Hoofstuk 5
Johannes sien die verheerlikte Jesus
Visioen 1—Openbaring 1:10–3:22
Onderwerp: Jesus inspekteer geestelike Israel op die aarde en gee hartlike aanmoediging
Tyd van vervulling: Hierdie aspek van die dag van die Here strek vanaf 1914 totdat die laaste van die getroue gesalfdes sterf en opgewek word
1. Hoe word die eerste visioen aangebied, en hoe het Johannes aangedui wanneer dit eintlik van toepassing is?
DIE eerste visioen in die boek Openbaring begin by hoofstuk 1, vers 10. Hierdie visioen, soos die ander in Openbaring, word ingelei deur ’n aankondiging dat Johannes iets buitengewoons hoor of sien (Openbaring 1:10, 12; 4:1; 6:1). Hierdie eerste visioen word aangebied teen ’n eerste-eeuse agtergrond waarin boodskappe gerig word aan sewe gemeentes in Johannes se tyd. Maar Johannes dui aan wanneer dit eintlik van toepassing is deur te sê: “Deur inspirasie het ek my in die dag van die Here bevind” (Openbaring 1:10a). Wanneer is hierdie “dag”? Hou die dramatiese gebeure van hierdie stormagtige tye enigsins daarmee verband? Indien wel, moet ons noukeurig aandag skenk aan die profesie, aangesien dit ons lewe—selfs ons oorlewing—raak.—1 Tessalonisense 5:20, 21.
In die dag van die Here
2. Wanneer begin die dag van die Here, en wanneer eindig dit?
2 In watter tydperk plaas dit die vervulling van Openbaring? Wel, wat is die dag van die Here? Die apostel Paulus verwys daarna as ’n tyd van oordeel en van die vervulling van goddelike beloftes (1 Korintiërs 1:8; 2 Korintiërs 1:14; Filippense 1:6, 10; 2:16). Wanneer dié “dag” aanbreek, beweeg Jehovah se grootse voornemens progressief en seëvierend na hulle klimaks. Hierdie “dag” begin met die kroning van Jesus as hemelse Koning. Selfs nadat Jesus oordeel voltrek het aan Satan se wêreld, duur die dag van die Here voort, met die herstel van die Paradys en die vervolmaking van die mensdom, totdat Jesus uiteindelik “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee”.—1 Korintiërs 15:24-26; Openbaring 6:1, 2.
3. (a) Hoe help Daniël se profesie van die “sewe tye” ons om te sien wanneer die dag van die Here begin? (b) Watter gebeure op die aarde bevestig dat die dag van die Here in 1914 begin het?
3 Die vervulling van ander Bybelprofesieë help ons om te sien wanneer die dag van die Here begin. Daniël het byvoorbeeld beskryf hoe heerskappy in die geslag van koning Dawid afgekap sou word; ná “sewe tye” sou dit bekend wees “dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy wil” (Daniël 4:23, 24, 31, 32). Die grotere vervulling van hierdie profesie het begin met die verwoesting van die koninkryk van Juda, wat volgens Bybelse getuienis teen Oktober 607 v.G.J. voltooi is. Openbaring 12:6, 14 toon dat 3 1/2 tye gelyk is aan 1 260 dae; sewe tye (dubbel daardie getal) moet derhalwe 2 520 dae wees. As ons “’n dag vir ’n jaar” reken, is die “sewe tye” 2 520 jaar lank (Esegiël 4:6). Christus Jesus het dus laat in 1914 in die hemel begin regeer. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in daardie jaar was “’n begin van weë van benoudheid” wat die mensdom nog steeds teister. Gebeure op hierdie bloedbevlekte aarde sedert 1914 het inderdaad op merkwaardige wyse bevestig dat die “dag” van Jesus se teenwoordigheid in daardie jaar begin het!—Matteus 24:3-14.a
4. (a) Wanneer word die eerste visioen vervul volgens die woorde van Openbaring self? (b) Wanneer eindig die vervulling van die eerste visioen?
