apostel Paulus ’n ‘ambassadeur’ vir Christus? (b) Maar ná watter ontwikkeling is die gesalfde oorblyfsel vandag “ambassadeurs” vir Christus?
5 In 1919 het die gesalfde dissipels van die heersende Koning, Jesus Christus, wel in ’n goedgekeurde toestand ingegaan, en dit het gepaard gegaan met ongekende vreugde aan hulle kant. Negentien eeue tevore het die apostel Paulus aan sy medegelowiges geskryf om vir hulle van hulle verhewe posisie te vertel: “Ons tree dan op as gesante [“ambassadeurs”, NW] om Christus wil” (2 Korinthiërs 5:20). Dit is geskryf toe Jesus maar net die regmatige erfgenaam was met die vooruitsig om “die koninkryk van die hemele” te ontvang (Mattheüs 25:1). Hy moes dus aan God se regterhand sit en daar wag op die inhuldigingsdag. Maar die goedgekeurde oorblyfsel is nou, sedert 1919, “ambassadeurs” wat uitgestuur is deur iemand wat inderdaad as Koning heers (Hebreërs 10:12, 13). Hierdie feit is in die besonder by die byeenkoms in 1922 in Cedar Point, Ohio, onder die aandag van die Internasionale Bybelstudente gebring.
6. Die na-oorlogse pogings van diegene wat die “talente” ontvang het, is eers op watter soort werk toegespits?
6 In 1919 was die ekwivalent van die “talente” van die heersende Koning, Jesus Christus, reeds aan hulle toevertrou. Dit het hulle rekenskap teenoor hulle heersende Koning vergroot. Hulle inspanning ná die oorlog is uit die staanspoor toegespits op ’n “oes”-werk, die insameling van “die koring”-klas (Mattheüs 13:24-30). Aangesien die oes volgens Jesus “die voleinding van die wêreld” is, was die na-oorlogse jaar 1919 die gepaste tyd vir die aanvang van hierdie insameling van die koringagtige “kinders van die koninkryk”, die getroue, gesalfde oorblyfsel.—Mattheüs 13:37-39.
7. (a) Watter soort tyd het die maaiers saam met hulle Heer binnegegaan? (b) In watter toestand het Jehovah die maaiers gebring, en watter profetiese verklaring maak hulle hul eie?
7 Oestyd is ’n vreugdevolle tyd vir die maaiers, daar die Heer van die oes die geleentheid saam met hulle geniet (Psalm 126:6). Hierdie oestyd is baie verryk deur die toenemende getuienis dat God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus in 1914 in die hemele opgerig is en dat Jehovah sy toegewyde volk op aarde in ’n regverdige posisie herstel het. As ’n klas maak hulle die woorde van Jesaja 61:10 hul eie: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel.”
Die insameling van “’n groot menigte” deelgenote in “die vreugde”
8. Watter vreugde wat die gesalfde oorblyfsel nie verwag het nie sou hulle ten deel val aan die einde van die insameling van die Koninkrykserfgename?
8 Min het die gesalfde oorblyfsel wat in “die vreugde” van hulle Heer ingegaan het, besef dat hulle teen die einde van die insameling van die laaste erfgename van die hemelse Koninkryk ’n ander vreugde, iets onverwags, sou smaak. Dit was die insameling van ’n aardse klas wat onder die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus op die paradysaarde sou woon. Wie anders as lede van hierdie aardse klas sou die gepaste mense wees om uit te nooi na die eerste bekendmaking van informasie wat oor hulle handel?
9. Wie in die besonder is genooi om die byeenkoms in Washington, D.C., in 1935 by te woon, en watter tydige informasie is daar aan hulle bekendgemaak?
9 So het dit dan gekom dat honderde wat saam met Jehovah se naamvolk ’n verhouding met hom nagestreef het, gereageer het op die uitnodiging wat in The Watch Towera gepubliseer is en die algemene byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, D.C., van 30 Mei tot 2 Junie 1935 bygewoon het. By daardie byeenkoms is hulle tot in hulle diepste wese geroer toe hulle verneem het dat die “groot menigte” wat in ’n gesig in Openbaring 7:9-17 beskryf word ’n aardse klas sou wees.
10, 11. Vir wie in die hemel moes dit ’n tyd van besondere vreugde gewees het?
10 Hoe geweldig bly moes daardie byeenkoms in Washington, D.C., die allerhoogste God, Jehovah, tog nie gemaak het nie! Hoe geweldig bly moes dit tog nie ook sy Seun, die Goeie Herder wat nou sou begin om hierdie “ander skape” in die “een kudde” te versamel, gemaak het nie!—Johannes 10:16.
