Hoofstuk 23
Die tweede wee—leërs van ruiters
1. Wat het gebeur ondanks die geestelikes se pogings om die sprinkane uit te wis, en wat dui die koms van nog twee weë aan?
SEDERT 1919 het die simboliese sprinkane se inval in die Christendom vir die geestelikes baie ongemak veroorsaak. Hulle het die sprinkane probeer uitwis, maar dié het aangehou om sterker as ooit aan te kom (Openbaring 9:7). En dit is nie al nie! Johannes skryf: “Die een wee is verby. Kyk! Nog twee weë kom ná hierdie dinge” (Openbaring 9:12). Verdere pynigende plae lê vir die Christendom voor.
2. (a) Wat gebeur wanneer die sesde engel op sy trompet blaas? (b) Wat stel die ‘een stem uit die horings van die goue altaar’ voor? (c) Waarom word vier engele genoem?
2 Wat is die bron van die tweede wee? Johannes skryf: “En die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het een stem gehoor uit die horings van die goue altaar wat voor God is, wat vir die sesde engel, wat die trompet gehad het, sê: ‘Maak die vier engele los wat by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind is’” (Openbaring 9:13, 14). Die engele word losgemaak in antwoord op die stem wat uit die horings van die goue altaar kom. Dit is die goue reukaltaar, en die reukwerk van die goue bakke van hierdie altaar is vroeër al twee keer met die gebede van die heiliges verbind (Openbaring 5:8; 8:3, 4). Hierdie een stem stel dus die gesamentlike gebede van die heiliges op die aarde voor. Hulle smeek dat hulle bevry moet word vir verdere kragdadige diens as Jehovah se “boodskappers”, wat die basiese betekenis is van die Griekse woord wat hier met “engele” vertaal word. Waarom is daar vier engele? Hierdie simboliese getal dui skynbaar aan dat hulle só georganiseer sou wees dat hulle die hele aarde kan dek.—Openbaring 7:1; 20:8.
3. Hoe was die vier engele “by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind”?
3 Hoe was hierdie engele “by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind”? Die Eufraatrivier was in die ou tyd die noordoostelike grens van die land wat Jehovah aan Abraham beloof het (Genesis 15:18; Deuteronomium 11:24). Blykbaar is die engele by die grens van hulle godgegewe land, of aardse bedrywigheidsfeer, ingeperk en daarvan weerhou om die diens wat Jehovah vir hulle voorberei het, ten volle te verrig. Die Eufraat is ook ten nouste verbind met die stad Babilon, en ná die val van Jerusalem in 607 v.G.J. het vleeslike Israeliete 70 jaar in ballingskap daar deurgebring, ‘vasgebind by die groot rivier, die Eufraat’ (Psalm 137:1). In 1919 was die geestelike Israeliete op soortgelyke wyse vasgebind, sodat hulle neerslagtig was en Jehovah om leiding gevra het.
4. Watter opdrag het die vier engele, en hoe word dit uitgevoer?
4 Gelukkig kan Johannes vertel: “En die vier engele, wat gereedgemaak is vir die uur en dag en maand en jaar, is losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak” (Openbaring 9:15). Jehovah is ’n noukeurige Tydhouer. Hy het ’n rooster en bly daarby. Gevolglik word hierdie boodskappers presies op tyd losgelaat, betyds om hulle taak uit te voer. Stel jou hulle vreugde voor toe hulle in 1919 uit gevangenskap gekom het, gereed vir werk! Hulle het ’n opdrag om nie net te pynig nie, maar om uiteindelik “’n derde van die mense dood te maak”. Dit hou verband met die plae wat deur die eerste vier trompetstote aangekondig is, wat ’n derde van die aarde, die see, die skepsele in die see, die waterfonteine en riviere en die hemelse ligbronne geteister het (Openbaring 8:7-12). Die vier engele gaan verder. Hulle ‘maak dood’, dit wil sê, hulle lê die Christendom se geestelik dooie toestand geheel en al bloot. Dit is gedoen deur verklarings wat sedert 1922 uitgebasuin is en vandag nog uitgebasuin word.
