Hoofstuk 28
’n Stryd teen twee wrede diere
Visioen 8—Openbaring 13:1-18
Onderwerp: Die wilde dier met die sewe koppe, die wilde dier met die twee horings en die beeld van die wilde dier
Tyd van vervulling: Vanaf Nimrod se dag tot die groot verdrukking
1, 2. (a) Wat sê Johannes van die draak? (b) Hoe beskryf Johannes, in simboliese taal, ’n sigbare organisasie wat deur die draak gebruik word?
DIE groot draak is na die aarde neergewerp! Ons studie van Openbaring maak dit duidelik dat die Slang en sy demoonvolgelinge nooit weer in die hemel toegelaat sal word nie. Maar ons is nog nie klaar met “die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” nie. Die verslag identifiseer hierna in groter besonderhede die middele wat Satan gebruik om teen ‘die vrou en haar saad’ te stry (Openbaring 12:9, 17). Johannes sê van hierdie slangagtige draak: “En hy het op die sand van die see gaan staan” (Openbaring 13:1a). Laat ons dan ondersoek instel na die draak se werkwyse.
2 Die heilige hemele word nie meer deur die teenwoordigheid van Satan en sy demone geteister nie. Hierdie goddelose geeste is uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk. Dit verklaar ongetwyfeld die ontsaglike toename in spiritistiese gebruike in hedendaagse tye. Die listige Slang hou nog steeds ’n verdorwe geeste-organisasie in stand. Maar gebruik hy ook ’n sigbare organisasie om die mensdom te mislei? Johannes sê vir ons: “En ek het ’n wilde dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe, en op sy horings tien krone, maar op sy koppe lasterlike name. En die wilde dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, maar sy pote was soos dié van ’n beer, en sy bek was soos ’n leeu se bek. En die draak het aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee.”—Openbaring 13:1b, 2.
3. (a) Watter wrede diere het die profeet Daniël in visioene gesien? (b) Wat het die yslike diere van Daniël 7 voorgestel?
3 Wat is hierdie monsteragtige dier? Die Bybel self verstrek die antwoord. Voor die val van Babilon in 539 v.G.J. het die Joodse profeet Daniël visioene van wrede diere gesien. In Daniël 7:2-8 beskryf hy vier diere wat uit die see kom, waarvan die eerste soos ’n leeu lyk, die tweede soos ’n beer, die derde soos ’n luiperd, en “kyk! ’n vierde dier, vreeswekkend en verskriklik en buitengewoon sterk . . . en hy het tien horings gehad”. Dit toon ’n merkwaardige ooreenkoms met die wilde dier wat Johannes omstreeks 96 G.J. sien. Hierdie dier het ook die kenmerke van ’n leeu, ’n beer en ’n luiperd, en hy het tien horings. Wat is die identiteit van die yslike diere wat Daniël gesien het? Hy deel ons mee: “Hierdie yslike diere [is] vier konings wat uit die aarde sal opstaan” (Daniël 7:17). Ja, hierdie diere stel “konings”, of politieke moondhede van die aarde, voor.
4. (a) Wat het die ram en die bokram in Daniël 8 afgebeeld? (b) Wat het dit beteken toe die groot horing van die bokram gebreek en deur vier horings opgevolg is?
4 In ’n ander visioen sien Daniël ’n ram met twee horings wat deur ’n bok met ’n groot horing neergestoot word. Die engel Gabriël verduidelik aan hom wat dit beteken: “Die ram . . . staan vir die konings van Medië en Persië. En die harige bokram staan vir die koning van Griekeland.” Gabriël voorspel verder dat die groot horing van die bokram gebreek en deur vier horings opgevolg sou word. Dit het meer as 200 jaar later werklik gebeur toe Aleksander die Grote gesterf het en sy koninkryk in vier koninkryke verdeel is waaroor vier van sy generaals geheers het.—Daniël 8:3-8, 20-25.a
5. (a) Watter konnotasies het die Griekse woord vir dier? (b) Waarvoor staan die wilde dier van Openbaring 13:1, 2, tesame met sy sewe koppe?
5 Dit is dus duidelik dat die Outeur van die geïnspireerde Bybel die politieke moondhede van die aarde as diere beskou. Watter soort diere? Een kommentator noem die wilde dier van Openbaring 13:1, 2 ’n “ondier” en voeg by: “Ons aanvaar al die konnotasies wat θηρίον [the·riʹon, die Griekse woord vir “dier”] het, soos dié van ’n wrede, verwoestende, skrikwekkende, roofsugtige, ens. monster.”b Hoe goed beskryf dit tog die bloedbevlekte politieke stelsel deur middel waarvan Satan die mensdom oorheers! Die sewe koppe van hierdie wilde dier staan vir ses vername wêreldmoondhede wat tot in Johannes se dag in Bybelgeskiedenis voorgekom het—Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome—en ’n sewende wêreldmoondheid wat volgens die profesie later sou verskyn.—Vergelyk Openbaring 17:9, 10.
6. (a) Waarmee het die sewe koppe van die wilde dier die voortou geneem? (b) Hoe het Jehovah Rome gebruik om Sy oordeel aan die Joodse stelsel van dinge te voltrek, en hoe het die Christene in Jerusalem gevaar?
