Hoofstuk 21
Die tuin van Eden herstel—aardwyd
1. (a) In watter sin sal die tuin van Eden herstel word, en waarom sal dit nie net ’n beperkte gebied van die aardbol beslaan nie? (b) Wat toon Jesus se woorde aan die kwaaddoener?
DIE tuin van Eden was “’n paradys van genot”, en in daardie sin sal dit herstel word (Genesis 2:8, Douay Version). Die oorspronklike Paradys het ’n beperkte gebied van die aardbol beslaan. Maar dit was Jehovah se voorneme dat die grense daarvan na alle kante toe uitgebrei moes word deur die groeiende mensegesin totdat die Paradys die hele aarde omvat en in asemrowende natuurskoon geklee het (Genesis 1:26-28; 2:8, 9, 15). Jesus se woorde aan die simpatieke kwaaddoener wat op Kalvarie langs hom gesterf het, het die man verseker dat hy opgewek sou word wanneer die herstel van die Paradys reeds goed gevorder het, en hy sal dan die genotvolle verandering in die aardse toneel waarneem (Lukas 23:43, vgl. NW). Hoe sal dit in die herstelde, globale Paradys wees? Hoe sal dit van die oorspronklike tuin van Eden verskil?
2. (a) Wat was in die oorspronklike tuin van Eden wat nie in die aardwye Paradys sal wees nie? (b) Waarom is dit redelik dat God die mensdom se gehoorsaamheid nie deur middel van ’n enkele boom sal toets nie?
2 In die verruklike profesieë van heerlike dinge wat voorlê, sien ons dat iets nie in die herstelde, aardwye Paradys voorkom nie. Wat is dit? Dit is “die boom van die kennis van goed en kwaad” wat “in die middel van die tuin” was (Genesis 2:17; 3:3). Dit was klaarblyklik ’n enkele boom. Is dit redelik om te dink dat daar so ’n enkele boom waarop daar ’n goddelike verbod rus in die middel van die herstelde, aardwye tuin van Eden moet wees? Nee. Mense in die uithoeke van die aarde sou geweldig ver moes reis om by die terrein van so ’n boom in die Midde-Ooste uit te kom om moontlik aan die allerhoogste God ongehoorsaam te wees deur van die vrug daarvan te eet.
3. Wat nog sal nie in die herstelde Paradys wees nie?
3 Daar sal boonop nie by so ’n terrein ’n “pratende” slang wees om diegene wat na die boom kom te nooi om van die mooi vrugte daarvan te eet uit pure kwaadwilligheid teenoor God se bevele nie. En daar sal nie ’n onsigbare, bose gees wees om die slang te manipuleer en dit te laat lyk asof dit praat en die toeskouer te nooi om—met noodlottige gevolge—teen God in opstand te kom deur ’n weg van ongehoorsaamheid aan die Skepper in te slaan nie.
4. Waarom sal Satan die Duiwel nie gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors” aanwesig wees nie?
4 Nee, die onsigbare geesskepsel wat destyds in die tuin van Eden agter die “pratende” slang was, sal nie gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors”, Jesus Christus, aanwesig wees nie. Daardie Bose, Satan die Duiwel, sal ná Armageddon volkome bedwing word. Openbaring 20:2, 3 deel ons mee dat die “Vredevors” “die ou slang wat die duiwel en Satan is”, gaan gryp en vir duisend jaar in die afgrond gaan werp.
Ware vrede en veiligheid in die herstelde Paradys
5. Waarom sal ware vrede en veiligheid in die herstelde Paradys aardwyd heers?
5 Watter vrede en veiligheid sal tog volg! Satan se invloed en heerskappy oor die mensdom as “die owerste van hierdie wêreld” sal dan tot die verlede behoort! (Johannes 14:30). Met Satan se demonhordes ook in die afgrond sal die aarde uiteindelik vry wees van alle soorte spiritisme, okkultisme en swartkuns—ja, elke vorm van demonisme, iets wat vir Jehovah ’n gruwel is.—Deuteronomium 18:10-12.
6, 7. (a) Waarom sal die diereryk geen bedreiging vir mense inhou nie? (b) Watter profesie in hierdie verband sal letterlik vervul word?
