Hoofstuk 25
Die twee getuies herlewe
1. Wat beveel die sterk engel Johannes om te doen?
VOORDAT die tweede wee uiteindelik verby is, beveel die sterk engel Johannes om aan nog ’n profetiese voorstelling deel te neem, hierdie keer in verband met die tempel (Openbaring 9:12; 10:1). Johannes vertel: “En ’n riet soos ’n staf is vir my gegee terwyl hy gesê het: ‘Staan op en meet die tempelheiligdom van God en die altaar en dié wat daarin aanbid.’”—Openbaring 11:1.
Die tempelheiligdom
2. (a) Watter tempelheiligdom sou tot in ons dag bestaan? (b) Wie is die Hoëpriester van die tempelheiligdom, en wat is die Allerheiligste daarvan?
2 Die tempel wat hier gemeld word, kan nie ’n letterlike tempel in Jerusalem wees nie, aangesien die laaste tempel daar in 70 G.J. deur die Romeine vernietig is. Maar die apostel Paulus het getoon dat daar selfs voor daardie vernietiging ’n ander tempelheiligdom verskyn het, wat tot in ons dag sou bestaan. Dit was die groot geestelike tempel wat die profetiese tipes vervul het wat voorsien is deur die tabernakel en later die tempels wat in Jerusalem gebou is. Dit is “die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie”, en die Hoëpriester daarvan is Jesus, van wie Paulus sê dat hy reeds “aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele gaan sit” het. Die Allerheiligste daarvan is die plek van Jehovah se teenwoordigheid in die hemel self.—Hebreërs 8:1, 2; 9:11, 24.
3. By die tabernakel, wat is afgebeeld deur (a) die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heilige geskei het? (b) die diereoffers? (c) die offeraltaar?
3 Die apostel Paulus verduidelik dat die voorhangsel van die tabernakel, wat die Allerheiligste van die Heilige geskei het, Jesus se vlees afbeeld. Toe Jesus sy lewe opgeoffer het, het hierdie voorhangsel in twee geskeur, wat getoon het dat Jesus se vlees nie meer sou keer dat hy in Jehovah se teenwoordigheid in die hemel ingaan nie. Op grond van Jesus se offerande sou sy gesalfde onderpriesters wat getrou gesterf het, mettertyd ook in die hemele ingaan (Matteus 27:50, 51; Hebreërs 9:3; 10:19, 20). Paulus wys ook daarop dat die voortdurende diereoffers by die tabernakel gewys het na Jesus se een offerande, naamlik sy volmaakte menselewe. Die offeraltaar in die voorhof het Jehovah se voorsiening, volgens sy wil, voorgestel om Jesus se offerande te aanvaar ten behoewe van die “baie”—die gesalfdes en, later, die ander skape—wat “hom vurig verwag vir hulle redding”.—Hebreërs 9:28; 10:9, 10; Johannes 10:16.
4. Wat is gesimboliseer deur (a) die Heilige? (b) die binneste voorhof?
4 Ons kan uit hierdie goddelik geïnspireerde inligting aflei dat die Heilige in die tabernakel ’n heilige toestand simboliseer wat eers deur Christus geniet is en daarna deur die gesalfde lede van die koninklike priesterdom van 144 000 terwyl hulle nog op die aarde is, voordat hulle deur “die voorhangsel” ingaan (Hebreërs 6:19, 20; 1 Petrus 2:9). Dit stel gepas voor dat hulle as geestelike kinders van God aangeneem is, net soos God erken het dat Jesus sy Seun is nadat Jesus in 29 G.J. in die Jordaan gedoop is (Lukas 3:22; Romeine 8:15). En wat van die binneste voorhof, die enigste deel van die tabernakel wat vir niepriesterlike Israeliete sigbaar was en die plek waar die offerandes gebring is? Dit beeld die volmaakte posisie van die mens Jesus af wat hom bevoeg gemaak het om sy lewe vir die mensdom te gee. Dit stel ook die regverdige posisie voor wat Jesus se gesalfde volgelinge as heiliges geniet terwyl hulle nog op die aarde is, ’n posisie wat hulle op grond van sy offerande toegereken word.a—Romeine 1:7; 5:1.
Die meting van die tempelheiligdom
5. Wat is in profesieë van die Hebreeuse Geskrifte geïmpliseer deur (a) die meting van Jerusalem? (b) die meting van die tempel in Esegiël se visioen?