6 Daar was weliswaar ander wêreldmoondhede in die geskiedenis buiten hierdie sewe—net soos die wilde dier wat Johannes gesien het, uit ’n liggaam sowel as sewe koppe en tien horings bestaan het. Maar die sewe koppe stel die sewe vernaamste moondhede voor wat, elkeen op sy beurt, die voortou geneem het om God se volk te onderdruk. In 33 G.J., terwyl Rome oorheersend was, het Satan daardie kop van die wilde dier gebruik om die Seun van God dood te maak. Op daardie tydstip het God die ontroue Joodse stelsel van dinge verwerp en later, in 70 G.J., toegelaat dat Rome Sy oordeel aan daardie nasie voltrek. Gelukkig is die ware Israel van God, die gemeente van gesalfde Christene, voor die tyd gewaarsku, en dié in Jerusalem en Judea het na veiligheid oorkant die Jordaanrivier gevlug.—Matteus 24:15, 16; Galasiërs 6:16.
7. (a) Wat sou plaasvind wanneer die voleinding van die stelsel van dinge aanbreek en die dag van die Here begin? (b) Wat is die sewende kop van die wilde dier van Openbaring 13:1, 2?
7 Maar teen die einde van die eerste eeu G.J. het baie in hierdie vroeë gemeente van die waarheid afvallig geword, en die ware Christelike koring, “die kinders van die koninkryk”, is grotendeels deur onkruid, “die kinders van die bose”, verstik. Toe die voleinding van die stelsel van dinge egter aangebreek het, het gesalfde Christene weer as ’n georganiseerde groep verskyn. Gedurende die dag van die Here sou die regverdiges “so helder soos die son skyn”. Gevolglik is die Christengemeente vir werk georganiseer (Matteus 13:24-30, 36-43). Teen dié tyd het die Romeinse Ryk nie meer bestaan nie. Die ontsaglike Britse Ryk, tesame met die magtige Verenigde State van Amerika, het die wêreldtoneel oorheers. Hierdie tweeledige wêreldmoondheid is die sewende kop van die wilde dier.
8. Waarom behoort dit nie skokkend te wees dat die Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid met ’n dier vergelyk word nie?
8 Is dit nie skokkend om die heersende politieke moondhede met ’n wilde dier te vergelyk nie? Dit is wat sommige teenstanders gedurende die Tweede Wêreldoorlog beweer het toe die status van Jehovah se Getuies, as ’n organisasie en as individue, in geregshowe oor die hele aarde betwis is. Maar dink ’n bietjie! Neem die nasies nie self diere of ongediertes as hulle nasionale simbole aan nie? Daar is byvoorbeeld die Britse leeu, die Amerikaanse arend en die Chinese draak. Waarom sou enigiemand dan beswaar maak as die goddelike Outeur van die Heilige Bybel ook diere gebruik om wêreldmoondhede te simboliseer?
9. (a) Waarom behoort ’n mens nie daarteen beswaar te maak wanneer die Bybel sê dat Satan aan die wilde dier sy groot gesag gee nie? (b) Hoe word Satan in die Bybel beskryf, en hoe beïnvloed hy regerings?
9 Wat meer is, waarom sou enigiemand daarteen beswaar maak wanneer die Bybel sê dat dit Satan is wat aan die wilde dier sy groot gesag gee? God is die Bron van hierdie verklaring, en voor hom ‘is die nasies soos ’n druppel uit ’n emmer en soos ’n stoflagie’. Dit sou vir daardie nasies beter wees om God se guns te probeer verkry as om aanstoot te neem aan die manier waarop sy profetiese Woord hulle beskryf (Jesaja 40:15, 17; Psalm 2:10-12). Satan is nie ’n mitiese persoon wat aangestel is om afgestorwe siele in ’n vurige hel te pynig nie. Daar bestaan nie so ’n plek nie. Satan word eerder in die Skrif beskryf as “’n engel van lig”—’n aartsbedrieër wat ’n kragtige invloed op algemene politieke aangeleenthede uitoefen.—2 Korintiërs 11:3, 14, 15; Efesiërs 6:11-18.
10. (a) Wat word aangedui deur die feit dat daar ’n kroon op elkeen van die tien horings was? (b) Wat simboliseer die tien horings en die tien krone?
10 Die wilde dier het tien horings op sy sewe koppe. Moontlik het vier koppe een horing elk en drie koppe twee horings elk gehad. Daarbenewens het hy tien krone op sy horings gehad. In die boek Daniël word skrikwekkende diere beskryf, en die getal van hulle horings moet letterlik vertolk word. Die twee horings op ’n ram het byvoorbeeld ’n wêreldryk voorgestel wat uit twee deelgenote bestaan het, naamlik Medië en Persië, terwyl die vier horings op ’n bok die vier gelyktydig bestaande ryke voorgestel het wat uit Aleksander die Grote se Griekse ryk ontstaan het (Daniël 8:3, 8, 20-22). Maar die getal van die horings op die dier wat Johannes gesien het, naamlik tien, is blykbaar simbolies. (Vergelyk Daniël 7:24; Openbaring 17:12.) Hulle stel al die soewereine state voor wat die hele politieke organisasie van Satan uitmaak. Al hierdie horings is gewelddadig en aggressief, maar soos die sewe koppe aandui, berus die hoofskap by net een wêreldmoondheid op ’n slag. So ook dui die tien krone aan dat alle soewereine state gelyktydig heerskappy sal uitoefen saam met die oorheersende staat, of wêreldmoondheid, van die tyd.