11 Terwyl hulle gelei word en figuurlik gesproke wei, meng die lede van die oorblyfsel en die toenemende “groot menigte” “ander skape” almal vreedsaam en liefdevol. Die hart van hulle “een herder” moet nou oorloop van vreugde omdat hy naby die einde van hierdie “voleinding van die wêreld” so ’n groot “kudde” het.
Gesante van die “Vredevors”
12, 13. (a) Wie is genooi om saam met die gesalfde oorblyfsel te deel in die vreugde van die Heer wat teruggekeer het, en wat is die rede hiervoor? (b) In watter hoedanigheid bevorder die “groot menigte” “ander skape” die belange van die “Vredevors”?
12 Daardie “skape” wat die “groot menigte” uitmaak, het nou ’n groot aandeel in die vreugde van die Heer, Jesus Christus. Dit is grotendeels te danke aan die feit dat hulle ’n daadwerklike aandeel het in die insameling van die mense wat nodig is om die “groot menigte”, waarvoor daar geen getal in Openbaring 7:9 verstrek word nie, uit te maak.
13 Die insamelingswerk waaraan die “ander skape” deelneem, het vinnig wêreldwye afmetings aangeneem, ver bo die vermoë van die slinkende getal van die gesalfde oorblyfsel om te behartig. Dit het gevolglik vir die groeiende getal “ander skape” al hoe nodiger geword om ’n immer groter aandeel te hê in die insameling van nog meer “ander skape” met ’n aardse hoop. Die “ander skape” dien dus as getroue gesante van die “Vredevors”. Spreuke 25:13 (NAV) sê: “Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word, so is ’n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het; hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed.”
14. (a) Wat beërf die simboliese skape van Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46? (b) Hoe is die Koninkryk “van die grondlegging van die wêreld af” vir hulle berei?
14 In die gelykenis van die skape en die bokke is die simboliese skape diegene aan wie die Koning Jesus Christus eindelik sê: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheüs 25:31-46). Hulle beërf die aardse ryk waaroor die Koninkryk van die hemele gedurende die duisend jaar van Christus se heerskappy gaan regeer. Jehovah berei al sedert die tyd van getroue Abel hierdie ryk vir die wêreld van die afkoopbare mensdom voor.—Lukas 11:50, 51.
15, 16. (a) Watter “sieraad” van ’n koning, soos deur Salomo gemeld, het die Heer vandag ondanks die feit dat hy te midde van sy vyande heers? (b) In watter vorm het die heersende Koning hierdie “sieraad” vandag? (c) Wat het diegene wat hierdie “sieraad” uitmaak, gedoen?
15 Wyse koning Salomo van eertydse Israel het geskryf: “In die menigte van die volk lê die heerlikheid [“sieraad”, NW] van die koning” (Spreuke 14:28). Die koninklike Heer van vandag, Christus Jesus, wat ’n veel hoër posisie as aardse koning Salomo beklee, het juis so ’n “sieraad” in ’n “menigte van die volk”. Dit is selfs nou die geval vóór die begin van sy heerskappy van duisend jaar, ja, terwyl hy heers te midde van sy aardse vyande, oor wie Satan die Duiwel die bomenslike, onsigbare koning is.—Mattheüs 4:8, 9; Lukas 4:5, 6.
16 Die hedendaagse “sieraad” wat gepas is vir ’n hoë amptenaar met die rang van koning word nou gevind in die groeiende getal van sy “ander skape” wat die “groot menigte” uitmaak. Hulle roep jubelend en eensgesind uit: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7:9, 10). Hulle is reeds gered uit die gedoemde stelsel waarvan Satan die Duiwel “die god” is (2 Korinthiërs 4:4). Hulle het reeds figuurlik gesproke “hul klere gewas . . . in die bloed van die Lam” en hulle klere wit gemaak om vlekkeloos voor Jehovah God, die Regter, te verskyn.—Openbaring 7:14.
17. (a) Na watter redding sien die “groot menigte” nog uit? (b) Watter voorreg gaan hulle gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors” geniet?
17 Hulle sien nog uit na die Godgegewe redding wat hulle sal smaak ten tye van Jehovah se klinkende oorwinning in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon. Sy grootse oorwinning aldaar sal lei tot die regverdiging van sy universele soewereiniteit, en hulle sal aardse ooggetuies wees omdat hulle lewend deur die verskriklike einde van hierdie goddelose wêreld bewaar sal word (Openbaring 16:14; 2 Petrus 3:12). Watter kosbare voorreg tog! Watter groot vreugde sal die “Vredevors” dan tog nie deel met die oorlewende “groot menigte” van sy lojale “ander skape” nie!
[Voetnoot]
a Bladsy 2 van The Watch Tower se nommers van 1 en 15 April en 1 en 15 Mei 1935.
[Prent op bladsy 71]
Die Goeie Herder se hart moet nou oorloop van vreugde omdat hy so baie “ander skape” het