5 Johannes word beveel om “die tempelheiligdom van God en die altaar en dié wat daarin aanbid”, te meet. Wat impliseer dit? In die profesieë van die Hebreeuse Geskrifte het sulke meting ’n waarborg voorsien dat reg sou geskied op grond van Jehovah se volmaakte standaarde. In die dae van die goddelose koning Manasse het die profetiese meting van Jerusalem getuig van ’n onherroeplike oordeel van vernietiging oor daardie stad (2 Konings 21:13; Klaagliedere 2:8). Maar later, toe Jeremia gesien het hoe Jerusalem gemeet word, het dit bevestig dat die stad herbou sou word. (Jeremia 31:39; sien ook Sagaria 2:2-8.) Net so was die omvattende en deeglike meting van die tempel wat Esegiël in ’n visioen gesien het, ’n waarborg aan die Joodse ballinge in Babilon dat ware aanbidding in hulle vaderland herstel sou word. Dit was ook ’n herinnering dat Israel, met die oog op hulle oortredings, voortaan aan God se heilige standaarde moes voldoen.—Esegiël 40:3, 4; 43:10.
6. Waarvan is die bevel aan Johannes om die tempelheiligdom en die priesters wat daarin aanbid, te meet, ’n teken? Verduidelik.
6 Wanneer Johannes beveel word om die tempelheiligdom en die priesters wat daarin aanbid, te meet, is dit dus ’n teken dat niks die vervulling van Jehovah se voornemens met betrekking tot die tempelreëling en dié wat daaraan verbonde is, kan verhinder nie en dat hierdie voornemens hulle klimaks nader. Noudat alle dinge onder die voete van Jehovah se sterk engel gestel is, het dit tyd geword dat “die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge” (Jesaja 2:2-4). Jehovah se rein aanbidding moet verhef word, ná eeue van die Christendom se afvalligheid. Dit is ook tyd vir dié van Jesus se getroue broers wat gesterf het, om opgewek te word in “die Heilige der Heilige” (Daniël 9:24; 1 Tessalonisense 4:14-16; Openbaring 6:11; 14:4). En die laaste verseëlde “slawe van ons God” wat nog op die aarde is, moet volgens die goddelike standaarde gemeet word om te kwalifiseer vir hulle permanente plek in die tempelreëling as geesverwekte kinders van God. Die Johannes-klas is vandag ten volle bewus van hierdie heilige standaarde en is vasbeslote om daaraan te voldoen.—Openbaring 7:1-3; Matteus 13:41, 42; Efesiërs 1:13, 14; vergelyk Romeine 11:20.
Die vertrapping van die voorhof
7. (a) Waarom word Johannes beveel om nie die voorhof te meet nie? (b) Wanneer is die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap? (c) Hoe het die geestelikes van die Christendom 42 maande lank versuim om Jehovah se regverdige standaarde te handhaaf?
7 Waarom is Johannes verbied om die voorhof te meet? Hy vertel vir ons met hierdie woorde: “Maar wat die voorhof betref wat buitekant die tempelheiligdom is, werp dit heeltemal uit en moet dit nie meet nie, want dit is aan die nasies gegee, en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank met die voete vertrap” (Openbaring 11:2). Ons het reeds gesien dat die binneste voorhof geesverwekte Christene se regverdige posisie op die aarde afbeeld. Soos ons sal sien, gaan dit hier oor die letterlike 42 maande van Desember 1914 tot Junie 1918, toe alle verklaarde Christene aan ’n swaar toets onderwerp is. Sou hulle Jehovah se regverdige standaarde gedurende hierdie oorlogsjare handhaaf? Die meeste het nie. As ’n geheel het die geestelikes van die Christendom nasionalisme bo gehoorsaamheid aan God se wet gestel. Aan albei kante van die oorlog, wat hoofsaaklik in die Christendom gevoer is, het die geestelikes die jong manne as ’t ware in die loopgrawe in gepreek. Miljoene is afgemaai. Teen die tyd dat oordeel in 1918 by die huis van God begin het, het die Verenigde State ook aan hierdie bloedvergieting begin deelneem, en die geestelikes van die hele Christendom het hulle bloedskuld op die hals gehaal wat nog steeds om goddelike wraak roep (1 Petrus 4:17). Hulle uitwerping het permanent, onomkeerbaar, geword.—Jesaja 59:1-3, 7, 8; Jeremia 19:3, 4.
8. Wat het baie van die Bybelstudente gedurende die Eerste Wêreldoorlog besef, maar wat het hulle nie ten volle begryp nie?