11. Wat word aangedui deur die feit dat die wilde dier “op sy koppe lasterlike name” het?
11 Die wilde dier het “op sy koppe lasterlike name”, aangesien hy bewerings omtrent homself maak wat van groot oneerbiedigheid teenoor Jehovah God en Christus Jesus getuig. Hy het die name van God en Christus gebruik as ’n voorwendsel om sy politieke oogmerke te bereik; en hy het met valse godsdiens saamgegaan en selfs toegelaat dat die geestelikes aan sy politieke prosesse deelneem. Byvoorbeeld, die Hoërhuis in Engeland sluit die biskoppe in. Katolieke kardinale het prominente politieke rolle in Frankryk en Italië gespeel, en meer onlangs het priesters politieke ampte in Latyns-Amerika aanvaar. Regerings druk godsdienstige slagspreuke, soos “OP GOD VERTROU ONS”, op hulle banknote, en op hulle muntstukke maak hulle aanspraak op God se goedkeuring van hulle heersers deur byvoorbeeld te sê dat hulle “deur Gods genade” aangestel word. Dit is alles in werklikheid lasterlik, want dit probeer om God by die besoedelde nasionalistiese politieke arena te betrek.
12. (a) Wat word aangedui deur die feit dat die wilde dier uit “die see” kom, en wanneer het hy begin verskyn? (b) Wat word aangedui deur die feit dat die draak aan die simboliese dier sy groot gesag gee?
12 Die wilde dier kom uit “die see”, wat ’n gepaste simbool is van die onstuimige massas waaruit menseregering voortspruit (Jesaja 17:12, 13). Hierdie wilde dier het reeds in die dae van Nimrod (omstreeks die 21ste eeu v.G.J.) uit die see van die onstuimige mensdom begin verrys toe daar ná die Vloed ’n stelsel van dinge in verset teen Jehovah verskyn het (Genesis 10:8-12; 11:1-9). Maar die laaste van sy sewe koppe het hom eers gedurende die dag van die Here ten volle geopenbaar. Let ook daarop dat dit die draak is wat “aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee” het. (Vergelyk Lukas 4:6.) Die dier is Satan se politieke skepping onder die mensemassa. Satan is waarlik “die heerser van hierdie wêreld”.—Johannes 12:31.
Die dodelike wond
13. (a) Watter rampspoed tref die wilde dier vroeg in die dag van die Here? (b) Hoe het die hele wilde dier gely toe een kop ’n dodelike wond ontvang het?
13 Vroeg in die dag van die Here tref rampspoed die wilde dier. Johannes vertel: “En ek het een van sy koppe gesien asof dit tot die dood toe geslag is, maar sy dodelike wond het genees, en die hele aarde het die wilde dier met bewondering gevolg” (Openbaring 13:3). Hierdie vers sê dat een kop van die wilde dier ’n dodelike wond ontvang het, maar vers 12 praat asof die hele dier gely het. Waarom? Wel, die dier se koppe is nie almal tegelykertyd oorheersend nie. Elkeen het op sy beurt die mensdom, en veral God se volk, gedomineer (Openbaring 17:10). Wanneer die dag van die Here begin, is daar dus net een kop, die sewende, wat as die oorheersende wêreldmoondheid optree. ’n Dodelike wond aan hierdie kop is rampspoedig vir die hele wilde dier.
14. Wanneer is die dodelike wond toegedien, en hoe het ’n leëroffisier die uitwerking daarvan op Satan se wilde dier beskryf?
14 Wat was die dodelike wond? Dit word later ’n swaardwond genoem, en ’n swaard is ’n simbool van oorlogvoering. Hierdie swaardwond, wat vroeg in die dag van die Here toegedien word, moet verband hou met die Eerste Wêreldoorlog, wat Satan se politieke wilde dier groot skade aangedoen het en dit uitgeput het (Openbaring 6:4, 8; 13:14). Skrywer Maurice Genevoix, wat gedurende daardie oorlog ’n leëroffisier was, het daarvan gesê: “Almal erken dat daar in die hele geskiedenis van die mensdom min datums was wat so belangrik is soos 2 Augustus 1914. Eers is Europa en kort daarna byna die hele mensdom in ’n verskriklike gebeurtenis gedompel. Konvensies, ooreenkomste, sedewette, al die fondamente het geskud; alles is skielik bevraagteken. Die gebeurtenis sou instinktiewe voorspellings sowel as redelike verwagtinge oortref. Dit was ontsaglik, chaoties en afgryslik en sleep ons nog steeds agterna.”—Maurice Genevoix, lid van die Académie Française, aangehaal in die boek Promise of Greatness (1968).
15. Hoe het die sewende kop van die wilde dier sy dodelike wond ontvang?
15 Hierdie oorlog was vir die oorheersende sewende kop van die wilde dier ’n groot ramp. Soos ander Europese nasies het Brittanje sy jong manne in ontstellende getalle verloor. In een slag alleen, die Slag van die Sommerivier in 1916, was daar 420 000 Britse slagoffers, sowel as ongeveer 194 000 aan die Franse en 440 000 aan die Duitse kant—meer as 1 000 000 slagoffers! Ook op ekonomiese gebied is Brittanje verpletter—en so ook die res van Europa. Die ontsaglike Britse Ryk het gesteier onder die slag en nooit ten volle herstel nie. Trouens, daardie oorlog, waaraan 28 vooraanstaande nasies deelgeneem het, het die hele wêreld laat steier, asof dit dodelik gewond was. Op 4 Augustus 1979, net 65 jaar nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het The Economist van Londen, Engeland, gesê: “In 1914 het die wêreld ’n koherensie verloor wat dit nog nie weer kon terugkry nie.”