4 Hierdie eerste visioen en die raad wat dit bevat, is derhalwe vir die dag van die Here, van 1914 af. Hierdie tydsbepaling word gestaaf deur die feit dat die verslag later in Openbaring die voltrekking van God se waaragtige en regverdige oordele beskryf—gebeure waarin die Here Jesus ’n vername rol speel (Openbaring 11:18; 16:15; 17:1; 19:2, 11). As die vervulling van die eerste visioen in 1914 begin het, wanneer eindig dit dan? Soos die boodskappe self toon, is die organisasie waaraan dit gerig word, God se gemeente van gesalfdes op die aarde. Die vervulling van hierdie eerste visioen eindig dus wanneer die laaste getroue lid van daardie gesalfde gemeente sterf en tot hemelse lewe opgewek word. Die dag van die Here, met seëninge vir die aardse ander skape, duur nietemin voort tot aan die einde van Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy.—Johannes 10:16; Openbaring 20:4, 5.
5. (a) Wat beveel ’n stem Johannes om te doen? (b) Waarom het die ligging van “die sewe gemeentes” dit maklik gemaak om ’n boekrol aan hulle te stuur?
5 Voordat Johannes enigiets in hierdie eerste visioen sien, hoor hy iets: “En ek het ’n sterk stem agter my gehoor, soos dié van ’n trompet, wat gesê het: ‘Skryf wat jy sien in ’n boekrol en stuur dit aan die sewe gemeentes: in Efese en in Smirna en in Pergamum en in Tiatira en in Sardis en in Filadelfia en in Laodisea’” (Openbaring 1:10b, 11). ’n Stem, gesaghebbend en gebiedend soos ’n trompetgeskal, beveel Johannes om aan “die sewe gemeentes” te skryf. Hy sal ’n reeks boodskappe ontvang en moet die dinge wat hy sal sien en hoor, bekend maak. Let daarop dat die gemeentes wat hier genoem word, in Johannes se dag werklik bestaan het. Hulle was almal in Klein-Asië geleë, oorkant die see van Patmos af. Die uitstekende Romeinse paaie in die omgewing het dit vir die gemeentes maklik gemaak om mekaar te bereik. Dit sou vir ’n boodskapper glad nie moeilik gewees het om die boekrol van een gemeente na die volgende te neem nie. Hierdie sewe gemeentes sou vergelyk kon word met ’n deel van ’n hedendaagse kring van Jehovah se Getuies.
6. (a) Wat word bedoel met “die dinge wat is”? (b) Waarom kan ons seker wees dat toestande in die hedendaagse gemeente van gesalfde Christene soortgelyk moet wees aan dié in Johannes se dag?
6 Die meeste van die profesieë in Openbaring sou ná Johannes se tyd vervul word. Dit het verwys na die dinge “wat hierna sal plaasvind”. Maar die raad aan die sewe gemeentes het te doen met “die dinge wat is”, situasies wat destyds werklik in die sewe gemeentes bestaan het. Die boodskappe was waardevolle hulpmiddels aan getroue aangestelde ouer manne in daardie sewe gemeentes, asook in alle ander gemeentes van gesalfde Christene van daardie tyd.b Aangesien die visioen hoofsaaklik in die dag van die Here van toepassing is, stel Jesus se woorde ons in kennis dat ons soortgelyke toestande in die hedendaagse gemeente van gesalfde Christene kan verwag.—Openbaring 1:10, 19.
7. Wie sien Johannes in hierdie eerste visioen, en waarom is dit vandag vir ons so belangrik en opwindend?
7 In hierdie eerste visioen sien Johannes die luisterryke Here Jesus Christus in Sy hemelse glorie. Wat kan tog meer gepas wees vir ’n boek van profesieë oor die groot dag van hierdie Here wat deur die Almagtige aangestel is? En wat kan belangriker wees vir ons, wat nou in daardie tydperk lewe en sorgvuldig ag slaan op elke bevel wat van hom af kom? Hoe opwindend is dit bowendien vir ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit om verseker te word dat die Messiaanse Saad, wat al die toetse en vervolging wat deur Satan veroorsaak is, verduur het en ’n pynlike dood gesterf het toe hy byna 2 000 jaar gelede in Sy “hakskeen” gewond is, nou in die hemel lewe en die mag ontvang het om God se grootse voorneme tot sy seëvierende vervulling te bring!—Genesis 3:15.