8 Maar wat van die groepie Bybelstudente? Sou hulle onmiddellik in 1914 op grond van hulle handhawing van goddelike standaarde gemeet word? Nee. Soos die verklaarde Christene van die Christendom moet hulle ook getoets word. Hulle is ‘heeltemal uitgewerp en aan die nasies gegee’ om hewig beproef en vervolg te word. Baie van hulle het besef dat hulle nie hulle medemens moet gaan doodmaak nie, maar hulle het Christelike neutraliteit nog nie ten volle begryp nie (Miga 4:3; Johannes 17:14, 16; 1 Johannes 3:15). Party het onder druk van die nasies geswig.
9. Wat is die heilige stad wat deur die nasies met die voete vertrap is, en wie verteenwoordig hierdie stad op die aarde?
9 Hoe is die heilige stad egter deur hierdie nasies met die voete vertrap? Dit verwys natuurlik nie na die Jerusalem wat vernietig is meer as 25 jaar voordat Openbaring geskryf is nie. Die heilige stad is eerder Nuwe Jerusalem, wat later in Openbaring beskryf word en nou op die aarde verteenwoordig word deur die oorblywende gesalfde Christene in die tempel se binneste voorhof. Later sal hulle ook deel word van die heilige stad. Hulle vertrapping kom dus neer op die vertrapping van die stad self.—Openbaring 21:2, 9-21.
Die twee getuies
10. Wat moet Jehovah se getroue getuies doen terwyl hulle vertrap word?
10 Selfs terwyl hierdie lojales vertrap word, hou hulle nie op om sy getroue getuies te wees nie. Die profesie gaan dus voort: “‘En ek sal my twee getuies duisend-tweehonderd-en-sestig dae laat profeteer, geklee in saklinne.’ Hulle word deur die twee olyfbome en die twee lampstaanders gesimboliseer en staan voor die Here van die aarde.”—Openbaring 11:3, 4.
11. Wat het dit vir die getroue gesalfde Christene beteken om “in saklinne” te profeteer?
11 Hierdie getroue gesalfde Christene het die eienskap volharding nodig gehad, want hulle moes “in saklinne” profeteer. Wat het dit beteken? In Bybeltye het saklinne dikwels rou gesimboliseer. As iemand dit gedra het, was dit ’n teken dat hy deur smart of ellende getref is (Genesis 37:34; Job 16:15, 16; Esegiël 27:31). Saklinne is verbind met die droewige boodskappe van veroordeling of verdriet wat God se profete moes verkondig (Jesaja 3:8, 24-26; Jeremia 48:37; 49:3). As iemand saklinne gedra het, kon dit nederigheid of berou as gevolg van ’n goddelike waarskuwing aandui (Jona 3:5). Die saklinne wat die twee getuies dra, dui blykbaar op hulle nederige volharding in die aankondiging van Jehovah se oordele. Hulle was getuies wat sy dag van wraak verkondig het, ’n dag wat ook vir die nasies rou sou meebring.—Deuteronomium 32:41-43.
12. Waarom wil dit voorkom of die tydperk waartydens die heilige stad met die voete vertrap sou word, letterlik is?
12 Die Johannes-klas moes hierdie boodskap ’n spesifiek vermelde tyd lank verkondig: 1 260 dae, of 42 maande, dieselfde tydperk wat die heilige stad met die voete vertrap sou word. Dit wil voorkom of hierdie tydperk letterlik is, aangesien dit op twee verskillende maniere uitgedruk word, eers in maande en dan in dae. Daarbenewens was daar aan die begin van die dag van die Here ’n duidelike tydperk van drie en ’n half jaar toe die beproewinge van God se volk ooreengestem het met die gebeure wat hier voorspel word—’n tydperk wat in Desember 1914 begin het en tot Junie 1918 voortgeduur het (Openbaring 1:10). Hulle het ’n “saklinne”-boodskap aangaande Jehovah se oordeel oor die Christendom en die wêreld verkondig.
13. (a) Wat word aangedui deur die feit dat die gesalfde Christene deur twee getuies gesimboliseer is? (b) Aan watter profesie van Sagaria laat dit ons dink wanneer Johannes die twee getuies “die twee olyfbome en die twee lampstaanders” noem?
13 Die feit dat hulle deur twee getuies gesimboliseer is, bevestig vir ons dat hulle boodskap akkuraat en gegrond was. (Vergelyk Deuteronomium 17:6; Johannes 8:17, 18.) Johannes noem hulle “die twee olyfbome en die twee lampstaanders” en sê dat hulle ‘voor die Here van die aarde staan’. Dit is ’n duidelike verwysing na die profesie van Sagaria, wat ’n lampstaander met sewe arms en twee olyfbome gesien het. Daar is gesê dat die olyfbome “die twee gesalfdes”, dit wil sê goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua, afbeeld, “wat langs die Here van die hele aarde staan”.—Sagaria 4:1-3, 14.