16. Hoe het die Verenigde State gedurende die Eerste Wêreldoorlog getoon dat hy deel van ’n tweeledige wêreldmoondheid is?
16 Terselfdertyd het die Groot Oorlog, soos dit destyds genoem is, die weg gebaan vir die Verenigde State om duidelik as deel van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid na vore te tree. In die eerste jare van die oorlog het die openbare mening die Verenigde State uit die konflik gehou. Maar soos die geskiedskryfster Esmé Wingfield-Stratford geskryf het, “was die groot vraag of Brittanje en die Verenigde State, in hierdie uur van uiterste krisis, hulle geskille opsy sou skuif in die besef van [hulle] oorweldigende eenheid en gemeenskaplike voogdyskap”. Dit is dan ook wat gebeur het. In 1917 het die Verenigde State sy hulpbronne en mannekrag bygedra om die oorlogspoging van die wankelende Geallieerdes te steun. Gevolglik het die sewende kop, ’n kombinasie van Brittanje en die Verenigde State, aan die wenkant uit die stryd getree.
17. Wat het ná die oorlog met Satan se aardse stelsel gebeur?
17 Ná die oorlog was die wêreld heeltemal anders. Hoewel Satan se aardse stelsel groot skade gely het weens die dodelike wond, het dit herstel, magtiger as ooit geword en gevolglik die bewondering van mense ontvang as gevolg van sy herstelvermoë.
18. Hoe kan daar gesê word dat die mensdom oor die algemeen “die wilde dier met bewondering gevolg” het?
18 Die geskiedskrywer Charles L. Mee jr. skryf: “Die ineenstorting van die ou orde [wat deur die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak is] was ’n noodsaaklike voorspel tot die verspreiding van selfbestuur, die bevryding van nuwe nasies en klasse, die verlening van nuwe vryheid en onafhanklikheid.” Die sewende kop van die wilde dier, nou genees en met die Verenigde State van Amerika al hoe meer in die oorheersende rol, het die leiding geneem in die ontwikkeling van hierdie naoorlogse era. Die tweeledige wêreldmoondheid was die vernaamste voorstander van die Volkebond sowel as die Verenigde Nasies. Teen die jaar 2005 het die politieke mag van die VSA die meer bevoorregte nasies daarin voorgegaan om ’n hoër lewenstandaard te skep, siekte te bestry en die tegnologie te bevorder. Dit het selfs 12 mans op die maan geplaas. Dit is dus geen wonder dat die mensdom oor die algemeen “die wilde dier met bewondering gevolg” het nie.
19. (a) Hoe het die mensdom selfs meer gedoen as om die wilde dier net te bewonder? (b) Wie het onbetwiste gesag oor al die koninkryke van die aarde, en hoe weet ons dit? (c) Hoe delegeer Satan gesag aan die wilde dier, en watter uitwerking het dit op die meeste mense?
19 Die mensdom het selfs meer gedoen as om die wilde dier net te bewonder, soos Johannes vervolgens sê: “En hulle het die draak aanbid omdat hy die gesag aan die wilde dier gegee het, en hulle het die wilde dier aanbid met die woorde: ‘Wie is soos die wilde dier, en wie kan teen hom veg?’” (Openbaring 13:4). Terwyl Jesus hier op die aarde was, het Satan beweer dat hy gesag het oor al die koninkryke van die aarde. Jesus het dit nie betwis nie; trouens, hy self het Satan die heerser van die wêreld genoem en geweier om aan die politiek van daardie tyd deel te neem. Johannes het later van ware Christene geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19; Lukas 4:5-8; Johannes 6:15; 14:30). Satan delegeer gesag aan die wilde dier, en hy doen dit op ’n nasionalistiese grondslag. Pleks van verenig te wees in bande van goddelike liefde, het die mensdom dus verdeeld geraak weens stam-, rasse- en nasionale trots. Die oorgrote meerderheid mense aanbid in werklikheid die deel van die wilde dier wat gesag voer in die land waar hulle woon. Sodoende ontvang die hele dier bewondering en aanbidding.
20. (a) In watter sin aanbid mense die wilde dier? (b) Waarom neem Christene wat Jehovah God aanbid, nie deel aan sulke aanbidding van die wilde dier nie, en wie se voorbeeld volg hulle?
20 Aanbidding in watter sin? In die sin dat mense liefde vir hulle vaderland bo liefde vir God stel. Die meeste mense het hulle geboorteland lief. As goeie burgers respekteer ware Christene ook die heersers en die embleme van die land waar hulle woon, gehoorsaam hulle die wette en lewer hulle ’n positiewe bydrae tot die welvaart van hulle gemeenskap en hulle medemens (Romeine 13:1-7; 1 Petrus 2:13-17). Maar hulle kan nie blinde toewyding aan een land bo alle ander gee nie. “Ons land, reg of verkeerd” is nie ’n Christelike lering nie. Christene wat Jehovah God aanbid, kan dus nie trotse patriotiese aanbidding aan enige deel van die wilde dier gee nie, want dit sou neerkom op aanbidding van die draak—die bron van die dier se gesag. Hulle kan nie bewonderend vra: “Wie is soos die wilde dier?” nie. Hulle volg eerder die voorbeeld van Migael—wie se naam beteken “Wie is soos God?”—terwyl hulle Jehovah se universele soewereiniteit ondersteun. Op God se vasgestelde tyd sal hierdie Migael, Christus Jesus, teen die wilde dier veg en hom oorwin, net soos hy geseëvier het toe hy Satan uit die hemel gewerp het.—Openbaring 12:7-9; 19:11, 19-21.
