Hoofstuk 9
God se verbond met sy “vriend” strek miljoene reeds tot voordeel
1, 2. (a) Watter vriendskap het reeds begin om miljoene tot voordeel te strek? (b) Waarom kon Abraham God se vriend word?
MEER as 1950 jaar gelede het ’n ware vriend van die ganse mensdom gesê: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Die spreker, Jesus, was ’n afstammeling van ’n man wat die vriend genoem is van die uitnemendste Persoon in die ganse heelal, Jehovah God. Hierdie vriendskap, hoewel oënskynlik onewewigtig, strek miljoene reeds tot voordeel.
2 Wie was die man van die ou tyd wat vir ons soveel verkry het vanweë sy vriendskap met God? Hy was Abraham, ’n afstammeling van die man Sem, wat een van die oorlewendes van die wêreldvloed van Noag se dag was. Abraham het ’n verhouding met God aangeknoop en die eienskappe van ’n ware vriend geopenbaar. Uit liefde en geloof het Abraham opgetree in ooreenstemming met die wil van God, en daarom sê die Bybelskrywer Jakobus: “Die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem.”—Jakobus 2:23.
3, 4. (a) Wat lig toe hoe hoog Jehovah Abraham se geloof en vertroue in hom op prys gestel het? (b) Met watter woorde het Jehovah sy verklaring in Jesaja 41:8 tot ’n grootse hoogtepunt gevoer?
3 Daardie man van geloof en aksie was van die stad Ur van die Chaldeërs, en hy was die eerste een wat ’n Hebreër genoem is (Genesis 14:13). Hierdie naam is later gebruik vir sy afstammelinge wat lede van die nasie Israel was (Filippense 3:5). Omdat Jehovah God Abraham sy vriend gemaak het, het Hy van Sy intieme sake met hom gedeel. Dit word aangedui deur wat in Genesis 18:17-19 geskryf staan.
4 Dit lig toe hoeveel Jehovah God die geloof en vertroue waardeer het wat Abraham in hom gestel het en wat Abraham blinde gehoorsaamheid laat toon het. Sonder om verleë te wees of ’n verskoning aan te bied, het Jehovah gevolglik sy verklaring aan die nasie Israel tot ’n hoogtepunt gevoer deur te sê: “Maar jy, Israel, [is] my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend.”—Jesaja 41:8.
Die Abrahamitiese verbond tree in werking
5, 6. (a) Watter verbond het Jehovah met sy vriend Abraham gesluit? (b) Ondanks watter ongunstige omstandighede het God ’n belofte oor ’n “saad” aan sy vriend gedoen?
5 Die feit dat die Soewerein van die heelal, Jehovah, ’n verbond met hierdie blote man, Abraham, gesluit het, toon hoe ver iemand se band met ’n liefdevolle vriend hom sal laat gaan. In Genesis 15:18 lees ons: “Op dié dag het die HERE met Abram [Abraham] ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.”
6 Die Eufraat was die rivier wat Abraham en sy huis oorgesteek het om die Beloofde Land binne te gaan. Ten tye van die oortog was Abraham kinderloos, hoewel hy destyds 75 jaar oud en sy vrou oor die baarsame leeftyd was (Genesis 12:1-5). Ondanks sulke ongunstige omstandighede het God nietemin vir die gehoorsame Abraham gesê: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. . . . So sal jou nageslag [“saad”, NW] wees.”—Genesis 15:2-5.
7. (a) Wat word hierdie verbond genoem? (b) In watter jaar het dit in werking getree en met watter gebeurtenis in Abraham se lewe? (c) Hoeveel jaar was dit voordat die Wetsverbond met die nasie Israel gesluit is?
7 Ons noem die verbond wat Jehovah met sy “vriend” gesluit het die Abrahamitiese verbond. Daardie verbond het in 1943 v.G.J. in werking getree toe Abraham God se verbondsvereistes nagekom en die Eufraat op pad na die Beloofde Land oorgesteek het. In daardie jaar het dit Jehovah God se plig geword om kinderlose Abraham met ’n “nageslag” of “saad” te seën. Die Wet wat gepaard gegaan het met die verbond wat by die berg Sinai met die nasie Israel gesluit is, het 430 jaar later, in 1513 v.G.J., in werking getree.—Genesis 12:1-7; Exodus 24:3-8.