14. (a) Wat is aangedui deur Sagaria se visioen van die twee olyfbome? en die lampstaander? (b) Wat sou die gesalfde Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog ondervind?
14 Sagaria het in ’n tyd van herbouing gelewe, en sy visioen van die twee olyfbome het beteken dat Serubbabel en Josua met Jehovah se gees geseën sou word wanneer hulle die volk vir die werk versterk. Die visioen van die lampstaander het Sagaria daaraan herinner om nie “die dag van klein dinge [te] verag” nie, want Jehovah se voornemens sou uitgevoer word—“‘nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërs gesê” (Sagaria 4:6, 10; 8:9). Net so sou die groepie Christene wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog daarin volhard het om die lig van waarheid aan die mensdom te bring, in ’n herbouingswerk gebruik word. Hulle sou ook ’n bron van aanmoediging wees en sou, al was hulle so min, leer om op Jehovah se krag staat te maak en nie die dag van ’n klein begin te verag nie.
15. (a) Waaraan laat die feit dat die gesalfde Christene as twee getuies beskryf is, ons ook dink? Verduidelik. (b) Watter soort tekens word die twee getuies gemagtig om te doen?
15 Die feit dat hulle as twee getuies beskryf is, laat ons ook aan die gedaanteverandering dink. In daardie visioen het drie van Jesus se apostels hom in Koninkryksheerlikheid gesien, saam met Moses en Elia. Dit het afgebeeld dat Jesus in 1914 op sy glorieryke troon sou gaan sit om ’n werk te doen wat deur hierdie twee profete voorafgeskadu is (Matteus 17:1-3). Dit is gepas dat Johannes nou die twee getuies tekens sien doen wat ons aan dié van Moses en Elia laat dink. Johannes sê byvoorbeeld van hulle: “En as iemand hulle kwaad wil aandoen, gaan vuur uit hulle mond uit en verteer hulle vyande; en as iemand hulle kwaad sal wil aandoen, moet hy op hierdie manier doodgemaak word. Hulle het die gesag om die hemel toe te sluit sodat geen reën sal val gedurende die dae wat hulle profeteer nie.”—Openbaring 11:5, 6a.
16. (a) Hoe laat die teken wat vuur insluit, ons dink aan die tyd toe Moses se gesag in Israel betwis is? (b) Hoe het die Christendom se geestelikes die Bybelstudente gedurende die Eerste Wêreldoorlog teëgestaan en vir hulle moeilikheid veroorsaak, en hoe het hulle teruggeveg?
16 Dit laat ons dink aan die tyd toe Moses se gesag in Israel betwis is. Daardie profeet het vurige oordeelswoorde uitgespreek, en Jehovah het die rebelle vernietig deur 250 van hulle met letterlike vuur uit die hemel te verteer (Numeri 16:1-7, 28-35). Op soortgelyke wyse het die Christendom se leiers die Bybelstudente teëgestaan deur te sê dat hulle nie aan kweekskole gegradueer het nie. Maar God se getuies het hoër kwalifikasies as bedienaars gehad: die sagmoedige mense wat aan hulle skriftuurlike boodskap gehoor gegee het (2 Korintiërs 3:2, 3). In 1917 het die Bybelstudente The Finished Mystery, ’n kragtige kommentaar op Openbaring en Esegiël, uitgegee. Dit is gevolg deur die verspreiding van 10 000 000 eksemplare van die vierbladsytraktaat The Bible Students Monthly, waarvan die glansartikel se titel was: “Die val van Babilon—Waarom die Christendom nou moet ly—die uiteinde”. In die Verenigde State het die woedende geestelikes die oorlogshisterie gebruik as ’n verskoning om die boek te laat verbied. In ander lande is die boek gesensor. God se knegte het nietemin aangehou om terug te veg met vurige nommers van die vierbladsytraktaat Kingdom News. Gedurende die verloop van die dag van die Here het ander publikasies die Christendom se geestelik dooie toestand aan die lig gebring.—Vergelyk Jeremia 5:14.
17. (a) Watter gebeure in die dae van Elia het ’n droogte en vuur ingesluit? (b) Hoe het vuur uit die monde van die twee getuies uitgegaan, en watter droogte was hierby betrokke?