Oorlog teen die heiliges
21. Hoe beskryf Johannes Satan se manipulering van die wilde dier?
21 Die listige Satan het beplan om die wilde dier te manipuleer om sy eie oogmerke te bevorder. Johannes verduidelik dit: “En ’n mond wat groot dinge en lasteringe spreek, is aan hom [die dier met die sewe koppe] gegee, en gesag om twee-en-veertig maande op te tree, is aan hom gegee. En hy het sy mond oopgemaak met lasteringe teen God, om sy naam en sy woonplek, ja, dié wat in die hemel woon, te laster. En aan hom is dit gegee om teen die heiliges oorlog te voer en hulle te oorwin, en hy is gesag oor elke stam en volk en taal en nasie gegee. En almal wat op die aarde woon, sal hom aanbid; die naam van nie een van hulle staan van die grondlegging van die wêreld af geskrywe in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie.”—Openbaring 13:5-8.
22. (a) Na watter tydperk verwys die 42 maande? (b) Hoe is die gesalfde Christene gedurende die 42 maande “oorwin”?
22 Dit lyk asof die 42 maande wat hier gemeld word, dieselfde is as die drie en ’n half jaar waartydens die heiliges geteister word deur ’n horing wat uit een van die diere in Daniël se profesie te voorskyn kom. (Daniël 7:23-25; sien ook Openbaring 11:1-4.) Van die einde van 1914 af tot in 1918, terwyl die strydende nasies mekaar letterlik soos wilde diere verskeur het, is daar dus druk op burgers van hierdie nasies uitgeoefen om die wilde dier te aanbid, om aan die godsdiens van nasionalisme deel te neem en selfs bereid te wees om vir hulle land te sterf. Hierdie druk het groot lyding meegebring vir baie van die gesalfdes, wat gevoel het dat hulle allereers aan Jehovah God en sy Seun, Christus Jesus, gehoorsaam moet wees (Handelinge 5:29). Hulle beproewinge het in Junie 1918 ’n hoogtepunt bereik, toe hulle “oorwin” is. In die Verenigde State is vooraanstaande ampsdraers en ander verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap ten onregte in die gevangenis gegooi, en die georganiseerde predikingswerk deur hulle Christenbroers is grootliks belemmer. Aangesien die wilde dier gesag “oor elke stam en volk en taal en nasie” gehad het, het dit God se werk wêreldwyd aan bande gelê.
23. (a) Wat is “die boekrol van die lewe van die Lam”, en wat het sedert 1918 voltooiing genader? (b) Waarom was enige oënskynlike oorwinning van Satan se sigbare organisasie oor “die heiliges” bloot ’n betekenislose oorwinning?
23 Dit het soos ’n oorwinning vir Satan en sy organisasie gelyk. Maar dit kon vir hulle geen langdurige voordele meebring nie, aangesien die naam van geen lid van Satan se sigbare organisasie in “die boekrol van die lewe van die Lam” geskryf is nie. In figuurlike sin bevat hierdie boekrol die name van dié wat saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk sal regeer. Die eerste name is op Pinkster 33 G.J. daarin geskryf. En in die jare sedertdien is al hoe meer name bygevoeg. Sedert 1918 het die verseëling van die oorblywende lede van die 144 000 Koninkrykserfgename voltooiing genader. Binnekort sal die name van hulle almal onuitwisbaar in die Lam se boekrol van die lewe geskrywe staan. Wat die teenstanders betref wat die wilde dier aanbid, nie een van hulle se naam sal in hierdie boekrol geskryf word nie. Enige oënskynlike oorwinning wat hulle oor “die heiliges” behaal, is dus betekenisloos, bloot tydelik.
24. Watter beroep doen Johannes op diegene met onderskeidingsvermoë, en wat beteken die woorde wat gehoor word, vir God se volk?
24 Johannes doen nou ’n beroep op diegene met onderskeidingsvermoë om baie aandagtig te luister: “As iemand ’n oor het, laat hom hoor.” Dan sê hy: “As iemand vir gevangenskap bestem is, gaan hy gevangenskap in. As iemand met die swaard sal doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hiér beteken dit die volharding en geloof van die heiliges” (Openbaring 13:9, 10). Jeremia het in die jare voor 607 v.G.J. soortgelyke woorde opgeteken om te toon dat Jehovah se oordele oor die ontroue stad Jerusalem onveranderlik was. (Jeremia 15:2; sien ook Jeremia 43:11; Sagaria 11:9.) Gedurende Jesus se tyd van beproewing het hy dit duidelik gestel dat sy volgelinge nie ’n kompromis moet aangaan nie toe hy gesê het: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). God se volk moet ook nou, in die dag van die Here, stewig vashou aan Bybelbeginsels. Daar sal geen uiteindelike ontkoming wees vir onberouvolle mense wat die wilde dier aanbid nie. Ons sal almal volharding, tesame met onwrikbare geloof, nodig hê om die vervolging en beproewinge wat voorlê, te oorleef.—Hebreërs 10:36-39; 11:6.
Die wilde dier met twee horings
25. (a) Hoe beskryf Johannes ’n ander simboliese wilde dier wat op die wêreldtoneel verskyn? (b) Wat word aangedui deur die twee horings van die nuwe wilde dier en deur die feit dat hy uit die aarde kom?