5. Hoe het die geluid van die sesde trompetstoot in 1927 ten opsigte van die Christendom weerklink?
5 Onthou, die hemelse engel het pas op die sesde trompet geblaas. In antwoord hierop is die sesde van die reeks jaarlikse internasionale byeenkomste van die Bybelstudente in Toronto, Ontario, Kanada, gehou. Die program wat op Sondag 24 Julie 1927 daar aangebied is, is oor ’n netwerk van 53 radiostasies uitgesaai, die omvattendste uitsaainetwerk tot op daardie tydstip. Hierdie gesproke boodskap het ’n gehoor van moontlik baie miljoene bereik. Eers het ’n kragtige resolusie die Christendom as geestelik dood blootgelê en die uitnodiging gerig: “In hierdie uur van verwarring versoek Jehovah God die volke om ‘die Christendom’ of ‘die georganiseerde Christelike godsdiens’ te verlaat, dit vir ewig te versaak en hulle geheel en al daarvan af te keer . . . ; [laat] die volke hulle hartgrondige toewyding en trou volkome aan Jehovah God en aan sy Koning en koninkryk gee.” “Vryheid vir die volke” was die titel van die openbare toespraak wat daarop gevolg het. J. F. Rutherford het hierdie toespraak in sy gewone dinamiese styl gelewer, wat gepas het by “die vuur en die rook en die swael” wat Johannes vervolgens in sy visioen sien.
6. Hoe beskryf Johannes die leërs van ruiters wat hy vervolgens sien?
6 “En die getal van die leërs van ruiters was twee tienduisende van tienduisende: ek het hulle getal gehoor. En só het ek die perde, en dié wat op hulle sit, in die visioen gesien: hulle het vuurrooi en hiasintblou en swaelgeel borsplate gehad; en die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swael uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense doodgemaak, deur die vuur en die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgegaan het.”—Openbaring 9:16-18.
7, 8. (a) Onder wie se leiding storm die ruiters uit? (b) In watter opsigte kom die ruiters ooreen met die sprinkane wat hulle voorafgegaan het?
7 Blykbaar storm hierdie ruiters onder leiding van die vier engele uit. Wat ’n skrikwekkende skouspel! Stel jou jou reaksie voor as jy die teiken van so ’n ruiteraanval was! Net die voorkoms daarvan sou jou hart met skrik vervul. Maar het jy opgelet hoe hierdie ruiters ooreenkom met die sprinkane wat hulle voorafgegaan het? Die sprinkane was soos perde; in die leërs van ruiters is daar perde. Albei is derhalwe by teokratiese oorlogvoering betrokke (Spreuke 21:31). Die sprinkane het tande soos dié van leeus gehad; die perde van die ruiters het koppe soos dié van leeus. Albei hou dus verband met die moedige Leeu uit die stam Juda, Jesus Christus, wat hulle Leier, Bevelvoerder en Voorbeeld is.—Openbaring 5:5; Spreuke 28:1.
8 Die sprinkane sowel as die ruiters neem deel aan Jehovah se oordeelswerk. Die sprinkane het te voorskyn gekom uit rook wat wee en vernietigende vuur vir die Christendom voorspel het; uit die bekke van die perde kom vuur, rook en swael. Die sprinkane het ysterborsplate gehad, wat afgebeeld het dat hulle harte deur onwrikbare toegewydheid aan regverdigheid beskerm is; die ruiters dra rooi, blou en geel borsplate, wat ’n weerspieëling is van die vuur, rook en swael van die dodelike oordeelsboodskappe wat uit die bekke van die perde uitgaan. (Vergelyk Genesis 19:24, 28; Lukas 17:29, 30.) Die sprinkane het sterte soos skerpioene gehad om mee te pynig; die perde het sterte soos slange om mee dood te maak! Dit lyk asof die ruiters die taak waarmee die sprinkane begin het, met groter intensiteit gaan voortsit en voltooi.
9. Wat simboliseer die ruiters?
9 Wat simboliseer hierdie ruiters dan? Aangesien die gesalfde Johannes-klas die trompetagtige aankondiging van Jehovah se oordeel van goddelike wraak oor die Christendom begin het, met gesag om ‘met hulle angels seer te maak’, sou ons verwag dat dieselfde lewende groep gebruik sou word om ‘dood te maak’, dit wil sê om bekend te maak dat die Christendom en haar geestelikes geestelik morsdood is, verwerp deur Jehovah en reg vir “die vuuroond” van ewige vernietiging. Trouens, die hele Babilon die Grote moet vergaan (Openbaring 9:5, 10; 18:2, 8; Matteus 13:41-43). Maar voor haar vernietiging gebruik die Johannes-klas “die swaard van die gees, dit is God se woord,” om die Christendom se doodse toestand bloot te lê. Hierdie figuurlike slagting van “’n derde van die mense” geskied onder leiding van die vier engele en die perderuiters (Efesiërs 6:17; Openbaring 9:15, 18). Dit dui op behoorlike organisasie en teokratiese leiding onder toesig van die Here Jesus Christus terwyl die ontsagwekkende groep Koninkryksverkondigers tot die aanval oorgaan.