Die Wetsverbond word by die Abrahamitiese verbond gevoeg
8. (a) Wat was die doel van die Wetsverbond? (b) Het die Wetsverbond die Abrahamitiese verbond kragteloos gemaak?
8 Teen daardie tyd het Abraham se afstammelinge deur sy seun Isak ’n vry volk geword. Die nasie Israel is uit Egipte verlos en na die berg Sinai in Arabië gelei. Deur Moses as die middelaar het hulle daar ’n party geword in die Wetsverbond met Jehovah God. Wat was nou eintlik die doel van so ’n Wetsverbond, aangesien daardie Israeliete reeds die natuurlike afstammelinge van Jehovah se “vriend”, Abraham, was? Dit moes ’n beskerming vir Jehovah se uitverkore volk wees. Die Wetsverbond het nie die Abrahamitiese verbond kragteloos gemaak nie, al het dit ook die nasie Israel aan die kaak gestel as mense wat skuldig is aan oortredings in die lig van God se volmaakte wet.—Galasiërs 3:19-23.
9, 10. (a) Hoe het Abraham se afstammelinge oor die algemeen gevoel oor die “saad” waardeur alle nasies hulself sou seën? (b) Was dit gesonde denke?
9 Die Israeliete het figuurlik gesproke die “kinders” van daardie Wetsverbond geword. Omdat hulle die natuurlike afstammelinge van Abraham was, het hulle gemeen dat hulle outomaties die “saad” geword het waardeur al die nasies hulself sou seën. Was dit die geval? Nee! Vandag, ongeveer 3 500 jaar later, sien ons wel die onafhanklike sekulêre Republiek van Israel, maar hy veg om sy lewe te midde van talle vyandige nasies.
10 As iemand vandag ’n Joodse proseliet sou word met die gedagte om sodoende ’n deel van Abraham se “saad” te word tot seën van die res van die mensdom is dit nie Jehovah God se manier nie. Wat het dan gebeur?
11. Hoe het die apostel Paulus verduidelik wat met die natuurlike afstammelinge van Abraham gebeur het?
11 Die apostel Paulus verduidelik die saak soos volg aan ons: “Daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin [Hagar] en een uit die vrye [Sara]. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”—Galasiërs 4:22-26.
12. Met wie het die slavin Hagar ooreengekom?
12 Die Jerusalem waarmee die slavin Hagar ooreengekom het, was aards en is deur vleeslike Jode beset. In die dae van Jesus Christus was dit die hoofstad van die nasie Israel en onder die Wetsverbond (Mattheüs 23:37, 38). Terwyl die Wetsverbond waarvan Moses die middelaar was nog van krag was, was natuurlike Israel die sigbare deel van Jehovah se organisasie. Dit kon dus deur ’n vrou afgebeeld word, deur Hagar die slavin van Sara.
Die ware kinders van die Abrahamitiese verbond
13. (a) Wat het met Abraham se vrou, Sara, ooreengekom? (b) Waarom kan daar gesê word dat die “Jerusalem daarbo” “vry” is?
13 Die “Jerusalem daarbo” was andersyds Jehovah se onsigbare hemelse organisasie. Dit kon dienooreenkomstig deur ’n vrou, deur Sara, die ware vrou van Abraham, afgebeeld word. Die Wetsverbond is nie met hierdie organisasie gesluit nie, daarom was die “Jerusalem daarbo” vry, soos Sara van die ou tyd. Dit is die organisasie wat die beloofde “saad” voortbring, en dit is waarom die apostel Paulus dit ‘ons moeder’ kon noem.
14. Is die Abrahamitiese verbond van toepassing op die “Jerusalem daarbo”, en wat kan die geesverwekte dissipels van Jesus Christus gevolglik genoem word?
14 Die Abrahamitiese verbond is dus in werklikheid op haar as die simboliese vrou van die Grotere Abraham van toepassing, ja, op Jehovah se universele organisasie daar bo in die hemele. Dit volg dat die geesverwekte dissipels van Jesus Christus net soos die apostel Paulus die seuns of kinders van die Abrahamitiese verbond is. Dit is hoe Paulus verder redeneer wanneer hy sê:
15. Wat het die apostel Paulus in Galasiërs 4:27-31 oor “die kinders” van die Abrahamitiese verbond gesê?
15 “Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het. Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye.”—Galasiërs 4:27-31; Jesaja 54:1.