25 Maar nou verskyn ’n ander wilde dier op die wêreldtoneel. Johannes vertel: “En ek het ’n ander wilde dier uit die aarde sien opkom, en hy het twee horings gehad soos ’n lam, maar hy het soos ’n draak begin praat. En hy oefen al die gesag van die eerste wilde dier voor sy oë uit. En hy maak dat die aarde en dié wat daarop woon, die eerste wilde dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees het. En hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel na die aarde laat neerdaal ten aanskoue van die mense” (Openbaring 13:11-13). Hierdie wilde dier het twee horings, wat ’n vennootskap van twee politieke moondhede aandui. En daar word gesê dat hy uit die aarde kom, nie uit die see nie. Hy kom dus uit Satan se reeds gevestigde aardse stelsel van dinge. Hy moet ’n wêreldmoondheid wees wat reeds bestaan en wat gedurende die dag van die Here ’n betekenisvolle rol speel.
26. (a) Wat is die wilde dier met die twee horings, en hoe hou hy verband met die oorspronklike wilde dier? (b) In watter sin is die horings van die tweehoringdier soos dié van ’n lam, en hoe is hy “soos ’n draak” wanneer hy praat? (c) Wat aanbid nasionalistiese mense in werklikheid, en waarmee is nasionalisme vergelyk? (Sien voetnoot.)
26 Wat kan hy wees? Die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—dieselfde as die sewende kop van die eerste wilde dier, maar in ’n spesiale rol! Die feit dat hy in die visioen as ’n afsonderlike wilde dier voorgestel word, help ons om duideliker te sien hoe hy onafhanklik op die wêreldtoneel optree. Hierdie figuurlike wilde dier met die twee horings bestaan uit twee gelyktydig bestaande politieke moondhede wat onafhanklik is van mekaar maar saamwerk. Sy twee horings “soos ’n lam” dui aan dat hy hom as saggeaard en onskadelik voorstel, met ’n verligte regeringsvorm waartoe die hele wêreld hulle moet wend. Maar hy praat “soos ’n draak” in die sin dat hy druk en dreigemente en selfs openlike geweld gebruik oral waar sy vorm van heerskappy nie aanvaar word nie. Hy het nie onderworpenheid aan God se Koninkryk onder die heerskappy van die Lam van God aangemoedig nie, maar eerder onderworpenheid aan die belange van Satan, die groot draak. Hy het nasionalistiese verdeeldheid en haat bevorder wat op aanbidding van die eerste wilde dier neerkom.c
27. (a) Watter gesindheid van die wilde dier met die twee horings word aangedui deur die feit dat hy vuur uit die hemel laat neerdaal? (b) Hoe beskou baie mense die hedendaagse teenbeeld van die wilde dier met die twee horings?
27 Hierdie wilde dier met die twee horings doen groot tekens en laat selfs vuur uit die hemel neerdaal. (Vergelyk Matteus 7:21-23.) Laasgenoemde teken laat ons dink aan Elia, die eertydse profeet van God wat in ’n geskil met die profete van Baäl gewikkel was. Toe hy met welslae in die naam van Jehovah vuur uit die hemel neergeroep het, het dit bo alle twyfel bewys dat hy ’n ware profeet is en dat die Baälprofete vals is (1 Konings 18:21-40). Soos daardie Baälprofete dink die wilde dier met die twee horings dat hy voldoende kwalifikasies as ’n profeet het (Openbaring 13:14, 15; 19:20). Trouens, hy beweer dat hy die magte van die bose in twee wêreldoorloë verslaan het en die sogenaamd godlose Kommunisme oorwin het! Baie mense beskou die hedendaagse teenbeeld van die wilde dier met die twee horings inderdaad as ’n bewaker van vryheid en ’n bron van materiële voorspoed.
Die beeld van die wilde dier
28. Hoe toon Johannes dat die wilde dier met die twee horings nie so onskuldig is as wat sy horings soos dié van ’n lam te kenne gee nie?
28 Is hierdie wilde dier met die twee horings so onskuldig as wat sy horings soos dié van ’n lam te kenne gee? Johannes sê verder: “En hy mislei dié wat op die aarde woon weens die tekens wat aan hom gegee is om voor die oë van die wilde dier te doen, terwyl hy vir dié wat op die aarde woon, sê om ’n beeld te maak vir die wilde dier wat die swaardwond gehad en tog herlewe het. En aan hom is dit gegee om asem aan die beeld van die wilde dier te gee, sodat die beeld van die wilde dier sou praat sowel as veroorsaak dat almal doodgemaak word wat die beeld van die wilde dier geensins aanbid nie.”—Openbaring 13:14, 15.
29. (a) Wat is die doel van die beeld van die wilde dier, en wanneer is hierdie beeld geskep? (b) Waarom is die beeld van die wilde dier nie ’n lewelose standbeeld nie?
29 Wat is hierdie “beeld van die wilde dier”, en wat is die doel daarvan? Die doel is om die aanbidding van die wilde dier met die sewe koppe, waarvan dit ’n beeld is, te bevorder en sodoende die wilde dier in werklikheid te laat voortbestaan. Hierdie beeld word geskep nadat die wilde dier met die sewe koppe van sy swaardwond herlewe, dit wil sê ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Dit is nie ’n lewelose standbeeld soos die een wat Nebukadnesar in die vlakte Dura opgerig het nie (Daniël 3:1). Die wilde dier met die twee horings blaas lewe in hierdie beeld in sodat die beeld kan lewe en ’n rol in die wêreldgeskiedenis kan speel.
30, 31. (a) As wat identifiseer die feite van die geskiedenis hierdie beeld? (b) Is enige mense doodgemaak omdat hulle geweier het om hierdie beeld te aanbid? Verduidelik.