8. Vir watter optrede is Jesus nou gereed?
8 Dit is duidelik dat Jesus nou gereed is om as gekroonde Koning op te tree. Hy is as Jehovah se Hoofskerpregter aangestel om Jehovah se finale oordele aan hierdie ou, goddelose stelsel van dinge en die duiwelse god daarvan, Satan, te voltrek. Hy is ook gereed om die lede van sy gemeente van gesalfdes en die groot menigte van hulle metgeselle, sowel as die wêreld, te oordeel.—Openbaring 7:4, 9; Handelinge 17:31.
9. (a) Hoe beskryf Johannes die verheerlikte Jesus Christus tussen die goue lampstaanders? (b) Wat word aangedui deur die toneel wat aan die tempel herinner en die kleed wat Jesus dra? (c) Wat beteken sy goue gordel?
9 Johannes draai om wanneer hy die geluid van die harde stem hoor, en dít is wat hy sien: “Ek het omgedraai om die stem te sien wat met my gepraat het, en toe ek omgedraai het, het ek sewe goue lampstaanders gesien” (Openbaring 1:12). Later vind Johannes uit wat hierdie sewe lampstaanders simboliseer. Maar dit is die persoon tussen die lampstaanders wat sy aandag trek. Daar was “tussen die lampstaanders iemand soos ’n seun van die mens, geklee in ’n kleed wat tot op die voete hang, en om die bors omgord met ’n goue gordel” (Openbaring 1:13). Jesus, die “seun van die mens”, verskyn hier as ’n luisterryke, gloeiende gedaante aan die sprakelose getuie, Johannes. Hy verskyn in glansende heerlikheid tussen brandende goue lampstaanders. Hierdie toneel, wat aan die tempel herinner, laat Johannes besef dat Jesus teenwoordig is in die rol van Jehovah se groot Hoëpriester met die mag om te oordeel (Hebreërs 4:14; 7:21-25). Sy lang, indrukwekkende kleed pas by sy priesteramp. Soos die eertydse Joodse hoëpriesters dra hy ’n gordel—’n goue gordel om sy bors waar dit sy hart bedek. Dit dui aan dat hy sy goddelike opdrag wat hy van Jehovah God ontvang het, heelhartig sal uitvoer.—Eksodus 28:8, 30; Hebreërs 8:1, 2.
10. (a) Wat word aangedui deur Jesus se sneeuwit hare en vurige oë? (b) Wat beteken die feit dat Jesus se voete soos gloeiende koper is?
10 Johannes se beskrywing gaan voort: “Verder was sy kop en sy hare wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam” (Openbaring 1:14). Sy sneeuwit hare dui op wysheid wat aan ’n lang lewe te danke is. (Vergelyk Spreuke 16:31.) En sy vurige oë toon dat hy skerpsinnig en wakker is terwyl hy ondersoek, toets of verontwaardiging toon. Selfs Jesus se voete trek Johannes se aandag: “En sy voete was soos fyn koper wanneer dit in ’n oond gloei; en sy stem was soos die geluid van baie waters” (Openbaring 1:15). In die visioen is Jesus se voete soos koper, gloeiend, helder—gepas vir iemand wat ywerig en met ’n goeie reputasie in Jehovah God se teenwoordigheid wandel. Wat meer is, terwyl goddelike dinge in die Bybel dikwels deur goud voorgestel word, word menslike dinge soms deur koper voorgestel.c Jesus se gloeiende voete soos fyn koper herinner ons derhalwe aan hoe “lieflik” sy voete was toe hy op die aarde gewandel en die goeie nuus verkondig het.—Jesaja 52:7; Romeine 10:15.
11. (a) Waaraan herinner Jesus se glorieryke voete ons? (b) Wat word aangedui deur die feit dat Jesus se stem “soos die geluid van baie waters” was?
