Hoofstuk 17
Hou Jehovah se organisasie lojaal in gedagte
1. Lojaliteit teenoor wie moet vir ons van belang wees, en wat het koning Dawid in hierdie verband gesê?
DAAR word vandag baie oor lojaliteit teenoor land en volk gepraat. Maar hoeveel sê heersers en volke van hierdie wêreld oor lojaliteit teenoor God, wat die Skepper is van die stuk aarde wat deur ’n mens se land beslaan word? In die ou tyd was koning Dawid van Israel ’n lojale aanbidder van die Skepper, Jehovah God. Dawid het die volgende woorde tot hierdie lojale God gerig: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal u in lojaliteit handel” (2 Samuel 22:26, NW; Psalm 18:25, NW). Beskryf daardie woorde jou gesindheid teenoor God?
2. Hoe weet ons dat Jehovah lojaal teenoor die mensdom gebly het?
2 Die mensdom se algemene gesindheid vandag is dat lojaliteit teenoor God nie van groot belang is nie. Jehovah is nietemin lojaal teenoor die mensdom. Hy het hulle nie weggewerp nie. Sy lojale Seun het gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). God het nie die wêreld van die mensdom oorgelewer aan sy grootste teenstander, Satan, wat ons eerste ouers oorgehaal het om dislojaal teenoor God te word nie. God het ook in 2370 v.G.J. sy lojaliteit teenoor die mensdom getoon deur Noag en sy gesin te bewaar deur die wêreldvloed wat die res van die mensdom uitgewis het (2 Petrus 2:5). Sodoende het die Skepper die mensdom ’n nuwe begin gegee.
3. (a) Wat kan vandag oor geweld gesê word, en wat het God hom voorgeneem om daaromtrent te doen? (b) Wat is die beloning vir lojaliteit teenoor Jehovah?
3 Die geweld dwarsoor die aarde oortref vandag dié van Noag se tyd meer as 4 000 jaar gelede (Genesis 6:11). Dieselfde God kan dus tereg die teenswoordige wêreldstelsel uitwis. Dit is wat hy hom voorgeneem het om te doen, maar wanneer hy dit doen, gaan hy nie sy lojale dienaars op aarde vernietig nie. Hy sal dan die woorde in Psalm 37:28 (NW) gestand doen: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojale dienaars nie verlaat nie.” Net soos in Noag se dag sal hy die nuwe stelsel wat uit “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” bestaan ’n regverdige begin gee (2 Petrus 3:13). Lojaliteit bring ’n groot beloning mee. Dit is lewegewend!
4. Hoe weet ons dat die nasie Israel destyds Jehovah se sigbare organisasie was?
4 Gedurende die bewind van koning Dawid was die nasie Israel lojaal teenoor Jehovah. Dawid het die voorbeeld vir die hele nasie gestel. Daardie nasie was Jehovah se sigbare organisasie. Hulle was ’n georganiseerde volk wat uitsluitlik sy eiendom was. Dit is ongetwyfeld die betekenis van God se herinnering, soos uiteengesit in Amos 3:1, 2: “Hoor hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik: Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde.”—Vergelyk 1 Konings 8:41-43.
5. (a) Is daar gedurende die dae van die apostels van Jesus Christus pogings aangewend om dwaalleer in die Christengemeente in te voer? (b) Wat sou volgens voorspelling ná die dood van die apostels gebeur?
5 In parallel met hierdie feit van Bybelgeskiedenis het dieselfde God, Jehovah, vandag ’n georganiseerde volk, ’n sigbare organisasie, op aarde. Dit is ’n organisasie wat uitsluitlik aan hom behoort. Maar daar is selfs aan die begin, gedurende die dae van die apostels van Jesus Christus, wat stoutmoedige verdedigers van die onkreukbaarheid van die Christengemeente was, pogings aangewend om dwaalleer in God se organisasie in te voer (1 Korinthiërs 15:12; 2 Timotheüs 2:16-18). Na die dood van die apostel Johannes, klaarblyklik nie lank na 98 G.J. nie, het die voorspelde afval ingetree.—Handelinge 20:30; 2 Petrus 2:1, 3; 1 Timotheüs 4:1.
6. (a) Hoe lank het die afval die botoon gevoer, en met watter gevolg? (b) In watter gevangenskap het die valse Christendom se godsdiensorganisasies beland, en watter vrae ontstaan?