30 Die verloop van die geskiedenis identifiseer hierdie beeld as die organisasie wat deur Brittanje en die Verenigde State voorgestel, bevorder en gesteun is en wat aanvanklik as die Volkebond bekend gestaan het. Later, in Openbaring hoofstuk 17, word dit deur ’n ander simbool voorgestel, ’n lewende skarlakenkleurige wilde dier wat asemhaal en onafhanklik bestaan. Hierdie internasionale liggaam “praat” in die sin dat dit grootpraterig beweer dat dit die enigste liggaam is wat vrede en veiligheid vir die mensdom kan bring. Maar in werklikheid het dit ’n forum geword waar lidlande mekaar kan aanval en beledig. Dit het enige nasie of volk wat nie voor sy gesag swig nie, met uitsluiting, of ’n lewende dood, gedreig. Die Volkebond het dan ook nasies wat hulle nie aan sy ideologieë onderwerp het nie, geskors. Aan die begin van die groot verdrukking sal militaristiese “horings” van hierdie beeld van die wilde dier ’n verwoestende rol speel.—Openbaring 7:14; 17:8, 16.
31 Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die beeld van die wilde dier—wat nou as die Verenigde Nasies verskyn het—reeds in letterlike sin doodgemaak. Byvoorbeeld, in 1950 het VN-troepe by die oorlog tussen Noord- en Suid-Korea betrokke geraak. Die VN-troepe, tesame met die Suid-Koreane, het na raming 1 420 000 Noord-Koreane en Chinese doodgemaak. Van 1960 tot 1964 het leërs van die Verenigde Nasies ook in die Kongo (Kinshasa) geveg. Bowendien het wêreldleiers, waaronder pous Paulus VI en Johannes Paulus II, voortdurend bevestig dat hierdie beeld die mens se laaste en beste hoop op vrede is. Hulle hou vol dat die mensdom hulleself sal vernietig as hulle dit nie dien nie. Hulle veroorsaak dus in figuurlike sin dat alle mense wat nie met die beeld saamgaan en dit aanbid nie, doodgemaak word.—Deuteronomium 5:8, 9.
Die merk van die wilde dier
32. Hoe beskryf Johannes Satan se manipulering van die politieke dele van sy sigbare organisasie om lyding vir die oorblywendes van die saad van God se vrou te veroorsaak?
32 Johannes sien nou hoe Satan die politieke dele van sy sigbare organisasie manipuleer om die grootste moontlike lyding vir die oorblywendes van die saad van God se vrou te veroorsaak (Genesis 3:15). Hy beskryf weer eens “die wilde dier” self: “En hy oefen dwang op almal uit, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vryes en die slawe, dat hulle ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop gegee moet word, en dat niemand sal kan koop of verkoop nie, behalwe iemand wat die merk het, die naam van die wilde dier of die getal van sy naam. Hiér is dit ’n kwessie van wysheid: Laat die een wat intelligensie het, die getal van die wilde dier bereken, want dit is ’n mens se getal; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.”—Openbaring 13:16-18.
33. (a) Wat is die naam van die wilde dier? (b) Waarmee word die getal ses verbind? Verduidelik.
33 Die wilde dier het ’n naam, en hierdie naam is ’n getal: 666. Ses, as ’n getal, word met Jehovah se vyande verbind. ’n Filistynse man van die Refaïete was ‘buitengewoon groot’, en sy ‘vingers en tone was in sesse’ (1 Kronieke 20:6). Koning Nebukadnesar het ’n goue beeld opgerig wat 6 el breed en 60 el hoog was om sy politieke amptenare in een aanbidding te verenig. Toe God se knegte geweier het om die beeld van goud te aanbid, het die koning hulle in ’n vuuroond laat gooi (Daniël 3:1-23). Die getal ses is minder as sewe, wat volkomenheid uit God se oogpunt voorstel. Drie sesse stel dus growwe onvolmaaktheid voor.
34. (a) Wat word aangedui deur die feit dat die getal van die wilde dier “’n mens se getal” is? (b) Waarom is 666 ’n gepaste naam vir Satan se wêreldwye politieke stelsel?
34 ’n Naam identifiseer ’n persoon. Hoe identifiseer hierdie getal dan die dier? Johannes sê dat dit “’n mens se getal” is, nie dié van ’n geespersoon nie; die naam help ons dus om te bevestig dat die wilde dier aards is en menseregering simboliseer. Net soos ses minder is as sewe, is 666—ses tot die derde graad—’n gepaste naam vir die wêreld se reusagtige politieke stelsel wat so jammerlik te kort skiet aan God se standaard van volmaaktheid. Die wêreld se politieke wilde dier heers oppermagtig onder die naam-nommer 666, terwyl die wêreldpolitiek, wêreldgodsdiens en wêreldhandel hierdie wilde dier aan die gang hou as ’n onderdrukker van die mensdom en ’n vervolger van God se volk.