Twee tienduisende van tienduisende
10. In watter sin is daar twee tienduisende van tienduisende ruiters?
10 Hoe kan daar twee tienduisende van tienduisende van hierdie ruiters wees? Twee tienduisende van tienduisende kom uit op 200 miljoen.a Dit is verblydend dat daar nou miljoene Koninkryksverkondigers is, maar hulle getal is baie minder as honderdmiljoene! Onthou egter Moses se woorde in Numeri 10:36: “Keer tog terug, o Jehovah, na die tienduisende duisendtalle van Israel.” (Vergelyk Genesis 24:60.) Dit sou letterlik beteken: ‘Keer tog terug na die tienmiljoene van Israel.’ Maar Israel het in Moses se dag net ongeveer twee- tot driemiljoen getel. Wat het Moses dan gesê? Hy het ongetwyfeld in gedagte gehad dat die getal van die Israeliete onbepaald moes wees soos “die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”, eerder as dat hulle getel moes word (Genesis 22:17; 1 Kronieke 27:23). Daarom het hy die woord vir “tienduisende” gebruik om ’n groot maar onbepaalde aantal aan te dui. The New English Bible gee hierdie vers derhalwe soos volg weer: “Rus, HERE van die tallose duisende van Israel.” Dit stem ooreen met ’n tweede definisie van die woord vir “tienduisend” in Griekse en Hebreeuse woordeboeke: “’n ontelbare menigte”, ’n “menigte”.—The New Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament; A Hebrew and English Lexicon of the Old Testament van Gesenius, vertaal deur Edward Robinson.
11. Wat was nodig vir die Johannes-klas om selfs in simboliese sin tienduisende te word?
11 Nietemin is daar minder as 10 000 lede van die Johannes-klas op die aarde oor. Hoe kan hulle vergelyk word met tallose duisende ruiters? Sou hulle nie versterkings nodig hê om selfs in simboliese sin tienduisende te word nie? Dit is wat hulle nodig gehad het, en dit is wat hulle deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid ontvang het! Waar het hierdie versterkings vandaan gekom?
12, 13. Watter geskiedkundige verwikkelinge van 1918 tot 1935 het die bron van die versterkings aangedui?
12 Van 1918 tot 1922 het die Johannes-klas die gelukkige vooruitsig aan die bekommerde mensdom begin voorhou dat ‘daar vandag miljoene leef wat nooit sal sterf nie’. In 1923 is daar ook bekend gemaak dat die skape van Matteus 25:31-34 lewe op die aarde onder God se Koninkryk sal beërf. ’n Soortgelyke hoop is voorgehou in die boekie Vryheid vir die volke, wat by die internasionale byeenkoms in 1927 vrygestel is. In die vroeë 1930’s is daar getoon dat die opregte Jonadab-klas en “die mense wat sug en steun” oor die Christendom se jammerlike geestelike toestand, dieselfde is as die simboliese skape wat die vooruitsig op aardse lewe het (Esegiël 9:4; 2 Konings 10:15, 16). The Watchtower van 15 Augustus 1934 het hierdie mense na die hedendaagse “vrystede” gerig deur te sê: “Die lede van die Jonadab-klas het die geluid van God se trompet gehoor en het op die waarskuwing ag geslaan deur na God se organisasie te vlug en met God se volk om te gaan, en daar moet hulle bly.”—Numeri 35:6.
13 In 1935 is die lede van hierdie Jonadab-klas spesiaal genooi om die byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, VSA, by te woon. Daar, op Vrydag 31 Mei, het J. F. Rutherford sy beroemde toespraak “Die groot menigte” gehou, waarin hy duidelik getoon het dat hierdie groep van Openbaring 7:9 dieselfde is as die skape van Matteus 25:33—’n toegewyde groep met ’n aardse hoop. As ’n aanduiding van toekomstige dinge is 840 nuwe Getuies by hierdie byeenkoms gedoop, waarvan die meeste lede van die groot menigte was.b