17 Wat van Elia? In die dae van die konings van Israel het hierdie profeet ’n droogte aangekondig as blyk van Jehovah se verontwaardiging teen die Baälaanbiddende Israeliete. Dit het drie en ’n half jaar geduur (1 Konings 17:1; 18:41-45; Lukas 4:25; Jakobus 5:17). Later, toe ontroue koning Ahasia soldate gestuur het om Elia te dwing om voor hom te verskyn, het die profeet vuur uit die hemel geroep om die soldate te verteer. Eers toe ’n militêre bevelvoerder behoorlike respek vir sy posisie as profeet getoon het, het Elia ingestem om saam met hom na die koning toe te gaan (2 Konings 1:5-16). Net so het die gesalfde oorblyfsel tussen 1914 en 1918 met vrymoedigheid die aandag op die geestelike droogte in die Christendom gevestig en gewaarsku oor die vurige oordeel wanneer “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah kom”.—Maleagi 4:1, 5; Amos 8:11.
18. (a) Watter gesag word aan die twee getuies gegee, en hoe was dit soortgelyk aan dié wat aan Moses gegee is? (b) Hoe het die twee getuies die Christendom aan die kaak gestel?
18 Johannes sê verder van die twee getuies: “En hulle het gesag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle wil” (Openbaring 11:6b). Om Farao te oorreed om Israel vry te laat, het Jehovah Moses gebruik om onderdrukkende Egipte met plae te tref, onder andere water wat in bloed verander het. Eeue later het die Filistynse vyande van Israel Jehovah se dade teen Egipte goed onthou, en dit het hulle laat uitroep: “Wie sal ons red uit die hand van hierdie majestueuse God? Dit is die God wat Egipte in die wildernis met elke soort slagting [“plaag”, Revised Standard Version] getref het” (1 Samuel 4:8; Psalm 105:29). Moses het Jesus afgebeeld, wat die gesag gehad het om God se oordele oor die godsdiensleiers van sy dag uit te spreek (Matteus 23:13; 28:18; Handelinge 3:22). En gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Christus se broers, die twee getuies, die dodelikheid van “die waters” wat die Christendom vir haar kuddes aanbied, blootgelê.
Die twee getuies word doodgemaak
19. Wat vind volgens die verslag in Openbaring plaas wanneer die twee getuies hulle getuienis klaar gegee het?
19 Hierdie plaag oor die Christendom was so erg dat die Christendom, nadat die twee getuies 42 maande lank in saklinne geprofeteer het, haar wêreldse invloed gebruik het om hulle te laat “doodmaak”. Johannes skryf: “En wanneer hulle hulle getuienis klaar gegee het, sal die wilde dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak. En hulle lyke sal op die breë straat van die groot stad lê wat in geestelike sin Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook aan die paal gehang is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal drie en ’n half dae na hulle lyke kyk, en hulle laat nie toe dat hulle lyke in ’n graf neergelê word nie. En dié wat op die aarde woon, is bly oor hulle en is vrolik, en hulle sal aan mekaar geskenke stuur, want hierdie twee profete het dié wat op die aarde woon, gepynig.”—Openbaring 11:7-10.
20. Wat is “die wilde dier wat uit die afgrond opkom”?
20 Hierdie is die eerste van 37 keer dat daar in Openbaring na ’n wilde dier verwys word. Ons sal hierdie en ander diere later noukeurig ondersoek. Dit is voorlopig voldoende om te sê dat “die wilde dier wat uit die afgrond opkom”, deur Satan geskep en ’n lewende politieke stelsel van dinge is.b—Vergelyk Openbaring 13:1; Daniël 7:2, 3, 17.
21. (a) Hoe het die godsdiensvyande van die twee getuies die oorlogsituasie benut? (b) Waarop dui die feit dat die lyke van die twee getuies onbegrawe gelaat is? (c) Hoe moet die tydperk van drie en ’n half dae beskou word? (Sien voetnoot.)
21 Van 1914 tot 1918 was die nasies in die Eerste Wêreldoorlog gewikkel. Nasionalistiese gevoelens het hoog geloop, en in die lente van 1918 het die godsdiensvyande van die twee getuies die situasie benut. Hulle het die Staat se regswese gemanipuleer sodat verantwoordelike bedienaars van die Bybelstudente op valse aanklagte van sedisie in die gevangenis gegooi is. Getroue medewerkers was oorbluf. Koninkryksbedrywigheid het byna tot stilstand gekom. Dit was asof die predikingswerk dood was. In Bybeltye was dit ’n verskriklike vernedering om nie in ’n gedenkgraf begrawe te word nie (Psalm 79:1-3; 1 Konings 13:21, 22). Dit sou dus ’n groot skande wees as die twee getuies onbegrawe gelaat word. In die warm Palestynse klimaat sou ’n lyk in die oop straat ná drie en ’n half letterlike dae baie sleg begin ruik.c (Vergelyk Johannes 11:39.) Hierdie besonderheid in die profesie dui dus op die skande wat die twee getuies moes verduur. Die voormelde persone wat in die gevangenis gegooi is, is selfs borgtog geweier terwyl daar teen hulle vonnisse geappelleer is. Hulle is lank genoeg in die openbaar vertoon om ’n stank vir die inwoners van “die groot stad” te word. Maar wat was hierdie “groot stad”?