35. Wat beteken dit om die naam van die wilde dier as ’n merk op die voorkop of op die regterhand te ontvang?
35 Wat beteken dit om die naam van die wilde dier as ’n merk op die voorkop of op die regterhand te ontvang? Toe Jehovah die Wet aan Israel gegee het, het hy vir hulle gesê: “Julle moet hierdie woorde van my op julle hart en julle siel lê en dit as ’n teken op julle hand bind, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen julle oë dien” (Deuteronomium 11:18). Dit het beteken dat die Israeliete hierdie Wet voortdurend voor hulle moes hou, sodat dit al hulle dade en gedagtes sou beïnvloed. Daar word gesê dat die Vader se naam en dié van Jesus op die voorkoppe van die 144 000 gesalfdes geskryf is. Dit identifiseer hulle as persone wat aan Jehovah God en Jesus Christus behoort (Openbaring 14:1). In navolging hiervan gebruik Satan die demoniese merk van die wilde dier. Op almal wat met alledaagse bedrywighede soos koop en verkoop besig is, word druk uitgeoefen om dinge te doen soos die wilde dier dit doen, byvoorbeeld deur vakansiedae te vier. Daar word van hulle verwag om die wilde dier te aanbid en hom toe te laat om hulle lewens te beheer as hulle sy merk wil ontvang.
36. Watter probleme ondervind dié wat weier om die merk van die wilde dier te aanvaar?
36 Dié wat weier om die merk van die wilde dier te aanvaar, ondervind gedurig probleme. Van die 1930’s af moes hulle byvoorbeeld baie hofsake verdedig en gepeupelgeweld en ander vervolging verduur. In die totalitêre lande is hulle in konsentrasiekampe gegooi, waar baie gesterf het. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het tallose jong mans lang periodes van gevangenskap verduur, en party is selfs gemartel en doodgemaak, omdat hulle geweier het om hulle Christelike neutraliteit prys te gee. In ander lande kan Christene letterlik nie koop of verkoop nie; party kan nie eiendom besit nie; ander word verkrag, vermoor of uit hulle geboorteland verdryf. Waarom? Omdat hulle gewete hulle nie toelaat om ’n politieke partykaart te koop nie.d—Johannes 17:16.
37, 38. (a) Waarom is die wêreld ’n moeilike plek vir dié wat weier om die merk van die wilde dier te hê? (b) Wie handhaaf onkreukbaarheid, en wat is hulle vasbeslote om te doen?
37 In sommige dele van die aarde is godsdiens so gevestig in die gemeenskapslewe dat enigiemand wat Bybelwaarheid voorstaan, deur familielede en voormalige vriende verstoot word. Dit verg groot geloof om te volhard (Matteus 10:36-38; 17:22). In ’n wêreld waar die meeste mense materiële rykdom aanbid en waar oneerlikheid aan die orde van die dag is, moet die ware Christen dikwels ten volle op Jehovah vertrou dat Hy hom sal ondersteun terwyl hy ’n regskape weg volg (Psalm 11:7; Hebreërs 13:18). In ’n wêreld oorspoel met onsedelikheid verg dit groot vasbeslotenheid om rein en suiwer te bly. Dokters en verpleegsters oefen dikwels druk op siek Christene uit om God se wet oor die heiligheid van bloed te verbreek; hulle moet selfs hofbevele teëstaan wat teen hulle geloof indruis (Handelinge 15:28, 29; 1 Petrus 4:3, 4). En in hierdie tyd van toenemende werkloosheid word dit vir ’n ware Christen al hoe moeiliker om werk te vermy wat van so ’n aard is dat dit sou beteken dat hy sy onkreukbaarheid teenoor God moet prysgee.—Miga 4:3, 5.
38 Ja, die wêreld is ’n moeilike plek vir dié wat nie die merk van die wilde dier het nie. Dit is ’n merkwaardige bewys van Jehovah se krag en seën dat die oorblywendes van die saad van die vrou, asook meer as sesmiljoen lede van die groot menigte, onkreukbaarheid handhaaf ondanks al die druk om God se wette te verbreek (Openbaring 7:9). Mag ons almal regoor die aarde eendragtig aanhou om Jehovah en sy regverdige weë te verheerlik, terwyl ons weier om die merk van die wilde dier te ontvang.—Psalm 34:1-3.
[Voetnote]
a Vir verdere besonderhede, sien asseblief bladsye 165-79 van die boek Gee ag op Daniël se profesie! uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b The Interpretation of St. John’s Revelation, deur R. C. H. Lenski, bladsye 390-1.
c Kommentators het opgemerk dat nasionalisme in werklikheid ’n godsdiens is. Mense wat nasionalisties is, aanbid dus in werklikheid die deel van die wilde dier wat verteenwoordig word deur die land waarin hulle woon. Wat nasionalisme in die Verenigde State betref, lees ons: “Nasionalisme, gesien as ’n godsdiens, het baie in gemeen met ander groot godsdiensstelsels van die verlede . . . Die hedendaagse godsdienstige nasionalis is bewus van sy afhanklikheid van sy eie nasionale god. Hy voel ’n behoefte aan Sy magtige hulp. Hy herken in Hom die bron van sy eie volmaaktheid en geluk. Hy onderwerp hom, in enge godsdienstige sin, aan Hom. . . . Die nasie word as ewig beskou, en die dood van sy lojale seuns dra bloot by tot sy onverganklike roem en heerlikheid.”—Carlton J. F. Hayes, soos aangehaal op bladsy 359 van die boek What Americans Believe and How They Worship, deur J. Paul Williams.
d Sien byvoorbeeld The Watchtower van 1 September 1971, bladsy 520; Die Wagtoring van 1 September 1974, bladsy 399; 15 Augustus 1975, bladsy 374; 15 April 1979, bladsy 17; The Watchtower van 1 Junie 1979, bladsy 20; Die Wagtoring van 1 Augustus 1980, bladsye 10, 11.
[Prent op bladsy 195]
Aan hom is dit gegee om asem aan die beeld van die wilde dier te gee