11 As ’n volmaakte mens het Jesus inderdaad ’n heerlikheid gehad wat vir engele en mense sigbaar was (Johannes 1:14). Sy glorieryke voete herinner ons ook daaraan dat hy in Jehovah se organisasie, waarin hy die Hoëpriester is, op heilige grond loop. (Vergelyk Eksodus 3:5.) Daarbenewens weergalm sy stem dawerend soos ’n ontsaglike waterval. Dit is indrukwekkend en ontsagwekkend, gepas vir die een wat amptelik die Woord van God genoem word, die een wat kom “om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel”.—Handelinge 17:31; Johannes 1:1.
12. Wat beteken die “skerp, lang tweesnydende swaard”?
12 “En in sy regterhand het hy sewe sterre gehad, en uit sy mond het ’n skerp, lang tweesnydende swaard gekom, en sy aangesig was soos die son wanneer hy in sy krag skyn. En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval” (Openbaring 1:16, 17a). Jesus verduidelik self ’n bietjie later wat die sewe sterre beteken. Maar let op wat uit sy mond kom: “’n skerp, lang tweesnydende swaard”. Hoe gepas tog! Want Jesus is die een wat aangestel is om Jehovah se finale oordele teen Sy vyande uit te spreek. Beslissende woorde uit sy mond lei tot die teregstelling van alle goddeloses.—Openbaring 19:13, 15.
13. (a) Waaraan herinner Jesus se helder, glansende gesig ons? (b) Watter algemene indruk kry ons uit Johannes se beskrywing van Jesus?
13 Jesus se helder, glansende gesig herinner ons daaraan dat Moses se gesig geglinster het nadat Jehovah op die berg Sinai met hom gepraat het (Eksodus 34:29, 30). Onthou ook dat toe Jesus byna 2 000 jaar gelede voor drie van sy apostels van gedaante verander het, ‘sy gesig geskyn het soos die son en sy boklere skitterend geword het soos die lig’ (Matteus 17:2). Nou, in ’n visioenêre voorstelling van Jesus gedurende die dag van die Here, weerspieël sy gesig ook die luisterryke glans van iemand wat in Jehovah se teenwoordigheid was (2 Korintiërs 3:18). Trouens, die algemene indruk wat Johannes se visioen skep, is dié van glansende heerlikheid. Van die sneeuwit hare, die vurige oë en die blink gesig tot die gloeiende voete is dit ’n voortreflike visioen van die Een wat nou “in ontoeganklike lig” woon (1 Timoteus 6:16). Wat ’n realistiese skouspel! Hoe het die verwonderde Johannes gereageer? Die apostel vertel ons: “En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval.”—Openbaring 1:17.
14. Watter uitwerking behoort dit op ons te hê wanneer ons van Johannes se visioen van die verheerlikte Jesus lees?
14 Vandag vul die kleurryke, gedetailleerde beskrywing van Johannes se visioen God se volk met hartgrondige waardering. Daar het reeds meer as 90 jaar van die dag van die Here verloop, waartydens die visioen steeds op opwindende wyse vervul word. Jesus se Koninkryksheerskappy is vir ons ’n lewende, teenswoordige werklikheid, nie ’n toekomsverwagting nie. Dit is dus gepas dat ons as lojale onderdane van die Koninkryk met verwondering verder kyk na wat Johannes in sy eerste visioen beskryf en gehoorsaam luister na die woorde van die verheerlikte Jesus Christus.
[Voetnote]
a Vir ’n breedvoerige verduideliking, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? bladsye 88-92, 215-18, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Wanneer ’n gemeente in die eerste eeu ’n brief van ’n apostel ontvang het, was dit gebruiklik om die brief aan ander gemeentes te stuur sodat almal by die raad kon baat vind.—Vergelyk Kolossense 4:16.
c Die versierings en toebehore in Salomo se tempel was van goud gemaak of daarmee oorgetrek, terwyl koper gebruik is om die voorhof toe te rus.—1 Konings 6:19-23, 28-35; 7:15, 16, 27, 30, 38-50; 8:64.
[Prente op bladsy 23]
Argeologiese oorblyfsels van die stede waar die sewe gemeentes geleë was, bevestig die Bybelverslag. Dit was hier dat eerste-eeuse Christene Jesus se aanmoedigende boodskappe ontvang het wat vandag die wêreldwye gemeente aanspoor
PERGAMUM
SMIRNA
TIATIRA
SARDIS
EFESE
FILADELFIA
LAODISEA