22. (a) Wat is die groot stad? (b) Hoe was die pers saam met die geestelikes bly dat die twee getuies stilgemaak is? (Sien venster.)
22 Johannes gee ons ’n paar leidrade. Hy sê dat Jesus daar aan ’n paal gehang is. Ons dink dus onmiddellik aan Jerusalem. Maar hy sê ook dat die groot stad Sodom en Egipte genoem word. Wel, letterlike Jerusalem is vroeër Sodom genoem weens sy onrein gebruike. (Jesaja 1:8-10; vergelyk Esegiël 16:49, 53-58.) En Egipte, die eerste wêreldmoondheid, word soms as ’n afbeelding van hierdie wêreldstelsel van dinge gebruik (Jesaja 19:1, 19; Joël 3:19). Hierdie groot stad beeld derhalwe ’n verontreinigde “Jerusalem” af wat beweer dat dit God aanbid maar wat onrein en sondig geword het, soos Sodom, en ’n deel van hierdie sataniese wêreldstelsel van dinge geword het, soos Egipte. Dit beeld die Christendom af, die hedendaagse ekwivalent van ontroue Jerusalem, die organisasie waarvan die lede soveel rede gehad het om bly te wees toe hulle die ontstellende prediking van die twee getuies stilgemaak het.
Weer opgewek!
23. (a) Wat gebeur ná drie en ’n half dae met die twee getuies, en watter uitwerking het dit op hulle vyande? (b) Wanneer het Openbaring 11:11, 12 en Esegiël se profesie van Jehovah wat op ’n vallei vol droë bene blaas, ’n hedendaagse vervulling gehad?
23 Die pers het God se volk saam met die geestelikes beswadder, en een koerant het gesê: “Die slot van The Finished Mystery het aangebreek.” Maar niks kon minder waar gewees het nie! Die twee getuies het nie dood gebly nie. Ons lees: “En ná die drie en ’n half dae het lewensgees van God af in hulle ingegaan, en hulle het op hulle voete gaan staan, en groot vrees het op dié geval wat hulle gesien het. En hulle het ’n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: ‘Kom op hierheen.’ En hulle het in die wolk tot in die hemel opgegaan, en hulle vyande het hulle gesien” (Openbaring 11:11, 12). Hulle het dus ’n ondervinding gehad wat soortgelyk is aan dié van die droë bene in die vallei wat Esegiël in ’n visioen besoek het. Jehovah het op daardie droë bene geblaas, en hulle het lewend geword, wat ’n afbeelding was van die hergeboorte van die nasie Israel ná 70 jaar van gevangenskap in Babilon (Esegiël 37:1-14). Hierdie twee profesieë, in Esegiël en in Openbaring, het in 1919 hulle treffende hedendaagse vervulling gehad toe Jehovah sy “afgestorwe” getuies weer springlewendig gemaak het.
24. Watter uitwerking het dit op die twee getuies se godsdiensvervolgers gehad toe hulle lewend geword het?
24 Wat ’n skok vir daardie vervolgers! Die lyke van die twee getuies was skielik weer lewend en bedrywig. Dit was vir daardie geestelikes ’n bitter pil om te sluk, des te meer omdat die Christenbedienaars vir wie hulle met ’n gekonkel in die gevangenis laat gooi het, weer vry was en later heeltemal vrygespreek is. Die skok moes selfs groter gewees het toe die Bybelstudente in September 1919 ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou het. Hier het J. F. Rutherford, wat kort tevore uit die gevangenis vrygelaat is, byeenkomsgangers besiel met sy toespraak “Kondig die Koninkryk aan”, gebaseer op Openbaring 15:2 en Jesaja 52:7. Die lede van die Johannes-klas het weer eens begin om te “profeteer”, of in die openbaar te preek. Hulle het van krag tot krag gegaan en die Christendom se huigelary onbevrees blootgelê.
25. (a) Wanneer is daar vir die twee getuies gesê: “Kom op hierheen”, en hoe het dit plaasgevind? (b) Watter skokkende uitwerking het die herstel van die twee getuies op die groot stad gehad?