14. Sou die groot menigte aan die simboliese ruiteraanval deelneem, en watter voorneme is in 1963 uitgespreek?
14 Het hierdie groot menigte deelgeneem aan die ruiteraanval wat in 1922 begin het en wat in 1927 by die byeenkoms in Toronto besondere klem gekry het? Onder leiding van die vier engele, die gesalfde Johannes-klas, het hulle beslis! By die wêreldomvattende “Ewige Goeie Nuus”-byeenkoms van 1963 het hulle saam met die Johannes-klas ’n besielende resolusie aangeneem. Dit het verklaar dat die wêreld “voor ’n aardbewing van wêreldmoeilikheid staan soos daar nog nooit was nie, en al sy politieke instellings en sy hedendaagse godsdienstige Babilon sal aan stukke geskud word”. Die voorneme is uitgespreek dat “ons sal aanhou om onpartydig aan alle volke die ‘ewige goeie nuus’ te verkondig aangaande God se Messiaanse Koninkryk en aangaande sy oordele, wat vir sy vyande soos plae is, maar wat voltrek sal word vir die bevryding van alle mense wat God die Skepper op aanneemlike wyse met gees en met waarheid wil aanbid”. Hierdie resolusie is by 24 byeenkomste oor die hele aarde geesdriftig aangeneem deur altesaam 454 977 byeenkomsgangers, waarvan meer as 95 persent lede van die groot menigte was.
15. (a) Watter persentasie van die werkkragte wat Jehovah in die veld gebruik, het die groot menigte in 2005 uitgemaak? (b) Hoe verwoord Jesus se gebed in Johannes 17:20, 21 die eenheid tussen die groot menigte en die Johannes-klas?
15 Die groot menigte het voortgegaan om hulle volmondige eenheid met die Johannes-klas bekend te maak in die uitgieting van die plae oor die Christendom. In 2005 het hierdie groot menigte meer as 99,8 persent uitgemaak van die werkkragte wat Jehovah in die veld gebruik. Die lede van die groot menigte is dit van ganser harte eens met die Johannes-klas, aangaande wie Jesus in Johannes 17:20, 21 gebid het: “Ek doen nie net aangaande hulle versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het.” Terwyl die gesalfde Johannes-klas onder Jesus die leiding neem, neem die ywerige groot menigte saam met hulle deel aan die verwoestendste ruiteraanval in die hele mensegeskiedenis!c
16. (a) Hoe beskryf Johannes die bekke en sterte van die simboliese perde? (b) Hoe is die monde van Jehovah se volk vir diens voorberei? (c) Wat kom ooreen met die feit dat ‘hulle sterte soos slange is’?
16 Hierdie ruiters het toerusting vir die stryd nodig. En hoe wonderlik het Jehovah dit tog voorsien! Johannes beskryf dit: “Want die gesag van die perde is in hulle bekke en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan” (Openbaring 9:19). Jehovah het sy toegewyde, gedoopte bedienaars vir hierdie diens georden. Hy het hulle deur middel van die Teokratiese Bedieningskool en ander gemeentelike vergaderinge en skole geleer hoe om die woord te verkondig, sodat hulle gesaghebbend met ‘die tong van dié wat geleer is’, kan praat. Hy het sy woorde in hulle monde geplaas en het hulle uitgestuur om sy oordele “in die openbaar en van huis tot huis” bekend te maak (2 Timoteus 4:2; Jesaja 50:4; 61:2; Jeremia 1:9, 10; Handelinge 20:20). Die Johannes-klas en die groot menigte het ’n pynigende boodskap, wat met “sterte” ooreenkom, by mense gelaat in die vorm van duisendmiljoene Bybels, boeke, brosjures en tydskrifte wat oor die jare heen versprei is. Vir hulle teenstanders, wat in kennis gestel word van die komende “skade” deur Jehovah, lyk hierdie leërs van ruiters waarlik soos twee tienduisende van tienduisende.—Vergelyk Joël 2:4-6.
17. Het Jehovah se Getuies enige aandeel aan die ruiteraanval in lande waar lektuur nie versprei kan word nie omdat die werk verbied is? Verduidelik.