6 Die diereryk sal die bewoners van die herstelde Paradys geen kwaad aandoen of geen bedreiging vir hulle inhou nie. God sal enige mate van mensevrees wat die laere diere verloor het aan hulle teruggee. Ons kan dus daarna uitsien dat die bekorende beskrywing van dierelewe in Jesaja 11:6-9 ’n letterlike vervulling gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors” sal hê:
7 “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
8. Wat word bedoel met die profetiese verklaring dat die slang se voedsel “stof” sal wees?
8 Dit sou inkonsekwent wees as God so ’n profesie sou inspireer om slegs ’n geestelike betekenis te hê en nie sulke dinge in die werklike aardse lewe te weerspieël nie. Jesaja 65:25 deel ons eweneens mee: “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees.” Beteken dit dat daar geen slange in die globale tuin van Eden gaan wees nie? Nee, die profetiese verklaring dat die slang se voedsel “stof” sal wees, beteken dat lede van die reptielfamilie nooit weer ’n bedreiging vir die lewe en blakende gesondheid van mense sal inhou nie. Hulle sal moet besef dat die mensdom hulle baas is wat heerskappy voer oor alles wat op die aarde beweeg, net soos dit die geval met Adam in die tuin van Eden was toe hy sonder vrees aan al die diere name gegee het.—Genesis 2:19, 20; Hosea 2:17.
9, 10. Wat voorspel Psalm 65 en Jesaja 25:6 omtrent die aarde onder die heerskappy van die “Vredevors”?
9 Die prag van en oorvloed in daardie aardwye tuin van Eden gaan ons verbeelding te bowe. Maar die Bybel verstrek wel ’n profetiese beskrywing daarvan in die 65ste psalm, wat tot God gerig is. Hierdie psalm sê ten dele: “U het die [aarde] besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die [aarde].” Daar sal dan geen droogtes meer wees nie, maar eerder “oorvloedige reënbuie” (Psalm 65:2, 10-14, vgl. Daar sal ’n oorvloed voedsel vir al die aarde se bewoners wees.
10 Hierdie oorvloed is ook in Jesaja 25:6 voorspel: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn.” Die bewoners van die herstelde Paradys sal vetspyse nuttig wat die hart versterk en die gesig laat blink. Hulle sal wyn drink wat op die droesem verouder het en gesuiwer is en hulle harte verbly (Psalm 104:14, 15). Geen voedseltekorte onder die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors” nie! Daar sal eerder “volheid” wees.—Psalm 72:16.
Veranderinge in taal en in weer
11. Watter verandering in taal sal plaasvind, en hoe sal dit die mensdom raak?
11 Sal die aardwye Paradys gebuk gaan onder die verwarring wat deur baie tale veroorsaak word? Nee, want die “Vredevors” word ook die “Sterke God” genoem (Jesaja 9:5). Hy kan dus ’n einde maak aan die verwarring van tale wat by die toring van Babel ontstaan het (Genesis 11:6-9). Wat sal die gemeenskaplike taal van al die aardse kinders van die “Ewige Vader” word? Sal dit die oorspronklike taal van die eerste man Adam wees, die taal waarmee Jehovah hom begaaf het? Waarskynlik. Alle taalskeidsmure sal in ieder geval uitgewis word. Jy sal oral kan reis en met mense kan kommunikeer. Jy sal hulle verstaan, en hulle sal jou verstaan. Die hele mensdom sal een taal praat, en dit sal gepas wees dat die hele Bybel in daardie taal beskikbaar is. (Vergelyk Sefanja 3:9.) Die hele aarde sal in daardie taal met die kennis van Jehovah gevul word “soos die waters die seebodem oordek”.—Jesaja 11:9.
12. Hoe sal Sagaria 14:9 vervul word?
12 Dan sal die woorde van Sagaria 14:9 vervul word: “In dié dag sal [Jehovah] een wees, en sy Naam een.” Net Jehovah sal aanbid word as die een ware God. In “dié dag” van Jehovah se Koninkryk in die hande van die “Vredevors” sal God die korrekte uitspraak van sy naam openbaar. Dan sal almal op aarde daardie heilige naam op net een manier uitspreek. Sy naam sal een wees.
13. Waarom sal die weer, wind en golwe geen bedreiging vir die aarde se bewoners inhou nie?
13 Diegene wat uitsien na die globale Paradys van die “Vredevors” stel ook intens belang in die weers- en omgewingsveranderinge wat dan sal plaasvind. Een ding is seker: Die ganse aarde sal ’n verruklike plek gemaak word om op te lewe. Daardie Paradys sal nooit versteur word deur vernietigende storms, tornado’s, getygolwe, orkane of tifone nie. Die wind, golwe en weer sal almal die “Vredevors” gehoorsaam (Markus 4:37-41). Daar sal volkome weerbeheer in die globale tuin van Eden wees. Die ganse aarde sal verfraai word om ’n paradys van genot te wees waar die hele mensdom die aangename voorreg sal hê om tot in lengte van dae veilig te woon.