25 Die Christendom het herhaaldelik probeer om haar oorwinning van 1918 te herhaal. Sy het haar toevlug geneem tot gepeupelgeweld, regsmanipulering, gevangesetting en selfs teregstellings—alles tevergeefs! Ná 1919 was die geestelike domein van die twee getuies buite haar bereik. In daardie jaar het Jehovah vir hulle gesê: “Kom op hierheen”, en hulle het ’n verhewe geestelike posisie verkry waar hulle vyande hulle kon sien, maar niks aan hulle kon doen nie. Johannes beskryf die skokkende uitwerking wat hulle herstel op die groot stad gehad het: “En in daardie uur het daar ’n groot aardbewing plaasgevind, en ’n tiende van die stad het geval; en seweduisend persone is deur die aardbewing doodgemaak, en die res het bang geword en heerlikheid aan die God van die hemel gegee” (Openbaring 11:13). Daar was werklik groot skuddings in die godsdienswêreld. Dit was asof die grond onder die leiers van die gevestigde kerke geskuif het toe hierdie liggaam van verlewendigde Christene aan die werk gespring het. Die uitwerking op ’n tiende van hulle stad, figuurlik 7 000 persone, was so groot dat daar gesê word dat hulle doodgemaak is.
26. Wie word deur die “tiende van die stad” en die “seweduisend” in Openbaring 11:13 voorgestel? Verduidelik.
26 Die uitdrukking “’n tiende van die stad” laat ons dink aan die keer toe Jesaja aangaande eertydse Jerusalem voorspel het dat ’n tiende die vernietiging van die stad as ’n heilige saad sou oorlewe (Jesaja 6:13). Die getal 7 000 laat ons ook dink aan die tyd toe Elia gedink het dat net hy nog in Israel getrou was en Jehovah vir hom gesê het dat daar in werklikheid nog 7 000 was wat hulle nie voor Baäl neergebuig het nie (1 Konings 19:14, 18). In die eerste eeu het die apostel Paulus gesê dat hierdie 7 000 die oorblyfsel van die Jode afgebeeld het wat aan die goeie nuus oor die Christus gehoor gegee het (Romeine 11:1-5). Hierdie tekste help ons om te verstaan dat die “seweduisend” en die “tiende van die stad” in Openbaring 11:13 dié is wat na die herstelde twee getuies luister en die sondige groot stad verlaat. Hulle sterf as ’t ware met betrekking tot die Christendom. Hulle name word van haar ledelyste geskrap. Wat haar betref, bestaan hulle nie meer nie.d
27, 28. (a) Hoe het ‘die res heerlikheid aan die God van die hemel gegee’? (b) Wat was die Christendom se geestelikes verplig om te erken?
27 Maar hoe het ‘die res [van die Christendom] heerlikheid aan die God van die hemel gegee’? Beslis nie deur hulle afvallige godsdiens te laat vaar en knegte van God te word nie. Dit is eerder soos Vincent se Word Studies in the New Testament verduidelik waar dit die uitdrukking “heerlikheid aan die God van die hemel gegee”, bespreek. Daar sê dit: “Die uitdrukking dui nie op bekering of berou of danksegging nie, maar wel op erkenning, wat die gewone betekenis daarvan in die Bybel is. Vergelyk Jos. vii. 19 (Sept.). Joh. ix. 24; Hand. xii. 23; Rom. iv. 20.” Tot haar ergernis moes die Christendom erken dat die God van die Bybelstudente ’n groot daad verrig het deur hulle tot Christelike bedrywigheid te herstel.
28 Dit is moontlik dat die geestelikes dit net verstandelik, of by hulleself, erken het. Daar is beslis geen getuienis dat enigeen van hulle in die openbaar erkenning gegee het aan die God van die twee getuies nie. Maar Jehovah se profesie deur Johannes help ons om te onderskei wat in hulle harte was en om te besef watter vernederende skok hulle in 1919 gekry het. Sedert daardie jaar, namate die “seweduisend” die Christendom verlaat het ondanks haar volgehoue pogings om haar skape te behou, was die geestelikes verplig om te erken dat die God van die Johannes-klas sterker is as hulle god. In latere jare sou hulle dit selfs duideliker begryp, wanneer baie meer lede van hulle kudde sou weggaan en sou herhaal wat die volk gesê het toe Elia oor die Baälaanbidders op die berg Karmel geseëvier het: “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!”—1 Konings 18:39.
29. Wat sê Johannes kom gou, en watter verdere skudding wag op die Christendom?
29 Maar luister! Johannes sê vir ons: “Die tweede wee is verby. Kyk! Die derde wee kom gou” (Openbaring 11:14). As die Christendom geskud is deur wat tot dusver gebeur het, wat sal sy dan doen wanneer die derde wee aangekondig word, die sewende engel op sy trompet blaas en die heilige geheim van God uiteindelik tot ’n einde gebring word?—Openbaring 10:7.