17 ’n Baie ywerige afdeling van hierdie ruiters bestaan uit broers in lande waar die werk van Jehovah se Getuies verbied is. Soos skape onder wolwe moet hulle “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” wees. In gehoorsaamheid aan Jehovah kan hulle nie ophou praat oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie (Matteus 10:16; Handelinge 4:19, 20; 5:28, 29, 32). Moet ons die gevolgtrekking maak dat hulle, aangesien hulle min of geen gedrukte materiaal het om in die openbaar te versprei nie, geen aandeel aan die ruiteraanval het nie? Glad nie! Hulle het hulle monde en gesag van Jehovah om dit te gebruik om Bybelwaarheid uit te spreek. Hulle doen dit, informeel en met oorredingskrag, begin Bybelstudies en ‘bring baie tot regverdigheid’ (Daniël 12:3). Hoewel hulle moontlik nie met hulle sterte steek in die sin dat hulle kragtige lektuur by mense laat nie, gaan simboliese vuur, rook en swael uit hulle monde uit terwyl hulle taktvol en met oordeelkundigheid van Jehovah se naderende dag van regverdiging getuig.
18. In hoeveel tale en in watter hoeveelheid het hierdie ruiters die teisterende boodskap in gedrukte vorm versprei?
18 Op ander plekke word die Christendom se Babiloniese leerstellings en weë nog steeds deur die Koninkrykslektuur blootgelê, en dit berokken haar sodoende in figuurlike sin verdiende skade. Met behulp van moderne drukmetodes kon hierdie groot getal ruiters in die 68 jaar voor 2005 duisendmiljoene Bybels, boeke, tydskrifte en brosjures—baie keer meer as letterlik twee tienduisende van tienduisende—in meer as 450 van die aarde se tale versprei. Hoe het hierdie sterte die mense tog nie gesteek nie!
19, 20. (a) Hoe het party in lande ver buite die Christendom gereageer, hoewel die Christendom die spesifieke teiken van die teisterende boodskap was? (b) Hoe beskryf Johannes die reaksie van die mense oor die algemeen?
19 Dit was Jehovah se voorneme dat hierdie teisterende boodskap ‘’n derde van die mense doodmaak’. Die spesifieke teiken daarvan was gevolglik die Christendom. Maar dit het lande ver buite die Christendom bereik, met inbegrip van baie waar die huigelary van die Christendom se godsdienste goed bekend is. Het die mense van hierdie lande nader aan Jehovah gekom omdat hulle die plaag oor hierdie verdorwe godsdiensorganisasie gesien het? Baie het! Daar was ’n geredelike reaksie onder sagmoedige en minsame mense wat in gebiede buite die Christendom se onmiddellike invloedsfeer woon. Maar Johannes beskryf die reaksie van die mense oor die algemeen: “Maar die res van die mense wat nie deur hierdie plae gedood is nie, het nie berou gehad oor die werke van hulle hande, sodat hulle nie die demone en die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie, sou aanbid nie; en hulle het nie berou gehad oor hulle moorde of oor hulle spiritistiese gebruike of oor hulle hoerery of oor hulle diefstalle nie” (Openbaring 9:20, 21). Daar sal geen wêreldbekering van sulke onberouvolle mense wees nie. Almal wat in hulle goddelose weë volhard, sal in die groot dag van Jehovah se regverdiging voor sy ongunstige oordeel te staan kom. Maar “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom”.—Joël 2:32; Psalm 145:20; Handelinge 2:20, 21.
20 Wat ons pas bespreek het, is ’n deel van die tweede wee. Maar hierdie tweede wee is nog lank nie klaar nie, soos ons in die volgende hoofstukke sal sien.
[Voetnote]
a Commentary on Revelation, deur Henry Barclay Swete, sê aangaande die getal “twee tienduisende van tienduisende”: “Hierdie reusegetalle belet ons om ’n letterlike vervulling te soek, en die beskrywing wat daarop volg, staaf hierdie gevolgtrekking.”
b Sien die voorgaande bladsye 119-26; ook Regverdiging, Boek Drie, in 1932 uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 83-4.
c In teenstelling met die sprinkane het die leërs van ruiters wat Johannes gesien het, nie “iets soos krone, wat gelyk het soos goud,” gedra nie (Openbaring 9:7). Dit strook met die feit dat die groot menigte, wat vandag die grootste deel van die ruiters uitmaak, nie hoop om in God se hemelse Koninkryk te regeer nie.
[Prent op bladsy 149]
Die sesde trompetstoot lei die tweede wee in
[Prente op bladsy 150, 151]
Die vier engele lei die grootste ruiteraanval in die geskiedenis
[Prente op bladsy 153]
Die ontelbare ruiters het miljoene der miljoene Bybelpublikasies versprei
[Prent op bladsy 154]
Die res van die mense het nie berou gehad nie