16. Wat het die simboliese drama van vervloë tye oor die Wetsverbond voorspel, sodat wat sou oorbly?
16 Daardie simboliese drama van vervloë tye het gevolglik voorspel dat Jehovah God, die Grotere Abraham, die Wetsverbond wat by die berg Sinai met Israel gesluit sou word, sou herroep. Sodoende sou die byvoeging (die Wetsverbond) tot die Abrahamitiese verbond afgetrek of weggeneem word sodat net die Abrahamitiese verbond met sy belofte van ’n “saad” waardeur al die geslagte van die aarde hulself sou seën, sou oorbly.
17. (a) Hoe lank sou die Wetsverbond duur? (b) Waarom was Jesus Christus die vernaamste afstammeling van Abraham? (c) Wat was nodig sodat Jesus God se Hoofagent tot seën van al die geslagte van die aarde kon word?
17 Die bygevoegde Wetsverbond sou dus van krag wees totdat die beloofde “saad” gekom het, en dit was Jesus Christus. Deur ’n goddelike wonderwerk het hy ’n vleeslike afstammeling van Abraham geword. Hy het die vernaamste afstammeling van daardie aartsvader geword. Hy was nie alleen Abraham se vleeslike afstammeling nie, maar ook die Seun van God, en gevolglik ’n volmaakte mens, een wat “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” gebly het (Hebreërs 7:26). Maar om God se Hoofagent tot seën van al die geslagte van die aarde te word, moes hy sy volmaakte menselewe aflê en die waarde hiervan ten behoewe van die ganse mensdom aanwend. Deur sulke selfopoffering sou hy as Jehovah se groot Hoëpriester dien en ’n offer bring wat aan al die goddelike vereistes voldoen het.
Die Wetsverbond aan Jesus se folterpaal genael
18. (a) Ten behoewe van wie sou die voordele van die losprysoffer eerste aangebied word, en waarom? (b) Wat het Jesus geword?
18 Die voordele van hierdie losprysoffer sou eerstens aangebied word ten behoewe van die Joodse nasie, waarvan Jesus ’n lid geword het deur sy wonderdadige geboorte uit die maagd Maria. Dit was lewensnoodsaaklik, want die Jode was onder ’n dubbele veroordeling tot die dood. Hoe so? Eerstens, hulle was die afstammelinge van die sondaar Adam, en tweedens, weens hulle onvolmaaktheid is hulle vervloek omdat hulle versuim het om die Wetsverbond met God gestand te doen. Jesus het egter vir hulle ’n vloek geword. Deur aan ’n folterpaal te hang totdat hy dood was, kon hy die vloek van “die verlore skape van die huis van Israel” wegneem. In 33 G.J. is die Wetsverbond aan Jesus se folterpaal genael en is die Joodse skaapstal onder daardie tydelike Wetsverbond gesluit, of weggedoen.—Mattheüs 15:24; Galasiërs 3:10-13; Kolossense 2:14.
19. (a) Watter nuwe skaapstal moes geopen word, en wat sou dit bevat? (b) Wat word diegene wat in die nuwe skaapstal ingebring word dus?
19 ’n Nuwe skaapstal moes dus geopen word om plek te bied aan die geestelike skape van die verrese Goeie Herder, Jesus Christus. Die selfopofferende Goeie Herder is ook die simboliese deur tot hierdie nuwe skaapstal (Johannes 10:7). Diegene wat in hierdie nuwe skaapstal onder die Goeie Herder ingebring word, word die geesverwekte kinders van die Grotere Abraham en aldus ’n deel van Sy “saad” (Romeine 2:28, 29). Gedurende hierdie laaste dae was ’n oorblyfsel van daardie geestelike “saad” dienooreenkomstig ’n seën vir toenemende miljoene mense in meer as 200 lande.
[Prent op bladsy 80, 81]
Die Mosaïese Wetsverbond wat by die berg Sinai gesluit is, het geëindig toe dit saam met Jesus aan die folterpaal genael is