[Voetnote]
a Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie groot geestelike tempel, sien die artikel “Jehovah se groot geestelike tempel” in Die Wagtoring van 1 Julie 1996 en “Die een ware tempel om by te aanbid” in die nommer van 15 Februarie 1973.
b Die “afgrond” (Grieks, aʹbus·sos; Hebreeus, tehohmʹ) verwys simbolies na ’n plek van onbedrywigheid. (Sien Openbaring 9:2.) Maar dit kan in letterlike sin ook na die uitgestrekte see verwys. Die Hebreeuse woord word dikwels met “waterdiepte” weergegee (Psalm 71:20; 106:9; Jona 2:5). Die “wilde dier wat uit die afgrond opkom”, kan dus geïdentifiseer word as die ‘wilde dier wat uit die see opkom’.—Openbaring 11:7; 13:1.
c Let daarop dat ’n ondersoek van die destydse ondervindinge van God se volk toon dat, hoewel die 42 maande letterlik drie en ’n half jaar voorstel, die drie en ’n half dae nie ’n letterlike tydperk van 84 uur voorstel nie. Waarskynlik word die spesifieke tydperk van drie en ’n half dae twee keer (in verse 9 en 11) gemeld om te beklemtoon dat dit net ’n kort tydperk sou wees in vergelyking met die werklike drie en ’n half jaar van bedrywigheid wat dit voorafgaan.
d Vergelyk die gebruik van die woorde “(ge)dood”, “gesterf” en “lewend” in tekste soos Romeine 6:2, 10, 11; 7:4, 6, 9; Galasiërs 2:19; Kolossense 2:20; 3:3.
[Venster op bladsy 168]
Die blydskap van Openbaring 11:10
In sy boek Preachers Present Arms, wat in 1933 uitgegee is, verwys Ray H. Abrams na die geestelikes se bittere teenstand teen die Bybelstudente se boek The Finished Mystery. Hy hersien die geestelikes se pogings om van die Bybelstudente en hulle “verpestelike oortuiging” ontslae te raak. Dit het uitgeloop op die hofsaak wat tot gevolg gehad het dat J. F. Rutherford en sewe metgeselle tot jarelange gevangenskap gevonnis is. Dr. Abrams voeg by: “’n Ontleding van die hele saak laat ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat die kerke en die geestelikes oorspronklik agter die aksie gesit het om die Russelliete uit te wis. In Februarie 1918 het die predikante in Kanada ’n stelselmatige veldtog teen hulle en hulle publikasies, veral The Finished Mystery, begin. Volgens die Tribune van Winnipeg . . . was die verbod op hulle boek glo die regstreekse gevolg van die ‘vertoë van die geestelikes’.”
Dr. Abrams sê verder: “Toe die nuus van die vonnisse van twintig jaar die redakteurs van die godsdienspers bereik het, het feitlik al hierdie publikasies, groot en klein, hulle oor die gebeurtenis verbly. Ek kon geen simpatieke woorde in enige van die ortodokse godsdienstydskrifte vind nie. ‘Dit ly geen twyfel nie’, het Upton Sinclair gesê, dat ‘die vervolging . . . deels ontstaan het weens die feit dat hulle hulle die haat van “ortodokse” godsdiensliggame op die hals gehaal het.’ Wat die gesamentlike pogings van die kerke nie kon uitrig nie, het die regering nou blykbaar vir hulle gedoen.” Nadat die skrywer die neerhalende aanmerkings van ’n aantal godsdienspublikasies aangehaal het, het hy die herroeping van die besluit in die Appèlhof gemeld en gesê: “Hierdie uitspraak is in die kerke met stilswye begroet.”
[Prent op bladsy 163]
Johannes meet die geestelike tempel—die gesalfde priesterdom moet aan standaarde voldoen
[Prente op bladsy 165]
Die herbouingswerk deur Serubbabel en Josua het aangedui dat ’n klein begin in die dag van die Here deur groot vermeerderings onder Jehovah se Getuies gevolg sou word. Fasiliteite soos dié hierbo, in Brooklyn, New York, moes baie vergroot word om in hulle behoeftes te voorsien
[Prente op bladsy 166]
Vurige oordeelsboodskappe wat deur die twee getuies verkondig word, is deur die profetiese werk van Moses en Elia voorafgeskadu
[Prente op bladsy 169]
Soos die droë bene van Esegiël hoofstuk 37 word die twee getuies geheraktiveer vir die hedendaagse predikingswerk