6 Hierdie afval het meer as 17 eeue lank, tot in die tweede helfte van die 19de eeu, die botoon gevoer. Teen daardie tyd het die valse Christendom tot honderde godsdienssektes versplinter. Dit was nie maklik om God se ware volk uit te ken nie. Die valse Christendom was ’n Babel van godsdiensorganisasies, groot en klein, wat ’n mengelmoes godsdienstale gepraat het wat nie stewig op die godsdienstaal van die geïnspireerde Skrif gebaseer is nie. Sulke godsdiensorganisasies is in werklikheid gevangene geneem deur ’n ryk wat veel groter is as die Babiloniese Ryk wat Jerusalem vernietig het. Maar wat was die aard van eertydse Babilon, en wat was waarskynlik die gesindheid van getroue Jode wat gevange gehou is?
Die gevangenes in Babilon het Sion lojaal in gedagte gehou
7. (a) Wat was die godsdienstige aard van die eertydse land Babilon? (b) Watter uitwerking moes dit op die Joodse gevangenes gehad het?
7 Eertydse Babilon was die land van valse gode, waarvan daar ’n mag der menigte beelde was (Daniël 5:4). Ons kan ons voorstel watter uitwerking hierdie aanbidding van baie valse gode gehad het op die harte van die getroue Jode wat slegs die een ware God sonder enige soort beeld aanbid het. In plaas van die tempel van Jehovah in al sy prag in Jerusalem te sien, het hulle die tempels van hierdie valse gode en hulle beelde dwarsdeur die land Babilon gesien.a Hoe moes dit tog nie die aanbidders van die een en enigste ware God gewalg het nie!
8. (a) Hoe lank moes die Jode met hulle gevangenskap vir lief neem, en waarna sou lojale Jode hunker? (b) Hoe beskryf Psalm 137:1-4 die ontroosbaarheid van die lojale Joodse gevangenes?
8 Volgens Jeremia se profesie sou hulle 70 jaar lank hiermee vir lief moes neem voordat hulle herstel sou word (2 Kronieke 36:18-21; Jeremia 25:11, 12). Die ontroosbaarheid van die Joodse gevangenes wat Jehovah liefgehad het en hom wou aanbid by ’n tempel wat in sy gekose stad aan hom toegewy is, word vir ons in Psalm 137:1-4 beskryf: “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ’n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ’n Sionslied. Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ’n vreemde land?”
9. Hoe sou die Babiloniërs dit beskou as “die lied van die HERE” gesing word, maar wat sou aan die einde van die 70 jaar gebeur?
9 “Die lied van die HERE” moet die lied wees van ’n vry volk wat hom by sy heilige tempel aanbid. As hierdie Jode “die lied van die HERE” in die land van hulle gevangenskap gesing het, sou dit vir daardie Babiloniërs ’n geleentheid wees om te spot met die naam van Jehovah as die naam van ’n god wat swakker is as die gode van Babilon. Sy heilige naam is reeds groot smaad aangedoen toe hy toegelaat het dat sy volk van hulle Godgegewe tuisland af weggevoer word na ’n land waar ’n mag der menigte gode aanbid word. Maar daardie Babiloniërs sou slegs ’n beperkte tyd lank—70 jaar—met hom kon spot en sy naamvolk kon kleineer. Na onder, dan, met die valse gode van Babilon en na bo met die ware God, Jehovah!
Verknogtheid aan Jehovah se organisasie
10. Watter vraag ontstaan in verband met Jehovah se volk van hierdie 20ste eeu wat deur Babilon die Grote gevangene geneem is?
10 Vandag bestaan daar ’n godsdiensorganisasie genaamd Babilon die Grote wat nie tot die land van die oorspronklike Babilon beperk is nie, maar wêreldwyd voorkom. Stel die hartsgesindheid van die Jode in eertydse Babilon die regte voorbeeld vir Jehovah se volk in hierdie 20ste eeu wat met geweld die gevangenes van Babilon die Grote gemaak is as tugtiging deur die God van eertydse Israel?
11. (a) Het die lojale Jode toegelaat dat hulle tuisland uit die geheue vervaag? (b) Hoe het die gevange psalmis die gevoelens van sy medegevangenes uitgedruk?
11 Het hulle, hoewel hulle hulle in eertydse Babilon kon vestig en hulself tuis kon maak aangesien hulle ballingskap ongeveer ’n geslag lank sou duur, hulle tuisland uit die geheue laat vervaag? Die gevange psalmis stel dit pragtig wanneer hy die gevoelens van sy medegevangenes uitdruk: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.”—Psalm 137:5, 6.