14, 15. (a) Watter belofte wat in Openbaring 21:3, 4 opgeteken is, sal vervul word? (b) Hoe sal God se tabernakel by die mense wees? (c) Watter soort trane sal vir ewig afgevee word?
14 Dan sal daar geen rede vir enige trane of droefheid bestaan nie! Jehovah se profetiese Woord verseker ons: “Die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.
15 Die hemele is God se troon, en die aarde is sy voetbank (Jesaja 66:1). God kan dus nie letterlik op die aarde woon nie. Maar sy tabernakel sal by die mense wees. Gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal Jehovah se tabernakel by die mensdom wees deur middel van sy verheerlikte Seun, Jesus Christus. Hoe gepas is dit tog dat Jehovah se teenwoordigheid deur sy “Vredevors” voorgestel word! Dit herinner ons aan die woorde van Jesaja 7:14 oor die naam wat aan die Messias gegee word—Immanuel. Daardie naam beteken “God met ons” (Mattheüs 1:23). Hoe aangrypend is dit tog dat God, deur middel van sy dierbaarste Seun, by die mensdom sal “woon”! Dan sal ons waarskynlik trane van vreugde in ons oë kry wanneer ons die wonderwerke sien wat deur hierdie “Sterke God” verrig word, veral wanneer afgestorwe dierbares in die opstanding in Paradystoestande lewend gemaak word (Handelinge 24:15). Sulke wonderwerke sal wonderlike bewys wees dat God by die mensdom is en dat hy vir ewig trane van droefheid van ons oë afvee.
’n Skone oord in die grenslose heelal
16. Moet die opstanding van die dode wag totdat die Paradys die aardbol oordek? Verduidelik.
16 Die eerste Adam is meegedeel hoe om te begin met die projek om die Paradys van die tuin van Eden af uit te brei. Daardie oorspronklike voorneme om dit aardwyd uit te brei, sal verwesenlik word. Maar sal die opstanding van die dode moet wag totdat die Paradys rondom die aardbol strek? Nee. Diegene wat ’n vroeë opstanding kry, sal byvoorbeeld opgewek word in dele van die aarde waar die Armageddon-oorlewendes is en wat hulle in ’n paradys omgeskep het. Namate die opstanding van die mensdom oor die algemeen vorder, sal hierdie Paradysgebiede uitbrei totdat hulle mekaar ontmoet om die aardwye Paradys te vorm.
17. Hoe word die globale Paradys beskryf?
17 Die komende Paradys sal al die lieflike parke en tuine van vandag oortref. Die ganse aarde sal as ’n vreedsame paradys stralend bloei, ’n paradys wat nie alleen die oë van mense behaag nie, maar selfs die oë van die Skepper. Dit sal ’n globale tuin van Eden wees wat versier is met plante en bome—plante en bome wat mooi is en vrug dra om lewe in volmaaktheid te onderhou. Die aarde sal vir ewig ’n skone oord in Jehovah se ganse, grenslose heelal bly. En die hele verenigde mensdom sal die ewige plig en voorreg hê om die aarde so ’n skone oord te hou.
18. Hoe weet ons dat almal, manne en vroue, vreedsaam as broers en susters sal saamwoon?
18 Al die lede van hierdie godvrugtige mensegesin sal in alle reinheid vreedsaam as broers en susters saamwoon, want hulle sal in werklikheid kinders van die “Ewige Vader”, die “Vredevors”, wees. Manne sal dus nie op aanmatigende wyse oor vroue, hulle susters, heers nie. Maar die vervolmaakte vroue sal wees wat Jehovah God in gedagte gehad het, net soos hy bedoel het dat Eva vir haar volmaakte man, Adam, “’n hulp” moes wees.—Genesis 2:18; kyk ook 1 Petrus 3:7.
19. Watter gesig sal die Paradysaarde bied vir diegene wat in die onsigbare hemele woon?
19 Die gesig wat die paradysaarde vol volmaakte manne en vroue dan vir diegene in die onsigbare hemele sal bied, sal baie wonderliker en mooier wees as die verskyning van die aarde toe dit oorspronklik geskep is, op welke tydstip “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het” (Job 38:7). Dan sal die allerhoogste God, Jehovah, ten volle geregverdig wees as die Een wie se heerlike doel nooit verydel kan word nie. Alle lof kom hom toe!
[Prent op bladsy 172, 173]
God se “voetbank”, die aarde, sal deur ’n letterlike paradys verfraai word