12. Waarvan het die hartsgesindheid van die gevange psalmis getuig?
12 Waarvan het daardie hartsgesindheid van die gevange Israeliet getuig? Van lojaliteit teenoor Jehovah se destydse, sigbare organisasie terwyl hy gesien het hoedat die land wat God aan Sy uitverkore volk gegee het 70 jaar lank verlate lê. Ja, Jehovah se sigbare organisasie het in die harte van daardie Israeliete voortgeleef.
13. Hoe is lojaliteit teenoor Jehovah se sigbare organisasie beloon?
13 Sulke lojaliteit teenoor God se eertydse, sigbare organisasie is op tyd beloon. Dit was toe Babilon, die derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, omvergewerp is en Medo-Persië, die vierde wêreldmoondheid, die wil van die God van Israel volbring het. Hoe? Deur die gevange Jode in die land van die sigbare organisasie van Jehovah te herstel met instruksies om die tempel van hulle God as die middelpunt van die hoofstad, Jerusalem, te herbou (2 Kronieke 36:22, 23). Nie alleen is die tempel van ware aanbidding herbou nie, maar die ommuurde stad Jerusalem is ook herbou, om die stad te word waaruit Jehovah as Koning oor sy volk geheers het.
14. (a) Wat het die Messias eeue later oor Jehovah se sigbare organisasie gesê? (b) In watter sin het Jehovah vanuit Jerusalem geheers?
14 Meer as ses eeue na die vernietiging van Jerusalem het Jesus gesê: “Sweer hoegenaamd nie—nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning” (Mattheüs 5:34, 35). Toe die Messias op aarde was, het ’n herboude tempel van Jehovah in Jerusalem gestaan en het Jehovah God, simbolies gesproke, in die Allerheiligste van daardie tempel geheers. Jehovah het dus vanuit Jerusalem as die hoofstad van sy volk oor sy sigbare organisasie geheers.
Jehovah bly lojaal teenoor sy organisasie
15. Het Jesus die sigbare deel van Jehovah se organisasie verwerp toe hy die ontroue godsdiensleiers van Israel aan die kaak gestel het? Verduidelik.
15 Wel, het Jesus dan God se sigbare organisasie uitgewerp toe hy die ontroue godsdiensleiers van Israel aan die kaak gestel en veroordeel het? Ja, want hy het gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mattheüs 23:37, 38). Het Jesus, toe hy Jerusalem en haar “kinders” verwerp het, aldus sy hemelse Vader sonder ’n aardse organisasie gelaat? Nee! Want Jesus self was die fondament van die nuwe sigbare organisasie wat die Skepper van die heelal sou opbou.
16. Hoe is daar ten tye van Jesus se dood aan die folterpaal getoon dat natuurlike Israel verwerp is?
16 Daar is beslis aangedui dat natuurlike Israel verwerp is toe die dik gordyn wat die Allerheiligste van die Heilige in die tempel van Jerusalem geskei het ten tye van Jesus se dood aan die folterpaal “van bo tot onder” in twee geskeur is. Op daardie oomblik ‘het die aarde gebewe en die rotse geskeur’. Dit was wonderdade aan die kant van die God wat op ’n tipiese wyse daar geheers het, dade wat aangedui het dat hy die nasie Israel en dié se godsdiens verwerp het.—Mattheüs 27:51.
17. Hoe het Jesus en Jehovah lojaliteit teenoor die aanstaande lede van God se nuwe sigbare organisasie betoon?
17 Die aanstaande lede van die nuwe sigbare organisasie wat Jehovah God binnekort sou opbou, is daar in die gebied van Jerusalem gelaat. Jesus het hulle opgedra aan die sorg van God, wat die aardse stad ten gunste van iets beters verwerp het (Johannes 17:9-15). Jehovah het gevolglik lojaal teenoor sy organisasie gebly uit spesiale bedagsaamheid teenoor hulle getroue voorvaders, Abraham, Isak en Jakob en die 12 seuns van Jakob (Daniël 12:1). Die volgende hoofstuk sal ons bespreking van lojaliteit, wat op Psalm 137 gebaseer is, voortsit.
[Voetnoot]
a ’n Spykerskrif-inskripsie uit eertydse Babilon berig: “In Babilon is daar altesaam 53 tempels van die vernaamste gode, 55 kapelle van Mardoek, 300 kapelle vir die aardse gode, 600 vir die hemelse gode, 180 altare vir die godin Isjtar, 180 vir die gode Nergal en Adad en 12 ander altare vir verskillende gode.”